Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Boere-vroue gevoer in ABO-kampe’

“Ek wens my oorlede ouma, Alberta Saayman, het nog gelewe om te reageer op dié waansin.”

Só het die politieke ontleder Max du Preez Vrydag op sosiale media gereageer nadat die Britse-LP Jacob Rees Mogg die dodetal tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) se konsentrasiekampe met die dodetal in Glasgow gedurende dieselfde tydperk vergelyk het.

Max du Preez Foto: Jaco Marais

Du Preez het gesê duisende vrouens en kinders, beide wit en swart, het in die konsentrasiekampe gesterf. “Dit is een van die donkerste hoofstukke in die Britse koloniale geskiedenis”.

Churchill se nalatenskap

Tydens ’n besprekingspunt oor die nalatenskap van Winston Churchill, wat gevolg het op die kommentaar van John McDonnell, die magtigste lid van die Arbeidersparty, het Rees-Mogg gepoog om die redes te onderskei oor waarom die voormalige LP nie soos Adolf Hitler as ’n skurk gebrandmerk moet word nie.

Hy het die dodetal tydens die ABO se konsentrasiekampe met die dodetal in Glasgow gedurende dieselfde tydperk vergelyk.

Rees-Mogg het gesê hy regverdig nie gebruik van kosentrasiekampe nie, en het bygevoeg: “Ons praat van die Boereoorlog wat mense in kampe gehad het vir hul beskerming. Ek is bevrees jy verwar konsentrasiekampe met Hitler se uitwiskampe.”

Ons praat van die Boereoorlog wat mense in kampe gehad het vir hul beskerming. Ek is bevrees jy verwar konsentrasiekampe met Hitler se uitwiskampe.

Hy het voorts gesê hy steun nie die dat mense tydens die ABO van hul plase af verwyder is en in konsentrasiekampe gesit was nie, maar “daar het ’n oorlog gewoed en mense is weggeneem om gevoer te word”, want die boere was weg om in die oorlog te veg.

“Die is een van die daai dinge waar jy die geskiedenis moet verstaan van wat gebeur het, en nie net daarna kyk vanuit die gemak van 2019 en dit vergelyk met Hitler nie. Dit verskil heeltemal.”

Swart klad op Britse geskiedenis

Du Preez sê die vroue is nie na die kampe toe vir hul eie “beskerming” of om “gevoer” te word, soos wat Rees-Mogg dit beskryf nie, maar om die Boere-soldate te ontmoedig.

Du Preez meen dieselfde kan gesê word oor duisende swart Suid-Afrikaners wat na konsentrasiekampe toe gestuur was.

“Ons het hier te make met mense wat Britse kolonialisme probeer vergoeilik. Hulle probeer die geskiedenis heeltemal op sy kop draai.

“Brittanje is nooit werklik gekonfronteer om na daardie stuk van sy geskiedenis te kyk en dan om te kon sê hy is jammer nie.”

Ons het hier te make met mense wat Britse kolonialisme probeer vergoeilik. Hulle probeer die geskiedenis heeltemal op sy kop draai. Brittanje is nooit werklik gekonfronteer om na daardie stuk van sy geskiedenis te kyk en dan om te kon sê hy is jammer nie.

Hy meen die Britte het ’n verskroeideaarde-beleid gebruik omdat hulle nie die oorlog kon wen nie en dié afgryslike dinge wat gebeur het, is ’n swart klad op Brittanje se geskiedenis.

Verregaande, onmenslik en oneties

Prof. Johann Tempelhoff, Suid-Afrikaanse historikus en selferkende pasifis, beskryf Rees-Mogg se uitlatings as “verregaande, onmenslik en oneties”.

“ ’n Mens kan hoegenaamd nie dié twee uiteenlopende situasies met mekaar vergelyk nie. Die een land was in ’n volskaalse oorlog gewikkel terwyl daar vrede in die ander geheers het.

“Daar het sowat 28 000 vroue en kinders weens ’n gebrek aan higiëne, siektes en wanvoeding in die konsentrasiekampe omgekom.

“Dit het die Afrikaners, waarvan die oorgroot meerderheid uit landelike gebiede afkomstig was, jare geneem om te herstel.

“Die sterftesyfer van die Joodse krygsgevangenes in die Tweede Wêreldoorlog het byvoorbeeld baie meer prominensie gekry as wat met die Afrikaners in die Boereoorlog gebeur het.

“Ek beskou dié Brit se uitlatings as uiters onverantwoordelik. Veral in die konteks dat Suid-Afrika en Brittanje tans noue diplomatieke bande geniet,” sê Tempelhoff.

Haglike omstandighede

Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein, beskryf die toestande wat die vroue en kinders tydens die ABO moes deurmaak as “onmenslik”.

“Nie net was hul rantsoene karig nie, maar 14 mense is in ’n sesman-kloktent ingedruk – so jy kan jouself net voorstel in watter haglike omstandighede hulle geleef het.

“Jy kan nooit vredestyd met gruweldade wat in ’n oorlog plaasvind met mekaar vergelyk nie,” sê Pretorius.

Verskroeideaarde-beleid

Volgens Fransjohan Pretorius, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, was daar twee groepe in die konsentrasiekampe.

“Daar was die hensoppers se vroue en kinders wat na die kampe toe is vir beskerming en die vroue en kinders van die Boere wat geweier het om oor te gee.

Die Britte verkies tot vandag toe nog om na die konsentrasiekampe as vlugtelingkampe te verwys, maar dit is as gevolg van die hensoppers se mense.

“Dan praat ons nie eens van die duisende swart mense wat ook teen hul wil daar aangehou is nie.

“Die Britte verkies tot vandag toe nog om na die konsentrasiekampe as vlugtelingkampe te verwys, maar dit is as gevolg van die hensoppers se mense.

“Die ander vroue en kinders is in die kampe gestop omdat die Britte hul verskroeideaarde-beleid verskerp en die Boere se plase voor die voet afgebrand het om hul tot ’n finale oorgawe te dwing,” sê hy.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Konsentrasiekampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.