Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Koronavirus: Onwaarhede is ook aansteeklik!

Dié Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) voer die afgelope tyd ’n stryd teen waninligting oor die koronavirus, en sommige kenners waarsku gerugte versprei vinniger as die siekte self. Hierdie ooraanbod van inligting is inderdaad ’n “infodemie”, skryf Connal Lee.

Toeriste en besoekers kom aan by die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe met gesigmaskers wat verhoed dat hulle die gevreesde koronavirus versprei. Foto: Isabel Venter

Die nuwe koronavirus wat tot dusver die dood van meer as 1 369 mense veroorsaak het, het vandeesweek ’n naam gekry – Covid-19.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) wou nie hê die naam moet dui op ’n plek, dier of ’n sekere groep mense nie, dit moet maklik uitgespreek kan word en darem na die siekte verwys.

“Dis belangrik om ’n naam te hê sodat ons die gebruik van ander name kan voorkom wat onakkuraat is of die siekte kan stigmatiseer,” het die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Adhanom Ghebreyesus, gesê.

Dié organisasie voer die afgelope tyd ’n stryd teen waninligting oor die virus, en sommige kenners waarsku gerugte versprei tans vinniger as die siekte self.

Die WGO beskryf die ooraanbod van inligting oor die koronavirus as ’n “infodemie” (infodemic). Party inligting is akkuraat, maar heelwat is nie, en dit kan moeilik wees om te onderskei tussen die twee.

Wat is die probleem?

Waninligting kan onnodig vrees en paniek saai. Gedurende die Ebola-uitbreking in 2014 het gerugte oor die siekte gelei tot paniek-aankope, met baie mense wat aanlyn Ebolavirus-beskermingstoerusting gekoop het. Dit het dekontaminasiepakke (die sogenaamde hazmat-pakke) en gesigmaskers ingesluit, wat nodig was vir beskerming teen die siekte.

Soos wat ons gesien het met die koronavirus kan waninligting lei tot verwyte en stigmatisering van groepe wat geïnfekteer is en geraak word deur die virus.

Sedert die uitbreking begin het, het Chinese Australiërs ... laat weet dat daar ’n toename in anti-Chinese taal en misbruike was – aanlyn én op straat.

Waninligting kan ook mense se gewilligheid ondermyn om erkende raad oor openbare gesondheid te volg. In ekstreme gevalle ontken mense selfs die bestaan van die siekte, en hulle versuim om bewese voorkomende maatreëls te neem.

In ander gevalle sal mense dalk nie hulp soek nie weens vrese, wanpersepsies en ’n gebrek aan vertroue in owerhede.

Mense kan ook bloot verveeld of apaties word weens die oormaat inligting.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het tesame met groot tegnologiemaatskappye al heelwat vordering gemaak in die bestryding van gerugte en waninligting oor die nuwe virus. Foto: nytimes.com

Die metode van oordrag

Die internet kan baie help in die stryd teen infeksiesiektes. Akkurate boodskappe oor hoe die siekte versprei en hoe om jouself en ander mense te beskerm kan vinnig en toeganklik versprei word.

Die infodemie versprei ook via selfone, tradisionele media en by die werk.

Maar onakkurate inligting versprei net so vinnig aanlyn. Lesers kan hulself in eggokamers bevind, waar ongeloofwaardige samesweringsteorieë versprei word en waar dit uiteindelik daartoe lei dat hulle diegene wat in beheer is van die noodmaatreëls wantrou.

Die infodemie versprei ook via selfone, tradisionele media en by die werk.

Vorige uitbrekings toon owerhede moet vinnig en doeltreffend op waninligting reageer en hulle moet besef dat nie almal die amptelike standpunt sal glo nie.

Covid-19
Grafika: Grafika24

Aansteeklike wolke en ander mites

Onlangs het gerugte die ronde gedoen dat die koronavirus oorgedra word deur aansteeklike wolke in die lug wat mense kan inasem.

Die WGO het vinnig laat weet dis nie waar nie. Die WGO se direkteur van wêreldwye gereedheid vir infeksierisiko, Sylvie Briand, het verduidelik: “Tans word die virus versprei deur druppeltjies (droplets) en jy moet in nabye kontak daarmee wees om die siekte te kry.”

Dié eenvoudige ingryping wys hoe doeltreffend ’n tydige reaksie kan wees. Maar dit sal dalk nie almal oortuig nie.

Intussen het die WGO ’n vreesaanjaende waarskuwing gegee: Die virus is ’n groter bedreiging as terrorisme.

Amptelike boodskappe moet konsekwent wees om verwarring en ’n ooraanbod inligting te vermy. Maar die koördinering hiervan kan moeilik wees, soos wat ons hierdie week gesien het.

Potensieel ooroptimistiese voorspellings het van Chinese gesondheidsamptenare gekom toe hulle beweer het die uitbreking sal teen April verby wees. Intussen het die WGO ’n vreesaanjaende waarskuwing gegee: Die virus is ’n groter bedreiging as terrorisme.

Hierdie inkonsekwenthede is verstaanbaar, aangesien regerings mense probeer paai terwyl die WGO ons aanmoedig om ons op die ergste voor te berei.

Mense moet deurgaans daaraan herinner word om gereeld hul hande te was as hulle wil keer dat hulle die koronavirus kry.Foto: CDC/Unsplash

Gesondheidsowerhede moet aanhou om sleutelboodskappe te herhaal, soos hoe belangrik dit is om gereeld jou hande te was. Dit is ’n eenvoudige en doeltreffende maatreël wat mense help om hul eie beskerming te beheer. Maar dit kan maklik vergeet word in hierdie see van inligting.

’n Uitdaging is dat owerhede kan sukkel om mee te ding met die gewildheid van sensasionele stories en samesweringsteorieë oor hoe siektes ontstaan, versprei en oor wat owerhede doen in reaksie hierop. Samesweringsteorieë kan prettiger wees as die amptelike standpunt, of dit kan sommige mense help om vas te klou aan hul bestaande problematiese beskouings.

Partykeer kan ’n vinnige reaksie nie noodwendig die waninligting suksesvol in die kiem smoor nie.

Covid-19
Grafika: Grafika24

Sensuur is nie die antwoord nie

Hoewel die sensuur van ’n skadelike standpunt die verspreiding daarvan kan hokslaan, kan dit daardie standpunt gewild maak. Om negatiewe nuus te beperk en mense oorgerus te maak, kan hulle ook weerloos en onvoorbereid laat.

Sensuur en die stilte van die media gedurende die Groot Griep van 1918, wat ingesluit het dat syfers nie bekend gemaak is oor die aantal mense wat geraak is of gesterf het nie, kan die erns van die pandemie ondermyn.

Wanneer die waarheid uitkom, verloor mense vertroue in openbare instellings. Uitbrekings in die verlede wys die bou van vertroue en geloofwaardigheid is van kritieke belang om mense so ver te kry om hulle te steur aan siektevoorkomings- en beheermaatreëls soos kwarantyn. Om vrese te besweer deur sensuur is problematies.

Om te verdrink in ’n see van verkeerde inligting

Die internet is nuttig om die uitbreking van infeksiesiektes te monitor. Indien owerhede op die hoogte bly van sleutelwoordsoektogte, kan hulle byvoorbeeld nuwe tendense opspoor.

Indien jy aanlyn kommunikasie dophou, kan jy vinnig reageer op misverstande en weet jy watter gerugte die meeste trekkrag het.

Gesondheidsowerhede se reaksie op die infodemie moet ’n strategie insluit om te luister na diegene wat onakkurate stories versprei of glo sodat ons ’n beter begrip kan kry van hoe infodemies versprei.

*Connal Lee is ’n dosent in filosofie aan die Universiteit van Suid-Australië.

*Hierdie artikel het eerste verskyn op The Conversation.

Meer oor:  Connal Lee  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  The Conversation
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.