Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Helen Zille: ‘Kommentators tas mis’

Die uitslag van die stemming in die Johannesburg-metro toe die ANC se Geoff Makhubo tot burgemeester verkies is, het niks te doen daarmee dat sy en John Steenhuisen nie regstreeks by die onderhandelinge betrokke was nie, skryf Helen Zille.

Stemme word getel in die onlangse verkiesing van ’n nuwe burgemeester vir Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Volgens Rapule Tabane (“DA- leiers nêrens te sien in stryd” – DB, 06.12, bl. 10) is die primêre rede vir die DA se verlies van beheer in die Johannesburg-metro die feit dat ek en John Steenhuisen (tussentydse DA-leier), nie op die toneel was met onderhandelinge nie, en dat die ANC-sekretaris-generaal, Ace Magashule, deur sý onderhandelinge kleiner partye “oorreed” het om met die ANC te stem.

Dit is interessant om te bespiegel wat dié partye sou noop om vir Geoff Makhubo (nuwe ANC-burgemeester in Johannesburg) te stem, ’n man wat glo R30 miljoen by die “fasilitering” van ’n staatstender gebaat het. Dit kon onmoontlik Magashule se oortuigingsvermoë gewees het.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap.

Dis egter duidelik dat die uitslag van die stemming niks te make het daarmee dat ek en John nie regstreeks by die onderhandelinge betrokke was nie. James Selfe, die DA se mees senior party-amptenaar, verantwoordelik vir toesig oor DA-regerings landwyd, het die DA se strategie gekoördineer.

Tabane se mistasting wys egter op ’n dieper probleem met baie politieke ontledings in Suid-Afrika: Daar is ’n onderliggende aanname dat die ANC ’n toepaslike maatstaf is om ander politieke partye aan te meet. Hierdie basiese fout het ernstige gevolge vir die ontleding van beginsels, beleid en strategieë.

Tabane neem byvoorbeeld aan die ANC se rassedogma is die geskikte (en etiese) maatstaf om die doeltreffendheid en moraliteit van ander partye se beleid oor regstelling te meet.

Dis eenvoudig absurd om Herman Mashaba (voormalige DA-burgemeester van Johannesburg) se bewering te glo dat hy die DA verlaat het as gevolg van my betoog dat ras nie meer as ’n outomatiese kriterium by die toepassing van regstellende aksie gebruik moet word nie.

Mashaba was histories ’n groter en meer uitgesproke teenstander van rasgebaseerde regstellende aksie as ek. Net vier jaar gelede het hy op ’n seminaar oor rassisme by die Verenigde Nasies regstellende aksie as “rassisties” beskryf.

In ’n aanval op swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het Mashaba onder meer gesê: “Dit was onaanvaarbaar om tydens apartheid werkreservering te hê – en dit is nou onaanvaarbaar.

As die DA ’n ANC-‘lite’ sou word, sou ons die land verraai.

“Regstellende aksie is nie bemagtigend nie, dit is beperkend, vernederend en beledigend vir almal wat aan die ekonomie wil deelneem, maar nie kan nie, bloot omdat hulle nie swart is nie.”

Wat het sedertdien verander?

Die waarheid is dat Mashaba, in tipiese Suid-Afrikaanse tradisie, die rassekaart gespeel het toe hy in ’n hoek was. In die afwesigheid van ’n rasionele rede vir sy bedanking, was dit ’n veilige opsie.

Rapule Tabane
Meningsberig Rapule Tabane.

Die waarheid is ietwat meer ingewikkeld. ’n Mosie van wantroue het Mashaba in die gesig gestaar en hy het geweet sy teenstanders in sy eie koukus gaan hom waarskynlik in ’n geheime stemming uitstem. Hy het toe gespring voordat hy gestoot is. En ek was die gerieflike sondebok.

Geen ordentlike opposisieparty sal die ANC se beleid oor regstellende aksie – gegrond op ras – aanvaar nie, want ons weet nou dat dit een van die belangrikste oorsake van die huidige onheil is.

Dit is ons rol om ’n duidelike alternatief te bied om die ongeregtighede van die verlede reg te stel.

Maar as ons dit doen, word ons van alle kante aangeval omdat ontleders en kommentators Suid-Afrika slegs deur die prisma van die ANC kan interpreteer.

As die DA ’n ANC-lite sou word, sou ons die land verraai. Kort voor lank sou ons ook in ’n warboel van rasgebaseerde baantjies vir boeties, korrupsie en kriminaliteit wegsink. Om die ANC te probeer naboots, sou ons probleme net vererger. Dit is ’n les wat ons die afgelope paar jaar geleer het.

Ontleders is dol daaroor om “politici” te kritiseer omdat hulle die land in die steek laat.

Deur die oppervlakkigheid van hul ontleding moet baie kommentators hulself egter afvra hoe goed hulle die publiek bedien.

My antwoord, ná die lees van die kommentaar verlede week, is: Glad nie goed nie.

  • Zille is voorsitter van die DA se federale raad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.