Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kom ons privatiseer oudit van grond

Veiligheid en gesondheid is reeds in Suid-Afrika geprivatiseer. Waarom kan ons dit nie ook met die oudit van grond doen nie? vra Theuns Eloff.

Die twee grondoudits wat deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gedoen is, laat meer vrae as antwoorde. Foto: Argief

Tydens elkeen van die huidige sittings van die grondwetlike hersieningskomitee oor grondonteiening hoor ’n mens: “Ons wil die grond terughê wat die wit mense van ons gevat het.”

Maar wie dit gedoen het en wie dit nou besit, is nie so duidelik nie. Daar is al meermale gesê dat ons nie sonder ’n behoorlike en geloofwaardige grondoudit ’n nugter en gebalanseerde debat oor grond kan hê nie, maar veral nie “daardie” grond kan hervorm of herverdeel nie.

Die twee grondoudits wat deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gedoen is, laat meer vrae as antwoorde.

Kritiek daarop is reeds talle male gelewer. Die oudit van 2013 het ten doel gehad om staatsgrond te identifiseer. Die oudit van 2017 het ten doel gehad om die private grondbesit te meet in terme van ras, geslag en nasionaliteit.

In die oudit van 2013 word gestel dat die staat 'net' 17 miljoen hektaar (14%) besit en die afleiding word dus gemaak dat 79% van grond in private besit is (en per aanname aan wit mense behoort).

Die een private oudit van AgriSA wou die besit en kommersiële oordrag van landbougrond kwantifiseer.

Om die verwarring met net een kwessie te illustreer: In die oudit van 2013 word gestel dat die staat “net” 17 miljoen hektaar (14%) besit en die afleiding word dus gemaak dat 79% van grond in private besit is (en per aanname aan wit mense behoort).

Die oudit wys dat 7% van grond nie toegedeel nie is nie, maar dat dit waarskynlik tradisionele of trustgrond is. Maar terselfdertyd word gestel dat 16 miljoen hektaar (13%) in die ou tuislande is (wat nie in privaat besit is nie).

En die grond wat voor 1994 vir die toenmalige tuislande gekonsolideer is (17,1 miljoen hektaar) word nie hierby ingesluit nie.

Dieselfde is waar van nasionale parke en natuurreservate (8 miljoen hektaar). In plaas van die 14%-staatsgrond waaroor die media en politici in 2013 te kere gegaan het, het die staat (en swart tradisionele leiers) dus beheer oor 42,7% of 52 miljoen hektaar van Suid-Afrika se grond. Hierdie inligting het na vore gekom uit kaarte van die landmeter-generaal wat in Maart in Business Day deur Burgert Gildenhuys gepubliseer is.

Geen konsensus oor wie wat besit

Dis duidelik dat daar nie enige konsensus is oor wie wat in terme van grond besit en hoe dit bereken moet word nie. Foto: Argief

Selfs die opgedateerde regeringsoudit van 2017 het privaat grond op 94 miljoen hektaar gestel – wat onmoontlik is in die lig van bogenoemde.

AgriSA het in sy oudit van 2017 beraam dat die regering en swart Suid-Afrikaners 43,16 miljoen hektaar besit – wat ook nie klop met die 52 miljoen hektaar van Gildenhuys nie.

Dis duidelik dat daar nie enige konsensus is oor wie wat besit en hoe dit bereken moet word nie. Daarom het die FW de Klerk-stigting in sy parlementêre voorlegging oor art. 25 van die Grondwet se wysiging gevra dat pres. Cyril Ramaphosa dringend ’n taakspan uit alle sektore aanstel om ’n omvattende grondoudit te doen. Slegs met geloofwaardige syfers sal ordentlike beleidsbesluite geneem kan word.

Ons het in Suid-Afrika al gewoond geraak dat, omdat die staat oor die algemeen so onkapabel is, baie dinge geprivatiseer moet word. Ons doen dit reeds met veiligheid en gesondheid, en onderwys is volgende.

Wat van die allerbelangrikste proses om ’n grondoudit te doen?

’n Boer maak ’n plan

Slegs met geloofwaardige syfers sal ordentlike beleidsbesluite oor grondhervorming geneem kan word. Foto: Argief

Hier is ’n bietjie goeie nuus: ’n Ondernemende boer uit Noordwes, Cornelis Grobler, het op eie inisiatief en op eie koste besluit om iets hieraan te doen.

Hy en ’n paar ander het ’n webtuiste “LandStory” geskep deur van Google Earth en data van die landmeter-generaal gebruik te maak. Enigiemand kan toegang tot die webtuiste kry.

Die platform gee gebruikers toegang tot ’n interaktiewe kaart van Suid-Afrika. Dit bevat ook die buitelyne van plase soos in die landmeter-generaal se kantoor gedokumenteer.

Deur op die omgewing waar jou grond geleë is, te klik, verskyn die eiendomme soos afgemeet deur die landmeter-generaal daarop.

Sodra jy die spesifieke stuk grond op die interaktiewe kaart gevind het, kan jy as gebruiker dan vrae oor daardie spesifieke stuk grond op die webtuiste beantwoord, soos aan wie dit behoort (individu, maatskappy of trust), watter soort eiendom dit is (privaat of openbaar), en die ras en geslag van die eienaars (waar moontlik). Dit is opsioneel, maar gebruikers kan ook die “storie” van die eiendom opteken. Wanneer het my oupa of oupagrootjie dit bekom en van wie, ens.

Sodra hierdie inligting gestuur is, is dit op LandStory gestoor. Die idee is dat daar deur “crowd-sorced”-data ’n akkurate en verifieerbare sentrale databasis van alle grond in die land opgestel kan word.

Theuns Eloff

In die paar gevalle waar grond nog nie opgemeet is nie (soos in sommige ou tuislande) kan die onafhanklike register van onderverdelings (op Landstory se databasis) gebruik word tot landmeters die opmeting gedoen het en op die landmeter -generaal se databasis aangebring is.

Grobler-hulle wil nie teen bestaande oudits werk nie, maar probeer om een betroubare databasis daar te stel, deur van alle bestaande oudits, maar ook van die deelname van gewone mense gebruik te maak. Hule het bevind dat mense ook weet wie die buurplase besit.

Jy kan dus ook met buurplase- en eiendomme dieselfde proses volg. Dit word dan die begin van die verifikasieproses – by die aktekantoor, en selfs deur ’n besoek aan die plaas of eiendom.

Dit werk. Ek het dit probeer en die besonderhede van ons familietrust se plasie in Limpopo (sedert 1976) ingevoeg en dis nou daar!

’n Mens sien met Google Earth baie duidelik die plaas en die geboue daarop.

Dus het vindingryke Suid-Afrikaners dit weer gedoen! Ons regering kon ná twee probeerslae nie ’n ordentlike grondoudit produseer nie.

Maar ’n boer maak ’n plan..

Daar is dus nog werk om te doen, maar die LandStory-idee kan ’n deel van die oplossing wees om die waarheid oor grondbesit in Suid-Afrika vas te stel.

Natuurlik is so ’n proses nie die alfa en die omega van alle grond nie. Maar die meeste van die tradisionele gebiede is reeds onderverdeel en dit sal dus daar ook werk.

Grobler sê nog ’n bietjie werk is nodig. Individuele erwe moet nog bygevoeg word, maar daarvoor is meer ontwikkelingsgeld nodig.

Die beplanning is gereed om dit meer gebruikersvriendelik te maak, maar die eerste fokus was om inkoop in die stelsel te kry, borge te kry en dan verdere ontwikkelingswerk te doen.

Ek is nie ’n agent vir LandStory nie, maar ek dink Suid-Afrikaners moet die geleentheid te kry om deel te neem en te help. Cornelis Grobler se e-posadres is cjg@lantic.net. Maak kontak as jy raad het of gewillig is om ’n finansiële bydrae te maak.

Om die webtuiste seepglad te laat werk, en nasionale bewustheid te kweek, is daar sowat R150 000 nodig. Dis ’n klein bedrag om sekerheid te help bring oor die mees aktuele kwessie van ons tyd.

Daar is dus nog werk om te doen, maar die LandStory-idee kan ’n deel van die oplossing wees om die waarheid oor grondbesit in Suid-Afrika vas te stel. Kom ons privatiseer die oudit van grond!

* Dr. Theuns Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Theuns Eloff  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.