Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Koronakrisis: Ons wêreld het reeds verander

Dat die krisis betreffende die koronavirus drastiese ekonomiese – en dus ook politieke – gevolge sal hê, is bekend. Maar wat van die sosiale gevolge? Leopold Scholtz probeer duidelikheid verskaf.

Militêre polisiemanne patrolleer die strate van Boedapest, Hongarye se hoofstad. Foto: Reuters

Die koronavirus diskrimineer nie. Álmal, ongeag jou posisie in die samelewing, kan siek word.

In Brittanje het selfs prins Charles en premier Boris Johnson al siek geword.

Die premier is Sondagaand inderhaas hospitaal toe geneem omdat die simptome waarmee hy al langer as ’n week worstel, nie beter raak nie.

Dis waar dat jong mense minder geraak word. Hul natuurlike weerstand is groter as dié van oueres, veral dié wat ander, onderliggende siektes het – diabetes, oorgewig, kanker, ensovoorts.

Maar dit beteken nie dat dit net oues en mense met onderliggende probleme is wat ernstig siek word en selfs sterf nie.

Volgens syfers wat in die Amsterdamse oggendblad De Volkskrant gepubliseer is, sterf 0,007% van alle besmette tieners, 0,03% van dié tussen 20 en 30, 0,08% van mense in hul 30’s, 0,16% van diegene in hul 40’s, 0,6% van diegene tussen 50 en 60, en 1,93% van die mense tussen 60 en 70.

Die maatskaplike gevolge wat hieruit kan voortspruit, kan dramaties wees.

Die drastiese maatreëls wat regerings wêreldwyd ingestel het om die virus in sy spore te probeer stuit beteken die ergste ekonomiese ineenstorting sedert die Groot Depressie in die jare 30 van die vorige eeu. Die rand het in die laaste week of wat al meer as ’n kwart van sy waarde teenoor die dollar en die euro verloor – en die einde van die val is nog nie in sig nie.

Maar dit is nie net Suid-Afrika wat ly nie; die hele wêreld word getref. Die waarde van aandele het die laaste maand eweneens met ’n kwart gedaal, en die laaste week of twee ry dit kwaai wipplank.

Volgens ekonomiese berekenings kan die Amerikaanse ekonomie vanjaar met 5,5% krimp, dié van Duitsland met 6%, Japan met 4% en China met 3%. Die wêreldekonomie, is die voorspelling, kan met 3,3% krimp.

Maar die maatskaplike gevolge wat hieruit kan voortspruit, kan dramaties wees.

Armes ergste geraak

Gondels wag op toeriste in ’n verlate Venesië. Foto: AP

Suid-Afrika, waar miljoene mense op die randjie tussen oorlewing en verhongering leef, kan grootskaalse geweld en plundering ondervind, is vandeesweek gewaarsku. ’n Honger maag demp gewetens en wetsgehoorsaamheid, veral in ’n samelewing waar die wet tog al maklik eerder as die mense se vyand beskou word.

Die groot voordeel van die ontwikkeling van die kapitalisme was dat die ekonomiese groei wat daarmee gepaardgegaan het, miljoene mense uit die arbeiderstand tot ’n relatief welvarende middelklas verhef het.

In Europa, waar mense nog anderhalwe eeu gelede van die honger gesterf het, het selfs die meeste armes deesdae televisies, stowe en yskaste.

Dit is veral diegene aan die onderkant van die – relatief welvarende – Eerstewêreld-samelewing wat die verlies van inkomste die slegste kan verwerk.

As die ineenstorting van die ekonomie lank genoeg voortduur, kan dit die groeiende ekonomiese gelykheid nekomdraai. Dit is veral diegene aan die onderkant van die – relatief welvarende – Eerstewêreld-samelewing wat die verlies van inkomste die slegste kan verwerk, en weer tot onder die broodlyn gedruk kan word.

Toerisme het in duie gestort. Skoonmakers in hotelle word afgedank. Taxibestuurders het nie kliënte nie. Bus- en treinvervoer het drasties afgeneem. Winkelassistente moet salarisverminderings aanvaar as hulle nie afgelê wil word nie.

Sterk lugdienste – ’n mens dink aan reuse soos Lufthansa, Air France-KLM, British Airways – moes hul vlugte met tot 90% verminder. Duisende personeellede is afgedank.

In al die groot stede – Amsterdam, Londen, Parys, Berlyn, Tokio, New York – is die strate leeg. Dit lyk eerder na stede wat deur ’n apokalips getref is as die bruisende, lewendige plekke vol lewe soos wat dit nog kort gelede was.

Moet ons weer vlieg?

Vliegtuie staan ongebruik op die aanloopbaan van die Zaventem-lughawe buite Brussel in België. Foto: Reuters

Dié munt het ewenwel ook ’n keersy. Dit is dat die samelewings, in elk geval dié in die Eerste Wêreld, ongelooflike vindingrykheid aan die dag lê.

Die getalle mense wat jy in ’n gemiddelde supermark sien, is ’n fraksie van die gewoel wat eens daar was. Maar nou bestel die mense hul inkopies aanlyn, en die supermarkte huur selfs ekstra personeel om dit alles af te lewer.

Restaurante staan leeg omdat hulle geen gaste mag ontvang nie. Maar mense bel in of bestel warm etes, en die kos word tuis afgelewer, byna soos pizzas wat al jare afgelewer word.

Die internet maak baie moontlik. Mense werk van die huis af en stuur hul werk per e-pos aan hul toesighouers.

Moet die hervatting van die ekonomie ná die krisis noodwendig weer met soveel besoedeling gepaardgaan?

Media24 se publikasies word versorg deur mense wat oorwegend tuis sit. Ook dié artikel word tuis geskryf, in Delft, Nederland, en na die redaksie gestuur.

Onderrig, op skool of universiteit, vind aanlyn plaas. Kerkdienste word op die internet uitgesaai.

Daar is ook ander voordele. Die lug is opeens aansienlik skoner deurdat minder mense op die paaie is. Omgewingsbesoedeling is oor die algemeen minder.

Daar gaan ewenwel nou reeds stemme op dat daar oor die sosiaal-ekonomiese lesse van die krisis besin moet word. Moet die hervatting van die ekonomie ná die krisis noodwendig weer met soveel besoedeling gepaardgaan?

Moet ’n mens noodwendig – sê maar – van Amsterdam na Londen vliég, met al die lugbesoedeling wat daarmee gepaardgaan? Is hoësnelheidstreine nie ’n beter opsie nie?

Politieke gevolge nog onduidelik

Pres. Donald Trump van die VSA se gewildheid het gedaal omdat hy selfs in ’n tyd van krisis nie kan help om teen sy politieke teenstanders uit te vaar nie. Foto: Reuters

Of die krisis politieke gevolge gaan hê, is nog onseker; kenners is verdeeld daaroor.

Enersyds sien jy dat die steun vir partye nader aan die uiterste uiteindes van die politieke spektrum – links en regs – afgeneem het. Die waardering vir leiers, oorwegend nader aan die sentrum, het duidelik skerp toegeneem.

Hier vorm pres. Donald Trump ietwat van ’n uitsondering weens die intense polarisering in Amerika. Nadat sy gewildheid effens toegeneem het, het dit die laaste tyd weer gedaal, waarskynlik omdat hy dit nie kan help om selfs in ’n krisistyd teen sy politieke teenstanders te kere te gaan nie.

Die krisis het ’n keuse tussen vryheid en gesamentlike gesondheid afgedwing.

Ander kenners meen weer dat die beweging weg van die uiterstes na die sentrum net tydelik sal wees. Namate die negatiewe gevolge van die krisis mense regtig begin byt, sal hulle eerder vatbaar wees vir die bedrieglik eenvoudige formules wat populiste, links en regs, aanbied.

Dis in dié stadium onmoontlik om te kan sê watter mening nader aan die waarheid is.

Wat wel waar is, is dat die krisis ’n keuse tussen vryheid en gesamentlike gesondheid afgedwing het. So het mense in talle lande, waaronder Suid-Afrika, nie meer die vryheid om te gaan draf of met hul honde te gaan stap nie.

Victor Orbán, die premier van Hongarye. Foto: Reuters

In Hongarye het premier Viktor Orbán, ’n man wat reeds nie vir sy demokratiese gesindheid bekend staan nie, die krisis aangegryp om ’n wet deur die parlement te voer wat basies die hele demokrasie afskaf. Hy kan voortaan per dekreet regeer sonder om aan die parlement verantwoording te doen, en hy kan die verspreiders van “fopnuus” in hegtenis neem (en die regering bepaal wat fopnuus is).

Die situasie bly van krag solank as wat Orbán sê dit moet. Wat Hongarye omgeskep het in iets wat nie anders as ’n fascistiese diktatuur genoem kan word nie.

Dis in ieder geval duidelik dat die koronakrisis die wêreld drasties verander. Dit sal egter nog jare duur voordat ’n mens duidelikheid oor presies hoe en hoeveel het.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Brittanje  |  Suid-Afrika  |  Politiek  |  Toerisme  |  Koronavirus  |  Kapitalisme  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.