Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Koester dié land

Suid-Afrikaners verwaarloos “God se eie land”, skryf Douglas Gibson.

Grafika: Rudi louw

Enigiemand wat twyfel daaroor dat Suid-Afrika “God se eie land” is, moet vir ’n paar jaar in ’n vreemde land gaan woon, soos wat ek in my diplomatieke dienstermyn in Thailand gedoen het.

Ongeag hoe opwindend en eksoties dit is, het ek ná ’n paar maande agtergekom ek hunker daarna om, selfs net vir ’n week of twee, ons eie land te besoek.

Dit het alles by my opgekom toe ons bevoorreg was om onlangs die &Beyond Ngala Tented Camp in die Timbavati, aangrensend aan die Krugerwildtuin, weer te besoek.

Ons het buitengewoon baie wild gesien, met spesiale waarnemings soos luiperds wat paar, en teen sonsondergang die mees uitsonderlike interaksie tussen twee hiënas, vyf jagluipers, vyf wildehonde en ’n jakkals.

Elke keer as ek sommige van ons wonderlike toeriste-aantreklikhede besoek, keer ek opnuut geesdriftig terug oor ons land en wat hy het om te bied. Toerisme is wêreldwyd die grootste skepper van werkgeleenthede en kan dit ook in Suid-Afrika wees.

Die nalatenskap van David Mabuza, Suid-Afrika se adjunkpresident en voormalige premier van Mpumalanga, is jammerlik en ’n mens kan net hoop dat sy opvolger beter sal vaar.

Doelwitte nodig

As pres. Cyril Ramaphosa werklik ernstig is daaroor om werkgeleenthede vir ons mense te skep, moet hy die minister van toerisme, Derek Hanekom, en almal in die toerismebedryf aanmoedig om doelwitte te stel vir die uitbreiding van ons hotelle en oorde sodat ons jaarliks baie meer verblyf aan toeriste kan bied.

Natuurlik is daar uitdagings: Nie almal wat na ons land kom, wil of kan derduisende rande per nag betaal nie. Ons het verblyf nodig, ook vir ons eie mense, wat wissel van goedkoop tot eksklusief.

Voorts is baie groter klem op die verkryging van geskikte jongmense en hul opleiding as topklas-werknemers in restaurante, hotelle en oorde nodig.

Ander uitdagings is die ellendige toestand van sommige van die dorpe waardeur jy op pad na die Krugerwildtuin ry.

Ons nasionale paaie is uitstekend, maar dieselfde kan nie gesê word wanneer jy tussen Dullstroom en Lydenburg en verder ry nie. Die manier waarop Mpumalanga sy paaie in stand gehou het, is skokkend.

Die nalatenskap van David Mabuza, Suid-Afrika se adjunkpresident en voormalige premier van Mpumalanga, is jammerlik en ’n mens kan net hoop dat sy opvolger beter sal vaar.

Suid-Afrika is God se eie land. Kom ons begin hom koester, bemark en geniet as ’n groot erfenis wat aan ons almal behoort.

Droewige standaarde

Ons het ’n merkbare verbetering opgemerk toe ons die Limpopo-paaie bereik het. Hulle vaar ten minste op daardie gebied baie beter as in Mpumalanga.

Dan is daar Lydenburg. As daar ooit ’n neerdrukkende voorbeeld was van munisipale wanbestuur, dan is dit dié plek, wat dringend ’n verandering van regering nodig het.

Die hoofstraat het aaklige slaggate. Die sypaadjies is vol rommel en vieslik vuil. Al langs die hoofstraat is die winkels meestal slordig en vervalle en verskaf min aanmoediging aan reisigers om stil te hou en geld te bestee of dit selfs te oorweeg om die nag daar deur te bring.

Hoekom roep die burgemeester nie die burgers en handelaars byeen en stel voor dat die plek, sonder om miljarde te bestee, opgeknap word nie?

Dieselfde hartseerstorie kan natuurlik deur ons land gesien word. Die ouditeur-generaal het onlangs in sy verslag aan die parlement aangedui dat slegs 33 van die 257 plaaslike regerings in Suid-Afrika op ’n redelik gesonde voet is. Die plundery, korrupsie, nepotisme en politiekery het gelei tot droewige standaarde in groot dele van die land.

Douglas Gibson

Ramaphosa het veelvuldige kommissies en ondersoeke aangekondig, maar talle sal min van werklike waarde voortbring.

Wat van die aanstelling van ’n plaaslike regeringskommissie wat daarop gemik is om hierdie regeringsvlak in die afsienbare tyd reg te ruk? Wat van ’n beroep op burgemeesters en raadslede om erns te maak met die bevordering van toerisme en om die land te omskep in ’n toeristevriendelike bestemming, sonder om noodwendig baie geld te bestee, maar in die proses ’n betekenisvolle verandering te bewerkstellig in werkloosheidsyfers op dorpe reg oor die land?

Suid-Afrika is God se eie land. Kom ons begin hom koester, bemark en geniet as ’n groot erfenis wat aan ons almal behoort.

Dit kan soveel beter wees as wat dit is en ons kan dit doen as daar die nasionale wil is om die taak aan te pak.

  • Gibson is ’n voormalige opposisie-hoofsweep en ambassadeur in Thailand.
Meer oor:  Toerisme  |  Werksgeleenthede  |  Aktueel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.