Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kersmaal nie weer dieselfde ná Brexit

Bespiegelinge oor die politieke gevolge van ’n “harde” Brexit doen al lank die ronde. Maar wat sal dit vir die tradisionele Britse Kersmaal beteken? vra Hana Trollman.

Die meeste Britse gesinne wil graag ’n gebraaide kalkoen op die Kerstafel hê. Foto: Getty Images

Die tradisionele Kersmaal in Brittanje bestaan gewoonlik uit gebraaide kalkoen, gebraaide aartappels, rape (witwortels) en wortels, Brusselse spruitjies met kastaiings, bosbessiesous (“cranberry sauce”) en “varke in komberse” (wors in spek toegedraai.)

Van dié bestanddele wat in Brittanje gekweek word, sal nie geraak word nie. Maar dit wat ingevoer word, sal duurder word omdat dit onderhewig sal wees aan tariewe en duur handelsversperrings as Brittanje die Europese Unie (EU) sonder ’n ooreenkoms (’n “harde” Brexit) verlaat.

Rape en wortels

Wortels en rape sal nog vir lank ’n bygereg vir die Kersmaal kan wees in Brittanje. Foto: Getty Images

Kom ons begin met die goeie nuus. Rape en wortels word in oorvloed in Brittanje gekweek. Dit is regdeur die jaar beskikbaar en word selde ingevoer. Selfs ’n Brexit so hard soos rou 'n raap sal dus kwalik ’n invloed hê op dié gewilde Kers-bygereg.

Brusselse spruitjies

Brittanje het só baie Brusselse spruitjies dat hy dié groentesoort selfs uitvoer. Foto: Getty Images

Daar is slegte nuus vir mense met die TAS2R38-geen wat maak dat hulle Brusselse spruitjies haat. Brusselse spruitjies is só volop in Brittanje dat dit uitgevoer word. Die aktuele Kersklapper-grappie – “Wat sal anders wees aan die Kersmaal ná Brexit? Geen Brussels (setel van die EU)” – sal waarskynlik nie van toepassing wees op dié groentesoort nie.

Aartappels

Britte sal nog vir lank genoeg aartappels hê om vir die Kersmaal te braai. Foto: Getty Images

Hoewel Brittanje ’n groot aartappel-produsent is, word aartappels en aartappelprodukte steeds ingevoer om aan die plaaslike aanvraag te voldoen. Dit geld veral gevriesde of geprosesseerde aartappelprodukte soos gevriesde skyfies. Danksy ’n groot oes in 2016-’17, sal Brittanje na verwagting ’n netto-uitvoerder van vars aartappels in 2017-’18 wees.

Vars aartappels is hoofsaaklik van EU-lande ingevoer, maar tradisionele verskaffers soos Frankryk het blykbaar ander markte gekry.

Britse uitvoer van vars aartappels is hoofsaaklik na die EU (98%).

So lank as wat die omstandighede vir die kweek van aartappels gunstig in Brittanje is, so lank sal daar genoeg vars aartappels wees om vir Kersmale in die toekoms voor te berei.

Kastaiings

Kastaiings uit Toskane in Italië. Foto: Getty Images

Bome wat soet kastaiings dra, is volgens oorlewering deur die seëvierende Romeine na Brittanje gebring, en soos baie ander immigrante is dit genaturaliseer en het dit ’n belangrike skakel in die voedselketting geword.

In die meer onlangse jare is kastaiings van ’n redelike grootte in die suidooste van Engeland opgelewer. Maar in ander gebiede is dit ongewoon as meer as een van die vrugte in ’n peul tot volle grootte groei.

Dit word in die algemeen nie betyds vir Kersfees geoes nie, maar kan gepreserveer word deur dit te kook en te vries.

Die vars kastaiings wat tydens die Kerstyd in Brittanje te sien is, word meestal van elders in Europa ingevoer. Dit word gedoen omdat die bome wat soet kastaiings dra, bedreig word deur ’n swamsiekte en, meer onlangs, die Oosterse galwesp.

As dit vir jou belangrik is om vars, soet kastaiings van goeie gehalte teen ’n redelike prys vir Kersfees aan te skaf, kan Brexit ’n probleem wees.

Bosbessies

Bosbessies verskaf kleur aan die Kerstafel. Foto: Getty Images

Bosbessies (“cranberries”) gee kleur aan die Kerstafel. Dit kan ook gebruik word om wraak te neem teen die handelstariewe van Amerika, die wêreld se grootste produsent van bosbessies.

Meer as 50% van Amerika se bosbessie-uitvoer in 2018 was na die EU, met Brittanje wat voor in die tou gestaan het.

Dit is egter nie te sê dat Brittanje nie sy eie bosbessies het nie. Die twee soorte inheemse bosbessies is die Vaccinium oxycoccus (die noordelike bosbessie) en Vaccinium microcarpus (die klein bosbessie.) Dit kon in die verlede in die veld in Skotland gepluk word, maar dit word nie meer gedoen nie weens habitatsverlies.

As ’n gevolg daarvan is die bosbessies wat in Britse winkels te koop is die Vaccinium macrocarpon. Dit word in Noord-Amerika en Oos-Europa geoes deur middel van ’n metode waar die veld oorstroom word; iets wat nie in Brittanje sal werk nie.

Bosbessies word in Missouri in Amerika geoes. Foto: Getty Images

Vaccinium macrocarpon word ook kommersieel gekweek op Terschelling, ’n eiland wat aan Nederland behoort.

Nederland is ook ’n handelsentrum vir die in- en uitvoer van vars vrugte en groente van oor die wêreld heen en bosbessies ter waarde van 6 miljoen euro (wat meestal elders gekweek is) is in 2017 uitgevoer.

Die beskikbaarheid van bosbessies in Brittanje is dus grootliks afhanklik van versendings uit die EU.

Ooreenkomste rondom dié aanvoerketting mag dalk ná Brexit verander, veral as Brittanje besluit om hom nie aan die EU se handelswetgewing te onderwerp nie.

Afhangend van die manier waarop Brexit plaasvind, kan die koste van onder meer die vestiging van ’n nuwe aanvoerketting wat onafhanklik is van die EU se handelsentrums lei tot aanvanklike tekorte wat pryse in die toekoms kan verhoog.

’n Werker in die Brest-streek in Belo-Rusland besig met die oes van bosbessies. Foto: Getty Images

Kalkoene

Die meerderheid van gesinne in Brittanje hou van gebraaide kalkoen op Kersdag. Dit sal hulle meer kos as daar ’n “harde” Brexit is.

Dit word al hoe duurder om met kalkoene in Brittanje te boer.

Die kalkoenboerdery Kelly Bronze se pryse het byvoorbeeld vanjaar met sowat 5,4% gestyg en hy het gemaan dat ’n “harde” Brexit sy bedrywighede met tot soveel as 70% sal beïnvloed.

’n Kalkoen wat in Ierland vir Kersfees grootgemaak is. Foto: Getty Images

’n Betekenisvolle deel van die koste verbonde aan kalkoenboerdery hou verband met arbeidskoste omdat vere met die hand gepluk moet word.

Dit steun swaar op die arbeid van EU-migrante en werkers vir die spitsseisoen oor Kerstyd en dit is ’n kwessie wat tot groot kommer lei.

Brexit-scenarios wat deur landbougroepe oorweeg is, dui daarop dat enige ooreenkoms wat arbeid beïnvloed heel waarskynlik tot hoër pryse sal lei.

Vir diegene wat nie die sak skud vir handgeplukte kalkoene nie, sal enige Brexit-handelsooreenkomste wat tariewe of invoerbeperkings op goedkoper kalkoene van die EU instel, nie laer pryse vir die verbruiker beteken nie.

Sal Amerikaanse kalkoene soos dié in die Britte se smaak val? Foto: Getty Images

’n Handelsooreenkoms met Amerika kan lei tot die invoer van kalkoene wat in water met chloordioksied gewas word – maar dit val nie in almal se smaak nie.

Ongeveer ’n halfmiljoen kalkoene is in Desember 2017 per week in Brittanje geslag. Tel ’n mens die ongeveer 1,6 miljoen van November by, is die getal steeds ses miljoen minder as die geraamde tien miljoen kalkoene wat oor Kersfees geëet word.

‘Varke in komberse’

Sowat 60% van die varkvleis wat in Brittanje geëet word, word van EU-lande ingevoer. Foto: Getty Images

Die koste van wors wat in spek toegedraai word, hang af van die beskikbaarheid van varkprodukte.

Britse boere produseer tans slegs 40% van die varkvleis wat in Brittanje geëet word. Die ander 60% word van EU-lande soos Denemarke, Duitsland en Nederland ingevoer.

Nes die geval met kalkoene, sal ’n “harde” Brexit lei tot duurder wors en spek weens invoerkoste en kwessies soos verskaffing en aanvraag daarna.

Dit mag dalk net een keer per jaar Kersfees wees, maar Brexit gaan dit waarskynlik duurder maak.

* Hana Trollman doen PhD-navorsing aan die Loughborough-Universiteit. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Brittanje  |  Brexit  |  Varkvleis  |  Rape
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.