Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kleiner middelklas voorspel politieke onstabiliteit in SA

Die verwagte ekonomiese inkrimping sal die middelklas in die land verklein met ’n gepaardgaande toename in die aantal behoeftiges. En dit is slegte nuus vir politieke stabiliteit in Suid-Afrika, skryf Pieter Labuschagne.

’n Vrou stap Maandag in Soweto verby ’n winkel wat sy deure kon heropen terwyl twee soldate toesien dat die inperkingsmaatreëls nagekom word. Foto: Reuters

Die regering en die nasionale bevelsraad se obsessiewe en ongenuanseerde benadering tot die bekamping van Covid-19, het waarskynlik die land se ekonomie tot by die afgrond gelei.

Daar word verwag dat die middelklas kleiner sal word, dat ons meer kronies arm mense sal hê en dat dit ’n destabiliserende uitwerking op politieke stabiliteit in die land sal hê.

Die regering se manipulerende en sterk regulerende optrede in die bekamping van die koronavirus is só verabsoluteer dat dit ten koste van die ekonomie en politieke stabiliteit plaasgevind het.

Die verslegtende ekonomie en die sosio-ekonomiese agteruitgang sal in 2021 nie net tot maatskaplike probleme lei nie, maar ’n skerp toename in burgerlike onrus en diensleweringsbetogings word ook verwag, soveel so dat die “rekord” van 237 diensleweringsbetogings in 2018 kan verdubbel.

Die bevelsraad se obsessiewe drang om te beheer en te reguleer bly kommerwekkend terwyl die land dieper in die ekonomiese moeras insink. Dit is soos die Romeinse keiser Nero, wat viool gespeel het terwyl Rome brand.

’n Bewys van die staat van inperking se knellende greep op die ekonomie: ’n Leë gang in die Canal Walk-winkelsentrum. Foto: Jaco Marais

Die Covid-19-uitdaging het duidelik ’n gesofistikeerde fyn balans vereis. Die prioriteit was om die verdere verspreiding van die koronavirus te voorkom, maar met die minimum skade aan die ekonomie.

Die werklikheid is dat 55% van die land se inwoners kronies arm en onseker is oor waar hul volgende maaltyd vandaan sal kom.

Daar is selfs vrese dat duisende mense van wanvoeding en hongersnood kan sterf.

Tog hou die regering, selfs op vlak 3 van die staat van inperking, teen wetenskaplike advies vol met sy obsessiewe beheer en skep hy die indruk dat die oorheersende drang die beheer en beperking van sy burgers is.

Die groot gevaarlig is dat die ekonomiese inkrimping die middelklas in die land sal laat verklein.

Geen regering in die geskiedenis van Suid-Afrika het nog ooit so in die fynste besonderhede en op doelgerigte wyse gereguleer nie. Die niksseggende detail van sommige inperkingsmaatreëls was verstommend – en dit terwyl die ekonomie soos ’n drenkeling in ’n oseaan van irrasionaliteit wegsink.

Die debat oor sigaretverkope het in ’n bisarre magstryd deur hardkoppige rolspelers ontwikkel, wat groot verliese aan belastinginkomste vir die staat tot gevolg het.

Boonop is daar talle ondernemings wat reeds op vlak 2 met die minimum risiko vir kliënte kon funksioneer.

Deurry-kitskosrestaurante is een voorbeeld, maar nou is dit onseker hoeveel van hulle sal kan oorleef. Alle aanduidings is dat dié syfer hoog kan wees.

Die groot gevaarlig is dat die ekonomiese inkrimping die middelklas in die land sal laat verklein met ’n gepaardgaande toename in die getal behoeftiges, en dit is slegte nuus vir politieke stabiliteit in Suid-Afrika.

Die waarde van 'n middelklas

Mense staan Maandag tou buite ’n drankwinkel in Kaapstad. Drankwinkels kon Maandag vir die eerste keer sedert die staat van inperking weer hul deure oopmaak. Foto: Reuters

Die Griekse filosoof Aristoteles (384-322 v.C) het die waarde besef van ’n middelklas om stabiliteit in ’n politieke stelsel te bewerkstellig. Hy het verduidelik dat die mees stabiele staat ’n substantiewe middelklas het, wat kollektief meer as die ryk elite besit en numeries gelykstaande aan die arm klas is.

Die teenwoordigheid van ’n sterk middelklas beteken nie alleen stabiliteit nie, maar die persoonlike belasting wat die middelklas betaal, dra grootliks by om na die maatskaplike welvaart van die armes om te sien.

In die VSA, die wêreld se grootste ekonomie, word die rykes al ryker, die middelklas al kleiner en die armes neem toe en word al armer.

Die rykste 400 Amerikaners besit tans meer as 60% as wat die armstes in die land besit. In 1971 het die middelklas in Amerika sowat 61% van die bevolking uitgemaak. Dié syfer het in 2015 tot 50% gedaal en alle aanduidings is dat die grootte van die middelklas teen die einde van die jaar tot onder 40% van die bevolking kan daal.

Die bepaling van die kategorieë ryk, middelklas en arm is relatief en wissel van land tot land.

In Australië, wat volgens baie kenners een van die mees stabiele politieke stelsels in die wêreld het, maak die middelklas sowat 66% van die bevolking uit. Die ryk elite en die middelklas vorm gesamentlik ’n stabiele blok van amper 75%.

Aan die ander kant van die skaal maak die middelklas in Indië slegs 3% van die bevolking uit, met grootskaalse armoede wat op dié subkontinent heers.

Die bepaling van die kategorieë ryk, middelklas en arm is relatief en wissel van land tot land.

Gewoonlik vorm die ryk klas tussen sowat 5% tot 10% van ’n bevolking met ’n gesamentlike jaarlikse huishoudelike inkomste van meer as R736 000.

Die middelklas bestaan uit ’n stabiele en ’n kwesbare groep. Die stabiele middelklas se inkomste is tussen sowat R300 000 tot R736 000. Die kwesbare middelklas se inkomste is tussen sowat R122 000 tot R300 00 per jaar.

Die arm klas bestaan uit “oorgangsarmes” (mense wat uit die kwesbare middelklas afbeweeg het) en die kroniese armes, wie se inkomste minder as een Amerikaanse dollar per dag is en wat sukkel om te oorleef.

Die situasie in Suid-Afrika

Lang rye mense wat wag op kospakkies in die staat van inperking dui op ’n al hoe groter wordende deel van die bevolking wat verarm. Foto: Felix Dlangamandla

In Suid-Afrika was die middelklas se inkomstebron as entrepreneurs en vanweë hul betrokkenheid in die kleinhandelsbedryf reeds weens beurtkrag onder druk.

Daar is groot onsekerheid oor hoeveel kleinsake-ondernemings ná die inperking sal kan heropen en hoeveel mense weer as entrepreneurs ’n bestaan sal kan maak.

Hou in gedagte dat baie lede van die kwesbare middelklas by sulke ondernemings in diens was.

In ’n ondersoek van die National Income Dynamic Study in Suid-Afrika is bevind dat die ryk/elite-klas en die stabiele middelklas tans sowat 25% van die bevolking uitmaak.

Die kwesbare middelklas (beperkte ekonomiese sekerheid) maak ongeveer 13% van die bevolking uit en die oorgangsarmes sowat 12%. Die res van die samelewing, sowat 50%, bestaan uit die groep wat as kronies arm bestempel kan word.

Volgens berekenings kan die stabiele middelklas selfs tot onder 10% van die bevolking daal.

In die stabiele middelklas is 80% van die groep vir hul inkomste van die arbeidsmark afhanklik, terwyl die syfer vir die kwesbare middelklas ongeveer 66% is. Die groep van kroniese armes kry net 33% van hul inkomste uit die arbeidsmark met regeringstoelaes wat 50% van hul inkomste uitmaak.

Die geskatte inkrimping van 10% of selfs meer van die ekonomie en die arbeidsmark en die berekende verlies aan een miljoen werkgeleenthede, gaan veral sosio-ekonomies die kwesbare middelklas en die oorgangsarmes beïnvloed.

Die stabiele middelklas sal sekerlik krimp en ’n sogenaamde domino-effek sal volg met mense wat na die kwesbare middelklas, die oorgangsarmes en uiteindelik die groep van kroniese armes afbeweeg.

Volgens berekenings kan die stabiele middelklas selfs tot onder 10% van die bevolking daal.

’n Vooruitskatting, wat sekerlik nie onrealisties is nie, is dat die groep van kroniese armes binnekort van die huidige vlak van 50%-55% van die bevolking tot 60%-66% kan toeneem.

Daar moet onthou word dat ’n huishouding in dié groep dikwels uit sewe mense bestaan en wanneer ’n broodwinner sy werk verloor, het dit dus ’n invloed op ’n groot groep.

Die tydperk ná Covid-19

Pieter Labuschagne

Daar kan letterlik boekdele oor die regering en veral die bevelsraad se hantering van die inperkingmaatreëls geskryf word. Die onnodige detaillering en gebrek aan rasionaliteit verdien egter nie verder aandag nie.

As ’n mens ’n oorkoepelende oordeel oor die inperking wil uitspreek, staan een aspek uit: Die houding oor die aankoop van drank en sigarette. Die nadelige invloed van drank en sigarette op mense se gesondheid is voor die hand liggend en word nie betwyfel nie, maar die beperking het duidelik met meer as net die Covid-19-virussiekte te doen gehad.

In die verdediging teen ’n vyand soos Covid-19 is fokus van die uiterste belang – die oogmerk is om die verspreiding van die virus te beperk en dit te vernietig.

Die bevelsraad het egter tydens die inperking besluit om met die verbod op die verkoop van sigarette en drank morele beheer by te sleep.

Niemand is so doof soos iemand wat nie wil hoor nie.

Daar is herhaaldelik beklemtoon dat drank en sigarette sleg vir mense se gesondheid is en verbied moet word. Dit is ’n morele argument vir ’n ander dag en vir ander omstandighede.

Die verduideliking van die verband wat dit met Covid-19 het, is onvoldoende.

Die sage beklemtoon net weer hoe belangrik beheer vir die regering en die bevelsraad geword het, eerder as om die skade aan die ekonomie te probeer voorkom.

Niemand is so doof soos iemand wat nie wil hoor nie, maar Suid-Afrika se inwoners gaan ongelukkig die prys betaal vir die regering en die bevelsraad se obsessie om beheer uit te oefen.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Pieter Labuschagne  |  Australië  |  Indië  |  Amerika  |  Suid-Afrika  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Armes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.