Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kennis van die naglewe

Tydens ’n besoek aan Parys in 1966  raak sy ‘smagting’ na seks te veel vir André P. Brink, skryf Leon de Kock.

’n Jong André P. Brink.

Terwyl sy tweede huwelik [met die jong aktrise Salomi Louw] so te sê op die rotse is, reis Brink alleen Frankryk toe in die Europese somer van 1966. Tog bly hy wroeg oor sy liefde vir Salomi en koester hy steeds die hoop dat hul huwelik nog gered kan word. In sy nadenke oor die “katastrofe” wat hom en Salomi getref het, identifiseer hy Salomi se eerste brief aan [haar voormalige kêrel] Williams – die een wat Brink kort voor Kersfees onderskep het [en gesensor het voordat hy dit weer gepos het] – as “die eerste slag” vir hul vertroue in mekaar, gevolg deur sy “optrede t/o Anna”. [’n Meisie wat hy in Kaapstad aan huis van Uys Krige ontmoet het en met wie hy ’n kortstondige seksuele verhouding aangeknoop het.]

Hy berispe homself: “Ek het self soveel skuld. Waar kan die reiniging begin? . . . O, ek moet probeer & probeer. Ek weet dat ek haar liefhet.”

Brink het ’n aparte joernaal aan sy Franse besoek in 1966 gewy, waarvan baie weerspieël word in Miskien nooit, ’n novelle wat in 1967 gepubliseer is.

‘Teerheid by ’n hoer. Dit bestaan. Dis daar.’

In Frankryk is Brink skielik verbasend gelukkig: “Ek is tuiser hier as in SA. Ek ontdooi temperamenteel; ek kry ’n dimensie by wat altyd in S.A. soek bly.” Hy spreek ’n “rustige wens” uit: “Om eendag daar uit te kom waar ek nie hoef alleen te wees nie.” Só voer hy die gedagte verder: “Waar die vuur in die bloed sal bedaar het en ek met ’n vrou die lewe in ironiese vreugde sal betrag, ryp en geryp, bewus daarvan dat die mens mooi – en ook swak is, en baie hulp nodig het. Want wat wil ek nou? Nie werklik nog ondervindinge & eskapades met vroue nie.”

In die lig van die gebeure wat voorlê, is die wysheid wat hy vervolgens uitspreek nogal ironies: “As mens jonk is vereenselwig jy ‘ervaring’ met vroue. En dan beteken vroue ook ervaring. Nie heeltemal meer nie. Nou sou dit ’n blote verslawing kan word. Iets wat ’n verdowingsmiddel-houvas kan hê, te mooi is, en heerlik is. Maar nie verder lei as ’n cul de sac (sic) nie.” Dít is hoe dit daar uitsien as ’n mens “séks per se” begin najaag, en in die toekoms wil hy eerder ’n romantiese band met ’n vrou skep “deur ’n identifikasie, ’n rustige ontginning van saamheid”. Die “onbegrip v. eensaamheid” wil hy nou agterlaat – en daarom wil hy sy paar maande in Frankryk (van middel Junie tot September 1966) gebruik om “volledige rus in myself te vind, vir die geweld v/d lewe wat voorlê. Om vir my kinders ’n vader te kan wees.” Hy spreek homself ten laaste nugter aan om “minder te vra, meer te gee”, gevolg deur dié vermaning: “Leer af. Leef af.” Hy sal dus vorige gewoontes en idees moet afsweer. Hier is Brink se “superego” aan die woord, maar sy “id” – volgens Freud die sentrum van primitiewe drange binne die onbewuste – sal spoedig met ’n klinkklare antwoord kom.

Ná sy aankoms in Parys versterk Brink en Breyten Breytenbach hul broederskap met boeiende gesprekke: “[Breyten-hulle] het my in B se swaer se ou jalopy by Invalides kom haal & van toe af praat ons feitlik onafgebroke.”

                                                                  ***

Hy vind skuiling in Breyten en Yolande se dakkamer, waar hy uiteindelik meer as 300 joernaalbladsye volskryf oor sy besoek. Breyten beskryf die inhoud van die dakkamer waar André so hard aan die skryf is as ’n ruimte wat skaars meer bevat as “ ’n wasbak met warm en koue water en ’n koelkas wat nie werk nie. Om gevaarlike boeke in te bêre.”

Die skrywers Etienne Leroux, André P. Brink en Breyten Breytenbach.

Te midde van uitstekende geselskap en baie joernaalskrywery, voel Brink gou ’n knaende “seksuele nood” en verduur hy “gruwelike eensaamheid”. Hy wroeg oor Salomi en bekommer hom oor die lot van sy skryfwerk: “As Salomi net iets definitiefs kon skryf.” Inmiddels lees hy “Breyten se ontroerende liefdesverse; luister na die ondraaglike skoonheid van Mozart; en is alleen”. Terwyl hy “bo op die dak tussen die duiwe” woon, berig die romansier dat sy smagting na seks tydens die vorige maand se “askese” erg toegeneem het: “Ek het die afgelope paar dae oorweeg om te begin optel, maar ontsien nog die emosionele ‘involvement’ die ‘moeite’. Dus besluit om in Rue St. Denis ’n hoer te gaan soek.”

Hy kies een van die drie prostitute wat hy teëkom, en voel amper hy moet die “nie-gekose 2” om verskoning vra. Daarna ontdek hy “teerheid by ’n hoer”, soos hy dit stel: “Toe het daar . . . iets anders ontstaan: ’n soort rapport wat vir haar klaarblyklik ontstemmend was, & vir my presies dít wat ek sou kon wens, maar nooit verwag het nie. Teerheid by ’n hoer. Dit bestaan. Dis daar.”

Brink skryf etlike bladsye vol oor die manier waarop hy sy gebruiklike “liefdespel” aanvoor, waarby die prostituut – na sy mening teen haar grein in – betrokke raak. “En dis pragtig . . . sy (het) my toegelaat om haar heeltemal te ontklee; en sy was skaam voor my oë & hande wat alles ondersoek het . . . Sy wou eers voortgaan, maar ek het haar begin liefkoos, & gesels; en so het ons veel langer gebly as die beskeie kwartier. En (teen wil & dank?) het sy betrokke geraak i/d liefdespel en dit geniet.” As die joernale in die algemeen ’n betroubare prentjie skets, bestaan Brink se gebruiklike “liefdespel” gewoonlik uit geselsies, wedersydse liefkosing, orale seks en, indien moontlik, ’n voorafgaande maaltyd met goeie wyn, ’n simpatieke gesprek en duur sjokolade.

Hierdie is ’n geredigeerde uittreksel uit die biografie 'André P. Brink en die spel van liefde' deur Leon de Kock, uitgegee deur Jonathan Ball-Uitgewers.

Hoewel Brink en die prostituut hier noodgedwonge sonder die sjokolade en wyn moes klaarkom, beweer hy sy het ’n klimaks bereik – iets wat vir die prostituut, volgens Brink, ongewoon was, en wat hy afgelei het toe sy van hom wegdraai om haar trane ná die beweerde orgasme weg te vee (“sy het die ekstase voel kom; en selfs tot klimaks gekom; & haar lyf weggedraai dat ek die trane nie moet sien nie”). Volgens Brink het hy te midde van sy seksuele vervoering die prostituut onbedoeld seergemaak: “Sy’t seergekry; & ek het opgehou, & gewag, & later weer verder gegaan, teerder.” Dit is dus moontlik dat haar trane niks met die seks te doen gehad het nie.

Insiggewend is dat Brink dadelik die hoofrol in hierdie interaksie vir homself opeis en dat die vrou se reaksie kwansuis alles met hóm te doen het. Die feit dat die prostituut nie haar trane vir hom kon wegsteek nie, was sekerlik vir dié oplettende skrywer ’n behaaglike stukkie detail waarmee hy sy mag oor vroue aan homself kon bewys en bevestig. Dit was sy éie psigiese en emosionele nood, en dit is gedeeltelik verklaarbaar as deel van sy lewenslange strewe om vroue te “oorwin”. Maar oor hoe die vrou die ervaring beleef het, kan net bespiegel word, hoewel sy ongetwyfeld pyn verduur het.

Ongeag hoeveel oordrywing daar in Brink se beskrywing is, bly dit opmerklik dat hy tróts is op die feit dat hy – volgens hom – selfs ’n prostituut se weerstand kon laat verkrummel met sy vermeende seksuele bedrewenheid. Dit wil lyk asof hy sukkel om die banaalheid van seks met ’n sekswerker te aanvaar – wat alles boonop binne ’n kwartier of minder verby is. Hoewel hy homself aanspoor om sy ou gewoontes en impulse te laat vaar – “leer af, leef af” – was dit moontlik te veel gevra van ’n man wat so jonk en viriel was soos hy, en wat boonop oorweldig was deur ’n seksualiteit wat, soos Nietzsche dit stel “uitreik na bo, tot in die allerhoogste pieke van (’n mens se ) gees”. Sy oortuiging dat hy vroue kon lei na dít wat hy as “ekstase” bestempel, was bes moontlik sy ydelheid der ydelhede. Dit dui ook op sy “magswil” as man, en sy neiging om losbandige vroue te wil “red”, maar óók plesier uit hulle te wil put.

Brink en sy tweede vrou, Salomi Louw.

Net vier jaar later sou ’n vrou wat in alle opsigte as losbandig beskou is – Brink noem haar ’n “klein jags teef” – hom twee keer laat dink. Nie net is daar “iets onwaardig” in seks met dié vrou nie, maar “tog ’n soort verlorenheid”, wat in sy oë “die ou romantiese soiled madonna” verteenwoordig.

In hierdie beskrywing wil dit voorkom asof Brink ’n soort madonna-hoer-kompleks verwoord. Hy het inderdaad twee jaar vroeër op ’n uiters twyfelagtige wyse oor die “paradoks” van ’n spesifieke soort vroulike seksmaat geskryf:

“Sy is swakker as hy (haar minnaar) en soek by hom beskerming, maar terselfdertyd is sy die almoeder waaruit hy gebore is. Dit verlaag haar in sy oë, en verhef haar terselfdertyd: vir hom is sy heilige én hoer – en moet sy dit word as die seksuele moment volledig ekstaties wil wees.”

Die idee dat die vrou in die oomblik van seksuele versoening die “heilige én hoer” móét wees, is verregaande, en tog is dit iets waarmee Brink oënskynlik in die sestigerjare weggekom het.

                                                                       ***

Terwyl hy nog in Frankryk is, skryf Brink Miskien nooit in hoë modernistiese styl, soos wat ’n mens byvoorbeeld in die werk van Robbe-Grillet aantref: die storie vloei uit ’n “gesprek” met die leser oor die maak van ’n rolprent wat geskoei is op die gebeure wat die skrywer toevallig ook aan die leser beskryf. Brink omvorm homself, die skrywer André P. Brink, tot ’n “egte” fiktiewe karakter, al gebruik hy nie sy regte naam nie. Saam met hom word Breyten en Yolande ook karakters, wat hy wel by name noem. Só vermeng hy dokumentêre realisme wat betrekking het op sake van die dag met ’n romantiese vertelstyl en mitiese toespelings.

Hoewel J.C. Kannemeyer striemende kritiek op die novelle lewer en dit “stroperig” en “sentimenteel” noem, het dit Afrikaanse skrywers ná Brink sterk beïnvloed en vernuwende moontlikhede blootgelê.

                                                                         ***

Maar al veroorsaak Salomi se briewe [sy stel hom in kennis dat hy voortaan alle korrespondensie aan haar prokureur moet rig] dat hy kortstondig na die werklikheid moet terugkeer, bly lyflike liefde die spil waarom Brink se somer in Parys draai. Brink was besig om Anthony Giddens se “plastic sensuality”– ’n plooibare seksualiteit waarin die mens hom nie aan sedes of voortplanting steur nie – op sy eie manier uit te leef. Volgens Giddens het dié soort seks toenemend die norm in die laaste dekades van die twintigste eeu geword. Brink se seksualiteit was inderdaad só plooibaar dat hy in een stadium ’n geslagsiekte opdoen. “Bliksem,” skryf hy in sy joernaal nadat Breyten hom na ’n kliniek toe neem waar sy vermoedens bevestig word. “Daar is darem iets vernederends in.”

Dié insident, wat hy amper onmiddellik verwerk tot fiksie, verskyn dan ook in Miskien nooit, wat hy nou in die praktyk “lewend” skryf terwyl hy sy ervaringe met groot intensiteit uitleef en dan gou omvorm in dokumentêre fiksie.

Tog raak hy depressief en skryf dit aan die geslagsiekte toe, maar dié klaar vinnig op en hy maak die hele episode af as ’n blote “rimpelinkie op die dam v/d somer”. Hy probeer vasstel waar die siekte vandaan kom en besluit die voorste kandidaat is Barbara, sy huidige seksmaat, maar hy verdink ook talle ander: Mireille, Kim en Paula, om enkeles te noem.

Verder betaal Brink verskeie prostitute vir seks en skryf hy openlik in sy joernaal en in Miskien nooit oor sy avonture – en in pas met die destydse seksuele revolusie en die groter vryhede waarmee vroue hul seksualiteit begin uitleef het.

Ten opsigte van sy liefdeslewe en filosofie sou ’n mens kon sê dat Brink in die voetspore van lord Byron gevolg het, ’n digter wat “lost in [an] abyss of sensuality” was en “sometimes had to take to his bed and undergo a course of restora-tions . . . for gonorrhea”. Nes Byron gedurende sy leeftyd, het Brink hom weinig aan konserwatiewe sedes gesteur, en eweneens kan daar van hom gesê word, soos Byron se biograaf Edna O’Brien dit oor die Engelse digter stel: “[He] seethed with creativity yet found it inadequate to soothe the rage and restlessness within and so the round of pleasure and debauch continued, the several women ­having no name at all, but, comprising one vast, female gargantuan vortex.”

Brink is weliswaar ’n maalkolk van vroue in. Soos vroeër genoem, was dit in sy geval juis die verwerping van die benouende sedes van die NG Kerk wat hom so ’n belangrike skrywer vir ’n nuwe geslag Afrikaners gemaak het. Tog het hy dit ontgeld binne die kolossale “maalkolk” en sou hy nog baie jare daarna steeds die gevolge daarvan dra. In die huidige geval, in 1966, voel hy egter ook diep skuldig oor die gevolge van sy optrede op ander – veral sy versaking van [sy eerste vrou] Estelle en [seun], Anton, soos later bevestig word.

Brink se eerste ontmoeting met Barbara, met wie hy ’n “ongekompliseerde wilde fokfees” sou geniet, het by die Playboy Club in Londen plaasgevind. Dat hy dié feit met trots aanteken, dui daarop dat hy sy kleindorpsheid nog nie heeltemal afgeskud het nie. Een van sy Paryse vriendinne, Marion, maak dié skerp opmerking: “You’re trying to prove yourself by playing the role of a playboy – and at heart you aren’t one. Why do you do it?”

Aan die tuisfront raak Salomi “al rasender in haar briewe”, waarin sy “al meer eis”. Inmiddels wroeg Brink oor egskeidingsake. Hy wonder angstig wat Salomi in haar regsoptrede van die “Anna-ding” gaan maak en skryf ’n stroewe brief terug waarin hy haar waarsku: “Jou bewering dat ek egbreek (sic) gepleeg het, is lasterlik. Dis iets wat jy gefabriseer het toe jy die foto gevind het en daaraan bly jy klou, sonder enige grond.” Sy joernaalinskrywings vertel ’n ander verhaal, maar hy verdedig sy leuen – wat hy self as “verfoeilik” beskryf – met twyfelagtige betoë. “Ek het nou op skrif ontken dat daar owerspel was. Ook dié leuen is verfoeilik; ek was nog nooit skaam oor my affaires nie. Maar hier gaan dit nie om my eie bas te red nie.” Brink se poging om ’n voordelige posisie in te neem op grond van morele oortuiging kom amper komies voor: “Dis net dat ek weet: S. hét my vir [Mark] verlaat Februarie, en sy het Mei klaar besluit om my wéér te verlaat – en om nou agterná Anna as voorwendsel te gebruik net om my te kwes en af te pers en uit te pers, dit is boos; en dit gaan ek nie toelaat nie.” Hoe meer onseker Brink voel, hoe meer is hy geneig om sy eie onskuld te oordryf, in ’n ooglopende poging om homself daarvan te oortuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.