Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Koalisies: Malema in kabinet ná verkiesing?

Julius Malema én Floyd Shivambu aanstaande jaar lede van die kabinet ná ’n koalisie tussen die ANC en die EFF? Dalk onwaarskynlik, maar nie onmoontlik nie, skryf Pieter Labuschagne.

Kollegas in die kabinet ná 2019 se verkiesing? Pres. Cyril Ramaphosa skud onlangs in die parlement die EFF se Floyd Shivambu se hand. Foto: Adrian de Kock

Die belangrikste rede vir die vorming van ’n koalisie tussen partye is om die sterker party ’n meerderheid in die nasionale vergadering te gee. Die junior vennoot in die koalisie se voordele sluit eie belang, partybelange en voordele vir sy ondersteuners in.

Koalisies tussen partye word egter soms om minder etiese redes gevorm. Alexis de Tocqueville skryf in Democracy in America (1835) dat gedeelde “haat” dikwels in die politiek die grondslag van vriendskap vorm. Dit is dié gedeelde belange en “haat” wat waarskynlik die dryfveer vir koalisievorming ná volgende jaar se verkiesing kan wees.

Om moontlike koalisievorming in Suid-Afrika te bespreek is dit belangrik om die basiese kenmerke van ’n koalisie te verstaan.

Die basiese kenmerke van ’n koalisie

Julius Malema, leier van die EFF, kan homself dalk in die kabinet bevind ná aanstaande jaar se verkiesing as sy party ’n koalisie met die ANC aangaan. Foto: Argief

Die fundamentele aard van ’n koalisie is dat dit ’n ooreenkoms tussen twee of meer partye is om ’n meerderheid in die wetgewende vergadering te bewerkstellig om te kan regeer.

Politieke partye kan ook ’n informele samewerkingsooreenkoms sluit. Die DA en die EFF het in 2016 ná die plaaslike verkiesing samewerkingsooreenkomste aangegaan. Dit was informele ooreenkomste en nie koalisies nie. Die EFF het bloot die DA gesteun om die verlangde meerderheid te kry wanneer besluite geneem moes word.

Die EFF se basiese motivering was om die ANC te marginaliseer en dikwels is die “ooreenkoms” gebruik om die DA te manipuleer.

’n Koalisie is egter ’n baie meer formele en gestruktureerde ooreenkoms. Dit is ’n groepering van opponerende politieke akteurs wat “saamspan” vir ’n gemeenskaplike doel of selfs die afwering van ’n gemeenskaplike bedreiging.

Die vorming van ’n koalisie op nasionale vlak staan as ’n koalisieregering bekend en is in wese ’n formele ooreenkoms tussen twee partye om saam te werk. Die ooreenkoms sluit verdeling van ministeriële poste in en bied aan die sterker party die geleentheid om ’n meerderheid in die wetgewende vergadering te verkry. Dié meerderheid verseker dat die leier van die sterker party die eerste minister of president kan word.

In die politiek, net soos in die ekonomie, is daar nie iets soos ’n gratis ete nie en ’n teenprestasie word vir die koalisie-vorming vereis.

Die formele ooreenkoms tussen die twee partye moet die volgende insluit:

* ’n Ooreenkoms oor ’n gesamentlike deeglike gestruktureerde beleid, die antisipasie van die uitdagings en hoe om die probleme te hanteer.

* Sterk klem op billikheid, byvoorbeeld dat die partye proporsioneel leierskapposisies in verhouding tot hul steun in die nasionale verkiesing kry.

In die politiek, net soos in die ekonomie, is daar nie iets soos ’n gratis ete nie en ’n teenprestasie word vir die koalisie-vorming vereis. Die “eis” in dié geval is dat die koalisievennoot in die koalisieregering ook kabinetsposte kry.

Genl. J.B.M. Hertzog het in 1933 as leier van die Nasionale Party ’n koalisie-ooreenkoms met genl. Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party aangegaan. In die nuwe Verenigde Party (VP) het Hertzog eerste minister geword met Smuts as sy adjudant, terwyl enkele van Smuts se senior SAP-lede kabinetsposte gekry het.

Moontlike koalisie in Suid-Afrika?

Genl. J.B.M. Hertzog het in 1933 as leier van die NP ’n koalisie met genl. Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party aangegaan. Foto: Argief
Genl. Jan Smuts se standpunt oor deelname aan die Tweede Wêreldoorlog het in 1939 die einde van die koalisie tussen die Nasionale Party en die Suid-Afrikaans Party beteken. Foto: Argief

Die vorming van koalisies in Suid-Afrika is ’n rare verskynsel in teenstelling met Europa waar koalisievorming meer algemeen is. Suid-Afrika en die meeste lande aan die suidpunt van die Afrika (Angola, Zimbabwe en Namibië) neig meer na de facto-eenpartystate met ’n enkel oorheersende party wat die politieke toneel dekades lank oorheers.

In Suid-Afrika het twee partye amper ’n eeu lank die politieke landskap oorheers. Die NP het, met enkele onderbrekings, vanaf 1924 tot 1994 die politieke toneel oorheers en die ANC sedert 1994. Daar was dus geen nodigheid om ’n koalisie aan te gaan om politieke beheer te verkry nie.

Die koalisie van 1933 tussen Hertzog en Smuts is een van die weinig voorbeelde. Die ANC en die NP het ná die eerste demokratiese verkiesing op grond van die Grondwet van 1991 ’n tussentydse regering van nasionale eenheid gevorm.

Dit is egter nie dieselfde as ’n koalisie nie.

In die Suid-Afrikaanse politiek is daar tans ’n skuif van die tektoniese ondersteunersplate. Die ANC se steun was sedert 1994 in algemene en plaaslike verkiesings gereeld meer as 60%. In die munisipale verkiesing van 2016 het die party se steun met 8% geval.

Die breë konsensus is dat die ANC se verwagte steun in die verkiesing in 2019 moontlik tot net bokant 50% kan daal.

As dié party se steun as gevolg van interne faksiegevegte tot onder 50% daal, sal dit hom voor ’n aantal keuses te staan bring.

* Regeer as minderheidsparty. Dit is wel moontlik om te regeer as ’n party die meeste stemme, maar minder as 50% van die totale stemme gekry het.

Die DA het egter op munisipale vlak ervaar dat dit tot ’n groot mate van politieke onstabiliteit en onsekerheid kan lei.

* Die vorming van ’n koalisie met die tweede of derde sterkste party ná die verkiesing om ’n meerderheid in die nasionale vergadering te verkry.

Hoe lyk partye se steun?

Ondanks die omstredenheid rondom Patricia de Lille glo die DA hy kan sy steun in aanstaande jaar se verkiesing tot 25% rek. Foto: Argief

Die algemene verkiesing vind eers oor sowat 6 maande in Mei 2019 plaas. Gevolglik moet beramings gebruik word om partye se steun te bepaal, maar daar is duidelik tendense wat ’n aanduiding van die steun vir die sterkste partye kan wees:

* Die ANC se steun was dekades lank redelik veilig bokant die drempel van 60% in nasionale en plaaslike verkiesings. Dit het in 2016 se plaaslike verkiesing tot 57% gedaal en sy eie interne peiling het bevind dat dit volgende jaar tot so laag as 52% kan daal. Met die reeks onthullings en skandes wat dié party tans skud, is dit dus moontlik dat die party sy meerderheid in die parlement kan verloor.

* Die DA se steun was lank meer as 20%. Ondanks die omstredenheid rondom Patricia de Lille glo die party dat sy steun volgende jaar tot meer as 25% kan styg.

* Die EFF se steun is in ’n opwaartse kurwe – van 6,3% in 2014 se verkiesing tot 8,1% in 2016 se plaaslike verkiesing. Ontleders meen as die EFF “VBS-gate” kan oorleef, kan sy steun tot meer as 10% en selfs so hoog as 12% styg.

Moontlike koalisies

Mmusi Maimane, leier van die DA, tussen ondersteuners. Foto: Argief

As die ANC se steun tot onder 50% daal, kan hy na koalisievennote aan die linker- en regterkant van die politieke spektrum soek.

Dit is egter belangrik om die kernbeleidsaspekte te identifiseer wat as “gom” vir ’n moontlike koalisie kan dien. Die twee kernaspekte wat waarskynlik sentraal in die aanloop tot die verkiesing sal staan, is die gebrek aan ekonomiese groei en herverdeling, korrupsie en die onvermoë om armoede doeltreffend op te los.

Die ander kernaspek is die beoogde onteiening van grond sonder vergoeding. Verskille hieroor skakel die DA as moontlike koalisievennoot uit. ’n Koalisie-ooreenkoms met die DA sou beteken dat die ANC sy grondonteieningsprogram sal moet afwater en meer gematig formuleer.

Enige afwyking van die beoogde grondonteiening sonder vergoeding sal die EFF se posisie versterk. Dit sal ook die ANC se strewe om ’n party “vir die mense te wees” knou en sy steun laat afneem.

Die ANC sal dus verplig wees om na die EFF as moontlike koalisievennoot te kyk. Dié twee partye se siening oor grondhervorming het sterk ooreenkomste. Die steun van 10% plus wat die EFF kan bydra, is nie te versmaai nie.

Pieter Labuschagne

Vir die EFF is daar natuurlik heelparty voordele in ’n koalisie met die ANC. Sy beleidsprogramme kan meer aandag kry, maar die grootste aantrekkingskrag is die senior uitvoerende poste wat ’n junior vennoot toekom. Indien die toedeling van ministeriële poste bloot numeries benader word, kan die EFF met sy steun van 10% of meer op 20% van die kabinetsposte aanspraak maak.

Die kabinet het 35 ministers en daar is ook 37 adjunk-ministers. As die EFF se aansprake op senior uitvoerende poste numeries hanteer word, kan dit beteken dat ses ministers en sewe adjunkministers van dié party sal wees.

Die EFF-leier mag selfs op ’n hoër posisie as minister aanspraak maak. Die Grondwet van 1996 maak voorsiening vir ’n kwasi-presidensiële stelsel en dit bied die geleentheid om ’n baie senior posisie aan die koalisievennoot te bied.

Artikel 87 bepaal dat die president ná sy verkiesing nie langer ’n lid van die wetgewende vergadering kan bly nie. Artikel 91 (4)(b) bepaal dat die president ’n lid van die kabinet as leier van “regeringsake” in die nasionale vergadering moet aanstel.

In wese sal so ’n pos, die tweede belangrikste posisie in die regering, ’n groot aantrekkingskrag vir iemand soos die ambisieuse Malema, huidige EFF-leier, wees.

So iets sal weens verskeie redes nie in die belang van die land wees nie. Die ANC besef daarom deeglik dat sy interne probleme spoedig opgelos moet word sodat hy behoorlike steun kan kry en koalisies vermy.

* Labuschagne is ’n emeritus-professor in politieke wetenskap aan Unisa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.