Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kloof tussen VSA en die res al hoe groter

Die onlangse jaarlikse sekerheidskonferensie in München, Duitsland, was tekenend van ’n wêreld wat begin uitrafel, skryf Leopold Scholtz.

Mike Pence, visepresident van Amerika, is nie juis met hartlike toejuiging by die onlangse sekerheidskonferensie in München oorval nie. Foto: Reuters

Duideliker kon die kloof tussen die Donald Trump-regering en die res van die wêreld nie geïllustreer gewees het nie.

Daar staan visepresident Mike Pence agter die mikrofoon by die jaarlikse Münchense sekerheidskonferensie verlede week en begin sy toespraak: “Ek bring u die groete van die president van die Verenigde State van Amerika, Donald Trump.”

In die toespraak wat aan die media uitgedeel is, staan hier in die marge die woord “applous”. En inderdaad, Pence wag vir die applous, ’n pynlike vyf sekondes lank.

’n Doodse stilte. En dus gaan hy maar voort.

Daarteenoor bring die vrou wat deur Trump met ’n passie gehaat word, die Duitse kanselier, Angela Merkel, die gehoor van internasionaal uitgelese gaste minute lank op hul voete met ’n dawerende toejuiging.

Nooit sedert die begin van die vorige eeu was die Atlantiese Oseaan só wyd soos nou nie.

Merkel is die volwassene wat praat bo skreeu verkies.

Dis nou al sedert 1963 dat München die plek is waar ’n internasionale konferensie oor sekerheidsbeleid elke Februarie gehou word. In dié tyd het die statuur van die byeenkoms steeds verder gegroei, veral omdat invloedryke politici en staatsmanne belangrike beleidstoesprake daar kom lewer.

Dit gee hulle ook die geleentheid om twee-twee langs die kantlyne in sitkamertjies bymekaar te kom en mekaar in die oë te kyk.

Onder die magtiges wat vanjaar in München was, was Merkel, Pence, sy voorganger (oud-visepres. Joe Biden), pres. Fattah Al-Sisi van Egipte, asook die Amerikaanse, Russiese en Chinese ministers van buitelandse sake (Mike Pompeo, Sergei Lawrof en Yang Liechi).

Vantevore was alle oë gerig op Merkel en Pence.

Ofskoon Duitsland en Amerika die belangrikste moondhede in die breë Westerse bondgenootskap is, is dit bekend dat Trump Europa en Duitsland met nouliks bedekte minagting bekyk en dat hy sy amptenare al beveel het om te ondersoek wat die gevolge sou wees as hy Amerika aan Navo onttrek. Merkel, daarenteen, is die volwassene wat praat bo skreeu verkies.

Merkel en Pence se toesprake het diegene wat vuurwerk verwag het, nie teleurgestel nie. Hulle het in verskeie opsigte koppe gestamp.

Ysige stilte tydens Pence se toespraak

Die wêreld vir oulaas aan haar voete: Angela Merkel, kanselier van Duitsland, spreek afgevaardigdes toe op die onlangse sekerheidskonferensie in München. Foto: Reuters

Pence het sy baas se minagting vir die Europese Unie (EU) en Navo geëggo deur hulle eenvoudig te ignoreer. Hy het ’n skerp aanval op Duitsland gedoen omdat dié ’n gaspypleiding regstreeks uit Rusland aanlê en die Europeërs oor die algemeen ’n paar taai klappe gegee omdat hulle weier om Iran te isoleer en te boikot.

In navolging van Trump het hy opnuut twyfel gelaat oor Amerika se verbintenis tot Navo. “Ons kan nie die verdediging van die Weste waarborg as ons bondgenote hulle van die Ooste afhanklik maak nie.”

Soos die Duitse internasionale politieke kommentator Martin Klingst in Die Zeit oor Pence se toespraak skryf: “Saoedi-Arabië, die wêreldwye vlugbewegings, die kloof tussen arm en ryk, die klimaatsveranderings wat luidens peilings van die gerespekteerde Pew-Instituut in Washington deur die meerderheid van die mensdom as die grootste bedreiging beskou word, het glad nie of slegs sydelings aan die orde gekom.”

Pence se toespraak is in ysige stilte aangehoor. Die gebrek aan applous wat in die begin van dié artikel genoem is, het aan die einde in ’n beledigende maer handegeklap geëindig.

Merkel het gepleit vir méér samewerking, vir méér internasionale solidariteit, vir ’n hernieude verbintenis tot multilateralisme.

Daarteenoor was Merkel duidelik op die oorlogspad. In wat waarskynlik haar laaste optrede as kanselier op dié konferensie sal wees, het sy die handskoene uitgetrek en die Amerikaanse, Russiese en Chinese presidente, sonder om hul name te noem, behoorlik voor die bors gegryp.

Sy het gepleit vir méér samewerking, vir méér internasionale solidariteit, vir ’n hernieude verbintenis tot multilateralisme. Sy het daarop gewys dat die isolasie van state wie se beleid jy afkeur, geen antwoord is nie, maar dat die antwoord juis daarin lê om hulle méér te betrek.

“Geostrategies kan Europa geen belang daarby hê om die betrekkinge met Rusland te verminder nie,” het sy gesê. Wat ’n voortsetting is van haar jarelange houding, toe sy amper die enigste Westerse leier was wat te midde van die Russiese aggressie in die Krim en die Oos-Oekraïne voortgegaan het om gereelde gesprekke met pres. Wladimir Poetin van Rusland te voer.

Punt vir punt het sy die Amerikaanse benadering behandel en uitmekaar getrek.

Aan die einde van haar toespraak vra Merkel wie die brokstukke weer aanmekaar moet lym. “Net ons almal saam,” is haar antwoord.

Merkel had wêreld aan haar voete

Nie meer die beste van vriende nie. Mike Pence, visepresident van Amerika, en Angela Merkel, kanselier van Duitsland, by die onlangse sekerheidskonferensie in München. Foto: Getty Images

Wat daarna gebeur, is ongewoon vir ’n byeenkoms soos dié. Dawerende applous, wat nie, soos gewoonlik, ná ’n paar sekondes wegsterf nie, maar aangroei terwyl die toehoorders op hul voete kom.

Onder dié wat haar so toejuig, was die grootste afvaardiging uit die Amerikaanse Kongres ooit. Luidens berigte het ook Republikeine haar bejubel. Televisiebeelde het egter gewys dat een afgevaardigde met ’n strak gesig gesit het sonder om hande te klap – Ivanka Trump, Donald se dogter.

Ivanka Trump, dogter van die Amerikaanse president, het nie vir Angela Merkel hande geklap op die onlangse sekerheidskonferensie in München nie. Foto: Getty Images

In sy toespraak het Biden die aanwesiges wat bekommerd was na aanleiding van Pence se implisiete dreigement oor Navo, probeer gerusstel. Ongetwyfeld met die oog op sy eie kandidatuur in aanstaande jaar se presidentsverkiesing, het hy hulle verseker dat daar ’n ander Amerika is op wie hulle kon reken: “Ek beloof u, ook dit sal verbygaan. Ons kom terug.”

Wat het die Münchense konferensie vir die internasionale politiek te sê gehad? Een van die belangrikste aspekte, waarop hierbo reeds gewys is, is die groeiende kloof tussen Trump-Amerika en die res van die wêreld, maar daar is meer.

In haar toespraak het Merkel op iets anders gewys.

Sy het toegegee die opskorting van die Russies-Amerikaanse verdrag om middellangafstand-missiele te beperk (die sogenaamde INF-verdrag) was in die lig van die Russiese oortredings daarvan onafwendbaar. Maar onthou, het sy voortgegaan, die verdrag is in 1985 ter wille van Europa gesluit. En, het sy betekenisvol bygevoeg, “daar sit ons”.

Waarmee sy eintlik gewys het op die magteloosheid van die Europeërs om invloed uit te oefen op ’n saak wat eintlik hul eie belange ten diepste raak.

Joe Biden: Daar is ’n ander Amerika waarop die wêreld kan reken. Foto: Reuters

Pence het ook weer gehamer op die een aspek waarmee verreweg die meeste internasionale waarnemers, ook dié in Europa, saamstem, naamlik dat die Europese Navo-lidlande meer vir hul eie verdediging moet doen. Navo het reeds in 2015, lank voor Trump op die toneel gekom het, in reaksie op die Russiese aggressie besluit om 2% van die bruto nasionale produk aan verdediging uit te gee, en dit word nou toenemend in die praktyk gebring.

Dit neem egter nie weg dat die Europese lande min of meer die gras is waarop die olifante – Amerika en Rusland – trap wanneer hulle baklei nie. Merkel het al verskeie kere te kenne gegee dat Europa sal moet afleer om agter die breë Amerikaanse rug te skuil wanneer gevaar dreig, en dat hy meer vir sy eie belange sal moet opkom.

Die Münchense konferensie is ’n nuttige forum om probleme te identifiseer en neigings te beskryf. Dis meestal nie die plek waar oplossings gevind word nie.

“Ons moet gewoond hieraan raak,” was die kommentaar van die Letse minister van buitelandse sake, Edgars Rinkevics, oor die groeiende trans-atlantiese kloof. “Dit gaan nie wees soos die goeie ou dae nie, toe almal gekom, toesprake gehou, hande geklap en huis toe gegaan het nie. Dit word gekker en gekker. Ek weet nie wat aanstaande jaar se konferensie gaan bring nie.”

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Navo  |  Joe Biden  |  Angela Merkel  |  Donald Trump  |  Ivanka Trump  |  Mike Pence  |  Amerika  |  München  |  Duitsland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.