Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kniediep in die kubus

In enige boek van Suid-Afrika se grootste ‘boereverneukers’ moet die Namakwalander Adriaan Nieuwoudt ’n láng hoofstuk kry, skryf Izak du Plessis.

’n Milde oes: Adriaan Nieuwoudt by derduisende koevertjies met droë poeier wat “beleggers” aan hom gepos het. Hulle is R10 per koevert betaal.

Adriaan Nieuwoudt van Garies se kubusskema in die vroeë 1980’s word vandag nog beskryf as een van die wêreld se innoverendste geldmaakskemas nog. Elke ranglys van die grootste Ponzi-skemas plaas sonder uitsondering die Kubus Kwekery onder hul topvyf-skemas in die wêreld. Gaan google dit maar: Adriaan Nieuwoudt het wêreldstatus aan die Namakwalandse dorpie Garies verleen.

En hoewel talle mense uit daardie tyd hom nog steeds ’n skelm noem, word dit meestal goedig gedoen.

Miskien is dit omdat Adriaan se skema so slim, sjiek, kreatief, grandioos, ongeveins en so opreg vermetel was dat Suid-Afrikaners hul skouers redelik gelate kon optrek oor die verliese wat hulle gely het.

’n Tou mense van meer as ’n kilometer lank het voor Adriaan se kantoor gestaan.

Miskien is dit omdat so baie mense besef het hulle is op ’n manier ferplie uitgevang deur iemand wat slimmer as hulself is.

Miskien is dit Adriaan se nimlike Namakwalandsgeit.

Miskien is dit omdat hy nie regtig ’n swendelaar was nie, maar ’n eerlike skelm, soos hy homself genoem het.

Niemand sal weet nie, maar dit is so dat hy ligter daarvan afgekom het as baie wat al met ander mense se geld probeer wegkom het.

                                                                                       ***

    Maar kom ons loop nie die storie vooruit nie. Kubus Kwekery was aanvanklik ’n rasende sukses, as geld jou maatstaf vir sukses is.

    In Februarie 1984 skryf Huisgenoot die eerste keer oor die befaamde kubusskema wat Adriaan van Garies met R750 in sy rekening begin het.

    “Rykdom uit ’n Glas Vrot Melk” is die opskrif van die artikel. “Hy lyk nes ’n hopie wollerige, poeierige watte en ruik slegter as bokmelkkaas,” het Huisgenoot destyds oor die kubus geskryf.

    Dit het só gewerk, volgens die hofstukke wat beskikbaar is oor die saak:

    Beleggers is genooi om ’n “aktiveerder” aan te koop teen ’n prys van R30 per eenheid. Deur die aktiveerder op ’n sekere manier (wat geen vernuf geverg het nie) in ’n glas melk te plaas en dit ’n week lank daar te laat, is ’n substansie bo-op die melk “gekweek”, wat dan “geoes” en uitgedroog is.

    Die sogenaamde “droë produk” wat “kwekers” só verkry het, het hulle in koeverte verpak en aan die maatskappy gelewer teen betaling van R10 per eenheid.

    Met een eenheid aktiveerder kon ’n kweker vir ’n onbepaalde tyd elke week ’n eenheid droë produk voortbring.

    Die maatskappy was bereid om vir elke koevertjie met droë poeier R10 te betaal, maar elke kweker kon net vier koevertjies per maand, per aktiveerder wat gekoop is, lewer. As jou droë produk voor die 25ste dag van ’n maand ingedien is, het Adriaan jou die daaropvolgende maand op die 25ste betaal. ’n Kweker kon dus uit die R30 wat hy vir ’n aktiveerder betaal het R40 per maand verdien, oor ’n tydperk wat begin het twee maande ná sy aankoop van die aktiveerder – en wat, op die oog af altans, onbepaald sou voortduur.

    Party mense het selfs in ligte vliegtuie op Garies kom land om kubuskulture te koop. ’n Tou mense van meer as ’n kilometer lank het voor Adriaan se kantoor gestaan.

    “In ’n stadium het ons geld in kartondose gepak en dit met my Datsunbakkie bank toe gevat om te gaan inbetaal,” het Adriaan vertel.

    Op 23 September 1984 laat die Sondagkoerant Rapport die bom bars. Martin Welz, hoof van Rapport se ondersoekspan, en Herman Jansen, ’n senior verslaggewer, het die berig geskryf. Die wonderwerk uit die stinkfabriek is ’n reklamefoefie vir Adriaan se nuwe skoonheidsmiddel, Cle-sec. Duisende mense, hoofsaaklik Afrikaners, gaan miljoene verloor, het hulle geskryf.

    Teen daardie tyd het Suid-Afrikaners reeds meer as R100 miljoen belê in die onderneming.

    Teen daardie tyd het Suid-Afrikaners reeds meer as R100 miljoen belê in die onderneming wat, volgens die koerantberig, baie gou ineen sou stort.

    Volgens die berig het Adriaan self erken hy weet nie of die kubuskulture enige nut as skoonheidsmiddel het nie: “Die manier waarop die kubuskwekery tot dusver bedryf is, kom neer op ’n kettingbrief-aksie. Ontsaglike bedrae geld verwissel weekliks van eienaar. Garies se distrik alleen verdien R1 miljoen per maand uit die kubusbedryf. Die hoë pryse wat kwekers betaal word, hou geen verband met die ekonomiese waarde van kubuskulture nie. Die pryse was bloot ’n slenter om die bedryf aan die gang te kry. ‘Ons het die kwekers doelbewus so baie betaal om sensasie te wek. Die hele lewe is maar ’n foefie,’ sê mnr. Nieuwoudt.”

    Rapport het ook ’n verrassingsbesoek aan die fabriek in Parow gebring om eerstehands te sien hoe alles werk. Hier het hulle ’n groot elektriese meul gevind waarin beleggers se koevertjies met hul gedroogde kubuskultuur gegooi is om nét so gemaal en as nuwe aktiveerders aan ander beleggers gestuur te word, sonder om enigiets anders by te voeg. Die reuk van vrot melk, kaas, gom en papier was verstikkend, en die enigste aspek van die skema wat staande sal bly, volgens die berig.

    Nieuwoudt het dié volblad-advertensie in Rapport geplaas nadat die koerant sy kubus-kwekery as ’n piramideskema ontbloot het.

    Tot in hierdie stadium is ontsaglike bedrae geld in die hele kubusbedryf ingepomp. Kubus Kwekery het byvoorbeeld teen einde Junie 1984 meer as R20 miljoen in sy bankrekening by Barclays Bank in Bellville gehad. En teen September van daardie jaar, toe die Rapport-berig verskyn het, het die bedrag reeds verdriedubbel.

    “Beleggingsgeld” van nuwe kwekers is tot nou gebruik om ou kwekers vir hul oeste te betaal. Die risiko dat daar nie genoeg nuwe kwekers gaan bykom om die stelsel in stand te hou nie, het al hoe groter geword.

    Adriaan het die volgende dag in Die Burger teruggekap. Dit is glad nie waar dat die skema ’n reklamefoefie of kettingbrief-aksie is en binnekort in duie sou stort nie, het hy gesê.

    Maar die koerant is oorval met oproepe van ontstelde beleggers wat bang was hulle verloor hul geld. Adriaan het volgehou dat dit ’n goeie onderneming is en dat hulle selfs op die punt was om uit te voer en binnelands te produseer.

    Rapport kon egter geen teken vind dat die kulture uitgevoer of verwerk word nie. Al wat gebeur, is dat die oeste wat van die kwekers aangekoop word, gemaal en in kweekstelle verpak word om aan nuwe kwekers te verkoop.

    Binne sewe maande het Adriaan se foefie ’n Frankenstein geword. Van die land se top-aktuarisse het bereken dat die vervroeging van die ineenstorting met een maand, soos gebeur het ná Rapport se onthulling, kwekers R60 miljoen se verliese sou spaar. Met elke maand wat die ineenstorting uitgestel word, is méér verloorders in die stelsel ingetrek.

    Binne sewe maande het Adriaan se foefie ’n Frankenstein geword.

    En boonop sou Adriaan teen 30 November 1984 ’n yslike R810 miljoen nodig hê om Suid-Afrika se 10 000 kubuskwekers vir hul oeste te betaal – geld wat hy nie gehad het nie.

    Die hele land was in beroering ná Rapport se ontmaskering. Adriaan en verskeie ander sakevennote het die koerant vir R4 miljoen gedagvaar; handelsbanke het opdrag gekry om alle transaksies rakende buitelandse valuta wat aan Adriaan se Kubus Kwekery gekoppel is, na die Reserwebank te verwys vir goedkeuring; Dawie de Villiers, destydse minister van handel en nywerheid en toerisme, het ’n ondersoek deur die Raad op Handelspraktyke gelas na alle aspekte van die melkkultuurbedryf in Suid-Afrika; derduisende kubuskwekers het op agente van die verskillende maatskappye oral in die land toegesak om van hul “oeste” ontslae te raak in ’n desperate poging om hul geld terug te kry; en op Garies is Rapport se verslaggewer Jansen gedreig dat hy “gedonner” sal word as hy ’n dooie woord sê.

    Die berig oor dié voorval, ook in die uitgawe van 30 September 1984, is heerlike leesstof:

    “Die Kongo-koorsvirus was dié week meer welkom op Garies as ’n koerantman van Rapport. Die mense wil van jou niks weet nie. Die lede van die plaaslike Kubus-boerevereniging weier om selfs net daaraan te dink dat hul keiser dalk nie klere aan het nie.”

    Jansen skryf verder in die berig dat daar ’n amperse aanbidding vir Adriaan op Garies heers. In die dorp se kroeg het twee van sy neefs, die burgemeester Nantie Coetzee en Mike Coetzee, duidelik vir Jansen en die kameraman laat verstaan hoe onwelkom hulle op die dorp is.

    “ ‘Wat soek julle hier? Gifsaaiers!’ voeg hy (Mike Coetzee) ons toe. ‘Jammer ek het net twee doppe in, anders het ek jou gedonner.’ Later kom wys hy ons sy en sy familie se jongste kubustjeks – derduisende rande. ‘Dit wys mos die ding werk.’ ”

    Boereverneukers deur Izak du Plessis word uitgegee deur Penguin Random House South Africa en kos R240.

    Namakwaland en Boesmanland was in daardie stadium op hul knieë ná sewe jaar se droogte. In die lig hiervan is Adriaan as ’n soort Messias vir Garies voorgehou. Boere moes toekyk hoe hul gesaaides doodbrand en hulle kon nie ’n goeie prys kry vir hul skape nie. Volgens die dorpenaars was Adriaan bekender as Paul Kruger. Die burgemeester Coetzee stel voor dat Jansen die storie los en vir homself ook kubusse koop, aangesien hyself sowat R80 000 daaruit gaan verdien. Teen dié tyd is die gemoedere al kalmer, en Jansen het selfs gewaag om te vra of hulle bereid sou wees om hul winste terug te gee as iemand gaan skade ly. Nee, is die oorwoë mening, jy weet mos jy waag ’n kans as jy inklim. Op hierdie punt bars die kroegdeur met geweld oop.

    “ ‘Julle sal nie vandag lewend uit Garies uit kom nie,’ bulder ’n siedende man wat my met gebalde vuiste en groot oë in ’n hoek vasdruk. ‘God en die volk verag julle. Addergebroedsels. Werkers van Satan.’

    “Hy is die enigste broer van Adriaan, stel hy hom met witgebalde vuiste bekend. ‘Sê net iets dat ek jou kan donder.’ Ek sê niks nie. Ek merk op hoe die twee groot Mostert-broers wat saam ingekom het, Rapport se fotograaf in ’n ander hoek konfronteer. Verskeie minute lank skreeu mnr. Gert Nieuwoudt en mik-mik. Geen hou word egter geslaan nie, maar mense, dit het diplomasie gekos.”

                                                                                              ***

    Die polisie het nou ook begin ondersoek instel na die melkkultuurbedryf, volgens ’n berig in Rapport op 7 Oktober 1984.

    En die Reserwebank het nog steeds geweier om toestemming vir die uitbetaling van enige melkkultuurgeld oorsee te gee. In ’n verdere verwikkeling het die Amerikaanse departement van landbou aangekondig dat hy onder geen omstandighede sal toelaat dat kubusse na Amerika ingevoer word nie.

    Kwekers het die druk aan eie bas begin voel. Adriaan het op 4 Oktober 1984 aangekondig dat hy nog tot 15 November van daardie jaar aktiveerders sal verkoop en R10 per oes sal betaal. Ná dié datum sou hy geen aktiveerders meer verkoop nie en sal hy oorweeg om die prys van die oeste te verminder.

    ‘Julle sal nie vandag lewend uit Garies uit kom nie,’ bulder ’n siedende man.

    Op 21 Oktober 1984 berig Welz in Rapport dat die kubuskultuur plat teen die grond is. Die prys van September se oeste is in daardie week tot R1 per oeskoevertjie verlaag. In kubus-agentekantore oor die hele land is reeds uitgeskryfde tjeks, bereken teen R10 per koevertjie, stukkend geskeur. Die agente het ook die boodskap ontvang dat Oktober se oeste slegs 50 sent per koevert sal kry. Geen nuwe kwekers het meer aangesluit nie en die kontantvloei het opgedroog. Hiermee het Adriaan ’n skriftelike belofte aan sy kwekers verbreek. Hy het beloof die prys van R10 sou onbepaald gehandhaaf word en dat hy ’n maand voor die tyd per omsendbrief sal waarsku oor moontlike prysverlagings.

    Intussen het ’n benoude Adriaan probeer keer dat nóg van sy kwekers aansoek doen om die likwidasie van Kubus Kwekery.

    Hy het sy vrou en dogter inderhaas Johannesburg toe laat vlieg waar hulle in die geheim ’n kosmetiekvervaardiger ontmoet het wat moontlik ’n kubusroom kan vervaardig. Kubusagente het ook afgerolde vorms ontvang vir verspreiding onder kwekers waarin hulle ’n verklaring moes onderteken dat hulle die likwidasie van die maatskappy teenstaan.

    Ons stel nie belang in die kritici van doemprofete belang nie.
    Adriaan Nieuwoudt

    Adriaan kon dit darem regkry om sy langverwagte skoonheidsproduk op 22 November 1984 in Parow se burgersentrum bekend te stel. Dit was ’n uithanggeleentheid met reusepryse, waaronder ’n silwer Porsche 911 Carrera ter waarde van R70 000 en ’n Golf wat deur Adriaan se vrou, Flossie, en sy welbedeelde sekretaresse, Maffie, aan die 20 wenners in sy Cle-sec-wedstryd oorhandig is. Die 400 uitgesoekte gaste is van oor die hele land genooi. Adriaan het in ’n kort toespraak gesê: “Ons stel nie belang in die kritici van doemprofete belang nie” (sic).

    Op 2 Desember 1984 word die einde van kubus in groot hoofletters in Rapport aangekondig. En in Februarie 1985 verbied die regering Adriaan se skema en bevries al sy bates nadat dit duidelik geword het die gispoeier gaan nie vir die maak van skoon­heids­middels gebruik word soos hy beweer het nie. Dit was ’n klassieke piramide-skema.

    Sowat 30 jaar ná sy eerste berig oor Adriaan Nieuwoudt se vrotmelkskema, het Jansen weer met die kubuskoning gesels. Die gesprek is in Rapport van 6 April 2014 gepubliseer. In een van die vrae wou Herman weet wat Adriaan se beste herinnering aan die kubustyd was. Hy het geantwoord dat hy en adv. Langdawid de Villiers (Kubus Kwekery se advokaat) deur ’n klomp studente op die lughawe omring is wat vir hulle gesing het. Hulle was op pad buiteland toe vir ’n rugbytoer met winste uit hul kubusgeldjies. Sy slegste herinnering was die feit dat hy die eerste mens is wat deur ’n minister bankrot verklaar is. Hy het aangedui dat hy lankal ’n boek geskryf het wat in veilige bewaring is. Hy wil dit Naïef of Misgis noem. Op sy grafsteen moet staan: “Hier rus ’n eerlike skelm.”

    Meer oor:  Boek
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.