Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Klag teen OB toets vir Ramaphosa

Die proses om die openbare beskermer in ’n staat van beskuldiging te plaas, gaan wys hoeveel beheer die president oor sy eie party het, skryf Dirk Kotzé.

Die Amerikaanse president Donald Trump se verhoor deur die senaat die afgelope twee weke het die grondwetlike oorwegings van ’n ampsaanklag (impeachment) skerp onder die soeklig geplaas. Dit het ook relevansie vir Suid-Afrika – veral wat die posisie van ons eie openbare beskermer, adv. Busisi­we Mkhwebane, betref.

Die woord “impeachment” is Frans van oorsprong, afgelei van die ou Franse woord “impeechier” en die moderne vorm “empêcher” – “om te verhoed”.

Die praktyk self kom egter uit die Engelse politiek en gaan terug tot 1376, toe die parlement teen ministers en ander mense in openbare ampte begin optree het.

In Suid-Afrika is hierdie parlementêre meganisme ingesluit in die 1996-Grondwet vir moontlike optrede teen die president (in art. 89) en provinsiale premiers (in art. 130). Minder bekend is dat dieselfde meganisme ook beskikbaar is vir optrede teen regters (in art. 177) en teen die hoofde van hoofstuk 9-instellings, soos die openbare beskermer en ouditeur-generaal (art. 194).

Ons het die afgelope tyd gesien dat die Amerikaanse prosedure begin met ’n ondersoek deur die huis van verteenwoordigers om te bepaal of daar genoegsame gronde en getuienis vir ’n aanklag teen die president is. Die tweede stap is vir die senaat om die president op grond van dié aanklagte te vervolg.

In die Amerikaanse geval is die prosedure nodig in die afwesigheid van ’n moontlike mosie van wantroue en die feit dat die president gevrywaar is van enige strafregtelike vervolging.

ANC besluit nie alleen nie, maar alles gaan van hulle afhang.

In die Suid-Afrikaanse konteks is ’n ampsaanklag moontlik teen enige van die bekleërs van die bogenoemde poste. Die gemeenskaplike beweegredes in al die gevalle is ’n onvermoë om die pos se funksies te vervul of weens ernstige wangedrag. In die geval van die president is daar ’n derde beweegrede: die ernstige skending van die Grondwet of die reg. In die geval van regters, is uiterste onbevoegdheid ’n bykomende rede, terwyl in die geval van die openbare beskermer dit ook onbekwaamheid kan wees.

Terwyl die Trump-ampsaanklagte ontvou het, het ’n soortgelyke proses teen die OB begin momentum ontwikkel in Suid-Afrika. Die DA het reeds in 2019 as amptelike opposisie ’n mosie aan die speaker oorhandig om die ampsontheffing van die OB aan te vra. Die gronde waarop dit kan plaasvind is enigeen, of ’n kombinasie, van wangedrag, onvermoë en onbekwaamheid.

As deel van ’n uitspraak in die konstitusionele hof teen oudpres. Jacob Zuma het die hof die afwesigheid van parlementêre prosedurereëls vir die implementering van presidensiële ampsontheffing uitgewys. Die parlement is aangesê om dié reëls te finaliseer, wat in Augustus 2018 gebeur het.

As verdediging teen die DA se versoek om haar te ondersoek, het Mkhwebane dieselfde leemte uitgewys in die OB se ampsaanklag en -ontheffing. In November 2019 het die parlement dus reëls aanvaar wat feitlik identies aan die presidensiële reëls is. Mkhwebane se beswaar teen hierdie prosedurereëls is dat dit ongrondwetlik is. Sy maak onder meer beswaar teen die feit dat die speaker haar nie amptelik ingelig het dat die parlementêre proses binnekort kan begin nie. Die proses waarteen sy beswaar maak, kan baie kortliks opgesom word:

Enige lid van die Nasionale Vergadering (NV) kan kennis gee van ’n substantiewe mosie vir die OB se ampsontheffing, wat ’n aanklag en prima facie-getuienis daaroor insluit.

Die speaker moet dit dan na ’n onafhanklike paneel van drie lede verwys. Die paneel word deur die speaker aangewys, maar partye kan name voorlê, insluitend dié van regters. Die OB moet van die ondersoek ingelig word en kan skriftelik haar saak stel. Binne 30 dae moet die paneel ’n verslag en aanbevelings aan die speaker lewer. Die speaker moet dan ’n sitting van die NV belê om die paneel se aanbevelings te bespreek.

Indien genoegsame ondersteuning daarvoor bestaan, moet die speaker ’n parlementêre komitee saamstel. Die OB moet die geleentheid kry om saam met haar regsverteenwoordigers haar voor die komitee te verdedig. Die daaropvolgende komiteeverslag moet gevolgtrekkings en aanbevelings insluit, wat deur die NV gedebatteer kan word. ’n Finale stemming deur die parlementslede vereis ’n tweederdemeerderheid van die lede; dus 267 stemme, ongeag hoeveel lede teenwoordig is of buite stemming gebly het. In die laaste instansie moet die president van die besluit in kennis gestel word en dit implementeer. Die grondwetlikheid van hierdie prosedure is nog nie deur enige hof getoets nie. Totdat die teendeel deur ’n hof verklaar is, word aanvaar dat dit wel grondwetlik is.

Soos ook in die Amerikaanse geval, is die prosedure ’n uitsonderlike kombinasie van semi-judisiële prosesse en politieke besluitneming. Ampsontheffing van presidente is nie ongehoord nie. In die afgelope tyd was dit in Suid-Korea en Brasilië suksesvol, terwyl in Madagaskar die parlementêre besluit deur die grondwetlike hof ter syde gestel is.

Die Suid-Afrikaanse parlement het die afgelope paar jaar, insluitend die laaste Zuma-jare, baie betrokke geraak by die identifisering van persone wat deur die president aangestel moet word. Lede van die Verkiesingskommissie (OVK), die SAUK-raad, die adjunkdirekteur van die nasionale vervolgingsgesag en vele meer moes hulle in die parlement aan onderhoude onderwerp vir hul aanstelling. Mkhwebane moes dieselfde doen.

Dit verskaf die grondwetlike regverdiging vir die ampsontheffing van die OB deur die parlement.

Die toets van Mkhwebane se grondwetlike posisie deur die parlement gaan ’n baie fyn balans vereis tussen ’n onpartydige ondersoek en besluitneming wat meer as een party se ondersteuning geniet. Sy is ’n doring in pres. Cyril Rama­phosa se vlees omdat sy gesien word as partydig teenoor sy politieke opponente in die ANC. Dit sluit nie net politici in nie, maar ook van haar kollegas in die intelligensiediens. Om dus in die ANC se parlementêre koukus eenstemmigheid oor die ampsontheffing te bereik, gaan ’n baie belangrike toets vir Ramaphosa se houvas op die ANC wees.

Die parlementêre prosedurereëls het direkte implikasies vir hierdie proses. Die eerste daarvan is dat daar bewysbare gronde moet wees vir ’n ampsontheffing. Die onafhanklike paneel gaan ’n belangrike eerste skuif moet maak met hul gevolgtrekkings en aanbevelings. Die speaker speel ’n deurslaggewende rol omdat sy sowel die onafhanklike as die parlementêre komitees moet aanwys. Die onafhanklike paneel se aanbeveling sal baie moeilik deur die parlementêre komitee verander kan word, behalwe as heeltemal nuwe getuienis ter sprake kom.

Hoewel die finale besluit na ’n politieke een lyk, sal dit ’n belangrike toetsgeval word indien dit afwyk van die komitees se aanbevelings. Die ampsafleggingsbesluit vereis ’n tweederde-meerderheid. Op die oomblik is die situasie dat die DA (met 20% van die lede) die aflegging ondersteun; die EFF (met 10%) is tans daarteen gekant; en die ANC (met 57%) het nog nie ’n koukusbesluit daaroor geneem nie. Die ANC kan dus nie op sy eie die besluit neem nie, maar alles gaan van hulle afhang.

In beginsel is dit moontlik dat ’n hof op versoek die finale besluit op hersiening kan neem. Dit geld veral die vraag of die prosedure korrek gevolg is. Miskien ook of die besluit rasioneel was, en dus op die getuienis gegrond was.

Maar of ’n hof bereid sal wees om die meriete van die besluit – wat ongetwyfeld ’n politieke dimensie sal hê – te hersien, is te betwyfel.

Dit is kortom waarom die proses wat oor die volgende paar maande gaan afspeel, baie interessant én polities insiggewend gaan wees.

* Prof. Dirk Kotzé is verbonde aan die departement politieke wetenskap by Unisa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.