Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Klimaatsverandering: Ja, dit raak selfs wyn en koffie

Mense sal hulle dalk meer aan die gevare van klimaatsverandering steur as hulle besef hoeveel aspekte van hul lewens daardeur geraak word, skryf Rod Lamberts.

’n Verlate landskap in die Australiese staat Victoria ná ’n verwoestende bosbrand. Foto: Reuters

Daar doen so baie stories die ronde oor die gruwels van klimaatverandering dat dit vir jou straks bra moeilik is om by te hou.

Die waarskuwings kom al van dekades gelede, maar daar is steeds diegene wat dit ontken. So dalk is dit goed om nou weer te kyk hoe klimaatsverandering jóú beïnvloed deur sommige van die goed waarvan jy hou te vernietig.

Nie die vakansie waarvan jy gedroom het nie

Ons kies dikwels vakansieplekke met die weer in gedagte. Ongelukkig kan klimaatsverandering daartoe lei dat jou gewone bestemming minder aantreklik word en uiteindelik selfs heeltemal verdwyn.

Maar daar is nou meer om oor te dink as jou gunsteling strand wat oorstroom word of die Groot Koraalrif wat verweer voordat jy dit kan sien.

Dit kan ’n avontuurlike vakansie word deur eenvoudig net by jou bestemming uit te kom, maar dit sal nie pret wees nie.

Nou moet ons bekommerd wees dat “uiterste weerstoestande betekenisvolle gevaar vir reisigers inhou”. Sulke waarskuwings wissel van reise wat ontwrig word – soos vlugte wat weens storms vertraag word – tot die gevaar om vasgevang te word in siklone, vloede of sneeustorms.

Dit kan ’n avontuurlike vakansie word deur eenvoudig net by jou bestemming uit te kom, maar dit sal nie pret wees nie.

Dinge wat eens absurd gelyk het, moet nou ernstig oorweeg word.
Prof. David Bowman

Prof. David Bowman, wat al vir 40 jaar lank navorsing doen oor Australiese bosbrande, meen dit het dalk tyd geword om die belangrikste vakansieseisoen in dié land van Desember en Januarie na Maart of April te verskuif.

Dit maak volgens hom min sin dat duisende vakansiegangers in die middel van die bosbrand-seisoen op woude en nasionale parke toesak.

“Dit is maklik om dié idee as dom af te maak, maar dit is die aard van aanpassing. Dinge wat eens absurd gelyk het, moet nou ernstig oorweeg word,” het Bowman geskryf. Dit kan ’n avontuurlike vakansie word deur eenvoudig net by jou bestemming uit te kom, maar dit sal nie pret wees nie.

’n Reddingswerker dra ’n koala na veiligheid in Victoria, Australië. Foto: Reuters

Laaste kans om wilde diere te sien

Daar is meer en meer voorbeelde van diere wat uiterste weerstoestande wat op klimaatsverandering volg ten prooi val – soos die massa “verassing” van koalas tydens die veldbrande in Australië of vlermuise wat dood neerval tydens hittegolwe in dié land.

Daarby is nuusstories oor die jongste klimaat-verwante uitwissing van diere al so algemeen soos berigte van politici wat niks daaraan doen nie.

Die Italiaanse stad Venesië is een van die Wêrelderfenisgebiede wat deur klimaatsverandering bedreig word. Foto: Reuters

Geskiedenis en erfenis in gevaar

Die Italiaanse stad Venesië het onlangs die ergste vloede sedert die middel van die jare sestig beleef en die burgemeester het dit onomwonde aan klimaatsverandering toegeskryf.

Klimaatsverandering bedreig meer as 13 000 argeologiese terreine net in Noord-Amerika as seevlakke met 1 m styg.

Benewens die menslike ramp wat daar ontvou, sien ons hoe een van Europa se merkwaardigste stede en ’n Wêrelderfenis-gebied voor ons oë vernietig word.

Klimaatsverandering bedreig meer as 13 000 argeologiese terreine net in Noord-Amerika as seevlakke met 1 m styg. Dit neem tot 30 000 toe as seevlakke met 5 m styg.

Unesco, die Verenigde Nasies se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur, is bekommerd dat klimaatsverandering ook onderwater erfenisterreine soos ruïnes en skeepswrakke bedreig.

Die verhoogde soutinhoud en warmer water in die Baltiese See lei tot meer skeepswurms wat skeepswrakke van hout opvreet.

Sneeusport ly onder klimaatsverandering met sneeu wat gouer smelt en minder gereelde sneeuneerslae. Foto: AP

Sneeu smelt en val nie meer so gereeld

Warmer temperature het al ’n negatiewe uitwerking op die sneeusportbedryf in die VSA gehad sedert minstens 2001.

In Australië sal ski-oorde teen 2040 ’n betekenisvolle afname in sneeuval sien en soos temperature styg, sal kunsmatige sneeu nie meer daarvoor kan vergoed nie omdat dit nie werk as die omliggende temperatuur te hoog is nie.

Miskien sal onlangse pogings om kunsmatige sneeu te vervaardig ons dalk ’n ekstra klompie jare se pret op die ski-hellings gee, maar ek hou nie my asem op nie.

Toeskouers soek lafenis teen die hitte by verlede jaar se Australiese Ope. Foto: Getty Images

Te warm vir sport en oefening

Dit is nie net sneeusport wat beïnvloed word nie. Namate temperature verhoog, is dit nie net minder aangenaam om in sekere dele van die wêreld in die buitelug te wees nie, maar ook meer skadelik met ’n groter risiko van hitte-uitputting as jy enige sport beoefen of oefeninge doen.

Dit beteken ook dat mense minder geneig is om bykomende oefening te doen soos om na die bushalte te stap.

Koffie kan baie duur word weens verminderde koffieproduksie as gevolg van klimaatsverandering. Foto: Argief

Betaal meer vir jou koffie

Soos die klimaat verander, sal jy ook minder koffie kan drink en dit sal ook duurder wees as jy dit wel kan drink.

Luidens ’n verslag van die Klimaatinstituut sal koffieproduksie teen 2050 met 50% afneem.

Gegewe hoe vinnig negatiewe klimaatvoorspellings in die drie jaar sedertdien aangepas is, kan dit seker nou as optimisties beskou word.

Die omgewingsaktivis Greta Thunberg en ander jong mense laat al hoe meer hul stemme teen klimaatsverandering hoor. Foto: Reuters

Jou en jou gesin se gesondheid

Soos die klimaat verander, sal dit deur middel van ’n toename in onder meer lugbesoedeling en hittegolwe ’n groter risiko inhou vir die gesondheid van jou kinders, jou ouers en jou grootouers.

Dit kan nogal bemoedigend wees om die kragtige, intelligente en positiewe optrede van die wêreld se jeug te sien in reaksie op die gebrek aan optrede deur baie regerings wat klimaatskwessies betref.

Maar die feit dat dit ’n gevolg is van letterlike eksistensiële krisisse wat ’n normale deel van die alledaagse lewens van jong mense geword het, is uiters skrikwekkend.

Vakansie is ook nie meer wat dit was nie. ’n Vakansiehuis in Tarbuckbaai in Nieu Suid- Wallis in Australië word deur vlamme bedreig. Foto: Reuters

Jou huis is nie meer veilig nie

Die bosbrande in Australië en die VSA het gewys hoe dramaties en verwoestend die gevolge van klimaatsverandering kan wees waar jy bly. Honderde huise het reeds in Australië afgebrand.

Brande kom meer gereeld voor en is meer verwoestend. Die seisoenale venstertydperke waar ons gedink het ons kan veilig voorbrande maak, word korter.

Dit is nie net moeilik om brande te bestry nie, maar ook moeiliker om dit te voorkom.

Brande is nie die enigste bedreiging vir huise nie. Oor die planeet heen word meer en meer huise vernietig deur seevlakke wat styg en storms wat toenemend meer verwoestend word, alles danksy klimaatsverandering.

Klimaatsverandering het ’n negatiewe uitwerking op druiwe en wynmakery. Foto: Argief

Nie die wyn nie, asseblief!

Is jy steeds nie oortuig dat klimaatsverandering die goed waarvan jy hou verniel nie? Wat as ek jou vertel dit gaan selfs met jou wyn gebeur?

Minder water, die agteruitgang van die grond en hoër temperature vroeër in die seisoen het alles ’n dramaties negatiewe invloed op druiwe en wynmakery.

Een klein voordeel is dat ontwrigting in tradisionele wynmaak-gebiede geleenthede skep om nuwe wynmaak-gebiede elders te ontwikkel.

Druiwe word elke jaar vroeër geoes en kundiges skryf dié verskynsel deels toe aan klimaatsverandering.

Een klein voordeel is dat ontwrigting in tradisionele wynmaak-gebiede geleenthede skep om nuwe wynmaak-gebiede elders te ontwikkel.

Maar daar is geen rede om te glo dat stabiele toestande vir die groei van druiwe in sulke gebiede sal voortduur soos klimaatsverandering vorder nie.

Yasini Mbai (32) soek skuiling teen die son toe ’n hittegolf Pretoria in 2016 getref het. Foto: Alet Pretorius

So, wat nou?

Dit is maklik om hartseer te wees. Maar dit is beter om kwaad te wees as ons van koers wil verander.

In die woorde van daardie groot Engelse liedjieskrywer en sanger John Lydon (ook bekend as Johnny Rotten), is “woede ’n energie”.

So miskien moet ons dié lys gebruik as ’n motivering om te dink, te praat en te doen. Gebruik dit as aansporing om klein, groot of ’n kombinasie van veranderings te maak.

Daar is geen manier waarop ’n suikerlagie daaroor gestrooi kan word nie: klimaatsverandering is besig om die dinge waarvan ons hou te vernietig.

Deel jou kommer én jou oplossings en doen dit aanhoudend.

Wat nou gebeur, is baie groot, oorweldigend en ook onvermydelik sonder gesamentlike optrede.

Daar is geen manier waarop ’n suikerlagie daaroor gestrooi kan word nie: klimaatsverandering is besig om die dinge waarvan ons hou te vernietig. Dit het tyd geword om meer te doen.

* Lamberts is adjunkdirekteur van Australië se nasionale sentrum vir die openbare bewusmaking van wetenskap by die Australian National-Universiteit. Dié artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Rod Lamberts  |  Klimaatsverandering  |  Koffie  |  Wyn  |  The Conversation
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.