Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kom in, die kerk is oop

Kritiek op die doen en late van die NG Kerk van 20 jaar gelede is belangrik, maar vandag se kerk lyk baie anders, sê Nelis Janse van Rensburg.

Ds. Nelis Janse van Rensburg

Kritiek op die NG Kerk van 30 jaar gelede – soos uitgespreek in Jean Oosthuizen se artikel op hierdie blaaie twee weke gelede – is van historiese belang, en baie mense se persoonlike pyn van daardie tyd is van groot belang, maar die kritiek van toe op die NG Kerk as instelling het meestal nie meer vandag betrekking nie.

Ons is ook ’n diverse kerk met baie gestaltes. Ons koester deesdae ons diversiteit terwyl ons vashou aan ons kernidentiteit.

Die nuwe benadering het op elke vlak van die kerklike lewe inslag gevind. Ek getuig graag daaroor, want God het ons op wonderlike paaie geneem. Toe ons in 2016 lid van die Wêreldraad van Kerke (WRK) word, het die deure oral vir ons wyd oopgeswaai. Die SARK en die lidkerke van Afrika het ons terugkeer met Christelike oorgawe gevier. In die ekumeniese wêreld word ons met buitengewone liefde ontvang. Ons is al sedert 2004 weer lid van die SA Raad van Kerke (SARK) en ook lank reeds lid van die Namibiese Raad van Kerke.

In albei liggame speel ons ’n baie aktiewe en deurslaggewende rol. Die stryd teen korrupsie is nêrens harder en meer direk gestry as in die SARK nie. Ons het in die kern daarvan ’n rol gespeel. Ons het ook ons openbare getuienis ernstig opgeneem en direkte insette gelewer in die parlementêre en openbare gesprekke oor onderwys, haatspraak, vryheid van godsdiens, grondhervorming en talle meer.

Daarom is ons leiers ook nie meer vingerswaaiende kenners van die waarheid wat dreig en slaan nie, maar diensknegte wat biddend oplettend is vir God se bewegings in die wêreld.

Ons het egter ons broosheid op verskillende maniere bly koester. Ons het byvoorbeeld ’n verhouding begin bou met die Khulumani Support Group sonder dat ons geweet het wat dit gaan oplewer. Die Khulumani Support Group is ’n goed georganiseerde groep swart mense (104 000 in getal) wat verliese gelei het tydens apartheid. Sommiges se huise is verwyder, ander se familielede is dood en steeds soek, ander loop met fisieke wonde van destyds. Ons het diepgaande ontmoetings gehad en geleer hoe God in die ruimtes tussen vreemdelinge kom staan en ’n vrede gee wat verstand te bowe gaan.

Ons is almal diepgrondig verryk. Ons gaan nou voort om op plaaslike vlak kontak tussen die kerk en Khulumani-takke te bewerkstellig.

Ons was in gesprek met verskillende politieke groeperinge. Ons het onder andere vir die EFF opgeroep om aktief te help om plaasaanvalle te keer. Ons het ons broosheid daar intens beleef, maar was getrou aan ons roeping. Ons het ook gepraat met Solidariteit, AfriForum, Helpende Hand, die Vryheidsfront Plus en ander funksionarisse.

Ons het met die Cradock-vier se familie ’n verhouding begin bou. Nadat ek Lukhanyo Calata se boek oor sy pa gelees het, My Father Died for This, het ek met hom gaan gesels. Ons het daarna sy moeder, Nomonde, en Matthew Goniwe se eggenote, Nyameka, in Cradock gaan besoek. En watter wonderlike ervaring was dit nie – as gelowiges mekaar ontmoet en vind en saam die vrede en liefde van Christus ervaar. Nyameka het die mooiste verhaal vertel van hul plaaslike reis met die NG Kerk in Cradock. Lukhanyo en sy familie sal lewenslange vriende van my bly. Ons was ook onlangs in gesprek met Bram Fischer se dogters – ’n Afrikanerfamilie wat in die Vrystaat diep spore getrap het. Een van Bram se vriende wat saam met hom in die Rivonia-verhoor veroordeel is, Denis Goldberg, laat weet vir my die afgelope week, nadat hy verneem het van ons gesprek met die Fischer-dogters, in ’n stemboodskap: “Goeienaand. Ek moet sê ek is trots op die sinode aangesien julle Bram Fischer se dogters ontmoet het. Really our country has moved a long way if that can happen. And it gives me great hope for the future that we can make a South Africa for all our people. I congratulate you.”

Ek sou uitgebreid kon vertel van ons besoeke aan regter Albie Sachs en dr. Mamphela Ramphele. Ons was telkens broos, sonder aansprake, maar het ervaar hoe God ons bevestig in ons uitreiking oor grense.

Die konferensie oor titelaktes wat ons in 2017 in Kaapstad gehou het, was ’n reusesukses. Talle swart NRO’s en regeringslui van al drie vlakke van regering het kom deelneem aan ’n gesprek op uitnodiging van die NG Kerk en die Institute for Justice and Reconciliation. Die storie oor ons ontmoeting met die land se Khoi-San-konings en hoofregter Mogoeng Mogoeng regverdig ’n artikel op sy eie.

Die hartseer van plaasmoorde en droogtes en rampe soos die Knysna- en Oos-Kaapse brande het ons help verstaan dat die bande tussen ons sterker is as wat ons besef het. Oor alle grense het mense na mekaar uitgereik met ongekende welwillendheid. In ons broosheid het ons so baie geleer van die liefde van God in mense se lewe. Ons biddae vir reën en verootmoediging het duisende mense laat saamtrek, broos, maar gelowig voor die Here.

In die gebied-sinodes en gemeentes gaan dit nie anders nie. Oral word daar oor grense uitgereik. Die sinode van KwaZulu-Natal werk ten nouste saam met ander kerke. Gesamentlike bedieninge in Durban is reeds aan die orde van die dag. Die Koninkryk kom eerste. Die Goudlandse sinode het 26 swart gemeentes ingesluit by hulsinode. In die Wes-Kaap is daar ’n dinamiese en uitgebreide ekumeniese netwerk gestig wat saam dink oor versoening en restitusie. Ons Sentrum vir Publieke Getuienis speel daarin ’n deurslaggewende rol.

In die Vrystaat is daar nuwe dinamika in interkerklike verhoudings. Ek sou van elke streek die mooiste getuienisse kon lewer.

Ons het begin met die hereniging van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk. Die VG Kerk en die NG Kerk het ’n tussen-orde geskep waar twee gemeentes met een kerkraad kan funksioneer. In Bredasdorp het twee gemeentes reeds so verenig. Pretoria Moedergemeente word so ’n eenheidsgemeente. In Lynnwood en Alexandra en Andrew Murray in Johannesburg, KwaZulu-Natal en Touwsrivier is sulke eenheidsinisiatiewe aan die gang. En ons het maar net pas begin. Ons is ernstig oor die kerk as uitdrukking van dié soort gemeenskap waarvoor Jesus gekom het. Ons is aktief besig om ’n nuwe multikulturele kerk te word wat in die behoeftes van die toekoms van ons land kan voorsien.

Die mooiste verhale kom uit ons gemeentes. Dit is waar die kerk immers leef. In Aranos is begin met ’n dorpskoonmaakprojek. Namibië het nou al op voetspoor daarvan ’n landskoonmaakdag gehad. Die verbetering van onderwys is nou Aranos se nuwe fokus. Op Paterson word aan swart leerlinge Vrydagmiddae in die NG Kerk beroeps- en ander voorligting gegee. Die plaaslike hoërskool se matriekslaagsyfer is in drie jaar van 17% na 55% verhoog.

Op Coligny het ’n politieke ramp afgespeel. Die kerke het byeengekom en ’n nuwe droom vir Coligny bedink. ’n Vredeskomitee onder leiding van ds. Tewie Pieters van die NG Kerk het ’n totaal nuwe gesindheid tussen die gemeenskappe bewerk en ’n nagmerrieverhaal omskep tot ’n verhaal van hoop. In Worcester het die gemeentes saamgespan met die Worcester Hope-inisiatief en ’n buitengewone verhaal van omgee en deernis het daaruit voortgegroei.

Ek kan vertel van Willowmore se identiteitsbouprojekte en die verhouding tussen die kerke en die taxivereniging op Alice. Die geweld op Kleinmond en Hermanus het hande uitgeruk. Die omliggende gemeentes het inisiatiewe geneem wat grootliks bygedra het tot die ontlonting van krisisse en die bou van nuwe kragtige verhoudings. In dorp op dorp speel die kerk ’n deurslaggewende rol in die lewe van gemeenskappe.

In die NG Kerk in die Noord- en Wes-Kaap het gemeentes oor die afgelope drie jaar meer as 120 vroeëkinderontwikkelingsentrums begin. Ons brei dit nou omvattend uit. Dit is nou ons nasionale voorkeur vir ingryping in die armoedesiklus. Ons land se kinders moet skoolgereed wees wanneer hulle met gr. 1 begin.

En mag niemand die pastorale rol van ons duisende leraars en medegelowiges miskyk wat staan by mense in hul diepste uur van nood en ontgogeling, snags in hospitale by waaksale waak en troos, by ander geleenthede jong mense se verflenterde lewens bymekaarmaak, en mense se hande vashou tot die einde intree.

Die gesamentlike omset van die kerklike maatskaplike diensorganisasies van ons tien sinodes was verlede jaar R1,176 miljard. Hoewel 40% hiervan uit staatsubsidies kom, is dit die kerk wat die res invorder en die diensgeleenthede skep. Sowat 1,3 miljoen mense is deur hierdie dienste bereik.

Maar ek wil nie hiermee dit laat klink asof ons sterk is nie. Die brose afhanklikheid van die mense wat hierdie dienste lewer, weerspreek alle aansprake op mag en gesag en eie krag.

Daar loop ’n diep verdeeldheid dwarsdeur die wêreldsamelewing oor seksuele oriëntasie. Die verdeling loop ook deur die NG Kerk. Ons soek lig in die Skrif en ons hoor steeds twee boodskappe, want ons lees met voorveronderstellings, aannames en verskillende verwagtinge van die teks, die Bybel. Dit is nie ’n nuwe probleem nie. Dit was van die vroegste tye af so. Die probleem ontstaan wanneer die verskillende lesers buite hoorafstand van mekaar gaan staan. Ons is nie daar nie. Die NG Kerk het die moed om die gesprek hieroor te bly voer. Dit gaan oor millenniums se aannames en oortuigings. Ons sal ’n weg vind wat mense se menswaardigheid voor God in ag neem en die eis van gehoorsaamheid aan Christus met mekaar versoen.

Ons is ook in hierdie gesprek broos. Mense verwag van ons om ons broosheid te verstaan, maar terselfdertyd met groot gesag oor hierdie saak finale uitsprake te maak, soos in die tyd toe die kerk met groot mag en gesag gewerk het.

Ons gaan nie ons posisie van broosheid weer prysgee nie. Ons wil die gekruisigde Christus bly navolg, tot die dood toe.

  *Ds. Nelis Janse van Rensburg is moderator van die algemene sinode van die NG Kerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.