Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kom ons praat bietjie reguit

Johannesburg is gebou deur migrante van oor die wêreld heen – en dit is ’n tradisie wat hy wil sien voortgaan. Maar die regering kry dit net nie reg om onwettige immigrasie hok te slaan nie, skryf Herman Mashaba.

Inwoners van Alexandra soek skuiling terwyl polisielede ’n skare winkel-plunderaars probeer uitmekaar jaag. Foto: Thulani Mbele, Gallo images

Ek is ’n pragmatis en ’n realis.

’n Reguit gespreksgenoot wat groot waarde daaraan heg om die waarheid te praat, dinge te sê soos dit regtig is.

Dit dwing my dikwels om ongemaklike onderwerpe aan te pak wanneer die meeste mense verkies om stil te bly, want ek weier om die spreekwoordelike volstruis met sy kop in die sand te wees.

Voordat ek besluit het om die politiek te betree, was ek gereeld gefrustreerd oor die manier waarop politici uit twee monde praat praat oor belangrike aangeleenthede wat die welstand van ons land en, belangriker nog, sy mense beïnvloed.

Dikwels het ek gesien hoe gesoute politici eenvoudig wegskram van die waarheid uit vrees dat hulle verkeerd geïnterpreteer, verkeerd verstaan ??of in die meeste gevalle een of ander sinistere etiket omgehang word.

Die gevolg van hierdie selfopgelegde stilte, veral onder politici, is egter ’n land wat verlam word deur gebrek aan optrede, selfs as dit kom by kwessies wat die stabiliteit, vooruitgang en welstand van ons almal bedreig.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die onwilligheid en beskroomdheid van die nasionale regering as dit kom by die kwessie van ongedokumenteerde immigrante in Suid-Afrika. Dit is beswaarlik ’n kwessie waaroor daar enige debat kan wees; die wet is in hierdie opsig baie duidelik.

Uiteindelik sal ons armste inwoners die groot slagoffers wees.

Suid-Afrika is, heeltemal tereg, ’n ondertekenaar van internasionale konvensies wat die regte van vlugtelinge en immigrante erken en beskerm. Die handhawing van hierdie regte vereis egter nie dat ons ons eie soewereiniteit as demokratiese staat hoef te laat vaar nie. Ons Grondwet is gegrond op waardes wat die oppergesag van die reg insluit.

Ons het ook die Immigrasiewet wat duidelike wetlike vereistes uiteensit vir diegene wat ons land binnekom.

Lande oor Afrika en die wêreld heen dring aan op die reg om hul grensposte te beskerm en om diegene wat hul land binnekom, ordentlik te dokumenteer. Hulle het ook die reg om enigiemand toegang te weier of mense te deporteer wat die land onregmatig binnegekom het. Dit is regte wat streng beskerm en toegepas behoort te word.

Vreemd genoeg word daar van Suid-Afrika verwag om die uitsondering te wees.

Baie mense beskuldig my van vreemdelingehaat as ek hierdie dinge sê, maar ’n eis dat ons Grondwet nagekom moet word, kan nie vreemdelingehaat wees nie. Om te eis dat die departement van binnelandse sake sy grondwetlike mandaat moet nakom en toesien dat mense sonder dokumente behoorlik verwerk word, kan nie vreemdelingehaat wees nie.

As die nasionale regering nie sy verantwoordelikhede nakom nie, word die gevolge daarvan deur almal gevoel – sowel deur Suid-Afrikaners as immigrante.

My administrasie sien dit elke dag.

In Johannesburg hou ongedokumenteerde immigrante ernstige uitdagings in wat betref die verskaffing van basiese dienste en huisvesting aan inwoners.

As ’n stad word daar van ons verwag om proaktief te beplan en te begroot vir die lewering van basiese dienste aan al ons inwoners.

Hoe kan ’n stad doeltreffend en noukeurig beplan en begroot as ons nie eens weet wie in ons stad bly nie?

Die stad se departement van gesondheid sukkel om ’n toenemende getal pa­siënte wat nie gedokumenteer is nie en wat daagliks die stad se openbare gesondheidsgeriewe besoek, te bedien.

Data van ons elektroniese gesondheidstelsel toon dat die getal pasiënte wat nie gedokumenteer is nie, tussen 2016 en 2018 met 158% toegeneem het – van net meer as 32 000 tot net onder 83 000.

Die Grondwet waarborg gesondheidsorg aan almal, maar ons het beperkte hulpbronne en ons stelsels is onder groot druk. Ons het nie genoeg hulpbronne om die groeiende getal ongedokumenteerde mense wat hulp soek te help nie.

Dit is veral kommerwekkend vir Johannesburg, wat ’n belangrike eindbestemming vir sowel binnelandse as oorgrensmigrasie is.

Johannesburg is in sy 130-jarige geskiedenis gebou deur migrante van oor ons land en die wêreld heen. Dit is ’n tradisie wat ek wil sien voortgaan.

Buitelanders koop goedere in ons land, vestig ondernemings en stimuleer ekonomiese groei. Met hul vaardighede en ervaring kan hulle ’n bydrae lewer tot die sektore van ons ekonomie waar dit dringend nodig is.

Dit is ’n sleutelaspek van my visie om ’n welvarender en inklusiewer stad te skep.

Maar dit bly steeds my plig om die aandag te vestig op probleme wat ’n direkte invloed het op dienslewering.

Sedert ek burgemeester geword het, het ek dié kwessie met elke minister van binnelandse sake opgeneem – vyf ministers in drie jaar.

Ongelukkig het ons al te gewoond geraak aan ernstige uitdagings wat buite beheer raak as gevolg van ’n gebrek aan politieke wil om iets aan die probleem te doen.

Die departement van binnelandse sake het heeltemal misluk om met ’n bevredigende en omvattende immigrasieplan na vore te kom – wat nog te sê van een geïmplementeer kry.

Verder is die aantygings van korrupsie en omkopery in die verskaffing van dokumente ’n aanduiding dat amptenare in die departement die krisis vererger, eerder as om dit te verlig.

Baie mense soek uit desperaatheid weens politieke, maatskaplike en ekonomiese onstabiliteit in hul lande van herkoms ’n beter lewe in Suid-Afrika en veral in die Johannesburg-metro.

Die ongedokumenteerdes onder hulle wat daarin slaag om ons grense oor te steek, word gedwing om op die rand van ons samelewing, in die skaduwee en met beperkte wetlike beskerming te leef.

Dit is noodsaaklik dat die nasionale regering sy huis in orde kry en toesien dat ongedokumenteerde immigrante geïdentifiseer en verwerk word.

Daar moet toegesien word dat, in dié gevalle waar hulle wel kwalifiseer om in die land te wees, wettige dokumente vinnig en doeltreffend aan hulle verskaf word.

Dit sal diegene wat wettig in die land is teen misdadige elemente beskerm – soos dwelmhandelaars in krotbuurte wat hul wanhoop misbruik om die wet te ontduik.

Enige suggestie dat hierdie oproep van my dat die landswette en die Grondwet toegepas moet word gelykstaande is aan die aanhits van geweld, is absurd en goedkoop politiek.

Die realiteit van dit wat die afgelope tyd plaasgevind het in Johannesburg en ander gebiede wat sporadiese geweld beleef, is dat ’n groep misdadigers die geleentheid aangegryp het om ’n werklike bekommernis te misbruik as verskoning om grootliks buitelandse ondernemings te plunder en te vernietig.

Dit is egter belangrik om by te voeg dat baie Suid-Afrikaners ewe veel deur hierdie skandelike misdadigheid geraak is.

Terwyl ek die skandelike tonele van geweld en misdadigheid wat die afgelope week afgespeel het gade geslaan en geluister het na die reaksie van sommige buitelandse leiers wie se burgers die belangrikste teikens van die geweld was, kon ek nie anders as om my aan hul geveinsdheid te verwonder nie.

Miskien het die tyd aangebreek dat die Suid-Afrikaanse regering dapper genoeg is om die leiers van elk van die nasies wie se mense hier in Suid-Afrika is, te betrek en hulle te vra wat húlle doen om die omstandighede in hul eie lande so te verbeter dat dit nie vir hul burgers nodig is om hulle onwettig in ander lande te vestig nie.

Suid-Afrika moet ook daarop aandring dat die lande verklaar wat hulle doen om die omstandighede in hul lande te verbeter om te voorkom dat immigrante wat nie gedokumenteer is nie, hul lewens kan waag om te vlug na lande waar hulle blootgestel word aan uitbuiting.

Geen leier kan toegelaat word om hul hande te was van ’n krisis wat deels deur hul eie toedoen veroorsaak is nie.

Ek wil weer eens die punt herhaal dat my eis dat die oppergesag van die reg gerespekteer moet word en dat wette afgedwing word nie beskou moet word as ’n oproep tot geweld nie – soos sommige kommentators die afgelope week probeer voorgee het.

Ons kan nie stilbly oor die verbrokkeling van die oppergesag van die reg in ’n land in krisis nie.

Uiteindelik sal ons armste inwoners en wetsgehoorsame buitelanders die groot slagoffers wees van ons regering se gebrek aan optrede.

As ons die Johannesburg-metro wil reg­ruk en verseker dat ons ons ware potensiaal bereik, is dit noodsaaklik dat ons die landswette moet gehoorsaam en eerbiedig. Geen land kan hoop op ’n stabiele demokrasie, ekonomiese groei, ontwikkeling en veilige gemeenskappe sonder dat die oppergesag van die reg gehandhaaf word nie.

  • Herman Mashaba is die uitvoerende burgemeester van Johannesburg.
Meer oor:  Herman Mashaba  |  Johannesburg  |  Vandalisme  |  Immigrante  |  Xenofobie  |  Handelaars  |  Burgemeester  |  Vreemdelinghaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.