Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kerk floreer in tyd van korona

Afrikaanse kerke in die land is hard aan die woel om die reuse-impak van die Covid-19-pandemie te verlig, skryf Neels Jackson.

Suster Shoni Ngobeni van die Tshwenyega-kliniek ontvang kospakkies van Sonnika Nel van die NG gemeente Tygerpoort aan die buiterand van Pretoria. Die kliniek is verlede jaar op inisiatief van die die gemeente op die been gebring om inwoners van die omgewing te bedien. Dié kospakkies is bestem vir ’n groep mense wat op ’n hoewe in die Boschkop-omgewing bly.

Die pandemie wat deur die nuwe koronavirus veroorsaak is, het die gewone manier van kerkwees deeglik ontwrig. Pleks van gewone eredienste, raak mense (ten minste dié in die middelklas met kubertoegang) nou al gewoond aan skermdienste. Gewone dominees, het iemand gesê, het nou almal televangeliste geword.

Maar om bloot só na die veranderinge in kerke te kyk, is ’n oppervlakkige kyk. Dit help dalk om ’n bietjie terug te staan en na die groot bewegings in die geskiedenis te kyk, as ’n mens wil probeer peil wat nou aan die gebeur is.

In die vroeë 1990’s het biskop Mark Dyer, Episkopaalse biskop van Betlehem in Palestina, ’n raamwerk vir so ’n besinning voorgestel waarop verskillende ander mense later voortgebou het. Hy het gesê dat die kerk elke 400 jaar of so as’t ware ’n groot garageverkoping hou waar hy van sy ou rommel ontslae raak en dan in ’n sin nuut begin.

Verskillende mense het dié groot keerpunte later op verskillende maniere geïdentifiseer, maar een weergawe daarvan lyk so: Aan die begin van ons jaartelling, met en direk ná die koms van Jesus van Nasaret, het daar uit die Joodse godsdiens ’n nuwe beweging na vore gekom wat as die Christendom bekend geword het. Dié vroeë kerk het meestal in huise vergader, het dikwels uit arm mense bestaan en was dikwels die teikens van vervolging.

En tog het die kerk in die eerste eeue sterk gegroei. ’n Verhaaltjie wat dikwels uit hierdie tyd oorvertel word, gaan oor die twee groot pessiektes wat in die tweede en derde eeu deur Europa getrek het. Talle mense het siek geword en doodgegaan.

Die meeste mense het hulself probeer beskerm deur ’n afstand te hou van siekes en selfs familielede wat begin simptome toon, uit die huis uit te gooi en aan hul eie lot oor te laat.

Die gebou is toe, maar die kerk is oop.

Die Christene daarenteen, het die siekes versorg – hul eie mense, maar ook die siekes van die niegelowiges om hulle.

Hierdie dade van selfopofferende versorging, van genade en liefde, het die historikus Rodney Stark geskryf, was een van die redes waarom die oortuigings van die vroeë kerk gegroei het tot die wêreld se grootste godsdiens.

Die eerste groot keerpunt in die kerkgeskiedenis het in die vierde eeu gekom met die bekering van keiser Konstantyn, die verheffing van die Christendom tot staatsgodsdiens en die institusionalisering van die kerk.

Die kerk het mag gekry. Waar die vroeë kerk kerk van onder af was, kerk wat gedien het, kerk wat geen politieke invloed gehad het nie, het dit kerk geword wat heers. Die kerk het ’n belangrike speler in die magspolitiek van die tyd geword.

’n Volgende groot baken was die skeuring tussen die Westerse en Oosterse kerke in die 11de eeu. En daarna was dit die kerkhervorming van die 16de eeu met mense soos Martin Luther en Johannes Calvyn aan die spits.

Die Hervorming was deel van ’n groter omwenteling in die Europese samelewing wat met die Renaissance begin het en later tot die Verligting gelei het.

Van links is Ferdi van Zyl, Leon Swart, Klaas van Zyl, Jannie Morkel en André Mostert van Laaiplek besig om snoeke te verwerk wat aan die NG gemeente Laaiplek geskenk is deur Nossab Vis. Die snoeke word afgelewer oor die hele Wes-Kaap heen en in smoorsnoek, viskoekies, lasagne en ander geregte verwerk by kinderhuise, ouetehuis, versorgingsfasiliteite en sop- of koskombuise.

Vir die Protestante wat in opstand gekom het teen die absolute gesag van die pous, het dit in meerdere of mindere mate gelei tot die demokratisering van die godsdiens.

Die ontwikkeling van die boekdrukkuns en die toename in geletterdheid het vir die eerste keer vir gewone gelowiges toegang gegee tot die Heilige Skrifte. Hulle kon die Bybel in hul eie taal in hul hand hou en dit self lees.

By al die voordele wat dit ingehou het, het dit, saam met die opkoms van rasionele denke, ook ’n invloed gehad dat dogmas ’n ál belangriker rol begin speel het. Daarby het daar ’n soort onuitgesproke deïsme begin posvat. Dit is die gedagte dat God ver is en Hom eintlik nie met die daaglikse lewe bemoei nie. Pleks daarvan het dogmas wat uit die Bybel afgelei is, as die hoogste gesag begin funksioneer.

Dit alles terwyl die kerk steeds, ten minste in Westerse samelewings, ’n magsinstelling gebly het. Ja, kerke het deurgaans hospitale en skole opgerig, maar in ’n groot mate was dit steeds kerk van bo af.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het daar egter ’n ontnugtering in Europa posgevat en sekularisering het daarvandaan deur die hele Westerse samelewing versprei. Oral het kerke gekrimp.

In Suid-Afrika, waar daar in die vorige politieke bedeling nog sosiale druk was wat mense in kerke gehou het, het baie nominale lidmate met die koms van die nuwe bedeling ook weggedryf.

Wêreldwyd is daar al ’n paar dekades lank in kerklike kringe ’n gesprek oor die pad vorentoe. Daar was ’n breë aanvoeling dat daar ’n groot verandering aan die kom was, en daar is wyd bespiegel oor hoe dit sou lyk.

En nou word daar oor ’n “nuwe normaal” gewonder.

Die huidige pandemie gaan natuurlik nie op sy eie die hele manier van kerkwees verander nie, maar miskien help dit om prosesse wat reeds aan die broei was, ’n bietjie vinniger te laat gebeur.

Erin Pretorius by ’n kattebak vol kospakkies. Sy is een van die ywerige vrywilligers by Ysterplaat-gemeente wat weekliks honderde kospakkies by hulpbehoewendes in die omgewing aflewer.

Hoe kan die toekoms dan lyk?

Een aspek daarvan is dat die kerk al hoe minder kerk van bo gaan wees en al hoe meer kerk van onder. In ’n groot mate het kerke reeds hul mag verloor. Van politieke invloed van die kerke, of groot rigtinggewende uitsprake van kerkleiers wat deur politici nagevolg word, is daar nie meer sprake nie.

Mense kla soms dat die kerk stil is, dat die kerkleiers nie hul profetiese stem teen die regering laat hoor nie. Dikwels is die geval dat die kerkleiers iets probeer sê, maar eenvoudig nie gehoor word nie. Die nuusmedia rapporteer hulle hier en daar skrams, want kerkleiers word eintlik nie meer gesien as mense met veel invloed nie.

Terwyl hierdie verswakking van die kerklike stem uit die paradigma van die vorige eeue na ’n verlies kan lyk, is dit waarskynlik uit ’n nuwe paradigma wat aan die ontwikkel is, glad nie die geval nie. Want kerke is besig om ’n nuwe manier van leef te ontwikkel. Dit is kerkwees van onder af, kerkwees in die vorm van diens.

En as ’n mens jou oor op die grond het, kom jy agter dat dit byna oral aan die gebeur is. ’n Onlangse peiling in die NG Kerk in die Wes-Kaap toon dat sowat driekwart van gemeentes nou, tydens die Covid-19-inperkingstyd, op die een of ander manier betrokke is by voedselvoorsiening aan mense in nood. En op sinodevlak is daar ’n omvattende program om gemeentes te help om hul gemeenskappe te help. Meer as R2 miljoen is al deur die sinodale Covid-19-rampfonds uitbetaal, die meeste daarvan aan gemeentes wat hulp in hul gemeenskappe verleen.

In die noordelike sinode, sê dr. James Kirkpatrick, ondervoorsitter van die sinode, het hulle ’n peiling in al hul ringe gedoen. Byna sonder uitsondering is elke gemeente op ’n manier by hulpverlening betrokke, meestal in die vorm van hulp met kos.

Ook uit ander kerkverbande en uit onafhanklike kerke hoor ’n mens van groter en kleiner projekte om te help waar daar nood is.

En waar daar sprake is dat die kerke nie mag kos gee nie omdat die regering dié taak wil sentraliseer, was die reaksie uit verskillende kerklike oorde dat hulle sal voortgaan om dit te doen. Wat dit betref, is hulle bereid om oor te gaan tot burgerlike ongehoorsaamheid.

’n Ontwikkeling wat hiermee saamgaan, is dat die sterk grense tussen kerkverbande van die vorige paar eeue al hoe meer vervaag. Kerke is baie gemaklik om oor kerklike grense saam te werk – en dit sluit grense in wat soms oor ongemaklike dogmatiese verskille gaan.

In die Wes-Kaap is bevind dat ’n derde van NG gemeentes hul dienswerk doen in netwerke met ander kerke en organisasies. Waar kerke diens lewer, gaan dit nie meer oor hulleself nie.

Miskien daarom ook dat baie van hierdie hulp ongemerk verbygaan. Gemeentes wat help, vry nie na die groot publiek nie. Hul aandag is op die nood om hulle.

’n Mens kan net wonder wat die ontwrigting van die gewone eredienste op die duur aan gemeentes gaan doen. Tradisioneel is die erediens die kern van die gemeentelike bestaan. En terwyl ’n erediens as vorm van aanbidding na Bo gerig is, is dit wat mense betref, dikwels na binne gerig. Dis daar vir dié mense wat reeds lidmate is.

Met die verbod op groot byeenkomste het daar ’n nuwe spreuk ontstaan as daar oor kerk gepraat word: “Die gebou is toe, maar die kerk is oop.” Gemeentes ontdek dat die tradisionele erediens nie die kern van kerkwees hoef te wees nie. Al is dit moeilik met al die beperkings, kan hulle steeds help waar daar nood is – en hulle beleef dit as ’n sinvolle manier van kerkwees.

En al is die kerke in gesprek met die regering oor die versagting van die verbod op kerklike byeenkomste, lyk dit asof die kerke dalk geruime tyd lank hoogstens klein groepies mense onder streng voorwaardes sal kan laat saamkom. Dalk word kerke gedwing om, ten minste tydelik, meer soos die vroeë kerk in klein groepies saam te kom eerder as in groot eredienste.

’n Laaste belangrike kwessie gaan oor hoe die kerk oor God dink. Dit is ’n saak wat deur nog ’n navorsingsverslag uit die Wes-Kaap aan die orde gestel word.

Luidens die verslag kom daar midde-in die pandemie vrae oor God na vore. Dit is vrae soos: “Het God die virus gestuur?”, “Hoekom doen God niks daaraan nie?” en “Hoe kan ’n God van liefde so iets toelaat?” Dit is vrae waarmee kerklui al eeue lank worstel.

In ’n era wat deur rasionele denke oorheers word, waarin mense gekondisioneer is om te probeer verstaan en te verklaar, kan dit maklik die enigste soort vrae wees wat gelowiges oor God vra.

Die verslag dui ’n ander koers aan. Dit sê die kerk moet dalk eerder geloofsonderskeidend probeer vra: “Waarheen is God met ons op pad in hierdie krisis?”

Dit is ’n vraag wat op ’n grondliggend ander verstaan van God berus. Die waarom-vrae pas gemaklik in ’n era waarin God as veraf of afwesig beleef word, ’n era waarin God in mense se gemoed weinig meer is as ’n abstrakte begrip.

Die vraag oor waarheen God met die kerk op pad is, toon ’n siening van ’n lewende God wat aktief betrokke is by sy mense. Dis ’n soort siening van God wat baie meer klop met dié van die Christene van die eerste eeue as met die deïsme wat later ontwikkel het.

Die bespiegeling oor hoe die “nuwe normaal” ná Covid-19 vir kerke gaan lyk, is presies dit: bespiegeling.

Soos met die Hervorming van die 16de eeu, sal die hele kerk waarskynlik nie dieselfde nuwe koers kies nie. Maar in Christelike kringe word daar nou al ’n klompie jare lank gepraat oor ’n soort kerk wat nader is aan die vroeë kerk, ’n kerk wat van onder af dien, wat minder dogmaties ingestel is en meer praktiese liefde uitleef, en ’n kerk wat saam met ’n lewende God probeer lewe, eerder as om abstrakte vrae te vra.

Dalk help Covid-19 met ’n hupstootjie in daardie rigting.

Meer oor:  Kerke  |  Ng Kerk  |  Kospakkies  |  Covid-19  |  Liefdadigheid  |  Sopkombuise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.