Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Koalisieregering vir Suid-Afrika: Kan dit werk?

Koalisies het die nuwe politieke towerwoord geword, maar kan ’n koalisieregering in ’n jong, demokratiese Suid-Afrika werk, vra Gert van der Westhuizen.

Mmusi Maimane (middel), leier van die DA, kondig verlede jaar ná die plaaslike verkiesings aan dat koalisies met ander partye in verskeie munisipale regerings gevorm gaan word. Foto: Cornél van Heerden

Samewerking tussen politieke partye om die ANC uit die kussings te lig is sedert 2016 se plaaslike verkiesings algemeen. Koalisies tussen die DA, EFF en UDM het byvoorbeeld die einde beteken van ANC-beheerde stadsrade in Port Elizabeth, Johannesburg en Pretoria. Kan dié samewerking nou ’n stappie verder geneem word met die ANC wat op nasionale vlak ook die gesamentlike wind van voor kry?

’n Donker toekoms word uit sommige oorde vir die ANC voorspel. Dié party beleef sy grootste krisis die afgelope 105 jaar, het prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, by die laaste aktuele gesprek van die Redekabel-gespreksreeks op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom gesê. Dit is in vennootskap met Beeld aangebied.

’n Koalisieregering bring stabiliteit mee wat die grondslag is van ekonomiese ontwikkeling.

Die ANC het met onder meer die onderlinge botsings in eie geledere in verskeie provinsies gewys hy kan homself nie bestuur nie, het Duvenhage gesê.

Mathews Phosa, een van die ANC se sewe presidentskandidate, het gesê die land is ook in ’n politieke en ekonomiese krisis.

Dié probleme, sowel as ernstige verdeeldheid in ANC-geledere, wat die moontlikheid van ’n vierde skeuring in die regerende party inhou, en aanduidings dat die party se steun boonop in die aanloop tot 2019 se verkiesing verder kan daal, laat verskeie politici en ontleders prentjies skets van ’n nasionale koalisieregering.

Koalisiepolitiek hier om te bly

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het by ’n ander Aardklop-gesprek gesê die “wittebrood van eenparty-oorheersing” in Suid-Afrika sal ná 2019 se verkiesing verby wees. “Ons moet ’n kultuur kweek waarin Suid-Afrikaners saam na oplossings soek.”

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, het ook gesê by hom is daar geen twyfel dat Suid-Afrikaners ná 2019 koalisiepolitiek in hul land sal hê nie. “Koalisiepolitiek is hier om te bly.”

Hy voorspel ’n koalisieregering wat deur “die oorblyfsels” van die ANC gelei word of een wat sal bestaan uit die DA en ander partye.

“ ’n Koalisieregering bring stabiliteit mee wat die grondslag is van ekonomiese ontwikkeling. Dit het in Duitsland gebeur waar partye saamgewerk het ondanks ideologiese verskille,” het Steenhuisen gesê.

Julius Malema, leier van die EFF, verduidelik verlede jaar op ’n mediakonferensie waarom sy party ’n koalisievennoot van die DA op plaaslike regeringsvlak gaan word. Foto: Felix Dlangamandla

Selfs Phosa het nie die moontlikheid van ’n nasionale koalisieregering uitgesluit nie as die ANC se steun op nasionale vlak tot 40% sou daal. Hy het gepraat van ’n breë koalisieregering waarin die ANC steeds die sterkste party sal wees.

“ ’n Koalisieregering sal nie ’n ramp wees nie. Koalisies is normaal in ’n demokrasie.”

Phosa het gesê hy vind nie die samewerking op munisipale regeringsvlak tussen die DA en die EFF vreemd nie, hoewel dié twee partye ideologies baie van mekaar verskil. Hy het dié koalisie as “baie normaal” bestempel.

Koalisieregerings werk in lande met ’n gevestigde demokratiese tradisie soos Duitsland, maar Suid-Afrika se demokrasie is aan die ontwikkel en sal nog tyd neem om volwassenheid te bereik.

Tog verloop die samewerking tussen die koalisievennote nie altyd vlot nie. Die DA en UDM het byvoorbeeld in Port Elizabeth swaarde gekruis, met die DA en EFF wat ook nie altyd saamstem en behoorlik saamwerk nie. Dit laat die kans op ’n werkbare koalisie op nasionale regeringsvlak maar skraal lyk.

Sal koalisies lei tot verdere onstabiliteit?

Volgens Duvenhage wys dié struwelinge op die moeilike tye en politieke uitdagings in Suid-Afrika. “Koalisiepolitiek is die produk van ’n redelik stabiele politieke stelsel. Ons het nie ’n gevestigde tradisie van koalisies nie en daarom is ek bevrees dat dit net tot verdere onstabiliteit kan lei.”

Theo Bekker, politieke ontleder en direkteur van strategiese projekte in die kantoor van die NWU se rektor, het gesê hoewel koalisies ’n regering onstabiel maak, is dit ’n normale proses.

Koalisieregerings werk in lande met ’n gevestigde demokratiese tradisie soos Duitsland, maar Suid-Afrika se demokrasie is aan die ontwikkel en sal nog tyd neem om volwassenheid te bereik.

ANC-lede soos Phosa verwys egter na die land se eerste demokratiese regering wat volgens hulle niks anders as ’n koalisieregering was nie. Dit het bestaan uit lede van die ANC, NP en IVP.

Mathews Phosa, een van die ANC se presidentskandidate, voorsien dat ’n breë koalisie van politieke partye die land ná die verkiesing van 2019 kan regeer. Foto: Theana Breugem

Boonop vorm die ANC, SAKP en Cosatu al lank ’n koalisievennootskap, het Dakota Legoete, die ANC se provinsiale sekretaris in Noordwes, gesê. “En dit is ’n koalisie wat ons tot lank ná 2019 nog aan die gang wil hou.”

Phosa het gesê die ANC sal nie sy neus optrek vir samewerking met enige party nie. Steenhuisen het gesê die DA is bereid om saam te werk met mense wat sy waardes en ekonomiese beleid deel.

Dit sluit egter nie die ANC “in sy huidige vorm” in nie. Die ANC het volgens Steenhuisen eers ’n tydperk van loutering in die opposisiebanke nodig waar hy gesuiwer kan word van onder meer die ongebreidelde korrupsie waarmee hy deesdae vereenselwig word.

Ons het weer ’n droom nodig wat ons sal help om ’n gedeelde patriotisme te vind.

Steenhuisen is ook nie te vinde vir die breë koalisieregering waarvan Phosa gepraat het nie. Hy het dit vergelyk met die koalisie in Zimbabwe tussen die MDC en Zanu-PF ná ’n bekookte verkiesing.

“Dié breë koalisie waarin die MDC met Zanu-PF saamgewerk het, het niks verander nie. Zanu-PF het byvoorbeeld nie minder korrup geword nie. Die regering moet eers verander voor daardat daar verbetering is.”

Hoewel dit duidelik was dat partye soos die ANC en DA nie maklik koalisievennote sal word nie, is dit belangrik dat Suid-Afrikaners op die een of ander manier moet saamwerk vir ’n beter toekoms; al is dit nie noodwendig amptelik in ’n politieke partyverband nie.

Bekker het gesê Suid-Afrikaanse gemeenskappe raak die afgelope ses tot sewe maande al hoe meer verdeeld. “Ons sal weer moet gaan kyk hoe ons as gemeenskappe kan saamwerk.”

Volgens Legoete is dit in die belang van die land dat die ANC saamwerk met enigiemand wat ’n beter Suid-Afrika wil sien. “Ons het weer ’n droom nodig wat ons sal help om ’n gedeelde patriotisme te vind.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.