Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KORONA: Watter lesse kan ons leer uit die Groot Griep van 1918?

Die toekoms mag duister lyk met die koronavirus wat die wêreld op hol het. Dit sal ons dalk loon om lesse uit die Groot Griep van 1918 te leer, skryf Chris Colvin en Eoin McLaughlin.

Die munisipale ouditorium in Oakland, Kalifornië, is in 1918 in ’n tydelike hospitaal vir slagoffers van die Spaanse Griep omskep. Foto: Getty Images

Die wêreld se finansiële markte het pessimisties gereageer en op maniere opgetree wat laas met die finansiële krisis van 2008 gesien is ná die nuus van Covid-19 (korona-virussiekte) se verspreiding.

Maar dit bly moeilik om die potensiële ekonomiese impak van die virus in die toekoms te bepaal omdat die verspreiding van ’n siekte op dié skaal ongekend in die moderne wêreld is.

Die beste voorbeeld wat ons het, is die griep-pandemie van 1918 was as die Spaanse Griep bekend gestaan het omdat nuus daaroor die eerste keer in Spaanse koerante verskyn het. So, watter lesse kan vandag se beleidmakers uit dié historiese pandemie leer?

Volgens konserwatiewe ramings is 20 miljoen mense dood, maar dit kon tot soveel as 50 miljoen gewees het.

Die griep van 1918 was die laaste werklike wêreldwye pandemie. Die omvang daarvan is vererger in ’n tydperk voor die bestaan van internasionale instansies vir openbare gesondheid, soos die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Sowat ’n derde van die wêreld se bevolking het destyds akute infeksie van die asemhalingskanaal opgedoen.

Volgens konserwatiewe ramings is 20 miljoen mense dood, maar dit kon tot soveel as 50 miljoen gewees het. In vergelyking hiermee is 9 miljoen mense dood in die Eerste Wêreldoorlog wat van 1914 tot 1918 geduur het.

Waarskynlik is sowat 2% tot 3% van diegene wat die infeksie opgedoen het, dood. Die meeste mense het weens komplikasies soos longontsteking eerder as die griep self gesterf.

Lyk dit bekend? ’n Amerikaanse polisieman met ’n “griepmasker” in 1918. Foto: Getty Images

Daar was verskillende uitbrekings van die griep en die meeste sterfgevalle het voorgekom binne die eerste week van ’n uitbreking. Die laaste uitbreking was in 1919, ’n jaar nadat die siekte die eerste keer geïdentifiseer is.

Die pandemie het wêreldwyd versprei weens spesifieke omstandighede wat destyds geheers het. Die Eerste Wêreldoorlog het pas geëindig en hele weermagte is gedemobiliseer en huis toe gestuur. Uitbrekings het al langs die belangrikste vervoerroetes versprei.

’n Groot deel van die wêreldbevolking was reeds swak en vatbaar vir die siekte weens omstandighede tydens die oorlog, veral in Duitsland.

Dinge is vererger omdat daar geen deursigtigheid en beleidskoördinering was nie. Die oorlogtydse sensuur van die media was steeds in plek en regerings was besig met die beplanning vir vrede.

Benewens die sterftes het blootstelling aan die griep ernstige fisieke en geestelike gevolge oor lang termyn vir oorlewendes ingehou.

Diegene wat dood is, was oor die algemeen in die fleur van hul lewe tussen die ouderdomme van 15 en 40.

Benewens die sterftes het blootstelling aan die griep ernstige fisieke en geestelike gevolge oor lang termyn vir oorlewendes ingehou, veral vir dié wat baie jonk was.

Daar was ook onmiddellike en langtermyngevolge vir die ekonomie.

Stedelike bevolkings was veral vatbaar vir die griep, deels weens besoedeling. Navorsers het onlangs bevind dat baie meer mense in 1918 in die meer besoedelde stede dood is as dié waar die lug skoner was – ’n aanduiding dat daar ’n regstreekse verband is tussen lugbesoedeling en griep-infeksies.

Ekonomiese gevolge

’n Plakkaat wat mense in die VSA se aandag in 1918 gevestig het op maniere waarop hulle die verspreiding van griep kan verhoed. Foto: Getty Images

Die onmiddellike ekonomiese gevolge van 1918 het voortgespruit uit die paniek rondom die verspreiding van die griep.

Groot stede in die VSA, wat New York en Philadelphia insluit, het basies tot stilstand gekom soos hul inwoners bedlêend geword het.

Nes soos dit nou die geval in Italië is, is ondernemings gesluit, sportbyeenkomste gekanselleer en private byeenkomste – soos begrafnisse – verbied om die verspreiding van die siekte te bekamp.

Die ekonomiese gevolge van die pandemie het arbeidstekorte en salarisverhogings ingesluit, maar meer mense het hulle ook tot maatskaplike ondersteuningstelsels gewend.

Die langtermyn-gevolge was verskriklik.

Ekonomiese geskiedkundiges stem nie saam oor die bruto nasionale produk (BNP) wat in die slag gebly het nie omdat dit moeilik is om die gevolge van die griep en die impak van die Eerste Wêreldoorlog van mekaar te skei.

Die langtermyn-gevolge was verskriklik.

’n Verbasend hoë persentasie van volwasse gesondheid en kognitiewe vermoë word bepaal voor ons nog gebore word.

Navorsing het bewys dat baie mense wat tydens die pandemie gebore is later laer onderwyskwalifikasies gehad het, meer met fisieke gestremdheid gesukkel het en ’n laer inkomste en sosio-ekonomiese status gedurende hul leeftyd gehad het as mense wat net voor en ná die pandemie gebore is.

Drie lesse uit die verlede

Iemand wat Covid-19 onder lede het, word in Rome in ’n ambulans gelaai. Foto: Getty Images

Die lesse van 1918 is duidelik.

In die eerste plek moet die reaksie van openbare gesondheidsowerhede toegespits wees op bekamping. Die rede waarom so baie mense in 1918 dood is, is omdat hulle die siekte in die eerste plek opgedoen het.

Hulle is blootgestel omdat beleidmakers nie die verspreiding van die virus kon bekamp nie. Inteendeel, hul optrede het gehelp om die griep verder te versprei. Die repatriasie van troepe na hul lande van herkoms was waarskynlik die belangrikste oorsaak vir die verspreiding van die virus.

’n Beleid om oordraagbare siektes te beheer, werk.

Die waarheid sal uiteindelik rugbaar word – ons sal niks daarby baat as dit weggesteek word nie.

Navorsers het bevind dat stede in die VSA wat vroeg planne beraam het om kontak tussen mense te beperk met die uitbreking van 1918, se dodetal heelwat laer was as stede wat later bekampingsmaatreëls getref het.

Die tweede les is dat goeie inligting die sleutel tot die beheer van siektes is. Ons kan dit nie bekostig dat die media gemuilband word of, nog erger, dat ’n aktiewe veldtog met die verkeerde inligting van stapel gestuur word nie.

Ons het reeds in Iran gesien watter verskriklike gevolge beleide van dié aard kan hê.

Die waarheid sal uiteindelik rugbaar word – ons sal niks daarby baat as dit weggesteek word nie.

Regerings kan net aan die kortste ent trek as sensuur tot maatskaplike onrus lei. Politieke wetenskaplikes bespiegel reeds oor die langtermyn-gevolge in China nadat nuus oor die koronavirus in die media gemanipuleer is.

Berei voor op die ergste

Die gewoonlik bedrywige omgewing rondom die Colosseum in Rome was Dinsdag verlate. Foto: Reuters

Die derde les is dat ons moet voorberei vir die ekonomiese en menslike gevolge van die virus en moet optree om sy impak te minimaliseer.

Dié pandemie is ’n skok vir sowel aanvraag as voorsiening. Die siekte is hoogs aansteeklik en dieselfde geld die ekonomiese krisis wat dit veroorsaak.

Net die voorgestelde 14 dae van self-isolasie vir mense wat die virus vermoedelik onder lede het, sal ernstige ekonomiese implikasies hê. ’n Resessie sal ongetwyfeld volg as hele gebiede of lande, soos Italië, in kwarantyn geplaas word en ekonomiese bedrywighede gestaak word.

Die noodmaatreël om rentekoerse in die VSA en Brittanje te verlaag, moet die eerste van baie stappe wees om die ekonomiese impak van Covid-19 te versag. Nuwe fiskale beleidsmaatreëls moet ook volg.

Net soos in 1918 sal mense in meer besoedelde stedelike gebiede waarskynlik ’n groter risiko hê om met die virus besmet te word.

Individue wat min betaal word en wie se werk in gevaar is, behoort ook aandag te kry. Wanneer mediese sorg en siekverlof nie bekostig kan word nie, kan mense gedwonge voel om te gaan werk selfs al is hulle met die virus besmet.

Net soos in 1918 sal mense in meer besoedelde stedelike gebiede waarskynlik ’n groter risiko hê om met die virus besmet te word. Dit is mense wat weens omgewingsfaktore reeds meer vatbaar is vir siektes wat met die asemhalingstelsel te doen het. Spesiale maatreëls om dié groepe te help, moet oorweeg word.

Babas wat gebore word wie se ouers met die virus besmet is, moet deeglik gemonitor word en remediërende ingrypings moet in plek wees. Ons mag nie net fokus op die sterftesyfer nie. Ons moet aandag gee aan diegene wat hierdie pandemie oorleef – én hul kinders.

* Colvin is senior dosent in ekonomie aan die Queen’s-Universiteit in Belfast en McLaughlin is senior lektor in ekonomie aan die University College in Cork. Dié artikel hetv oorspronklik op The Conversation verskyn. 

conversation
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.