Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Korea: unifikasie of verdeeldheid

Die toekoms van die Koreaanse Skiereiland is opnuut onder die loep nadat die tweede spitsberaad tussen Donald Trump en Kim Jong-oen geen nuwe ondernemings oor kernontwapening opgelewer het nie. Prof. Jo-Ansie van Wyk berig ná ’n besoek aan dié wêrelddeel.

Kaesong, een van die “vredesdorpies” in Noord-Korea, gesien vanaf Dorasan in Suid-Korea.

Die internasionale gemeenskap het hoë verwagtinge gekoester van die tweede spitsberaad tussen pres. Donald Trump van die VSA en die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, in Hanoi, Viëtnam, op 27 en 28 Februarie 2019.

Die beraad het egter geen verdere ondernemings van die Noord-Koreaanse leier ten opsigte van kernontwapening opgelewer nie. Die toekoms van die Koreaanse Skiereiland is dus opnuut onder die loep.

Die gevolge van die Koreaanse Oorlog wat in 1950 tussen Noord- en Suid-Korea uitgebreek het, duur voort. Hoewel gevegte in 1953 gestaak is, het Suid-Korea nooit die wapenstilstandsooreenkoms onderteken nie. Daar is ook geen vredesooreenkoms tussen die partye onderteken nie.

Een van die bepalings van die wapenstilstandsooreenkoms is die skep van ’n gedemilitariseerde sone (GMS) tussen Noord- en Suid-Korea. ’n Buffersone van 2 km, ongeveer weerskante van die Hanrivier en die 38ste breedtegraad, skei steeds die twee lande. Geen militêre aktiwiteite is toelaatbaar in dié sone nie, maar weerskante hiervan is militêre installasies en wagtorings. Desnieteenstaande kom skermutselinge tussen Noord- en Suid-Korea sedert 1953 nog voor.

Die monument genaamd “Hierdie een aarde” by die derde infiltrasietonnel, die sogenaamde Derde Tonnel van Aggressie, in Suid-Korea naby die gedemilitariseerde gebied. Die monument, een van die unifikasie-monumente in Suid-Korea, simboliseer die hereniging van die twee lande. Foto’s: jo-ansie van wyk

Soos dag en nag

Die verhouding tussen die twee Koreas word gekompliseer deur verskillende faktore. Noord-Korea is een van die wêreld se mees geslote en onderdrukkende state, terwyl Suid-Korea ’n welvarende en tegnologies ontwikkelde demokrasie is.

Albei state wantrou mekaar en pogings tot détente word deur die voorsitter Kim se kernwapenprogram ondermyn.

Noord-Korea en sy leierskorps toon vele kenmerke van die patologie van ’n diktatuur: ’n skrikbewind, afwesigheid van demokrasie en dus politieke opposisie, ’n swak ekonomie, ’n kultiese leier (Kim en sy voorvaders), en ’n ideologiese onderbou (“Juche”). Laasgenoemde is egter paradoksaal. Hoewel Juche bepaal dat die bevolking politieke beheer het, is dit in die hande van ’n enkele leier.

Hierdie onderliggende faktore is dus ook die dryfveer vir die regering van die huidige Noord-Koreaanse leier. Kim, wat sy pa en oupa as Noord-Koreaanse leier opgevolg het, het sy magsgreep verstewig deur onder meer die land se kernvermoë te verbeter.

Dié kernwapenprogram in die hande van ’n wispelturige en ambisieuse leier in ’n gespanne streek met ander kernmoond­hede (Rusland en China), die militêre teenwoordigheid van die VSA, en onopgeloste historiese vetes en trauma skep dus onsekerheid in Suid-Korea, die nabygeleë Japan, die VSA en ander state.

Uitgebreide sanksies teen die Kim-bewind knyptang egter die bevolking en nie die elite wat toegang tot die staatskas het nie.

’n Grafiese uitbeelding van die sogenaamde Derde Tonnel van Aggressie in die gedemilitariseerde gebied.

Moon doen sy bes

Die verkiesing van Moon Jae-in as Suid-Koreaanse president in 2017 blyk egter ’n wending mee te gebring het.

Moon is polities verlig en doelgerig om die vrede op die Koreaanse Skiereiland te herstel, maar hy is egter in ’n benaderde posisie, want Suid-Koreane is verdeel oor die toekoms (vereniging of voortgesette verdeeldheid) van die Skiereiland, oor voortgesette onderhandelings met die Kim-bewind, en die rol van die VSA en Japan.

Hierdie standpunte word verder verdeel deur die eskalering van die Noord-Koreaanse kernwapenprogram en kerntoetse, en die druk van “chaebols” (ryk, invloedryke families wat firmas soos Samsung, Hyundai en LG besit) om ekonomiese geleenthede te skep. Daarom volg Moon verskeie praktiese en simboliese strategieë om die Koreaanse dooiepunt te breek.

In die eerste jaar van sy ampstermyn het ’n historiese spitsberaad tussen Moon en Kim plaasgevind (in April 2018). Kontak is tussen families gefasiliteer, daar was gesamentlike deelname aan die Olimpiese Spele, asook reuse- ekonomiese beleggings soos die inter-Koreaanse spoorweg en die vernuwing van die nywerheidsgebied in Keasong in Noord-Korea. Dié nywerheidsgebied, wat eens 53 000 Noord-Koreane in diens gehad het, is in 2013 en weer in 2016 gesluit vanweë spanning oor Noord-Korea se kerntoetse.

Moon skenk ook hernude aandag aan die ministerie van unifikasie in sy land. Hierdie ministerie is in 1969 geskep en bly verantwoordelik vir toenadering met Noord-Korea.

’n Moderne treinstasie in die gedemilitariseerde gebied. Suid-Korea het treindienste opgeskort uit protes teen Noord-Koreaanse kernmissieltoetse.

Problematiese betrekkinge

Hierdie inisiatiewe verbloem egter nie Suid-Korea se historiese en huidige politieke bestuur van sy verhouding met Noord-Korea nie. Dit was veral opvallend tydens ’n onlangse besoek aan die suidelike grens (dus die Suid-Koreaanse deel) van die gedemilitariseerde sone, ’n uur per motor van Seoel.

Die militêr bewaakte monumente by Imjingak langs die Imjinrivier gedenk byvoorbeeld die 10 miljoen Suid-Koreaanse families wat as gevolg van die sone geskei is.

Die sogenaamde Vryheidsbrug wat die twee lande verbind, maar in onbruik verval het, herdenk Noord-Korea se vrylating van 13 000 Suid-Koreaanse krygsgevangenes in 1953.

Hier is ook ’n stoomlokomotief met 1 020 koeëlgate wat tydens die Koreaanse Oorlog beskadig is. Die meegaande nota beskryf dit as ’n “waardevolle kulturele erfenis”.

Die Mangbae-gebou is ’n simboliese versugting na vereniging en ’n gebedsarea vir die bevolking van Noord-Korea. Die area sluit ook die “Nuwe Laan na Vrede”, ’n beskadigde brug, in. Hoewel dit ’n militêre area op die walle van die Imjinrivier is, is dit toeganklik vir besoekers wat hier kan uitkyk op die heuwels van Noord-Korea aan die oorkantse rivierwal.

Suid van die sone is enkele dorpies, nedersettings en plase wat verniet aan boere gegee is om die gebied te bevolk. Hierdie plase het intussen bekendheid verwerf vir hul organiese produkte, aangesien geen nywerhede hier voorkom nie.

Die nuwe geboue by die Gyeongui-stasie staan ongebruik, want treinritte tussen die lande is opgeskort. Tog kondig die kennisgewingbord die vertrek van die GMS-trein om 16:27 op platform 1 aan.

Geen beweging is ook by die naasliggende grenspos tussen die lande te bespeur nie. Hier is egter ’n skaalmodel van die Moon-Kim-ontmoeting in April 2018 en ’n groot kaart wat die spoorlyn se inskakeling by die Trans-Eurasiese spoornetwerk uitbeeld.

Die Dora-radarinstelling op Dorasanberg in die gedemilitariseerde sone is ’n werkende militêre installasie. Weerskante van die kronkelpaadjie tot op die kruin is landmynvelde ter verdediging.

Hier is ook kennisgewingborde en baniere wat politieke ideale (geluk, samesyn, krag en “einde van verdeling, begin van vereniging”) verkondig. Dit hang egter langs ’n bord met die wapen van die Suid-Koreaanse weermag waarop hul vertroue en trots uitgebeeld word.

Kleurvolle linte by die Jangdan-stasie ter ere van afgestorwenes van die Koreaanse Oorlog.

‘Vredesdorpies’ en groot vlae

Verskeie Noord-Koreaanse stede, dorpies en nedersettings is hiervandaan sigbaar. Kijong-dong, uitsonderlik in die sone, is een van Noord-Korea se sogenaamde vredesdorpies. Suid-Koreane verwys gewoon hierna as ’n propagandadorp. Suid-Koreaanse intelligensiedienste het egter mettertyd gesien dat geen van die moderne geboue, hoofsaaklik met blou dakke, bewoon word nie en dat die skynbaar moderne dorpie sonder inwoners is.

Die enigste ander dorpie in die sone is regoor Kijong-dong, naamlik Daeseong-dong in Suid-Korea. Albei dorpies is dekades reeds deel van die propaganda-oorlog tussen die state.

Suid-Korea se oprigting van ’n vlagpaal van 98,4 m met ’n reuse- Suid-Koreaanse vlag van 130 kg het vinnig reaksie van Noord-Korea ontlok, wat tydens die sogenaamde vlagpaal-oorlog van die 1980’s die Panmunjom-vlagpaal van 130 m opgerig het om hul Noord-Koreaanse vlag van 270 kg aan te laat wapper.

Albei lande het dekades ongeveer 20 uur per dag propaganda via reuseluidsprekers na mekaar uitgesaai. Hierdie uitsendings is in 2004 gestaak, maar in 2016 deur Suid-Korea in weerwil van Noord-Korea se kerntoetse hervat. Noord-Korea het terselfdertyd weer sy uitsendings hervat. Op die vooraand van die Inter-Koreaanse Spitsberaad in 2018 het Suid-Korea eensydig sy uitsendings uit welwillendheid gestaak.

My besoek aan die gedemilitariseerde sone sluit af met ’n kykie na die sogenaamde Derde Tonnel. In 1974 het ’n Noord-Koreaanse oorloper, Kim Bu-Seong, Suid-Koreaanse owerhede ingelig oor ’n Noord-Koreaanse tonnel na die suide waarin hy gewerk het. Dié tonnel, een van vier wat reeds ontdek is, is 73 m ondergronds van die sone, 1 634 km lank en bedoel vir gebruik in ’n aanval op Suid-Korea.

Jaarliks arriveer duisende Noord-Koreaanse vlugtelinge, of oorlopers (volgens Suid-Koreane), in Suid-Korea – hoofsaaklik via China. Individue bly dan ’n paar maande in ’n militêre instelling, waar hulle oor Noord-Korea ondervra word.

Hiervandaan gaan hulle na ’n instansie van die ministerie van unifikasie, waar hulle blootgestel word aan die Suid-Koreaanse waardes, regering en samelewing.

Meer vrae as antwoorde

My kort besoek aan Suid-Korea as ’n gas van die Soongsil-Universiteit, waar ek aan seminare van die Instituut van Vrede- en Unifikasiestudies (Seoel Nasionale Universiteit) en die Koreaanse Instituut vir Nasionale Unifikasie deelgeneem het, het meer vrae as antwoorde oor die toekoms en verlede van die Koreaanse Skiereiland ontlok.

’n Aanbiddingsaltaar in Suid-Korea vir Noord-Koreaanse vlugtelinge.

Die geslotenheid en ambisies van die Kim-bewind bly spanningsvol vir Suid-Koreane.Pyongjang vrees dominasie in plaas van unifikasie, terwyl Suid-Koreane verdeel blyk te wees oor die toekoms van die Skiereiland. Internasionale bemiddeling het in die verlede min sukses behaal omdat kundigheid oor Noord-Korea en sy regime beperk is. Groter sukses kan moontlik behaal word indien die twee state doelgerig en gesamentlik hul toekoms onderhandel.

Hier bied die Suid-Afrikaanse demokratiese oorgang moontlike lesse oor die belangrike rol van leiers, kernontwapening, ’n demokratiese grondwet en versoening. ’n Militêre regime-verandering of inval en ’n kernwapenoplossing blyk ’n wanhopige opsie te wees. Die tyd is ryp vir hernude, vernuwende en kreatiewe diplomatieke inisiatiewe.

  • Prof. Van Wyk is ’n hoogleraar in internasionale politiek en verbonde aan Unisa se departement van politieke wetenskappe.
Meer oor:  Kim Jong-­Oen  |  Donald Trump  |  Suid-Korea  |  Amerika  |  Noord-Korea  |  Versoening  |  Kernwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.