Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Konsentrasiekampe: Hier is die feite

As ’n mens debat wil voer oor die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog moet jy jou eers van die feite vergewis, skryf Fransjohan Pretorius.

Kinders wat wees gelaat is ná die Anglo-Boereoorlog verskyn op dié aangrypende foto uit die versameling van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.

Onlangs het die Konserwatiewe Britse parlementslid Jacob Rees-Mogg verregaande stellings oor die Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog gemaak. Dit was tydens ’n televisiedebat op BBC One se program Question Time. Dit was nadat die skadu-minister van finansies, John McDonnell, Winston Churchill as ’n “villain” bestempel het en hy sommer die konsentrasiekampe in Suid-Afrika bygesleep het.

Dit is duidelik dat Rees-Mogg nie bewus is van versigtige historiese navorsing oor die kwessie nie.

In die eerste plek maak Rees-Mogg daarop aanspraak dat die kampe wat in Suid-Afrika opgerig is, dieselfde sterftesyfer gehad het as wat in dieselfde tyd in Glasgow voorgekom het.

Dis onduidelik waar Rees-Mogg aan sy inligting kom. Die Glasgow Centre for Population Health dui aan dat die sterftesyfer vir Glasgow in 1901 21 per 1 000 per jaar was. 

Grafte by die Bethulie-konsentrasiekamp getuig van die hartseer van meer as ’n eeu gelede. Foto: Argief

Maar die sterftesyfer van Boere-burgerlikes in die konsentrasiekampe in Suid-Afrika vir die tydperk Julie 1901 tot Februarie 1902 was gemiddeld 247 per 1 000 per jaar, met 'n hoogtepunt van 344 per 1 000 per jaar in Oktober 1901 en ’n laagtepunt van 69 per 1 000 per jaar in Februarie 1902.

Die lae syfer kan toegeskryf word aan Emily Hobhouse se blootlegging van die verskriklike toestande in die kampe en die daaropvolgende verslag van die Britse regering se Dameskomitee, wat die Britse regering genoodsaak het om toestande te verbeter, en die feit dat lord Alfred Milner van November 1901 die administrasie van die kampe by die militêre magte oorgeneem het.

Tweedens neem Rees-Mogg die slegste scenario in Brittanje as voorbeeld. Die sterftesyfer in Glasgow word deur die Glasgow Centre for Population Health aangedui as ’n “excess mortality”, baie erger as in Manchester en Liverpool in dié tyd. As ek moedswillig wil wees, kan ek ook die slegste voorbeeld kies – Brandfort-kamp, waar meer as 10% van die inwoners in Oktober 1901 dood is. Dit het gelei tot ’n gemiddelde sterftesyfer van 1 256 per 1 000 per jaar vir daardie maand.

’n Derde Rees-Mogg-argument verraai sy totale gebrek aan begrip waarom die Britse militêre magte die kampe opgerig het. Hy maak stellings soos: “Where else were people going to live when . . . (the Boers were fighting the war)?”; “people were put in camps for their protection . . . and safety”; and “they were being taken there so that they could be fed because the farmers were away fighting the Boer War.”

Om hierop te antwoord, moet ons na die redes vir die kampe kyk.

Byna alle Boerewonings afgebrand

Die Norvalspont-konsentrasiekamp gedurende die Anglo-Boereoorlog. Foto: Argief

Ná die Britse besetting van die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein, in Maart 1900, het lord Frederick Sleigh Roberts (bevelhebber van die Britse magte) in ’n proklamasie die Boere uitgenooi om hul wapens neer te lê en die eed van neutraliteit af te lê. Hulle kon rustig na hul plase terugkeer.

Uiteindelik het omtrent 20 000 Boere (30%) van hierdie aanbod gebruik gemaak – die sogenaamde “hensoppers”. Hulle is “protected burghers” genoem.

Toe Roberts Pretoria egter in Junie 1900 beset, was die oorlog nie verby soos hy gehoop het nie. Inteendeel, die Boere het met ’n guerrilla-oorlog begin, wat aanvalle op die spoorlyn ingesluit het. Hierop het Roberts op 16 Junie 1900 ’n proklamasie uitgevaardig dat met elke aanval op die spoorlyn die plaashuis naaste aan die voorval afgebrand sal word. Dit was die begin van die verskroeideaardebeleid.

Toe dit nie help nie, het Roberts in September 1900 bepaal dat vir elke spoorlyn-voorval alle plaashuise in ’n radius van 16 km (547 vierkante kilometer) afgebrand sal word en dat die vee doodgemaak en die landerye verwoes sal word.

’n Foto wat in die konsentrasiekamp by Volksrust geneem is. Foto: Argief

Sy beleid is drasties verskerp toe lord Herbert Kitchener in November 1900 by hom oorneem. Huise en hele dorpe is afgebrand – selfs as daar geen aanvalle op die spoorlyn was nie. Só is byna alle Boerewonings – omtrent 30 000 – afgebrand en vee doodgemaak en die twee republieke volkome verwoes.

Intussen het die Boereleiers die kommando’s gereorganiseer. Hensoppers is weer opgekommandeer. Roberts het besluit hy wil die eednemers beskerm en het hulle in vlugtelingkampe byeenbring. Die eerste twee kampe is in September 1900 in Bloemfontein en Pretoria opgerig. Maar vanweë die verskroeideaardebeleid is meer Boerevroue en kinders dakloos gelaat, en Roberts het hulle in dieselfde kampe byeengebring.

Hulle is die “undesirables” genoem – gesinne van Boere wat nog op kommando was of wat reeds krygsgevangenes was. Hulle het uiteindelik die “protected burghers” met ’n verhouding van 70 tot 30 oortref. Hulle is op ossewaens of in oop spoorwegtrokke na die kampe geneem – teen hul sin, nie vir beskerming, soos Rees-Mogg glo nie, maar om die vegtende Boere se weerstand te breek.

Hulle is nie na die kampe geneem om kos te kry nie – die verskroeideaardebeleid het hulle kos vernietig, en die gehalte van die voedsel in die kampe was skokkend. Sanitasie was eweneens skokkend, tente was oorvol, en mediese geriewe ontoereikend in ’n stadium wat die Britse mediese personeel nie geweet het hoe om masels- en maagkoors-epidemies te bekamp nie.

En wat van die swart kampe?

En dan is Rees-Mogg nie eens bewus van die swart konsentrasiekampe wat die Britte opgerig het om swart mense van die oorlogsterrein weg te kry nie om te verhoed dat die Boere by hulle voorrade kry en om swart arbeiders vir die myne te kry wat weer in April 1901 in werking gestel is.

Daar was die sterftesyfer gelyk aan dié in die wit kampe.

Fransjohan Pretorius

Die enigste punt waarmee Rees-Mogg korrek is, is dat konsentrasiekampe in Suid-Afrika nie dieselfde doel as Adolf Hitler se uitdelgingskampe gehad het nie, en dat dit nie stelselmatige moord was nie.

Maar die skokkende toestande in die kampe het 28 000 wit en minstens 20 000 swart sterftes tot gevolg gehad – véél hoër as die sterftesyfer in Glasgow vir dieselfde tydperk.

Ja, mnr Rees-Mogg, u is reg waar u sê: “This is one of the things where you have got to understand the history of what was going on, not just look at it from the comfort [en mag ek byvoeg: ignorance] of 2019”.

Ten slotte: Grace Blakeley, die ander gas op die program, is verkeerd in haar stelling dat die Britte die konsentrasiekampstelsel uitgevind het. Dit was iets wat die Spanjaarde reeds in 1896 in Kuba teen die rebelle gebruik het.

* Pretorius is emeritusprofessor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, wat al 49 jaar lank navorsing oor die Anglo-Boereoorlog doen. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.