Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Koos Kombuis: En eindelik kry ek toe my steek

Ná drie angsaanvalle en drie verskillende toue het Koos Kombuis uiteindelik sy inenting gekry. Net jammer hy kon nie ’n dop skink om dit te vier nie.

Koos Kombuis

Ek is nie ’n baie geduldige mens nie.

As iemand ’n maand gelede vir my gesê het dat ek byna nege uur lank in drie verskillende toue gaan moet staan voordat ek my inenting kan kry, sou ek hardop gelag het en gesê het: “Vergeet dit! Dan bly ek liewer daarsonder.”

Ja, ek het nie geweet wat voorlê nie.

Laat ek dit liewer so stel: Niemand van ons het geweet wat voorlê nie.

Twee maal het ons nou al gedink die ergste van die pandemie is verby. En elke keer het die virus teruggekom. Elke keer erger. Elke keer het ons kele meer van angs en ongeloof toegetrek.

En nou: die Delta-variant. Erger as al die voriges.

Binne wat voel soos sekondes, het hierdie nuwe variant oor landsgrense en oseane gespring en die hele wêreld van voor af in ’n kopklem gekry.

Die ding kom glo uit Indië. En glo my, hy doen meer skade as die Guptas.

Die ding kom glo uit Indië. En glo my, hy doen meer skade as die Guptas.

Nou, oukei, toe die tyd vir registrasie vir mense van 60 en ouer ’n paar weke gelede die eerste keer begin het, het almal geweet ’n derde vlaag is dalk op pad – syfers was reeds aan die styg – maar niemand was uitermate bekommerd nie. En ek het nie dadelik geregistreer nie.

My redes was tweeledig.

Een: Ek is tegnologies onbeholpe.

Twee: Ek het nie besef ek is al oor 60 nie.

Amper so oud soos die Antichris

Dalk lewe ek in ontkenning oor my ouderdom, maar dit is so dat die meeste van ons vriende nog nie 60 is nie. My vrou is 17 jaar jonger as ek. Ons hang uit met mense van so tussen 30 en 50. Enigiets bo 55 is vir my stokoud. Donderdagaande rehearse ek saam met ’n rock band van jong outjies, van wie die hoofkitaarspeler saam met my seun in die kleuterskool was.

’n Gesondheidswerker maak gereed om iemand teen Covid-19 in te ent. Foto: Getty Imaes

Dis wel waar dat ek sukkel met laerugpyn, en dat ek soms nie kan opkom as ek gehurk het nie. Ek het ook effense rumatiek in my een hand, maar die dag toe my vrou my vertel dat sy my geregistreer het, was ek baie verbaas.

“Is ek regtig al oor 60?” het ek gevra.

“Jy is 66!” het sy gesê.

“Goeiste! Regtig? Ek is dan amper so oud soos die Antichris!”

Dit was maar net die begin.

Die volgende stap het eenvoudig gelyk.

Ek moes wag vir my SMS.

Wat nie kom nie. En nie kom nie.

Op die ou end het ek ’n liedjie daaroor geskryf. Seker my laaste protesliedjie, want 66 is ’n bietjie oud vir protesliedjies skryf, is dit nie? Ek bedoel, wat is die kanse dat Dirk Ace nog ’n Voëlvry-toer gaan reël?

Ek vertrou nie staatshospitale nie.

Dae lank het ons gewag, maar die SMS het nie gekom nie.

Iewers hoor ons toe dat as ’n mens vroeg in die oggend na die Hottentots-Holland-staatshospitaal gaan, kan jy ’n inenting kry as jy gelukkig is, met of sonder ’n SMS.

“Ek vertrou nie staatshospitale nie,” sê ek vir ons informant.

“Hulle is vriendelik en die fasiliteite is skoon. Daar is niks om oor te worry nie.”

Drie angsaanvalle

Sesuur die volgende oggend staan ek in die tou. Dis nog pikdonker. Die hane het nog nie eens begin kraai nie. Ek het laas gereeld so vroeg opgestaan toe ek diensplig gedoen het, meer as 40 jaar gelede.

Ek wag. En ek wag. En ek wag. Die ry beweeg nie. Later kom die son op. Iemand bring vir ons plastiekstoele, maar ek weier om te sit. Ons is op die sypaadjie by die ingang na die ongevalle-afdeling.

Koos Kombuis wag geduldig, of dalk nie so geduldig nie, sy kans af om 'gesteek te word'. Foto: Verskaf

’n Ou stap verby met ’n gat in die kop, teen ’n rustige pas op pad hospitaal toe. Op die naaste straathoek lê ’n ander ou wat lyk of hy besig is om dood te gaan.

Ná ’n paar uur kry ek my eerste angsaanval.

Ná die derde angsaanval gooi ek tou op, stap na my kar en ry huis toe.

Nou is ek in ’n dilemma. Ek steek voelers uit na vriende wat ek vir ’n feit weet is dalk ook ouer as 60, al het ek min van hulle.

“Is jy al ge-jab?” vra ek Anton Goosen in ’n WhatsApp.

Dalk moet ons vir die celebrity-opsie gaan.

Hy sê hy wag ook vir sy SMS.

“Dalk moet ons vir die celebrity-opsie gaan,” sê ek. “Ek sien dis hoe Evita Bezuidenhout reggekom het.”

Maar hy LOL net.

My volgende probeerslag is die naaste Mediclinic. Hulle sê as jy ná twee-uur in die middag gaan, is dit first come, first serve.

Ek gaan probeer dit, en sowaar! Die tou mense is nie baie lank nie.

‘Is u swanger?’

Ná ’n paar uur is ek feitlik voor in die ry. Ongelukkig word mense wat selfs nóg ouer is, steeds eerste gehelp.

“Het jy reggekom?” whatsapp my vrou my ná nog ’n uur.

“Ek sou, maar op die laaste oomblik is ek voorgespring deur ’n trop 80-jariges wat almal gelyk opgedaag het,” is my bitter antwoord.

Die vrou net agter my in die ry skerts: “I was at a fancy dress party last night. We all had to dress up as 90-year olds. I should have kept my disguise on!”

Net toe ek daardie Sondagoggend op moedverloor se vlakte is, gebeur die wonderwerk.

Suid-Afrikaners is moedeloos; mense word al hoe meer sinies oor Cyril se family meetings.

Ek kry my beloofde SMS.

Teen daardie tyd het die hele scenario al verander. Die derde vlaag het Gauteng toe al só op hol dat die SMS-stelsel daar sommer oorboord gegooi is. Intussen het ons ’n ander minister van gesondheid. Krake begin wys in die regering se planne en voorbereidings. Suid-Afrikaners is moedeloos; mense word al hoe meer sinies oor Cyril se family meetings.

Maar ek veg teen die sinisme en gaan staan in die ry. Ná ’n laaste wagperiode vorder ek waaragtig tot heel voor.

En toe, ewe skielik, is dit MY beurt om my mou op te rol!

Koos Kombuis: 'En toe, ewe skielik, is dit MY beurt om my moue op te rol!' Foto: Verskaf

Eers is daar egter die admin. Duisende vrae moet beantwoord word. Die verpleegster wat die blokkies aftik, is duidelik moeg en oorwerk.

“Is u swanger?” vra sy my.

“Nog nie,” sê ek.

Ek gee haar ’n CD, al het sy nie ’n clue wie ek is nie, want die onderste helfte van my gesig is toe met my bandana in plaas van die boonste helfte soos gewoonlik.

Die naaldprik is glad nie seer nie.

Dis ’n sentimentele oomblik wat ek wil koester.

Ek haal die pleistertjie eers twee weke later af.

Nou kan die derde vlaag maar kom . . .

Net jammer ’n mens kan nie ’n dop skink om dit te vier nie.

*Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Inentings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.