Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kom ons vat hande oor taal

In die gesprek oor Afrikaans moet groter klem gelê word op bruin en swart sprekers van die taal, skryf Danny Titus.

Die professor bel terug, omtrent twee minute nadat ek vir hom die e-pos gestuur het.

Die man is baie besig, word my vertel. Hy antwoord nie sommer nie. Ek is maar skepties, want ek ken hom deur sy Engelse werke as openbare kommentator en werksaam by die Wits-universiteit se openbare bestuursprogramme. Ek is gevra om hom ook uit te nooi na ons DAK-netwerk se konferensie “Waarheid en versoening oor Afrikaans” (WVA).

Die professor is ’n swart Afrikaan en ’n uiters skerp kommentator. Ons praat oor die telefoon versigtig Engels. Hy sê hy sal baie graag wil praat oor Afrikaans as ’n swart taal. Ek verduidelik vir hom die struktuur van die konferensie. Ons wil graag ’n nuwe narratief oor Afrikaans begin wat aansluit by die groter prentjie van ons taal.

Ons moet ’n raamwerk skep waarin alle Afrikaanssprekendes gemaklik met mekaar en met ons taal kan omgaan. Afrikaanssprekendes is dit aan die nasionale Suid-Afrika verskuldig om uit sy verstarde polarisasie te tree.

En waarheid en versoening dan? Alweer ’n byltjiesdag, sal mense vra. Allermins.

My broe’, sê ons vriend. Daai man is Afrikaans!

Die waarheid-en-versoeningsmodel pas ons konferensie oor Afrikaans perfek. Drie fases vir Afrikaans: Wat is die waarheid oor Afrikaans, wat is geïgnoreer en hoe kan ons die groter prentjie van ons taal sy regmatige plek gee? Tweedens fokus ons op die bekentenisse waar ons meer kon doen en juis nou meer kan doen. En dan laastens: Hoe kan ons die tafel voorberei vir die versoening van Afrikaanses? Ons kan tog uit die loopgrawe klim en die rykheid en rypheid van Afrikaans aan ons mede-landgenote bekend stel. En dit is die storie. Lekker, tog?

Terug by die professor. Hy kyk na sy dagboek en sien dat hy nie die Saterdag daar kan wees nie. Maar die Sondag wel. Hy sê hy neem gewoon die vroegste vlug uit Johannesburg en sluit dan by die WVA-konferensie aan. Ek groet die professor, kry my asem terug en bel ’n gemeenskaplike vriend.

“My broe’,” sê ons vriend. “Daai man is Afrikaans! Hy’t langs my gesit op laerskool. Tot op hoërskool was hy die uitblinker!”

Nou ja, hoe meer dae . . . Ons moet die Afrikaanse narratief ontsluit. Afrikanerorganisasies raak al hoe meer gemaklik om oop te maak en deel te vorm van die breër Afrikaanse verhaal, die breër Afrikaanse kultuur, die breër Afrikaanse geskiedenis.

Die Dak-netwerk is so twee jaar gelede gestig om sterker klem te lê op hierdie groter voetspoor van Afrikaans, veral op die bruin en swart Afrikaanssprekendes. Danksy die netwerkbenadering kan ons hande vat met ’n groot verskeidenheid individue en organisasies.

Dak is die akroniem vir Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa, Khoi-leiers in die tyd van Jan van Riebeeck. Ons kan verder teruggaan, maar hierdie Dak is daar om onderdak te gee vir drie fokusareas: identiteit, maatskaplike uitdagings in gemeenskappe en ekonomiese bemagtiging. Dit is gewoon so dat talle mense tans ’n verskil maak en kan maak in die lewensomstandighede van gemeenskappe. Die Dak-netwerk wil die ruimte gee hiervoor. Mense kan trots wees op hul identiteit en op verskillende maniere uiting hieraan gee, uiting gee aan hul geskiedenisse, herkomste en bydraes.

Terwyl die sosio-ekonomiese omstandighede en uitdagings enorm is, is daar mense wat ten spyte van hul seer en uitsigloosheid tog uit hul “klippe opgestaan” het. Ander mense maak vir jare reeds ’n verskil in die lewens van soveel mense. Hulle wil graag terugploeg: afgetrede onderwysers, maatskaplike werkers, vakmanne en vroue, ensovoorts.

Die Dak-netwerk betrek hierdie netwerke om ’n groter verskil in veral jong mense se loopbane te maak. Verlede jaar kon ons so begin met ’n byeenkoms van afgetrede onderwysers, ’n groentebouprojek by ’n sentrum vir senior burgers, die aanbieding van naelstringlesings om dieper te kyk na Doman, Autshumao en Krotoa. Hierdie jaar kon ons begin met ’n storievertel-middag en potjiekos.

Ons geskiedenis tot dusver is hoofsaaklik vertel vanuit die perspektief van die skepe. Met die naelstringlesings vertel dr. Willa Boezak die verhaal van die mense wat op die land was. Terwyl Herrie die Strandloper vir jare die benaming van die skepe was, bring ons hom na die sentrum as hoofman Autshumao. So skuif ons dan met die WVA na die enorme waarhede van Afrikaans wat nie vertel word nie.

Dan gaan ons in op die vraag “waarom praat ons nie Nederlands nie”. ’n Goeie dosis van jong mense gaan voort met die prominente “ouer” sprekers om hul vars idees met ons te deel.

’n Afgetrede parlementslid uit Potchefstroom bel die ander dag. “Jissie! Ek wil baie graag dit kom bywoon.” Hy vlieg in uit die buiteland die Saterdagaand en wil wraggies vroeg die Sondagoggend Kaap toe vlieg. Hy moet nog sy sakies uitwerk. Ek hoop hy sal dit kan maak.

Die Dak-netwerk het geen illusies dat die hemel sal neerdaal met die WVA nie. Wat ons graag ten doel stel, is om ’n sterker raamwerk te skep wat ’n ander Afrikaans kan laat borrel oor waarheid, bekentenisse en versoening.

’n Jong man skryf op die Dak-netwerk se Facebook-blad: “Alles goed en wel vir Dak om met Tito Mboweni se uitspraak oor Afrikaans by UP saam te stem. Wat van die Afrikaanse kinders op die Cape Flats wat nêrens feature nie?”

Ons hoop om die jong man met waardigheid te kan antwoord. Die waarheid, die hele waarheid en niks behalwe die waarheid nie.

Dit bly verrassend om te verneem hoe talle landgenote steeds onbewus is van die feit dat in 1976 die stryd teen apartheid in Afrikaans gevoer is. ’n Radio-omroeper vra my verlede jaar om dit asseblief te herhaal. Dit is voorwaar die quote van die aand, sê hy.

In die konstitusionele hofsaak van die Universiteit van die Vrystaat was daar ’n meerderheidsuitspraak en ’n minderheidsuitspraak. Die hofsaak is besonder beduidend vir die rigting van Afrikaans. Sommige kommentators is taamlik boos oor die uitspraak. Tog is regter Johan Froneman se uitspraak vir my verruimend waar hy vra dat die Afrikaanse saak in sy totaliteit gestel behoort te word, die volle prentjie. Dis hierby waar die Dak-netwerk graag wil aansluit met die WVA.

* Die Dak-konferensie vind volgende naweek plaas in die konferensiesentrum van Old Mutual in Pinelands, Kaapstad. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan daknetwerk@gmail.com of bel René by 084 769 7987.

* Dr. Danny Titus is direksievoorsitter van die Dak-netwerk.

Meer oor:  Danny Titus  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.