Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KKNK: Korona laat akteurs rou

’n “Ondenkbare situasie” het ’n werklikheid geword toe die “moederfees” weens die koronavirus afgestel is, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, aan Murray La Vita.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, praat oor die kansellering van dié fees weens die koronapandemie.Foto: Jaco Marais

“Dit is . . . dit was die moeilikste besluit om te neem. Wie sou óóit kon dink dat jy ná 25, 26 jaar nié die fees gaan hou nie. En dít nadat jy hard gewerk het vir ’n hele jaar,”

sê Theart.

Hy moes Saterdagaand ’n verklaring uitreik om te sê die 26ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees vind nie meer van 23 tot 29 Maart op Oudtshoorn plaas nie.

“’n Hele span en kunstenaars en almal was voorbereid – van stalletjiehouers tot . . . Dit is ’n ondenkbare situasie . . . Om ’n fees . . . Om te sê ons gaan nie voort met hierdie datums nie. Dit het álles finansiële implikasies . . .”

In die weke nadat die koronapandemie uitgebreek het, het hy en sy span aanvanklik maatreëls begin tref om ’n veilige fees aan te bied wat al die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie nakom.

“Ons was in verbinding met die owerhede, met verskriklik baie mense, kenners ook, om al die opsies in te win en sodat ons die inligting het om ’n ingeligte besluit te neem.

“Ek was ook in gesprek met van die uitvoerende hoofde van teaters en die hoofde van ander feeste en natuurlik met ons borge. Ons het toe besef ons kán eintlik nie ’n ander besluit neem nie; dit sou onverantwoordelik van ons gewees het om voort te gaan met die fees.”

‘Eenparige besluit’

Dit is ’n verslae Theart wat oorkant my sit in die tuin van ’n restaurant op sy tuisdorp, Stellenbosch. Op sy regterhand is krapmerke.

“Dit is ek in die nag. Ek doen dit van spanning. Uit spanning krap ek myself . . .”

Die voorblad van die feesgids wat deur Le Roux Germishuizen ontwerp is. Die foto is deur Maryna Cotton geneem.

Die direksie en bestuur van die KKNK het die besluit dat die fees gekanselleer moet word, geneem ná ’n vergadering Saterdagmiddag. Hulle het die aankondigings wat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand gedoen het verwag, sê Theart.

“Die besluit is eenparig geneem. Daarna het ons baie prakties oorgegaan in hoe ons die besluit kommunikeer en hanteer.

“As so iets gebeur dan moet jy onmiddellik in ’n mode ingaan wat jy dinge moet begin uitsorteer. So, jy is in overdrive – jy moet sekere oproepe maak voordat die persverklaring uitgaan en dan moet jy reg wees vir die reaksie daarop.”

Hy moes sy emosies onderdruk.

“Teen die aand was dit ’n vreemde onwerklikheid en ’n verlatenheid wat jy voel . . . Jy het nog hierdie hele lys van goeters wat jy moet gaan doen. Jy het nog hierdie mense wat jy moet gaan e-pos om die laaste drade bymekaar te sit van die fees self en skielik moet jy . . . Dis ’n mind switch wat moet gebeur tussen fokus om die fees reg te kry wat ’n week weg is, en . . .

“Jy moet uit ’n bemarkingsoogpunt switch van om vertonings te bemark – jy wil hê mense moet kóm, en dán moet jy skielik vir mense sê: ‘Móénie meer kom nie. Móénie nou meer kaartjies koop nie.’

Wanneer word jy nou wakker?

“ ’n Mens is emosioneel daaroor. En mense met wie ek gepraat het, is ook emosioneel daaroor . . . Dit gaan oor die oudste Afrikaanse kunstefees wat as gevolg van ’n wêreldpandemie en -krisis nié kan gebeur nie.

“Op ’n eerste vlak is dit dít, en dan is dit die . . . Ek weet nie of die realiteit régtig al by my ingeskop het nie. In hierdie stadium weet ek ons moet dinge doen; ons gaan nie ’n fees hê nie. So, daar is ’n rasionaliteit, maar ’n mens sit maar so nou en dan en dink: Wanneer word jy nou wakker? Wanner is hierdie nagmerrie nou verby en kan ’n mens eintlik nou jou fees doen?”

‘Geen uitlaatklep’

Die grootste teleurstelling en frustrasie is dat daar nou geen uitlaatklep is nie.

“Jou uitlaatklep is die wonderlike produksies wat die kunstenaars bring; hul kreatiwiteit; die inspirasie wat daarmee saamgaan; dít wat ’n span mense oor maande beplan. Om te kan sien: Jissie, dit is daar en kyk hoe geniet die gehoorlede dit; die feesgangers – dít is uiteindelik jou uitlaatklep. Dit laat jou dink al die laat nagte en die harde werk is die moeite werd, en daai uitlaatklep gaan nou nie daar wees nie. Dit is verskriklik.

“Wie sou kon dink dat ’n wêreldwye pandemie en ’n virus eintlik jou grootste uitdaging word wat jy die hoof moet bied?”Foto: Jaco Marais

“Daar is nou baie mense wat aan vertonings en produksies gerepeteer het en dit nie vir mense gaan kan wýs nie . . . Ja, ’n mens raak emosioneel; ’n mens ís emosioneel daaroor op verskeie maniere, want dit is ’n skók . . .

“Ons praat altyd van die post-fees-blues wat almal kry . . . Dit is een ding . . . Ek weet nie wat ons hierdie gaan noem nie. Dis sommer pre-fees-blues . . . Verlede jaar was ons groot uitdaging beurtkrag en watertekort en ons kon die fees aanbied sonder enige insidente.

“Wie sou kon dink dat ’n wêreldwye pandemie en ’n virus eintlik jou grootste uitdaging word wat jy die hoof moet bied?

“ ’n Fees wat sou gebeur en nou nie gebeur nie . . . Die omvang daarvan is werklik ondenkbaar, maar uiteindelik is dit ’n uitdaging wat ons as ’n organisasie geforseer word om te trotseer. Gelukkig is daar ’n baie sterk span en daar is ’n direksie wat gewéldig ondersteunend is en wat help om die situasie te hanteer. Almal word op een of ander manier hierdeur geraak; nie net ons nie.”

‘Riem onder die hart’

Ons praat oor die reaksies wat hy tot dusver ontvang het op die kansellering van die fees.

“Dit is die wonderlike ding en wat my hoop gee, nie net as fees nie, maar as ’n kunstebedryf en as ’n land . . . Die ondersteuning en die onderskraging wat ons van die kunstenaars gekry het – wetende wat die finansiële implikasies vir hulleself is – en van die borge; dit is régtig nét ondersteunend en positief.

Nóú is die tyd om op ’n baie praktiese, logiese, rustige manier te kyk na alles.

“Dis ’n riem onder die hart. Ek het só baie oproepe gekry van mense wat gevra het hoe kan hulle help, hoe kan hulle ondersteun, wat kan hulle doen – ook van die ander feeste.

“Ek dink daar is ’n besef van die situasie waarin ons sit met die pandemie . . . wat wonderlik is. Die reaksie kon natuurlik anders gewees het – daar kon wóéde gewees het; daar kon enigiets anders gewees het.

“Maar dit is régtig nie wat ek ervaar nie en dít gee my hoop dat ons hierdeur gaan kom. Dít is wat ons nodig het om hierdeur te kom. Nóú is die tyd om op ’n baie praktiese, logiese, rustige manier te kyk na alles; te weet wat die situasie is en om te kyk hoe álmal wat beïnvloed word, gehelp kan word – emosioneel, finansieel en op ’n praktiese vlak.”

Help kunstenaars só

Talle kunstenaars het al te kenne gegee hulle sit nou sonder ’n inkomste.

“Ons is ’n week voor die fees en die meeste van die kunstenaars het hul produksies klaar gerepeteer; hulle is 90% daar. Die uitgawes van produksies en kostuums het hulle reeds aangegaan. Dit is belangrik vir die publiek om dít te weet.

“Almal word op een of ander manier hierdeur geraak; nie net ons nie.” Foto: Jaco Marais

“Ons moedig mense aan om die kunstebedryf te ondersteun deur nie die koste van hul kaartjie terug te eis nie sodat dít ’n fonds kan word wat kan help waar dit moet om mense nou deur moeilike tye trek. Daar is op die oomblik ’n sosialemedia-veldtog in dié verband wat ons beslis ook ondersteun.

“Ek dink dis ook belangrik om te noem dat ons as feesteforum, wat uit al die vervaardigende feeste bestaan, binne die volgende paar dae indringende vergaderings het met ’n organisasie soos NATi (die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) om na die res van die jaar te kyk; die implikasies van hierdie kansellasies.

Ek weet nie eens waar ’n fees soos Aardklop staan nie; dis in September, maar in hierdie stadium . . .

“Om as feesgemeenskap baie logies en prakties te kyk na byvoorbeeld hoe ons te werk kan gaan met produksies wat reeds vervaardig is en met die skedulering van die res van die feeste wat waarskynlik ook in die gedrang is. Ek weet nie eens waar ’n fees soos Aardklop staan nie; dis in September, maar in hierdie stadium . . .”

Nuwe geleenthede

Dit is dus ’n baie breë gesprek wat verder as die KKNK strek, sê hy.

“Ja, ons moet kyk hoe ons almal deur die volgende tydperk gaan kom; daar is ’n baie definitiewe besorgdheid oor die kunstenaars.

“Maar dit gaan ook om innovering. Ons is in ’n kreatiewe bedryf en as ons innoverend en kreatief gaan dink, gaan ons maniere vind – nuwe maniere, ánder maniere – om geleenthede te skep om kunstenaars en tegnici en mense in die bedryf te ondersteun, wat dalk ook op ’n langer termyn ’n impak gaan hê; wat dalk sommer op die bedryf in sy geheel ’n positiewe invloed sal hê.”

‘Impak is erg’

Oudtshoorn en die hele streek is ekonomies baie afhanklik van die KKNK, sê Theart.

“Daar is in ’n impakstudie bevind die ekonomiese inspuiting van die fees is jaarliks R56 miljoen en in die hele Wes-Kaap is dit R161 miljoen.

“Dit is ’n inspuiting vir restaurante en besighede en gastehuise wat hulle dan dra deur stiller maande. Oudtshoorn is natuurlik ook ’n groot toeristedorp en die pandemie het ook ’n enorme negatiewe impak daarop omdat mense nie meer reis nie.

So, dis enorme verliese wat betrokke is . . .

“Die fees skep ook baie tydelike werk vir die dorp se inwoners: die voorportaalpersoneel, die mense wat help in alle aspekte van die fees . . . Die impak op individue is erg. En natuurlik is daar koopkrag wat in die dorp inkom, wat nou nie daar gaan wees nie. Mense berei voor vir die fees; hulle koop voorraad aan.

“So, dis enorme verliese wat betrokke is . . . Ja . . . Ons gaan hierdie week met verskeie partye soos die sakekamer gesels.”

“Ek weet nie of die realiteit régtig al by my ingeskop het nie.”Foto: Jaco Marais

Hy sê hy kry ook van die dorpenaars voorstelle en planne om die situasie te beredder.

“Daar is idees op die tafel. Daar is mense wat kom met kreatiewe oplossings. Alles gaan natuurlik nie werkbaar wees nie en ons het ’n lang proses waardeur ons moet gaan kyk wat kan werk. Dis wonderlik as jy ’n gemeenskap van mense het wat begin saam dink en doen.”

‘Wat is die uitdagings?’

Dit is “angswekkend en verpletterend” wat nou besig is om te gebeur.

“Maar ons kan hierdie tydperk gebruik. Jy kan nou in sak en as gaan sit en jy kan jou hande in die lug gooi en sê: Dít is nou ’n groot gemors, maar uiteindelik . . . Néé, dít is nie waarheen ons moet gaan nie. Niemand van ons in hierdie land kan soontoe gaan nie.

“Ons moet nou álles in heroënskou neem – hoe ons leef, hoe ons die kunste bedryf, hoe ons na die wêreld kyk. Miskien, as ’n mens die paniek eenkant toe kan skuif en kan asemhaal, kan ’n mens sê: ‘Oukei, wat is hierdie uitdagings? Kom ons gebruik nou dié tyd om dit aan te pak. En miskien, en ek praat nou net uit die perspektief van die kunstebedryf, is dit die tyd wat ons kan gebruik om nuwe werk te skep.

“Van die gedagtes is om nou in hierdie tyd, sou ons befondsing kry, skrywers aan die werk te sit en werkwinkels te hou.”

Hierdie mense sou vanoggend gerepeteer het.

Ek vra hom oor produksies wat by die KKNK sou debuteer. Hy wys na ’n tafel ’n ent van ons af waar onder andere Marthinus Basson, Edwin van der Walt, Anna-Mart van der Merwe, André Roothman en Carla Smith sit.

Terminaal 3 is een . . . Hierdie mense sou vanoggend gerepeteer het.”

Wanneer ons uitstap, sê Basson, die regisseur: “Maar nou het ons gekom om te rou.”

Meer oor:  Hugo Theart  |  Oudtshoorn  |  Korona  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.