Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Klim uit die loopgrawe’

Afrikaans kan nie net op die Grondwet vir oorlewing staatmaak nie en Afrikaners sal na ander mense in die land moet uitreik as hulle die voortbestaan van hul taal wil verseker, berig Gert van der Westhuizen.

Afrikaners is, in wat sommige van hulle as ’n toenemend vyandige wêreld beskou, baie bekommerd oor die oorlewing van hul taal.

Baie is opnuut mismoedig omdat Afrikaans as onderrigtaal op universiteite al hoe meer in die gedrang kom.

Die paneel wat deelgeneem het aan die gesprek oor Afrikaans. Van links is Barnard Beukman, redakteur van Beeld en gespreksleier, regter Johann van der Westhuizen, Willie Spies, prokureur van AfriForum, Danny Titus van die ATKV en prof. Wannie Carstens van die Noordwes-Universiteit.Foto: PictureCafé

Daar word gereeld talle voorstelle gemaak wat die oorlewing van Afrikaans moet verseker, maar Afrikaners en Afrikaanssprekendes kan nie langer net op die Grondwet daarvoor staatmaak nie.

Hulle sal self die moue moet oprol om Afrikaans te bevorder, het mense gister by die Rede-kabel-gespreksreeks op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom gehoor.

Dit was die derde van die week se aktuele gesprekke wat in vennootskap met Beeld aangebied is.


Kom uit die ‘Afrikaner-hoekie’

“Afrikaners kan hulself nie langer in ’n Afrikaner-hoekie vasverf nie,” het dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van kultuur van die ATKV, gesê.

“Afrikaans moet ’n inklusiewe taal wees in terme van sy literatuur, geskiedenis en die mense wat bygedra het tot die ontwikkeling daarvan. Ons moet weer vra wie tot die ontwikkeling van Afrikaans bygedra het en dan sal ons onder meer sien hoe groot die rol is wat Moslems gespeel het.

“Die krag van Afrikaans lê in sy diversiteit. Ons moet mekaar vind en die mure in ons koppe afbreek.”

Volgens Titus het die sensus van 2011 gewys dat 40% van Afrikaanssprekendes wit is, 50% bruin, 9% swart en 1% Indiër.

Dit is baie belangrik, het hy gesê, om daarop te let dat 602 000 swart mense Afrikaans as hul moedertaal beskou. Sulke mense moet deur ander Afrikaanssprekendes gekoester word.

Hy was juis onlangs op Buysdorp waar die gemeenskap Afrikaans praat, maar hulle was ontsteld omdat ander Afrikaners “afpraat” na hulle. Sulke dinge moet einde kry, het Titus gesê.

“Afrikaans moet ook help om stereotipes af te breek. Ja, die afdwing van Afrikaans het in 1976 tot die Soweto-opstande gelei, maar ek was in daardie jaar ’n student aan die Universiteit van Wes-Kaapland en ons het in Afrikaans teen die apartheidsbestel in opstand gekom,” het Titus gesê.

“Dié bydrae word vandag nie erken nie.”

Mense wat Afrikaans praat moet hul saak reg oordra en vertroue skep, het Titus bygevoeg. Hy het voorts gesê Afrikaans is in ’n “harde omgewing” wat die regering betref, maar dié situasie kan ook verander.

“Ons moet ’n middeweg kry sodat ons gesprekke kan voer. Ons gaan nie tot hulle deurdring as ons in ons loopgrawe bly sit nie. Ons moet uit ons loopgrawe klim en saam met die regering om ’n tafel gaan sit. Dan sal ons agterkom daar is baie welwillendheid onder Afrikaanssprekendes in die regering.”


Taal onder geweldige druk

Prof. Wannie Carstens, ’n taalkundige van die Noordwes-Universiteit, het daarop gewys dat Afrikaans reeds verskeie van sy funksies op verskeie terreine van die samelewing ingeboet het en dat mense daarom bekommerd oor die toekoms is.

Van hulle ondervind die veldtog teen Afrikaans as universiteitstaal as ’n “ons-gaan-julle-terugkry-proses”.

“Afrikaans is baie onderdruk op universiteite en dié proses het verlede jaar verskriklik versnel.”

Afrikaans vervul byna ook geen funksie meer in byvoorbeeld die staatsdiens, politiek, howe en ekonomie nie. Die vermaakwêreld is ook grootliks Engels en Afrikaans handhaaf homself byna nog net in die mediawêreld en op godsdiensgebied.

“Die werklikheid is dat Afrikaans onder geweldige druk is. As jy een funksie verloor, is dit soos ’n domino-effek,” het Carstens gemaan.


‘Laat vaar beheptheid met oorlewing’

Regter Johann van der Westhuizen, oudregter van die konstitusionele hof en deesdae inspekterende regter van die departement van korrektiewe dienste, het gesê hy weet nie eintlik wat die oorlewing is waarvan mense praat as hulle debat voer oor die toekoms van Afrikaans nie.

“Ek dink ons moet die beheptheid met oorlewing laat vaar. Ons moet ophou om vyande te maak. Ons moet eerlik wees in debatte en mense nie belaglik maak en hul skeldname van ouds soos ‘verraaier’ of ‘kommunis’ gee nie.

“Ons moet ook besef dat die Grondwet nie alles kan doen nie. Dit is eenvoudig onmoontlik. My enigste versoek is dat mense wat met die Grondwet wil speel in dié verband ook let op die artikels wat oor gelykheid en diskriminasie handel.”


Dis nie ’n ‘benoude beheptheid’

Willie Spies, AfriForum se prokureur wat ook by Pretoria FM betrokke is, het gesê Afrikaners en Afrikaanssprekendes het ’n geregverdige kommer oor hul taal en het nie net ’n “benoude beheptheid” met oorlewing nie.

“Ons het nie te doen met ’n Sondagskool-piekniek of ’n gedigtekompetisie nie. Daar is ’n vergeldingsretoriek en ’n vergeldingsindroom wat hoogty vier in die land en aangevuur word deur radikale politici.”

Hy meen universiteite het toegegee onder druk tydens die FeesMustFall-veldtog en Afrikaans prysgegee in die hoop dat dit die beweging sal neutraliseer, maar dit het nuwe stukrag daaraan verleen.

Studente word deur dosente onder druk geplaas om klasse in Engels te loop. “ ’n Kultuur wat vyandig is teenoor Afrikaans word geskep en deur aktivistiese student en bestuur deurgevoer.”

Volgens Spies kan studente op universiteit nie net ter wille van gelykheid op taalgebied te na gekom word nie. Daar word byvoorbeeld gepraat oor ’n Afrikaanse student wat in ’n beter posisie as ’n Sepedi-student geplaas word, maar almal vergeet van ’n derde student wat in ’n “hiper-bevoorregte” posisie geplaas word as Engels die onderrigtaal op universiteit word.

“Kom ons noem hom Kevin van Kensington. Hy het ook gebaat onder apartheid en as Engelssprekende het hy by uitstek gebaat onder kolonialisasie. Nou is hy weer super-bevoorreg.”


Diskriminasie-klousule

Van der Westhuizen het in reaksie hierop gesê die diskriminasieklousule sal in die geval van Engels as voertaal op universiteit sekere groepe bevoordeel, of dit nou Kevin van Kensington of Rajendra van Lenasia is.

“Daar is iewers iemand wat bevoordeel word. Dis tough luck, maar dit is waarmee ons sit.”

Daar moet ook gedink word aan studente wat veel swaarder gaan kry.

“As Jannie van Affies byvoorbeeld op die Tukkie-kampus aankom en al sy vakke in Afrikaans neem, is hy in ’n bevoorregte posisie teenoor Kgosi van Limpopo wat nie in Afrikaans kan klasloop nie en vir wie Engels ’n derde of vierde taal is.”

Spies het gesê ’n taal soos Afrikaans het strukture soos ’n universiteit nodig om te oorleef.

Foto:

“Kyk ons na wat met Afrikaans gebeur, is dit nie vanselfsprekend dat hy gaan oorleef nie. Die burgerlike samelewing en gemeenskappe sal hulself moet organiseer en self die strukture moet skep wat hul taal nodig het om te oorleef. As die regering dit nie doen nie, moet die gemeenskap dit doen.”

Titus het gesê daar is baie organisasies wat hard vir Afrikaans werk.

Daar sal egter nog baie harder gewerk moet word om ’n nuwe wêreld te ontdek.

“Daar is baie welwillendheid vir ons as ons uit ons Afrikaanse kringetjie stap.”


Toekoms is in meertalige verband

Carstens het gesê Afrikaanssprekendes moet weer passievol en geesdriftig oor hul taal wees en hul menswees daarin uitleef.

“Sprekers van die taal het foute gemaak en ons moet dit regstel. Ons het nie ’n inklusiewe prentjie van die Afrikaner nie. Ons ken mekaar nie.”

Dit is veral belangrik dat mense eerlik moet wees in die taaldebat en hulself afvra of tale kan ontwikkel en wat die afgelope 23 jaar gedoen is vir die ontwikkeling van ander tale.

Volgens Carstens is daar baie dinge wat Afrikaners kan doen om hul taal te bevorder.

“Ons moet eerlik wees, vriendelik en opreg en ons moet die belangrikheid van Engels aanvaar. Die toekoms van Afrikaans lê in ’n meertalige verband waarvan Xhosa en Zoeloe ook deel is.

“Ons moet ’n positiewe beeld van Afrikaans uitstraal. Het jy vandag ’n Afrikaanse koerant gekoop? Het jy ’n Afrikaanse show bygewoon? Het jy ’n Afrikaanse boek gekoop? Elke produk wat ons in Afrikaans koop, is belangrik.

“Ons moet uitreik en betrokke raak,” het Carstens gesê. “As jy dit nie doen nie, gaan daar niks gebeur nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.