Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Korona: Wie moet wie help in Europa?

Noord- en Suid-Europa stry kliphard oor hoe om die finansiële laste van die korona-krisis te dra. Leopold Scholtz vertel van die konflik met wortels wat reeds eeue terugstrek.

Geen sake word hier gedoen nie. Al die winkels in dié straat in Keulen is gesluit. Foto: Reuters

Verlede week het die regeringshoofde van die Europese Unie (EU) koppe bymekaargesit oor die finansiële gevolge van die krisis oor die koronavirus en hoe om dit die hoof te bied.

In teenstelling met alle vorige kere, het hulle mekaar nie oor ’n wye ronde tafel in die oë gekyk nie, maar mekaar op rekenaarskerms gesien in ’n videokonferensie omdat die virus persoonlike kontak ongewens maak.

Die leiers het, so lui ontledings in die Europese media, ses uur lank behoorlik met mekaar vasgesit (die beplanning was slegs twee uur). Om dit kort en ongenuanseerd te stel: Italië en Spanje (later ook gesteun deur Frankryk) wou geld soos bossies strooi, terwyl Duitsland, Nederland en die Skandinawiese lande, verrassend gesteun deur Oostenryk, wal gegooi het.

Hoe kan enigiemand glo dat jy met middels uit die verlede op die skok van die koronakrisis kan reageer?

Premier Giuseppe Conte van Italië het die suidelike aanval gelei. Hy het voorgestel dat sogenaamde Euro-obligasies (informeel ook bekend as Korona-obligasies) uitgereik word wat as stimulans by die ekonomie ingepomp kan word om die skade van die krisis te beperk.

Conte se argument het hiérop neergekom: “Hoe kan enigiemand glo dat jy met middels uit die verlede op die skok van die koronakrisis kan reageer?”

Sy voorstel het (kortpad gevat) behels dat die lande wat die euro as betaalmiddel gebruik, saam euro-obligasies uitgee om geld op die kapitaalmarkte te kry, wat dan gesamentlik gebruik kan word om hul skulde te betaal. Premier Pedro Sánchez van Spanje het hom geesdriftig gesteun, terwyl ook pres. Emmanuel Macron hom later ten gunste hiervan uitgespreek het.

Die drie leiers wat kwaai wal gegooi het, was bondskanselier Angela Merkel van Duitsland, kanselier Sebastian Kurz van Oostenryk en premier Mark Rutte van Nederland. Die leiers van die Skandinawiese lande en Luxemburg het hoofsaaklik agter dié drie se breë skouers geskuil, maar tog agter hulle ingeval.

Wie sal wen en wie sal verloor?

Doodskiste in die kapel van ’n hospitaal in Cremona, Italië. Foto: Getty Images

Conte se voorstel sal die suidelike lande se ekonomieë inderdaad bevoordeel, maar die probleem is dat dit dié van hul noordelike bure sal benadeel. Die gevolg sal volgens ekonomiese kenners wees dat die rentekoers waarteen die suidelike lande geld kan leen, sal daal, terwyl dit in die geval van die noordelike bure juis sal styg – waarskynlik met ’n volle persentasiepunt.

Conti, Macron en Sánchez meen dit is ’n kruis wat die noordelikes terwille van Europese solidariteit maar moet dra. Maar vir die noordelikes is dit nie só eenvoudig nie, want Conte se voorstel kan hulle behoorlik skade berokken.

Luidens ’n ontleding in die gematig konserwatiewe Duitse kwaliteitskoerant Die Welt is die vraag of die noordelike lande, wat almal in die beste kategorie van die kredietbeoordelingsinstansies (AA+) val, daardie beoordelingstatus sal kan behou as hulle in effek borg vir ander met veel swakker statusse moet staan.

Die punt is dat die Conte-voorstel ’n belastingverhoging vir die noordelike Europese lande sou beteken.

Italië, wie se staatskuld ’n volle 130% van sy bruto binnelandse produk (BBP) behels, is by die meeste instansies ’n baie middelmatige BBB, terwyl Spanje (98% van sy BBP) se beste beoordeling A- is. Frankryk (ook 98% van sy BBP) s’n is wel ’n goeie AA.

Die punt is dat die Conte-voorstel ’n belastingverhoging vir die noordelike Europese lande sou beteken. En met die koronakrisis wat alle ekonomiese – en dus ook politieke – vooruitsigte deurmekaarkrap, sou dit na die mening van die noordelikes ’n verkeerde sein na die ekonomie uitstuur.

Op een vlak sou jy kon redeneer dat die Europese integrasieproses inderdaad vereis dat diegene met breë skouers die las van hul swakker broers moet help dra. Die teenargument is dat die verskil in benadering wat tans blyk, eintlik al eeue lank in Europa geld. Dis niks nuuts nie.

Om geld rond te strooi – of nie

’n Verlate pretpark in Wene, Oostenryk. Foto: Reuters

Dit hang saam met die kultuurverskille tussen Protestantse en Rooms-Katolieke lande op die vasteland. Die invloed van Martin Luther en Jehan Cauvin (beter bekend as Johannes Calvyn) was onder meer ’n kombinasie van harde werk en spaarsaamheid.

Dié benadering, so het die Duitse sosioloog Max Weber in 1904 in ’n beroemde boek, Die Protestantische Ethik und der Geist des Kapitalismus geredeneer, het tot welvaart en ekonomiese groei gelei. Sy ontleding is omstrede, maar word ook deur heelparty geleerdes in hoofsaak bevestig.

’n Mens sien dit in die EU. Kortweg, wil die suidelike (Katolieke) lande geld rondstrooi soos bossies, terwyl die noordelike (Protestantse) state verstandig en suinig met hul geld wil omgaan.

Dit is daarom nogal verrassend dat die Katolieke Oostenryk se kanselier Kurz sy gewig agter Merkel en Rutte ingegooi het.

Leë strate in Madrid, die hoofstad van Spanje. Foto: Reuters

Die verskil in benadering geld al jare en kon tydens die eurokrisis van ’n paar jaar gelede baie duidelik gesien word. Die suidelikes wou ook toe geld soos bossies rondstrooi, en Merkel en Rutte het al hul dae gehad om dit te voorkom.

Verlede week was Merkel se teenvoorstel om die Europese Stabiliteitsmeganisme (ESM), wat sowat €410 miljard in sy geldsak het, te gebruik om die suidelikes te help. Dit, het sy gesê, is die instrument wat vir krisissituasies bedoel is en wat sal beteken dat geld nie geleen – of nog erger, gedruk – hoef te word nie.

Die ESM is in staat om kredietwaarborge te gee aan lande wat probleme het om hul skulde op die kapitaalmarkte terug te betaal of te herfinansier.

Dit sluit aan by ’n voorstel van die Europese Kommissie (die EU se “kabinet”) dat die Europese Sentrale Bank onbeperk lenings van lidstate kan opkoop. Só ’n meganisme is tydens die eurokrisis van 2012 geskep, maar nooit toegepas nie.

Grense nie in pad van samewerking

Vliegtuie staan op die Charles de Gaulle-lughawe buite Parys ingeryg. Foto: Reuters

Conte het egter Merkel se teenvoorstel tot haar irritasie geveto. Hy het nie gehou van die voorwaardes (beter beheer oor staatsuitgawes) wat daarmee saamgehang het nie.

Die uiteinde was ’n kompromis: Die Eurogroep – die lande wat die euro hanteer – sal onder voorsitterskap van die Portugese premier, Mario Centeno, binne twee weke ’n reddingsplan uitwerk.

Aan die een kant is dit dus waar dat die uiteenlopende nasionale belange in die EU vir die meeste regerings belangriker as Europese solidariteit is. Andersyds is dit niks nuuts nie; dit was nog altyd so.

Daar is beslis nog ’n besef dat Europa se nasionale grense nie in die pad van rasionele samewerking mag staan nie.

Die kwasterige Brittanje se vertrek uit die EU maak konsensus weliswaar effens makliker, maar soos dié kwessie wys, bly dit maar moeilik as dit oor wesenlike sake gaan.

Daar was ’n stadium, ná die einde van die Koue Oorlog, toe heelparty Europese leiers sterretjies in hul oë oor ’n beweging na ’n Verenigde State van Europa gehad het. Daardie tyd is lankal verby; dit geld slegs vir enkeles nog – en hulle is nie in posisies van gesag nie.

Wat beslis nog geld, is ’n besef dat Europa se nasionale grense nie in die pad van rasionele samewerking en die voorkoming van oorlog mag staan nie. Want dít bly die groot prestasie van die EU en sy voorgangers: Dat die vasteland in die 75 jaar sedert 1945 geen Derde Wêreldoorlog beleef het nie.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Sebastian Kurz  |  Angela Merkel  |  Giuseppe Conte  |  Mark Rutte  |  Nederland  |  Italië  |  Frankryk  |  Oostenryk  |  Duitsland  |  Spanje  |  Covid-19  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.