Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kom dans, Karabyn

Pres. Donald Trump se gedrag verskraal Amerika se internasionale statuur, skryf Leopold Scholtz.

Pres. Donald Trump en Wladimir Poetin op die mediakonferensie wat mense se monde laat oophang het.

Lank laas het die buitelandse besoek van ’n Amerikaanse president soveel mense na hul asem laat snak soos die pas afgelope verblyf van pres. Donald Trump in Brussel, Brittanje en Helsinki.

In Brussel, waar hy die jaarlikse Navo-spitsberaad bygewoon het, het Trump sy eie bondgenote lelik die ore gewas omdat hulle te min aan verdediging bestee en gerieflik agter die breë Amerikaanse skouers wegkruip. Hy het die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, kwaai aangepak en haar selfs taamlik persoonlik beledig.

In Brittanje het hy die ongehoorde stap gedoen deur sy gasvrou, premier Theresa May, in ’n onderhoud met The Sun oor haar Brexit-strategie uit te trap. Agterna het hy die onderhoud “fopnuus” genoem, al het die koerant die volledige opname van die onderhoud op sy webtuiste gepubliseer.

En in Helsinki het hy op die mediakonferensie ná sy gesprek met pres. Wladimir Poetin van Rusland sy eie intelligensiedienste se eenparige gevolgtrekking dat die Russe ten gunste van Trump in die verkiesing van 2016 ingemeng het, gerepudieer. Poetin se ontkenning was “kragtig”, het hy gesê, en bygevoeg hy sien nie in waarom die inmenging wel gebeur het nie.

Onderweg terug na Washington, het sy naaste raadgewers – veral Mike Pompeo, sy minister van buitelandse sake, James Mattiss, minister van verdediging, en John Kelly, sy personeelhoof, hom stewig aangepak. En tuis het selfs sy eie ondersteuners in die kongres en koerante wat hom normaalweg goedgesind is, hom ongehoord heftig gekritiseer.

Die gevolg was dat hy almal opnuut na hul asem laat snak het met die ekskuus dat hy hom in Helsinki “verspreek” het. Hy het glo bedoel om te sê dat hy nie insien waarom Poetin nié sou ingemeng het nie.

Poetin het die Amerikaanse president uitoorlê.

Dit was, op die keper beskou, ’n flou ekskuus wat hom weer eens ’n vloedgolf hoon op die hals gehaal het.

In die politieke tydskrif The Atlantic het die Amerikaanse politieke wetenskaplike prof. Amy Zegart van die Stanford-Universiteit ’n teoretiese uiteensetting gegee van vyf faktore waarop Amerika se internasionale posisie berus. Die vyf is:

  • Amerika se gunstige geïsoleerde geografiese posisie. Aan sy weste- en oostekant word hy begrens deur groot oseane; noord en suid deur twee swak, bevriende moondhede: Kanada en Mexiko.
  • Amerika is die leier van ’n breë internasionale bondgenootskap, wat Navo insluit, maar ook Oos-Asiatiese moondhede soos Japan, Suid-Korea en die Filippyne.
  • Amerika se ekonomie is die sterkste ter wêreld. Die steeds laer handelstariewe en globalisering was die olie in die Amerikaanse ekonomiese ratte wat ongekende welvaart meegebring het.
  • ’n Faktor wat nie gekwantifiseer kan word nie, is Amerikaanse waardes. Dit is nietemin in die algemeen waar dat die Amerikaanse waardes van vryheid, gelykheid en verdraagsaamheid aan die land ’n internasionale geloofwaardigheid besorg het wat vele male groter is as dié van outoritêre of diktatoriale lande soos Rusland en China.
  • Ten slotte is daar Amerika se militêre krag, verreweg die sterkste ter wêreld.

Die vraag is nou hoedanig Trump se buitelandse beleid, waarvan sy pas afgelope Europese besoek deel was, die land se internasionale posisie bevoordeel of juis benadeel het.

Uit die aard van die saak het die besoek nie Amerika se geografie beïnvloed nie. Wat wel waar is, is dat hy Kanada en Mexiko herhaaldelik in die tande skop, maar hulle is te swak dat dit Amerika se situasie beslissend kan laat versleg.

Wat die tweede punt betref, het Trump sy land se geloofwaardigheid in Europa en Brittanje pas beduidend aangetas. Jy kan nie die moondhede wat veronderstel is om jou naaste bondgenote te wees so erg beledig sonder dat jou statuur daaronder ly nie.

Daar is algemene konsensus dat Trump in beginsel ’n punt beet het wanneer hy oor die Navo-lidlande se gebrekkige verdedigingsbesteding beswaar maak. Dit gaan oor hóé hy dit doen – plus dat hy sy eintlike opponente, Rusland en Noord-Korea, terselfdertyd die hemel in prys.

Daar is ook geen beswaar dat Trump Amerika se betrekkinge met Rusland probeer verbeter of Noord-Korea probeer ontwapen nie. Maar kyk net hoe tevrede word in Rusland op die beraad gereageer: “ ’n Stil, beskeie Trump het verbleek in vergelyking met Wladimir Poetin. Dit is duidelik dat Poetin die Amerikaanse president uitoorlê het,” luidens die ontleding in die Poetin-dagblad Moskowski Komsomolets.

Die eerste aflegging van werkers het klaar begin.

En Komsomolskaja Prawda, ook een van Poetin se spreekbuise, se oordeel was: “Trump het nie daarin geslaag om Poetin te oorheers nie.”

Toevallig (of wás dit?) het op dieselfde dag bekend geword dat die Europese Unie (EU) en Japan ’n omvattende vryhandelsverdrag gesluit het – waarmee ook ’n politieke boodskap aan Amerika gestuur is.

In Europa neem die oortuiging steeds meer toe dat die betrekkinge met Amerika sleg sal bly solank Donald Trump agter die lessenaar in die Ovaalkantoor sit. Die strategie wat sterk veld wen, is tweërlei: Probeer die skade so ver moontlik beperk, en beplan vir die tyd ná Trump. Of dit nou oor twee en ’n half jaar is, of ses en ’n half jaar, dit sál verbygaan, en dan kan die natuurlike ooreenstemming in belange weer die betrekkinge bepaal.

Zegart se derde punt is die ekonomie. Trump het ’n paar interessante dinge op dié terrein gedoen, soos om belasting te verlaag, waardeur mense meer geld in hul sak oorhou en meer kan bestee. Op kort en mediumtermyn bevoordeel dit die ekonomie. Maar die eerste tekens van die nadele van die handelsoorlog wat hy willens en wetens met China en die EU aangaan, is reeds te sien. Die georganiseerde Amerikaanse werkgewersverenigings – normaal sterk pro-Republikeins – het hom vergeefs gewaarsku, en die eerste afleggings van werkers het al klaar begin.

’n Mens sal maar moet sien hoeveel dit Amerika gaan benadeel. Maar die geskiedenis wys dat niémand ooit ’n handelsoorlog wen nie; álmal verloor.

Ten vierde, waardes: Hieroor kan ’n mens kort wees. In Europa is daar kommer dat Trump die Amerikaanse samelewing sodanig verdeel dat dit die land en sy demokrasie op die duur kan verswak. Selfs TheWall Street Journal, wat normaalweg agter Trump staan, het al dié vrees uitgespreek.

Ten slotte, militêre mag: Onder Trump word Amerika se weermag tereg aansienlik versterk. Amerika speel al sedert 1945 ’n leidende politieke rol in die wêreld, en al kan ’n mens tereg skerp kritiek daarop lewer, was die uitwerking, netto gesproke, meer positief as negatief.

Dat dit so kon wees, was deels die gevolg van die land se militêre krag.

Tog, twee nuanses: Die ou Sowjetunie se totale militêre oorheersing van Oos- en Sentraal-Europa het gewys dat slegs militêre mag op die duur nie genoeg is nie. Met die USSR se politieke, ideologiese en ekonomiese bankrotskap was sy weermag nie voldoende om sy heerskappy te behou nie.

Ten tweede, Amerika se militêre oorwig het slegs sin as hy bondgenote in Europa, Oos-Asië en die Midde-Ooste het. Daarsonder kan hy tot ’n tweede Kanada of Mexiko verskrompel.

Alles in ag genome, het Trump se reis na Europa die land se internasionale statuur eerder benadeel as bevoordeel.

  *Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke ontleder.

Meer oor:  Donald Trump  |  Wladimir Poetin  |  Helsinki  |  Beraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.