Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kollig: Vervang dwelms net met liefde . . .
Everett Poole, hoof van die Red River Primary School in Manenberg.


Die bendeprobleem op die Kaapse Vlakte kan opgelos word, skryf Julian Jansen.

As die skoolhoof Ursula Jacobs soggens haar kindertjies in ’n ry laat aantree het – menige keer pas nadat hulle aan die kruisvuur van Manenberg se strydende bendes ontkom het – kon sy op hul gesiggies sien hierdie een is oukei, die een ook, daardie een is nie fine nie. En al lyk sommige ­joviaal, is hulle eintlik getraumatiseerd, sê sy.

Jacobs was 43 jaar lank ’n onderwyser by die Red River Primary School – 15 daarvan as skoolhoof.
In 2014 het Everett Poole by haar oorgeneem.

Die afgelope week sit die twee langs mekaar in ’n splinternuwe skoolgebou van R60 miljoen, in gebruik geneem nadat Jacobs daar weg is. Die skoolgebou is dalk nuut, maar hulle is omring deur relatiewe armoede – reg in die middel van die kruisvuur tussen die Dixie Boys, die Hard Livings en die Clever Kids.

Die mure van die ou skoolgebou, vertel sy, was vol koeëlgate. Selfs in haar kantoor was daar twee. Die kinders moes menige keer plat op die grond lê as die gangsters begin skiet.

Ursula Jacobs was vir 43 jaar ’n onderwyser by Red River Primêre skool. Foto: jaco marais

Jacobs het destyds bendeleiers in hul skuilplekke gaan konfronteer om hulle na die skool te nooi om met haar te kom praat. Hulle het nooit opgedaag nie.

“Ek wou vir hulle sê: ‘Dit is ’n skool, waar jul kinders, broers, ­susters, neefs en niggies moet kom leer. Gee asseblief jul samewerking.’ ”

Op haar “forever”-wenslys vir Red River is (steeds) kleiner klasse, nie die huidige 45 tot 60 kinders in die klas nie. Want só kan onderwysers nooit die kleingoed se hart en siel bykom nie.

Ook meer vrywilligers, meer maatskaplike werkers, meer skoolsielkundiges.

Tans is daar slegs een maatskap­like werker vir elke 20 skole in die provinsie. Manenberg het 11 laer-
en twee hoërskole.

“One person never can do jus­tice, you know,” sê sy.

Sy sê vandag is daar selfs meer bendes as toe sy begin onderwys gee het. En al bring die stabiliseringseenheid (bestaande uit die polisie se honde- en berede-eenheid en spesiaal opgeleide beamptes van die metropolisie) gou-gou vrede, is dit net ’n tydjie, dan bars die oorlog weer los.

Net verlede maand het bende­gevegte die lewe van 14 jong mans hier in Manenberg gekos.

Net buite die hekke van Red ­River smeul ’n onrustige vrede in die kil herfslug.

Die kinders is onvoorbereid vir formele onderrig. En hul ouers – baie van hulle eintlik self nog kinders – is nie toegerus vir ouerskap nie, sê Jacobs.

Baie van die kinders maak hulself dus groot en dan moet die skool hulle leer hoe om te praat, hulself te was en te eet – voordat formele skoolwerk (eers) kan begin.

Glynda Herman, ’n vrywilliger van die St. James Opvoedkundige Trust beaam dit. Die trust se programme help leerlinge in gr. R en gr. 1 om die gaping tussen huis en skool te oorbrug, maar ook met ­biblioteke, voedingskemas en opvoedkundige uitstappies vir elk
van die 852 leerlinge

“Alle misdaad kom van die hart, so ons praat tot die hart – dat ­kinders goeie keuses maak,” sê ­Herman.

Ten spyte van die klaarblyklik ­onoorkombare probleme, bly Poole propvol optimisme: “Die nuwe skoolgebou vra vir nuwe maniere van dinge doen. Ons moet die grondgebied waarin ons lank as ­gyselaars gehou is, terugneem.”

Soggens staan hy met ’n megafoon op die sypaadjie en wens die ouers en (hopelik ook die bendes) ’n mooi oggend toe. Hy bedank ­ouers dat die kinders skool toe gekom het en verseker hulle dat hul kinders veilig is.

Poole het baie idees vir Red ­River: kunsklasse, ’n atletiekbaan, handvaardighede, ’n sentrum vir volwasse leer.

                                                                                                          ***

Wen Kaapstad die stryd teen die bendes? Is dit moontlik?

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Kaapstad, neem die metropolisie maandeliks honderde bendelede in hegtenis vir die besit van dwelms, onwettige vuurwapens en ammunisie, en konfiskeer hulle dwelms en vuurwapens.

Hy sou graag die misdade wou ondersoek en vervolg ook, maar kan nie, want dit is in die hande van die polisie en die strafregstelsel.

Wat egter pla, is dat dit dieselfde gesigte is wat gereeld, oor en oor, deur die stad in hegtenis geneem word.

Dié patroon sal voortduur totdat die howe strenger borgtogvoorwaardes toestaan, die sake deeglik ondersoek word én maksimum vonnisse opgelê word, glo hy.

Die stad het reeds in 2006 besef die polisie trap klei met bendegeweld en het toe hul eie spesiale eenhede gestig om bendebedry­wighede te bekamp.

Meer vuurwapens en dwelms as ooit word uit die bende-ekonomie verwyder deur goeie misdaadintelligensie, gerugsteun deur ’n netwerk van informante. Bendeverwante moorde het ook afgeneem nadat baie van die high flyers in hegtenis geneem is.

Smith sê die stad se eie bende-eenheid spog met ’n agtvoudige toename in dwelm- en bende-inhegtenisnemings, met ’n suksesvolle vervolgingskoers van 67%, baie ­beter as die SAPD s’n.

Met die Ceasefire-projek word hoërisiko- jong mense geteiken om hulle te help om uit bendes te ontsnap.

Om die wetstoepassers te versterk, word ook saamgewerk met verskeie staatsdepartemente om ­gemeenskapstrukture te versterk – onder meer deur programme van maatskaplike ontwikkeling, projekte vir gesinsversterking, sagte vaardigheid- en stokkiesdraaiprogramme.

Die metropolisie se jeugkadet-program het die afgelope drie jaar meer as 4 000 buurtwaglede op­gelei. Eersdaags sal buurtwaglede met handradio’s regstreeks met die metropolisie se beheerkamer kan gesels.

                                                                                                        ***


Maar is die stad op die regte spoor?

“Kaapstad het nie ’n bendeprobleem nie, maar ’n jeugprobleem – en boonop ’n grote,” sê Don Pinnock, ’n oudjoernalis met 30 jaar se ervaring van die Moederstad se bendewêreld.

Sy boek, Gang Town (met ’n streep deur die woord “Cape”), het pas verskyn.

Hy sê Kaapstad word onder die toptien toeristebestemmings gereken, maar as die son saans sak, gooi die ikoniese berg ’n donker skadu oor die Kaapse Vlakte en van die gevaarlikste buurte in die wêreld.

Hy sê hy het baie simpatie met Kaapstad en Smith. Hy meen die stad vaar ’n bietjie beter as ander Suid-Afrikaanse stede wat met soortgelyke probleme worstel.

Hy self het al Kaapstad se topamptenare oor die “bendeprobleem” toegespreek. Of die probleem ooit opgelos sal word, hang af van watter staatsdepartemente almal deelneem, sê hy.

Vir die polisie het hy nog meer empatie, want almal blameer die manne in blou en sê húlle moet die gemors hanteer. Om boonop die weermag na die townships te bring is totaal laf, sê hy. Hulle kom (net) om dood te skiet.

Pinnock stippel die eerste paar kilometer van ’n nou paadjie uit wat die stadsvaders bereid sal moet wees om te bewandel as hulle die stryd teen bendes wil wen:


* 
Die opvoedingstelsel is ‘vervelig én verkeerd

Skole fokus net op “kopgoed” met die hoop dat kinders professionele of klerklike werk gaan verrig.

Kinders is daarom glad nie opgewonde oor skool nie, daarom die hoë skoolverlatingsyfer. Formele opvoeding moet meer op handewerk, waarin ook intelligensie lê, fokus.

Die uitdaging is om die honderde seuns wat letterlik op straathoeke sit en uiteindelik by bendes aansluit, terug op skool te kry.

Verskillende bendes verg ook ­verskillende benaderings deur die owerheid.


* 
Die probleem met die ma’s

Volgens die jongste navorsing word die kind se genetiese struktuur in die baarmoeder reeds lank voor geboorte beïnvloed deur onder meer die omgewing waarin die verwagtende ma leef.

Dit kan in so ’n mate gebeur dat tragiese gebeure dié struktuur selfs kan verander.

Ná geboorte is aanraking en liefde uiters belangrik en moet die jong moeders ondersteun word deur programme wat hulle help om hul kinders groot te maak.

* Dekriminaliseer dwelms

Die bendeprobleem is ook ’n gesondheidsprobleem, sê Pinnock.

Dwelms moet gedekriminaliseer word, want dit sal bendes en sindikate laat ineenstort, meer polisie­beamptes vrystel, die werklas van howe verminder en die gevangenisbevolking halveer.

Pinnock sê die land se soge­naamde “oorlog” teen dwelms het misluk.

Ons moet gaan kers opsteek by Portugal. Nadat hulle dwelms gedekriminaliseer het, het die land nou die laagste dwelmmisbruiksyfer in Europa.

Hy sê anders as wat mense glo, is dit nie die chemikalieë wat verslawend is nie, maar “ongelukkigheid”.

Smith sê hierop die stad sal hom by enige regeringsbesluit oor dwelms berus. Terwyl dit egter onwettig is, sal die stad voortgaan om die dwelmwette toe te pas.

  • Nog oplossings?

Pinnock sê oplossings kom deur moeilike en ongemaklike vrae te vra.

Vrae soos: Behoort bendelede tronk toe gestuur te word?

Nee, sê Pinnock, want op dié ­manier gooi jy net mense wat woedend is vir mekaar saam op een plek. Dit is ’n bose kringloop.

Wat eintlik benodig word, is meer plekke waar bendelede iets kan leer en wat hulle kan voorberei op ’n lewe buite bendes.

Kan bendes geëlimineer word? Dis moontlik, maar nie eenvoudig nie, sê Pinnock.

As ’n mens die probleem van alle kante takel, na swanger meisies kyk, vroeë kinderontwikkeling, die probleem van afwesige jong vaders, positiewe rolmodelle kweek, die onderwysstelsel verbeter, lewensvaardighede aan gevangenes leer – dan kan jy miskien uiteindelik ’n punt bereik waar die lewe as ’n bendelid aansienlik minder aan­treklik word.

“Gee kinders van vroeg af liefde en sorg. Dan skei hul liggaam hul eie ‘goedvoel’-dwelm af.”

Enige program wat gebou is om die vervulling van daardie behoeftes wat bendes so aantreklik maak vir jong mense, het die grootste kans op sukses, sê Pinnock.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.