Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kohesie 2018-styl?

’n Bietjie geskiedkundige bewussyn moet in Suid-Afrika se geskiedenisleerplan ingesluit word voordat dit ’n verpligte vak word sodat leerlinge die vermoë het om onderwys-, maatskaplike en politieke probleme as deel van die geskiedenis te sien, skryf Natasha Robinson. 

Geskiedenis kan eersdaags tot in gr. 12 ’n verpligte vak word in skole. ’n Taakspan wat deur die minister van basiese onderwys aangestel is, het dié aanbeveling gedoen in ’n verslag wat vroeg in Junie uitgereik is.

Drie doelwitte

Die taakspan meen onderrig in geskiedenis dien drie primêre doelwitte. Die eerste is om leerlinge te leer om kritiese denkvaardighede te ontwikkel wat spesifiek verband hou met “bewyse” en die unieke konsepte wat nodig is om ’n akademiese historikus te word.

Die tweede doelwit is om ’n identiteit te ontwikkel, met ’n fokus op pan-Afrikanisme en nasiebou.

Die derde hou verband met sosiale kohesie – die vermoë om rasse-, klasse- en etniese grense oor te steek en vooroordeel en kwessies wat verband hou met ’n multikulturele gemeenskap te erken.

As geskiedenis reg onderrig word, lui die verslag, sal dit vir skoolverlaters baie makliker wees om onderwys-, maatskaplike en politieke probleme te hanteer.

Van my bevindings dui daarop dat kinders wat kennis dra van geskiedkundige gebeure sukkel om te verduidelik hoe dié gebeure die kontemporêre gemeenskap vorm.

Groter sosiale kohesie

Die taakspan huldig nie ’n unieke standpunt nie. Van die argumente is gegrond op dekades se post-konflikliteratuur wat dui op die belangrikheid van onderrig in geskiedenis ter wille van geheue- en identiteitsvorming.

Aangesien onderrig in geskiedenis gelykgestel word aan sosiale kohesie, is die logiese argument dat méér onderrig in geskiedenis noodwendig sal lei tot groter sosiale kohesie. Die probleem is dat onderrig in geskiedenis – soos dit tans hanteer word – nie noodwendig tot hierdie uitkomste sal lei nie.

Die veldwerk vir my navorsing behels die waarneming van vier diverse gr. 9-klasse in Kaapstad – kinders van verskillende rasse wat verskillende spektrums van maatskaplike en ekonomiese status verteen-woordig.

Die waarnemings vind plaas gedurende die akademiese jaar en diepteonderhoude word met leerlinge en onderwysers gevoer.

Van my bevindings dui daarop dat kinders wat kennis dra van geskiedkundige gebeure sukkel om te verduidelik hoe dié gebeure die kontemporêre gemeenskap vorm.

Onderrig in geskiedenis moet meer eksplisiet fokus op ’n geskiedkundige bewussyn as die verwagting is dat leerlinge Suid-Afrika se maatskaplike probleme moet kan hanteer.

So ’n fokus sal leerlinge help om ’n verband te trek tussen gebeure in die verlede en die huidige realiteit sodat hulle kan verstaan hoekom hulle is waar hulle is.

Apartheidslesse eindig by 1994

Om ’n geskiedkundige bewussyn te ontwikkel, moet dinge anders gedoen word as wat tans die geval is.

Neem een van die handboeke, die Platinum Social Science Learner’s Book, wat vir gr. 9-leerlinge in Suid-Afrika voorgeskryf word, as voorbeeld. Die geskiedenis in dié handboek raak aan ’n hele paar belangrike onderwerpe, soos menseregte, rassisme en wettige diskriminasie. Sommige van die draaipunte in die geskiedenis van apartheid, soos die Sharpeville-massaslagting, die Langa-optog, die Soweto-opstand en die vrylating van Nelson Mandela word ondersoek.

Die hoofstukke beklemtoon die redes en gevolge van die geskiedkundige oomblikke. Leerlinge word geleer om nie net die apartheidsregime se menseregtemisbruik te verstaan nie, maar ook die aard van die weerstand teen die regime, wat uiteindelik gelei het tot demokrasie in Suid-Afrika.

Die handboek se lesse oor apartheid eindig egter by die “geskiedkundige” verkiesing van 1994. Die verkiesing is bo alle twyfel ’n pre­stasie wat gevier moet word. Maar die implikasie van die handboek is dat armoede, rassisme, diskriminasie en geweld – alles aspekte van die apartheidsregime – tot ’n einde gekom het met die 1994-verkiesing.

Die handboek se lesse oor apartheid eindig egter by die “geskiedkundige” verkiesing van 1994.

Langdurige impak nie bekyk

Daar is eenvoudig geen bespreking van die langdurige impak van apartheid of enige verband tussen Suid-Afrika se geskiedenis en huidige probleme nie.

Dit beteken dat dit dikwels oorgelaat word aan individuele onderwysers om daardie verbande tussen die hede en die verlede duidelik te maak.

Dis eintlik nie ’n verrassing nie, maar die onderwysers wat ek waarneem, konstrueer ’n geskiedkundige bewussyn op baie verskillende maniere, hoewel hulle met presies dieselfde stel geskiedkundig korrekte gebeure werk.

Een onderwyser verduidelik byvoorbeeld aan sy klas – almal van dieselfde ras – dat die gebrek aan diversiteit onder hulle ’n direkte gevolg is van apartheid. ’n Ander onderwyser het die fascistiese benaderings van Nazi-Duitsland met die apartheidstaat verbind en albei gebeure ferm in die verlede geplaas.

Dit is nie ’n oordeel van die geskiedkundige bewussyn van hierdie onderwysers nie. Maar dit is tog die moeite werd om die diverse eietydse betekenisse wat aan geskiedkundige gebeure geskep word te ondersoek wanneer ’n geskiedkundige bewussyn afwesig is in ’n leerplan.

Wanneer hulle egter gevra word om die voortgesette rykdomsverskil tussen wit en swart te verduidelik, is hul enigste verklaring dat swart mense lui is.

Verhouding tussen hede, verlede

Wat selfs interessanter is, is die reaksies van die leerlinge – almal sowat 14 jaar oud – as hulle verduidelik hoe hulle die verhouding tussen die verlede en die hede sien.

Van die leerlinge het ’n goeie begrip van apartheidsgebeure. Wanneer hulle egter gevra word om die voortgesette rykdomsverskil tussen wit en swart te verduidelik, is hul enigste verklaring dat swart mense lui is.

Baie van hulle het glad nie strukturele of geskiedkundige verklarings gebruik om hul eie maatskaplike werklikheid te interpreteer nie.

Een Xhosa-sprekende swart leerling wat in ’n plakkerskamp woon, het geargumenteer dat apartheid geen blywende uitwerking op hom het nie, want die wit gesin wie se huis sy ma skoonmaak, praat gereeld vriendelik met hom.

Die meeste leerlinge met wie ek gepraat het, glo dat die kolonialisering van Suid-Afrika primêr positief was, want nou het ons “klere, kos en tegnologie”.

Nie een van die leerlinge van enige ras het geglo dat wit mense ’n geskiedkundige verantwoordelikheid het om die foute van die verlede reg te stel nie.

Natasha Robinson

Hierdie leerlinge is nie dom nie en ook nie oningelig nie. So hoe maak ’n mens sin van hul reaksies?

Dalk is dit hoe sosiale kohesie in 2018 lyk.

Die meeste van hulle is nie kwaad oor die verlede nie, want hulle kan nie sien dat die verlede ’n spesifieke impak gehad het op hul huidige omstandighede nie. Die verlede het hulle iets te leer, dit is nie iets wat in hul pad staan nie.

Die vraag is egter of hulle die vermoë het om onderwys-, maatskaplike en politieke probleme te hanteer as hulle hierdie probleme sien as losstaande van die geskiedenis.

En as hulle ontdek dat hulle nié hierdie probleme kan hanteer nie, moet ons dalk ’n bietjie geskiedkundige bewussyn by Suid-Afrika se geskiedenisleerplan insluit voordat ons dit verpligtend maak.

Robinson is ’n doktorsgraadstudent en navorsingskonsultant aan die Universiteit van Oxford.

Meer oor:  Kolonialisme  |  Geskiedenis  |  Aktueel  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.