Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Koos Kombuis: Ons was almal op Bird-eiland

Ons weet dat apartheid verkeerd was. Maar dit dring nou eers tot ons deur hoe diep daardie lem dalk werklik gesny het, skryf Koos Kombuis.

Genl. Magnus Malan. Skets: Koos Kombuis

’n Paar weke voor die publikasie van die opspraakwekkende Magnus-boek het ek gewerk aan ’n verwante storie waaroor ek baie senuagtig gevoel het.

Die storie was eintlik veronderstel om slegs ’n resensie te wees van ’n ander boek, Working With Adult Survivors of Childhood Sexual Abuse deur Liezel Anguelova.

Ná ’n gesprek met die skrywer van daardie boek het ek besluit om, ’n bietjie in die tradisie van Hunter Thompson, my net breër te gooi en my eie interpretasie van die wyer implikasie van Anguelova se boek te plaas, met hier en daar vertellings uit my persoonlike lewe.

My storie, getiteld “The Wound at the Heart of Afrikanerdom”, is op BooksLive gepubliseer enkele dae voordat die Magnus-beweringe in Afrikaanse koerante gebreek het.

Was dit lafhartig van my om my eie geskiedenis van opperste seksisme en mislukte jeugdige verhoudings alles te blameer op my eie opvoeding?

Die rede hoekom ek bang was om my storie in te stuur, was omdat dit die ongetoetste en hoogs omstrede hipotese bevat het dat die apartheidsbeleid nie slegs ’n politieke misdaad teen ander Suid-Afrikaners was nie, maar ook ’n vorm van seksuele molestering van Afrikaanse kinders.

Die hipotese was suiwer gegrond op intuïsie en ek was deeglik bewus van die feit dat ek op gevaarlike terrein beweeg. Was dit lafhartig van my om my eie geskiedenis van opperste seksisme en mislukte jeugdige verhoudings alles te blameer op my eie opvoeding, ’n opvoeding ontwerp en afgedwing deur ’n omstrede politieke stelsel?

Nou het die Magnus-sweer oopgebars, en skielik gons die hele land oor hierdie issues.

Was apartheid ’n vorm van verkragting? Was daar regtig ’n seksuele element in die wreedhede wat ons voorouers gepleeg het?

Hoe diep die lem van apartheid gesny het

Ons weet dat apartheid verkeerd was. Maar dit dring nou eers tot ons deur hoe diep daardie lem dalk werklik gesny het.

En die genie is nou uit die bottel uit – die taboe onderwerp is aangeroer, mense praat daaroor – of die beweringe oor Magnus Malan waar is of nie.

Natuurlik maak dit nie apartheid erger of minder erg nie. Soos ’n vriendin van my tereg skouerophalend opgemerk het oor die sage: “As hulle nou skielik sou uitvind Hitler was ’n pedofiel, beteken dit nie hy is nou eers ’n d**s nie. Hy was anyway nog altyd ’n d**s.”

Die wonde van apartheid lê verder en wyer as die moord op aktiviste, die fisiese skeiding of hervestiging van gesinne of die diefstal van hele gemeenskappe se stemreg en selfrespek.

Die wandade wat kwansuis gepleeg is teenoor jong seuns en mans op Bird Island, was, indien dit gebeur het, veel erger as die wandade wat ’n geslag stoere Afrikaanse ouers gepleeg het teen hul eie kinders. Die meeste van ons is nie verkrag of gemolesteer nie. Maar ons het almal disinformasie ontvang oor wat intieme verhoudings behels. Jong Afrikaanse seuns het grootgeword met ’n wanindruk van die teenoorgestelde geslag. Dit het pyn en ongemak veroorsaak. Die patriargale stelsel van apartheid het baie wonde gelaat, wonde wat nie maklik genees nie.

En daardie wonde lê verder en wyer as die moord op aktiviste, die fisiese skeiding of hervestiging van gesinne of die diefstal van hele gemeenskappe se stemreg en selfrespek.

Dit is regtig jammer dat die Waarheid-en-versoeningskommissie van 1996 so byna uitsluitlik gefokus het op die historiese pyn van swart- en bruinmense en nie belanggestel het om aandag gegee het aan die wonde van jong blankes nie. En ek praat hier van ’n hele geslag jong mense, nie slegs die dissidente onder ons wat weermagdiensplig geweier het of op ander maniere geprotesteer het teen die bestel nie.

Ons is almal geraak.

Wat nou gemaak met die verlede?

Die ouers van die apartheidsera het ’n geslag Afrikaanse kinders gekweek wat almal dieselfde moes lyk, dieselfde moes praat, dieselfde goed moes glo, en dieselfde afgode moes aanbid.

Hoeveel van ons het al hiermee gedeal? Hoe hanteer ons hierdie situasie?

Daar is vandag jong mense soos Bouwer Bosch wat genope voel om alle swart en bruin Suid-Afrikaners opnuut om verskoning te vra. Dan is daar ander Afrikaners, soos AfriForum, wat die houding het “apartheid was nie so erg nie, get over it”.

Ek is effens ongemaklik met albei hierdie reaksies. Ek dink nie die antwoord is om aanhoudend sorry te sê nie. Daar is iets irriterend in die outydse wit liberale ingesteldheid wat voel dat die knie onvoorwaardelik gebuig moet word voor die nuwe magshebbers, ’n selfbejammerende houding van “I’m not worthy because I’m white”.

Koos Kombuis

Ek weet van geen swartman wat nog ooit hierdie soort apologie regtig geglo nie.

En om te sê “get over it”, is net so aanmatigend. Hoe kan ons van ander verwag “to get over it” as ons self nie “over it” is nie?

Daar is twee dinge nodig om hierdie wond te genees.

Eerstens moet ons, die kinders van ons ouers wat apartheid gepleeg het, deeglik bewus word van die wonde in ons eie psige, en daarvan werk maak, so gou moontlik.

Tweedens moet ons uit ’n posisie van selfrespek, nie uit ’n posisie van gewaande inferioriteit, ons mede-Suid-Afrikaners in die oë kyk, ’n ferm handdruk gee, en sê: “Ons erken ruiterlik dat apartheid verkeerd was en dat ons ouers ’n verskriklike fout begaan het.”

Net een keer. Vir die rekord.

En dan, sodra die balk van ontkenning uit ons eie oog verwyder is, sal ons die morele gesag hê om die huidige regering oor hul foute te takel.

Want ’n nuwe stel ongeregtighede word al geruime tyd gepleeg. Nuwe vergrype word gemik teen nuwe slagoffers. Ons kan die sondes van die hede slegs hanteer nadat ons met die sondes van die verlede afgereken het. Ons kan nie die misdade van die nuwe heersers ontmasker as ons in ontkenning staan oor die misdade van die vorige heersers nie.

Hoekom het dit ons so lank gevat om by hierdie punt uit te kom waar ons oor hierdie dinge praat?

Die vraag wat ons op die ou end moet vra oor die Magnus-sage is nie: “Is dit waar?” nie, maar eerder: “Of dit waar is of nie, hoekom het dit ons so lank gevat om by hierdie punt uit te kom waar ons oor hierdie dinge praat, die punt waar ons onsself en ons medemens uiteindelik in die oë kan kyk en erken: ‘Ons het almal seergekry?’ ”

Of die onthullings in die boek oor Bird-eiland letterlik waar is, sal ons dalk nooit ten volle weet nie.

Maar die feit dat Bird-eiland nou onherroeplik ’n metafoor geword het vir ons hele land se geskende en verwonde verlede, kan nie langer onder die mat ingevee word nie.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is.

Meer oor:  Magnus Malan  |  Koos Kombuis  |  Liezel Anguelova  |  Bird-Eiland  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.