Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kerk snak na asem sonder politieke suurstof

In die laat 1980’s het die teoloog Ferdinand Deist voorspel dat die dag wanneer apartheid tot niet is, dit ook die einde van die NG Kerk sal wees. Was hy dalk reg, vra Jean Oosthuizen in dié uittreksel uit sy nuwe boek, Die opkoms en ondergang van die NG Kerk.

Oudpres. PW Botha en Willie van Niekerk, destyds minister van gesondheid, buite die NG gemeente Rondebosch, Kaapstad. Foto: Getty Images

Wanneer die NG Kerk se geskiedenis in oënskou geneem word, kan dit in een sin opgesom word: ’n Kerk van verspeelde kanse en ’n huis wat byna van die begin af tot vandag nog in vele opsigte in homself verdeel is.

Die simbiose tussen die Nasionale Party en die NG Kerk kom ’n baie lang pad. Die NG Kerk het nie sonder rede die grootste deel van sy geskiedenis bekend gestaan as “die Nasionale Party in gebed” nie.

Dit is die verhaal van 'n kerk wie se leierskap telkens uit voeling was met die groter wêreld waarin ons leef.

Dit is 'n kerk wat veg om oorlewing. Sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het, word die NG Kerk al hoe meer eenkant toe gerangeer. Met die verlies van sy allesoorheersende mag – en boonop met sy bedmaat, die Nasionale Party, in die graf – sukkel die NG Kerk om asem te haal en by veranderende tye aan te pas.

Daar is 'n olifant in die NG Kerk en sy naam is Skrifgesag. Voordat hierdie olifant raakgesien word en lidmate die Bybel anders begin lees, sal die eindelose debatte soos 'n neet aan die kerk se agenda vasklou.

Nie net in eie kring nie, maar oral in die Westerse wêreld is die kerk as vaandeldraer van georganiseerde godsdiens op ’n afdraande pad. Dit is ’n proses wat hom in die NG Kerk op sowel leerstellige as sosiaal-politieke gebied manifesteer.

Dit is die verhaal van 'n kerk wat veg om sy mag en invloed te probeer red, maar in die proses al hoe meer vervreemd raak van die wêreld waarin hy staan.

Natuurlik is daar ook 'n ander kant van die kerk. Baie dominees en gemeentes op voetsoolvlak doen steeds wonderlike werk. Daar is nog baie predikante en teoloë met integriteit. Daar is gemeentes en dominees wat nie daarop uit is om kritiese denkers en andersdenkendes te verketter nie.

Benewens al die goeie dinge wat die NG Kerk oor ’n tydperk van meer as 350 jaar in Suid-Afrika vermag het, sal die geskiedenis nie 'n goeie getuigskrif vir die NG Kerk nalaat nie. Die NG Kerk sal onder meer onthou word vir sy reuse-aandeel aan apartheid, maar ook vir die neo-Calvinisme, patriargie en homofobie wat vandag nog springlewendig is in die kerk.

Koot Vorster, oudmoderator van die NG Kerk.
Apartheid se stormtroepe

Die NG Kerk het nie om dowe neute bekend gestaan as “die Nasionale Party in gebed” nie.
Een van die invloedrykste moderators van die NG Kerk was Koot Vorster(foto), broer van die destydse eerste minister John Vorster.

Kerkleiers soos Vorster en Andries Treurnicht was aan die voorpunt van dié wat die besluite van die destydse Cottesloe-beraad veroordeel het.

'n Mens kan maar net wonder waar sou die NG Kerk vandag gewees het as hy gedurende die moeilike 1930’s nie net vir sy eie lidmate se belange ingetree het nie, maar ook vir die groot getalle swart en bruin mense wat destyds ewe ontredderd as die sogenaamde armblankes was.

Alan Paton stel dit mooi in sy outobiografie Journey Continued (1988: Collier Books): “If the Afrikaner had found his identity then surely he would want everyone else to find it too. And God help those who did not want to be helped to find it.” (bl. 8)

Dit was veral ná die Nasionale Party se bewindsoorname in 1948 dat die NG Kerk apartheid al hoe meer uit die Bybel probeer regverdig het. Daar was van die begin af kritiese stemme daarteen. Toe daar fundamentele keuses gemaak moes word oor reg en verkeerd het die kerk hom nie gesteur aan die profetiese stemme in eie geledere nie.

Namate apartheid die metafoor geword het van die kruis van vernedering en verguising wat swart mense moes dra, het die kerk die metafoor geword van die kruis en vernedering wat gay mense en vroue vandag nog dra.

John Vorster Foto: Getty Images

Twee jaar voor die koms van demokrasie vra Attie van Niekerk reeds in sy boek Sáám in Afrika (1992: Tafelberg) “Dominee, are you listening to the drums?”

Die winde van verandering wat in 1994 oor die land en die NG Kerk gewaai het, was nie net politieke winde van verandering nie. Leerstellige kwessies in die NG Kerk het al hoe meer na vore gekom. Lidmate het begin vra: As die kerk vir ons gejok het oor apartheid, waaroor het hulle nóg vir ons gejok? Stelselmatig het die kerk ook sy houvas op leerstellige gebied onder sy lidmate begin verloor.

Die digter M.M. Walters dig soos volg daaroor:

Enkele leeus van Juda brul nog, probeer nog,

maar die mense lag, is nie meer bang nie, is selfs kwaad

dat hulle geïntimideer is tot siebie-siebie-sakskud.

Nuwe gimnaste in die eksegese haal nou hul woema

uit die Woord in alternatiewe terme, modern en gewaagd,

en stoere Broeder-Bybelkundiges vind (na soveel jare)

die weg na Damaskus (wat nie meer die weg na die kweekskool is nie).

Afrikaners het besef die kerk het sekere mense oor die jare uitgestoot na die skadu’s en donker kolle van die lewe, net om dan self die lig te formuleer en daardie mense terug in die lig te probeer kry.

Die NG Kerk kon nog nooit in sy bestaan die kwessie van menseregte oorweeg nie. Tot in die 1960’s is daar sterk standpunt teen enige sodanige pogings ingeneem omdat dit volgens die kerk te humanisties sou wees.

Al die jare het die kerk in die woorde van Walters hooghartig die bestaan van andere verwerp: “Hervormingsondag (is) gevier met die slyp van swaarde en die sing van strydliedere teen als wat Paapsch was, teenstanders gebrandmerk het as heidens of sektaries, almal wie se geloof in die bonatuurlike anders was en sy sendelinge uitgestuur het selfs onder die Jode.” (Die Suid-Afrikaan, April 1990)

Twee derdes van die NG Kerk-skip is reeds onder die water, merk 'n predikantvriend teenoor my op terwyl ons oor 'n koppie koffie oor die kerk sit en gesels.

“Kyk maar net na die statistieke! Van die derde bo die waterlyn vorm uiteindelik net ongeveer tien persent lidmate wat die kern van die kerk is.

“Ons is dikwels op hierdie sigbare deel van die skip besig met 'n klompie herstelwerk en instandhouding, by wyse van spreke. Dit gaan die kerk natuurlik nie red nie, want die res is reeds onder water.”

Die NG Kerk se verdediging en propagering van apartheid, die minderwaardige rol wat vroue oor 'n lang tydperk in die kerk gespeel het en tot 'n groot mate steeds speel, asook die onmenslike manier waarop die kerk lidmate van die LBGT-gemeenskap behandel, sal waarskynlik in die geskiedenis opgeteken staan as drie van die grootste menseregteskendings in die kerk se geskiedenis.

Die gay-debat is nie net tot die NG Kerk beperk nie. Dit sal onbillik wees om die NG Kerk alleen daarvoor uit te sonder. Homoseksualiteit het kerke die afgelope jare wêreldwyd verdeel. Dit verskoon egter nie die NG Kerk se wipplankryery oor gay-verhoudings nie.

Dit is duidelik dat die kwessie oor selfdegeslagverhoudings die NG Kerk – soos ook ander kerke – in 'n byna onhoudbare dilemma geplaas het. Die lede van 'n taakspan wat deur die NG Kerk self aangestel is, het toenemend bewus geword van die hartseer, pyn, wroeging en onsekerheid wat homoseksualiteit en die hantering daarvan in individue, families, vriendekringe en gemeentes meebring.

Die kerk het volgens sy eie taakspan meegewerk om die pyn wat homoseksuele mense ervaar verder te legitimeer, pleks daarvan om die Skriftuurlike eis na te kom wat vra dat hulle die swaar pad van volle medelye saam sal stap.

Wanneer die kerk hierdie pyn nie duidelik genoeg raaksien om met begrip en fyn aanvoeling te kan optree nie, word homoseksuele lidmate, hul families en vriende van hul geloofsgemeenskap, en selfs hul binding aan God, vervreem, het die taakspan in hul verslag gewaarsku.

As die kerk hierdie pyn ignoreer, daaroor probeer swyg óf versuim om iets daadwerkliks tot heling te doen, sou dit volgens die kerk se eie taakspan ernstige nagevolge vir die kerk hê. Dit was vir hulle 'n etiese keuse met drastiese gevolge waarvan die kerk nie langer kon wegskram nie.

Die georganiseerde kerke het baie onbetaalde rekenings waaroor mense vandag wil praat. Die teologiese regverdiging van apartheid is maar net één daarvan. Die kerk se standpunt oor homoseksualiteit en baie ander sake word nie meer deur alle – en spesifiek denkende lidmate – as die evangelie aanvaar omdat die een of ander sinode daaroor besluit het nie.

Daar is 'n olifant in die NG Kerk en sy naam is Skrifgesag. Voordat hierdie olifant raakgesien word en lidmate die Bybel anders begin lees, sal die eindelose debatte oor homoseksualiteit, saamwoon voor die huwelik, die bestaan van die duiwel, evolusie, die maagdelike geboorte en vele ander sake soos ’n neet aan die kerk se agenda bly vasklou sonder om die olifant op die naam te noem.

In Amerika praat hulle deesdae van “The Battle of the Bible”. ’n Oorlog om oorlewing tussen twee uiteenlopende sienings van die Bybel. Aan die een kant is daar diegene wat elke woord in die Bybel letterlik glo. Teenoor hulle staan hoofsaaklik post-moderne mense wat lankal nie meer elke woord in die Bybel letterlik opneem nie. Hierdie debat oor Skrifgebruik en Skrifgesag is ook in die NG Kerk aan die orde van die dag.

Die debat oor Skrifgesag strek veel wyer as slegs die manier waarop gelowiges hul godsdiens beoefen. Die wyse waarop 'n mens na die Bybel kyk, raak byna elke lewensterrein. Dit strek as ’t ware van die regbank tot die vermaaklikheidswêreld. Dit bepaal hoe Christene voel oor sake soos saamwoon, homoseksualiteit, aborsie, dobbelary, egskeiding en ander sake. Bybelse antwoorde op dié kwessies is nie meer so glashelder soos voorheen nie. Ook in die NG Kerk word die vraag al hoe harder gevra: “Kan ons nog die Bybel glo?” En indien wel, in watter mate?

Die Italianer Giordano Bruno is meer as 400 jaar gelede, op Donderdagoggend 17 Februarie 1600, deur die kerk van sy dag lewend op die Campo de’ Fiori in Rome as 'n ketter verbrand. Bruno het dit gewaag om die kerk uit te daag tot 'n oop gesprek. Hy was nie tevrede met die eng begrip van God en die wêreld deur die kerkvaders van sy tyd nie.

In 'n artikel wat in 2013 in By verskyn het, het Abel Pienaar 'n vergelyking getref met die gebeure van meer as 400 jaar gelede toe die kerk Bruno se stem stilgemaak het en die NG Kerk se hantering van die Woordfees-debakel in 2013. Die rede waarom die Rooms-Katolieke Kerk so sterk geglo het dat Bruno moes sterf, verskil volgens Pienaar in wese nie veel van die redes waarom die NG Kerk hom in 2013 so heftig verset het teen oop gesprekke by die Woordfees nie. (“Uitdaging tot ’n oop gesprek”, 2 Maart 2013)

Die werklikheid is dat die NG Kerk sy identiteit drasties sal moet aanpas en verander as hy wil oorleef.

Ek twyfel of die kerk bereid is om dit te doen; die verlede het ons geleer dat die kerk telkens meer konserwatief en behoudend neig wanneer hy in die moeilikheid is. Die algemene sinode van 2016 waar die kerk sy besluit oor homoseksualiteit herroep het, is ’n sprekende voorbeeld hiervan.

Meer oor:  Jean Oosthuizen  |  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.