Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kolisi, kyk ’n bietjie terug

Eerder as om hom oor rugbykwotas uit  te laat, behoort Siya Kolisi erkenning te  gee aan spelers wat opofferings vir sy generasie gemaak het, skryf Heindrich Wyngaard.

Siya Kolisi: “Ek wil nie vanweë my velkleur gekies
Siya Kolisi: “Ek wil nie vanweë my velkleur gekies word nie.” Foto: Getty Images

Ongetwyfeld kan Siya Kolisi oor die 2018-rugbyjaar terugkyk as sy seisoen van hoop: Nie net was hy ’n gevestigde insluiting in Rassie Erasmus se begin-vyftiental nie, maar hy is ook die eerste swart Afrikaan wat as die Springbokke se toetskaptein aangewys is.

Dit is ’n prestasie wat hy met grasie aanvaar het. Maar terselfdertyd het hy dit ondergeskik gestel aan sy toegewydheid aan die spel en sy spanmaats, asook aan sy opregte waardering vir die besondere voorreg om vir sy land te kan speel.

Terwyl ’n mens begrip het vir hierdie gebaar van beskeidenheid, het Kolisi geen aanduiding gegee dat hy sy prestasie in rugby – en sport in die algemeen – se bepaalde historiese konteks beskou nie. Dit is naamlik dat swart spelers (in die generiese sin van die woord) nie in die ou Suid-Afrika die voorreg gegun is om vir die Bokke te speel nie – gewoon weens hul velkleur en nie omdat hulle noodwendig aan vaardigheid tekort geskiet het nie.

Dit is daarom belangrik om veral vandag se gekleurde spelers oor dié geskiedenis te skool.

Sommige, soos Errol Tobias, die eerste gekleurde Springbok, het darem “halwe gapings” gekry; spelers van die destydse Sacos-geaffilieerde Saru het geweier om die “wit establishment” se hand te versterk; en ander, onder wie David Barends en Green Vigo, het hulle na die rugbyliga in Brittanje gewend, lees ’n mens in Peter Lush en Hendrik Snyders se Tries and Conversions.

Dit is daarom belangrik om veral vandag se gekleurde spelers oor dié geskiedenis te skool.

In die eerste instansie was Kolisi tegnies nie die eerste swart “nasionale” kaptein nie. Hy was wel die eerste in die ná-eenheidstydperk of in die post-1994-era.

Wat vooraf geskied het, lánk gelede, was dat spanne van die SA Coloured Rugby Football Board en SA African Rugby Football Board en later tussen die bruin Federasie (Proteas) en swart Rugby-vereniging (Luiperds) in minstens 26 “interras”-toetswedstryde kragte gemeet het.

Errol Tobias, die eerste gekleurde Springbok. Foto: Garth Lumley

Onder leiding van kapteins soos Grant Khomo het die Springbokke wat swart Afrikane was en later die Luiperds in 13 van die wedstryde geseëvier, die Proteas met kapteins soos Dougie Dyers het in 12 kragmetings die botoon gevoer, en een stryd het gelykop geëindig.

“Wat my betref, is Khomo een van ons land se grootste swart sporthelde ooit – as eerste kaptein van die Luiperds se nasionale span, as krieketheld en tennisster,” sê Snyders, sporthistorikus en geskiedenishoof van die Nasionale Museum in Bloemfontein. “Die vernoeming van die nasionale o.16-rugbyweek na hom in 2003, asook die toekenning van die Orde van Ikhamanga (silwer) aan hom in 2010, was dus twee vererings met ongetwyfelde meriete.”

Sedert 1971 is die Luiperds en die federasie ook internasionale blootstelling gegee – teen Italië, Engeland, die magtige Britse Leeus van 1974, die Franse in 1975 . . . en teen die besoekende Nieu-Seelandse All Blacks in die politiek-plofbare 1976. Dit was ook in 1975 dat die heel eerste veelrassige Suid-Afrikaanse span plaaslik uitgedraf het: ’n uitnodiging-XV wat die Franse op Nuweland gepak het met vier gekleurde spelers – John Noble, Morgan Cushe, Turkey Shields en Toto Tsotsobe.

In ’n verdere aanduiding – of versinsel? – dat rugby aan die normaliseer was, is eenheid in 1978 tussen die wit SA Rugby- Voetbalraad, bruin federasie en swart vereniging bereik. Maar dit was ’n onvoltooide eenheid, want die destydse Saru het nie geglo in “normale sport” in ’n “abnormale samelewing” nie.

Dié unie het ook nasionale spanne gekies, wat meestal teen Saru-uitnodigingspanne of -unies gespeel het, en derhalwe “swart” nasionale kapteins van die kaliber van die uitstekende skrumskakel Julian Smith opgelewer het. “My keuse was om aan dié kant te bly speel; om die opofferings te maak,” sê Smith in ’n video-onderhoud by The Springbok Experience-rugbymuseum in Kaapstad, “sodat toekomstige generasies vir ’n verenigde nasionale span kan speel.”

Maar toe amptelike eenheid in 1992 bereik is, wat dit moontlik gemaak het vir Suid-Afrika om die Mandela-geïnspireerde Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 aan te bied, was die speelveld tussen wit en gekleurde spelers nog ver van gelyk.

Hoe anders verklaar ’n mens dit dat Chester Williams, ’n federasie-produk, die enigste swart teenwoordigheid in die Springbokspan vir die toernooi was? En dat hy op dié wyse slegs die derde gekleurde Springbok in die geskiedenis geword het – ’n dekade nadat sy oom Avril op vleuel vir die Bokke teen die Engelse besoekers van 1984 uitgedraf het en 15 jaar nadat Tobias sy toetsdebuut in 1981 op Nuweland gemaak het?

Dit was in dieselfde jaar dat Tobias saam met die Bokke na Nieu-Seeland getoer het, ’n toer waarop hy die onstuimigheid van anti-apartheidsbetogings en stiefkindbehandeling moes trotseer aan die hand van die afrigter, wyle Nelie Smith, en die spanbestuurder, prof. Johan Claassen (wat verlede Sondag) gesterf het. Selfs al het Tobias self en spanmaats soos Danie Gerber, Wynand Claassen en Rob Louw almal in boeke hieroor geskryf, het sowel Smith as prof. Claassen dit in onderhoude vir my 2017-biografie oor Tobias ten sterkste ontken.

Hoe ook al, toe Tobias op toer worstel met die vraag oor of hy sy tasse moes pak, het hy daarteen besluit, sê hy, sodat bruin en swart seuns in hom die moontlikheid moes raaksien om eendag die Groen-en-goud oor hul kop te trek – en ook: “ter wille van my land”.

Dit is hierdie geskiedenis wat die beweegrede was vir rugbybase se instelling van regstellende maatreëls, soos transformasieteikens (of “kwotas”), om die historiese agterstand te help uitwis – en dit (met nie eens 100 gekleurde Bokke sedert Tobias se speeldae nie) is steeds ’n onafgehandelde taak.

“Omtrent net bruin en swart seuns wat deur toprugbyskole en rugby-akademies opgeraap word, het werklik ’n kans om hul Bok-ambisies te verwesenlik,” sê die rugbytalentsoeker Malcolm Hendricks. “Die res val deur die mat.”

Siyamthanda Kolisi het dit goed getref: Hy het by Grey High School in Port Elizabeth skoolgegaan. Die afgelope week het hy hom egter in ’n storm bevind oor sy uitsprake teen “kwotas”, waaroor Rapport verlede Sondag berig het.

In ’n onlangse onderhoud in Japan het hy in antwoord op ’n vraag gesê hy dink nie Madiba sou die kwotastelsel ondersteun nie. “Jy moet nie ’n getal aan so iets koppel nie,” het hy voortgegaan. En sy eie afkeer ook duidelik gemaak: “Ek wil nie vanweë my velkleur gekies word nie.”

Dié stelling dui daarop dat hy die leuen glo dat “kwotaspelers” per se nie hul plek in die span werd is nie. Maar wat hy uit die oog verloor, is dat SA Rugby uit eie wil ’n transformasieteiken van 50% wit, 50% gekleurde spelers vir die 2019-WB in Japan gestel het.

Die toernooi, waar Kolisi die Bokke gaan lei, geskied 40 jaar nadat die eerste volwaardig gemengde nasionale groep spelers, ’n SA Barbarians-span, in September en Oktober 1979 na Brittanje getoer het. ’n Derde van die span was wit, ’n derde swart en ’n derde bruin. Ook die bestuurspan was verteenwoordigend van die drie rassegroepe – en die uitslae was nie te versmaai nie: vier oorwinnings, een gelykoptelling, twee nederlae.

Dit was veronderstel om ’n nuwe, opwindende hoofstuk in Suid-Afrika se rugbygeskiedenis te open, maar helaas het die hoop beskaam. ’n Wêreldbeker-Bokspan wat heeltemal verteenwoordigend is van die land se rugbyspelende bevolking, kan einde vanjaar opnuut dié hoop laat opvlam.

  • Heindrich Wyngaard is ’n TV-aanbieder en skrywer van die biografie Bursting Through the Half-gap – The Errol Tobias Story (Dickie & Bugler Publishers, 2017).
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Siya Kolisi  |  Ras  |  Kwotas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.