Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kerke moet ‘sout’ word
Kapelaan (dr.) Pieter Bezuidenhout Foto: Mlungisi Louw

Kerke moet die “sout” word wat die wonde van die stukke emosionele pyn en woede van die Suid-Afrikaanse politieke verlede heelmaak sodat die diensplig-soldate van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) én die geslag van die 16 Junie 1976-Soweto-opstande se harte kan versoen en “trou”.

Kapelaan (dr.) Pieter Bezuidenhout van Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw
Kapelaan (dr.) Pieter Bezuidenhout Foto:Mlungisi Louw
Kapelaan (dr.) Pieter Bezuidenhout van Bloemfontein Foto: Mlungisi Louw

Ook oud-polisielede moet gehelp word.

“Hoewel die SAW nie destyds betrokke was by die 1976-opstande nie, het hulle hul eie unieke belewenisse gehad, baie positief, maar ook negatief. Sommige het nog letsels en trauma soos diegene van die 16 Junie 1976-geslag.”

So sê dr. Pieter Bezuidenhout, kapelaan van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) uit Bloemfontein.

Bezuidenhout, wat ’n doktoraal verwerf het met die proefskrif Die diensplig-SAW-generasie en die soeke na heling, versoening en sosiale geregtigheid 2015 sê harte oor kultuurgrense in Suid-Afrika moet mekaar vergewe, saambind en trou.

“Ons moet met mekaar begin praat en mekaar se stories hoor, dieselfde Suid-Afrika-lied sing. Ons praat nog met mekaar deur die lens van die verlede, pleks daarvan om direk met mekaar te praat . . .

“Net op dié manier kan ‘The South Africa we prayed for’ tot stand gebring word, kan ’n nuwe (Suid-Afrika)-lied gesing word.”

Bezuidenhout meen Suid-Afrikaanse kerke het ’n groot rol te speel om “die diep seer” van die verlede te help uitwis. Om die ligdraers te word “veral vir die nageslag wat as een nasie binne Suid-Afrika moet voortleef”.

Afrikaanse wit mense moet groot rolspelers word.

In ’n gesprek wat Bezuidenhout met eerw. Frank Chikane, voormalige direkteur-generaal in die presidensie en ’n gewese vise-president van die AGS, gehad het, het die idee ontstaan om die “16 Junie-geslag” én die “diensplig-geslag” bymekaar te bring en ’n proses van “versoening en heling te bewerkstellig”.

Hieroor sê Bezuidenhout: “Dit is eintlik God wat die saadjie by ons én ander geplant het.”

Dit is waarom die grootskaalse versoeningsveldtog van 11 Junie tot 16 Desember vanjaar deur kerke gehou gaan word met die tema “Sing ’n nuwe Suid-Afrika-lied”.

Die veldtog begin op 11 Junie met ’n saamtrek in die Orlando-stadion in Soweto.

Bezuidenhout sê aanvanklik is ’n memorandum aan onder andere lidmate van die NG Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika (NHKA) en die Apostoliese Geloofsending (AGS) gestuur.

Hy sê intussen het die projek onder die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) ingebind en het omtrent al die kerke “ingekoop”.

Hy sê Suid-Afrika is huidig nie op ’n goeie plek nie.

“Dit lyk asof ons mekaar net verdra en nie versoen het nie.

“Daar was ’n gerieflikheids-huwelik wat nie werk nie, omdat harte nie saamgebind het nie.”

Hy sê dinge begin in die land skeefloop “en nou wil mense uit die huwelik klim, hulle haat mekaar en speel heeltyd die rassekaart”.

“Iewers moet wit en swart mekaar weer in die oë kyk, moet harte versoen en moet hulle vir mekaar sê ons wil ter wille van ons kinders saam die pad vorentoe stap.”

Bezuidenhout sê die destydse SAW-generasie glo hulle het ook vir die land teen kommunisme geveg. “Hulle het emosionele trauma opgedoen. Hulle soek erkenning.

“Maar in ’n nuwe Suid-Afrika word hulle daagliks met plaasmoorde, korrupsie en misdaad gekonfronteer . . .

“Aan die ander kant sit ons met die 16 Junie 1976-slagoffers wat mure om hulle opgerig het. Gaan loop in die Hector Peterson-museum in Soweto waar foto’s teen die mure pryk van hoe wit polisielede swart mense geslaan het.

“Daar is ’n geslag mense wat nou ná 40 jaar die onderwysdepartemente in die land se skole afbrand wanneer hul woede begin oorkook. Destruktiewe optrede is die gevolg wanneer haat uitborrel.

“Daar is die #Fees Must Fall-veldtog by Suid-Afrikaanse universiteite, waar die nuwe geslag studente voel hulle het nie genoeg geld om te kan studeer nie. Albei kante word uitgedaag én die rassekaart word heeltyd gespeel.

“Die groot ding is eintlik dat ons mekaar nie ken en vertrou nie . . .

“Ons moet eers mekaar se stories hoor sodat ons wedersydse respek en liefde vir die land en vir mekaar kan opbou.

“Militêre veterane-organisasies kan hier ook ’n groot rol speel om mense bymekaar te bring om mekaar se stories te hoor en te heel.

“Die meeste SAW-veterane wil graag ’n positiewe bydrae lewer. Trouens daar is talle wat suksesvol is op talle terreine juis vanweë vaardighede wat hulle in die ‘army’ geleer het. Dit is vaardighede wat die land nodig het.

“Slegs op dié manier kan ons as Christene ligdraers word en hoop vir ons kinders in die land skep.”

  • Afgetrede kol. Jan Malan, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Weermag-vereniging vir militêre veterane (SAWV), sê die versoeningsveldtog is ’n wonderlike inisiatief.

“Ons as veterane is ook al drie jaar hiermee besig. Veterane doen hoofsaaklik drie dinge: herdenking, om erkenning te gee aan veterane vir die rol wat hulle gespeel het en om versoening te bewerkstellig.

“Aan die einde van ’n oorlog is daar strydende partye wat gedemilitariseer en versoen moet word. Ons dink daardie werklik diepgaande versoening het nog nie in Suid-Afrika gebeur nie.”

  • Anneke Rabe, boervrou van Piet Retief, sê in hul dorp het swart en wit reeds soos ’n groot familie geword nadat hulle na mekaar in die kerke begin uitreik en vir mekaar begin bid en om vergifnis gevra het.

“Ons het ons sondes rondom apartheid en die 16 Junie 1976 Soweto-opstande bely, wyl die swart mense ook om vergifnis gevra het vir plaasmoorde, ander misdade, korrupsie en so meer.

“Nadat ons mekaar se voete begin was het, vir mekaar se lief en leed begin bid het, is versoening bewerkstellig.

“Ons glo daar is hoop vir almal. Die hele versoeningsaksie het gesneeubal. Ek het ’n droom gehad waarin die Here vir my die visie gegee het dat ons 40 jaar ná die Soweto-opstande op 16 Junie 1976 na Soweto moet terugkeer om te gaan bely.

“Toe ek met kapelaan Bezuidenhout in Bloemfontein hieroor praat, het hy aan my gesê hy deel dieselfde visie as ek.”

  • Roelf Schoeman van die Eleos-bediening in Pretoria, wat ook by die sentrum vir kontekstuele bediening by die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria betrokke is, sê hy ondersteun die veldtog heelhartig.

Schoeman, wat ’n boek geskryf het, Weermagstories – dienspligtiges verbreek die stilte, sê hy dink dit is goed vir blankes om na swart mense uit te reik om hulle beter te leer ken.

“Mense moet hul stories met mekaar deel, sodat genesing kan kom.”

Schoeman was ’n voormalige dienspligtige en luitenant-kolonel in die staande mag.

Hy is tans besig met sy doktorale studie in die pastorale sorg van veterane, daardie mense wat seergekry het en vir wie daar ook hulp is, sê hy.

  • Vorige kapelaan-generaal Marius Cornelissen van die SANW, sê hy is ook deel van die versoeningsveldtog wat in Soweto afskop.

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, verskeie instansies soos die verenigings vir veterane en die 16 Junie 1976 Soweto-stigting is betrokke.

“22 jaar die nuwe Suid-Afrika in, is daar nog baie wonde wat moet genees. Soveel as moontlik Suid-Afrikaners behoort aan die reis om heling en versoening deel te neem. Op dié manier help ons om as gelowiges God se opdrag uit te voer om verhoudings te herstel.”

  • Dan Montsitsi, onder-voorsitter van die 16 Junie 1976 Soweto-stigting, sê ons bly in dieselfde land. “Kunsmatige grense van die Groepsgebiedewet en apartheidsuithangborde het verdwyn. Ons wil die pilare en fondament vir ’n nie-rassige Suid-Afrika bou.

“Die reis van ’n ‘duisend myl’ om mense van alle kleurgroepe in die land te versoen, gaan begin met die veldtog wat op 11 Junie afskop. As daar nie nou met stene van versoening gebou word nie, gaan daar ’n reuse- ontploffing in die toekoms in Suid-Afrika plaasvind.

“Ons moet die land se bewoners leer om almal saam uit dieselfde bord te eet. Om te deel sover ons kan . . .”

  • Sien kassie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.