Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Korrupsie: ‘Dáárom kan en moet julle ons vertrou’ – polisie

Die polisie sê hy is vasbeslote om korrupsie in eie geledere uit te roei. Maar hoe diep lê die verrotting? Draai die wiel werklik wat die bekamping daarvan betref? Jana Marx het gaan uitvind.

Kan Suid-Afrikaners nog die polisie vertrou? Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die nasionale ontwikkelingsplan wil hê Suid-Afrikaners moet veilig voel by die huis, die skool en die werk en sonder vrees lewe.

Daarvoor moet jy egter die polisie kan vertrou, maar polisielede ry soms sélf die korrupsiegolf.

Die korrupsiewaghond Corruption Watch beskou korrupsie as die “misbruik van toevertroude mag vir persoonlike gewin”.

Dinge kan volgens dié organisasie se verslag oor polisiekorrupsie verlede jaar nie juis erger word as wanneer diegene wat Suid-Afrikaners se lewens in hul hande hou, knoei nie.

Die laaste ruk het ’n klomp polisielede hul moses teëgekom.

Lt.genl Khomotso Phahlane word tans van talle misdrywe aangekla wat verband hou met miljoene rande se tender om blou ligte vir polisievoertuie in Gauteng aan te koop. Foto: Argief

Die geskorste polisiebaas lt.genl. Khomotso Phahlane en sy medebeskuldigdes, genl. Deliwe de Lange (voormalige provinsiale kommissaris), genl.maj. Nombhuruza Napo, lt.genl. Ramahlapi Mokwena, brig. Ravichandran Pillay en brig. James Ramanjalum word van bedrog en korrupsie aangekla in verband met ’n kontrak van R191 miljoen vir blou ligte en ander toerusting vir Gautengse polisievoertuie.

Lt.genl. Bonang Mgwenya, nasionale adjunkkommissaris, is onlangs uit haar pos geskors nadat sy van korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery aangekla is.

Verlede week is nog ’n luitenant-generaal weens beweerde korrupsie in 2015 uit haar pos geskors en in dieselfde week het die polisie in Limpopo een van hul klerke in hegtenis geneem nadat sy ’n generaal-majoor van die provinsiale kantoor met R5 000 wou omkoop om haar te bevorder.

Bheki Cele, minister van polisie, het vanjaar ’n tolvrye nommer bekend gestel waar die publiek korrupte polisiebeamptes kan rapporteer. Foto: Daily Sun

Bheki Cele, minister van polisie, het verlede Maandag in ’n parlementêre antwoord erken 14 lede van die BBP-beskermingsdienste word vir strafregtelike klagte soos moord en diefstal van staatswapens ondersoek.

Verlede jaar in April het hy volgens BusinessTech geantwoord dat meer as 4 000 lede ’n misdaadrekord het, wat 32 senior lede insluit.

Dit is ongeveer 2% van die totale polisiekorps van omtrent 195 000 lede.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens ly aan ’n ernstige wond in die vorm van korrupsie. Maar soos ons voortgaan om ons range skoon te maak, sal die letsel ons herinner dat ons nooit ooit weer so ’n wond moet opdoen nie,” het genl. Khehla Sitole, nasionale kommissaris, daaroor gesê.

Volgens die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) se jongste jaarverslag is 108 sake van korrupsie teen polisielede in die 2018-’19-boekjaar ondersoek.

Die meeste was in Gauteng (43%), gevolg deur KwaZulu-Natal (22%) en Mpumalanga (10%).

Die meeste korrupsie word volgens Opod by wyse van afpersing en omkopery (75%) gepleeg, gevolg deur die verkoop of vernietiging van polisiedossiere (12%) en die verkoop, steel of vernietiging van bewysstukke (11%).

“Ons grootste probleem is dat ons sit met die gevolge van die staatskapingperiode. Staatskaping het diep merke op die polisie gemaak en sy beeld geskaad,” sê dr. Johan Burger, voormalige polisielid en nou van die Instituut vir Sekerheidstudies.

“Almal is nié korrup nie, maar die tragiese ding is dat die handvol wat nié is nie, eenkant toe gestoot word en kan vergeet van bevordering. Sistemiese korrupsie is diep ingewortel in die polisie,” meen genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal.

“Korrupsie in die polisie is die weerspieëling van korrupsie en die verstandhouding van die groter Suid-Afrikaanse samelewing: Corrupter vs Corruptee, ” sê brig. Manie Victor, afgetrede hoof van misdaadintelligensie in Gauteng.

Adv. Lennit Max, voormalige Wes-Kaapse polisiekommissaris, sê die polisie het staatsamptenare wat korrupsie pleeg en daarmee wegkom, as’t ware begin namaak.

“Die gevaarlikste misdadiger is ’n korrupte polisielid, want hulle is beklee met die grondwetlike mag om inbreuk op die grondwetlike regte van ander te maak. Dis dus ’n totale magsmisbruik.”

“Net 7% van strafsake vir ernstige misdade in Suid-Afrika eindig in ’n skuldigbevinding. Die boodskap dat 93% van ernstige misdadigers daarmee wegkom, versprei,” sê prof. Rudolph Zinn van Unisa.

Zinn het in sy loopbaan as kriminalis al met honderde misdadigers te doen gekry.

“Hulle weet die kans is so skraal dat hulle vasgetrek gaan word dat hulle nie juis daaroor bekommerd is nie. Hulle weet ook wat omkoopgeld kan regkry.

“Ek weet deur die veiligheidsbedryf se operasionele kamer van ’n persoon wat 16 keer vir transitorooftogte in hegtenis geneem is, maar nog nie suksesvol vir een van die sake vervolg is nie. Bewyse word vernietig of getuies sterf . . .”

‘Dit het begin by Selebi’

Jackie Selebi het geen ervaring in die polisie gehad toe hy as nasionale kommissaris aangestel is nie. Foto: Argief

Kenners oor die polisie is dit eens: Die moeilikheid het in 2000 met die aanstelling van voormalige nasionale kommissaris Jackie Selebi begin.

Selebi was volgens Burger die eerste “politieke aanstelling” wat geen ervaring in die polisie gehad het nie.

“Aanstellings in bestuursposte van staatsdepartemente en die polisie het veral in die Zuma-era gefokus op navolgers en ondersteuners, in plaas van kundigheid en meriete,” aldus Victor.

Burger meen Selebi se behoud was dat hy hom met senior polisielede omring het.

Selebi is in 2010 skuldig bevind aan korrupsie.

Oudpres. Jacob Zuma het Riah Phiyega in sy plek aangestel.

Riah Phiyega, toe sy nog nasionale polisiekommissaris was. Foto: Daily Sun

“Sy staan vir my sentraal in die staatskapingdilemma sover dit die polisie betref. Al haar handelinge sedertdien staaf my vermoede dat sy deur Zuma daar geplaas is om hom te beskerm,” sê Burger.

Maar Phiyega het ook twee briljante adjunkte geërf, lt.genl. Godfrey Lebeya (huidige nasionale hoof van die Valke) en lt.genl. Leah Mofomme.

“Albei is hoogs ervare en geleerd. Adv. Lebeya het ’n doktorsgraad in die regte en meer as 30 jaar se ervaring.” Mofomme is ook ’n doktor.

Maar toe wil Lebeya vir Richard Mdluli, wat in daardie tyd die hoof van misdaadintelligensie was, ondersoek.

Richard Mdluli vanjaar by die hooggeregshof in Johannesburg, voordat hy tot vyf jaar agter tralies gevonnis is vir intimidasie, aanranding en ontvoering. Foto: Felix Dlangamandla

Nie lank daarna nie is Lebeya, met al sy kennis en ervaring, “herontplooi” as hoof van navorsing. Hy het hom daarteen verset en sy saak in die arbeidshof gewen, maar steeds uit die polisie padgegee.

Ook Mofomme is uitgewerk toe sy, volgens Burger, “ongemaklike vrae” begin vra het. Sy het ook haar saak in die arbeidshof gewen.

“Phiyega het ontslae geraak van al die kundige polisiehoofde,” sê Burger.

Baie mense dink seker ek mors my tyd, maar ek wil my naam suiwer.
Riah Phiyega

Phiyega, wat ná die Marikana-slagting weg is, wil steeds haar naam “suiwer” nadat ’n kommissie van ondersoek bevind het dat sy nie geskik was vir haar pos nie.

“Baie mense dink seker ek mors my tyd, maar ek wil my naam suiwer,” het sy aan Sowetan Live gesê.

Sy het voorts gesê sy glo dat mense haar betwyfel het en negatief oor haar was bloot omdat sy ’n vrou was.

Die verval in die Valke het volgens Burger gekom met die aanstelling van lt.genl. Berning Ntlemeza as nasionale hoof.

Die Valke het ’n mandaat om ernstige korrupsie te ondersoek – ook onder polisielede.

Lt.genl. Berning Ntlemeza tydens ’n media-onderhoud in 2016, toe hy nog hoof van die Valke was. Foto: City Press

Ntlemeza en Mdluli het nou saamgewerk en lede wat volgens Burger nie hul “ongesonde visie” gedeel het nie, is links en regs vervang.

“Hoewel Mdluli later geskors is, het hy steeds die septer by misdaadintelligensie agter die skerms geswaai.”

Mdluli was vir jare met volle salaris en byvoordele geskors.

“Die ellende hiervan: Skielik kon die Valke nie meer optimaal funksioneer nie en misdaadintelligensie het in duie gestort,” het Burger gesê.

Richard Mdluli is vanjaar tot vyf jaar agter tralies gevonnis vir intimidasie, aanranding en ontvoering – klagte wat hy in 2017 al ontken het.

Ntlemeza, wat ook volgens die hof nie geskik was vir sy pos nie en tekort skiet aan integriteit, het volgens Daily Maverick in hofdokumente aan die konstitusionele hof in 2017 aangevoer: “Die hof se uitspraak lui dat ek ’n oneerlike persoon is en daarom nie geskik is om in die amptelike pos van nasionale hoof van die Valke te wees nie. Hierdie bevinding deur die hof is ’n onpeilbare klad op my lojaliteit en lang diens in die polisie.”

Mdluli het in ’n onderhoud met Mail & Guardian in 2012 al ontken dat hy Zuma ken en hom beskerm.

Hy is vanjaar tot vyf jaar agter tralies gevonnis vir intimidasie, aanranding en ontvoering – klagte wat hy in 2017 al ontken het.

IOL het berig Mdluli het aangevoer daar is ’n sameswering deur grootkoppe in die polisie aan die gang om hom te verhoed om sy loopbaan te bou.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder wat self meer as 30 jaar diens in die polisie het, is egter nie so seker dat die polisie voor die demokrasie vlekkeloos was nie.

“Toe die Grondwet in werking getree het, moes ons deursigtig en verantwoordbaar word. Daardie deursigtigheid was nie in die tagtigs en negentigs daar nie en daarom kan ons nie sê korrupsie het nie toe ook plaasgevind nie. Ons het nou baie toesighouers. Ons het ’n portefeuljekomitee oor polisie wat ons nie in die verlede gehad het nie. Ons het die Civilian Secretariat for Police Service (CSPS). Ons het Opod. Voorheen het ons nét die antikorrupsie-eenheid in die polisie self gehad en soms sou polisielede ander lede bevoordeel.

“Die nasionale kommissaris se kantoor het ook nou ’n gespesialiseerde eenheid wat korrupsie ondersoek. Ons het selfs die Complaints Nodal-punt vir swak dienslewering.*

“Wanneer ons ’n klagte ontvang, aktiveer ons watter eenheid ook al nodig is, of dit Menslike Hulpbronbestuuur, stasiebevelvoerders of die antikorrupsie-eenheid is.”

‘Ons was trots’

Genl.maj. Johan Booysen het verlede jaar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig. Booysen het getuig oor hoe hy daarvan beskuldig is dat hy die leier was van die sogenaamde Cato Manor-moordbende en hoe daar getuienis teen hom gefabriseer is. Foto: Argief

’n Gebrek aan trots en gebrekkige opleiding lei volgens sommige tot deesdae se swak polisiëring.

“Ek wou van kleins af ’n polisieman wees,” sê Booysen. “Dis ál wat ek wou wees. As ek vandag weer kon kies, sou ek dit steeds gaan doen het. My werk is my passie.”

En daar was tróts. “Jy het nie met ’n uniform in die straat gestap en ’n Pick n Pay-sakkie gedra nie. Jy het nie jou toebroodjie in die openbaar geëet nie. Jy het nie met ’n sigaret in jou hand gestaan terwyl jy uniform gedra het nie. Jy het nie ’n winkeltrollie gestoot nie. Jy was trots op jou uniform.”

Booysen sê die polisie sal moet herbesin oor die bevorderingsproses, aanstellings koppel aan akademiese kwalifikasie en die keuring van lede opskerp.

“Jy het destyds jou loopbaan in die polisie as ’n studentekonstabel begin. In die eerste ses maande kry jy basiese opleiding by die polisiekollege. Dan is jy uitgeplaas na ’n polisiestasie waar jy allerhande vaardighede leer. Ná twee jaar lê jy ’n eksamen af en word ’n sersant as jy deurkom.

“Ná nog twee jaar skryf jy eksamen om ’n adjudant-offisier te word. Daarna skryf jy ’n eksamen om toegelaat te word tot die offisierskursus (range van luitenant en hoër).

“As jy die eksamen deurkom, kan jy aansoek doen om op die offisierskursus te gaan, maar jy en jou eggenoot word gekeur. Hulle sou byvoorbeeld nie toegelaat het dat jou vrou by ’n drankwinkel werk nie. Ná die intensiewe offisierskursus word jy uitgeplaas as ’n luitenant.”

Booysen verwys na ’n voorval waar ’n administrasieklerk met geen agtergrond in die polisie nie in ’n kapteinspos aangestel is.

“Die gouste wat jy voorheen so ’n pos sou kon kry, was ná sewe of agt jaar.”

In nog ’n voorbeeld het ’n voormalige polisiekommissaris in KwaZulu-Natal haar klerk ’n luitenant-kolonel gemaak, sê hy.

“Dis ’n pos waarin jy in die verlede eers ná nege tot 11 jaar aangestel sou word. So ’n persoon is ’n sagte teiken vir skelms, want sy weet niks van verkryging af nie.

“Ons het ’n vak gehad wat handel oor polisie-administrasie. Dit het behels dat ons die tesourie se reëls en verkrygingsprosesse leer. Dit het gegaan oor billike aankope en besparing.”

Victor sê swak ondersoekwerk vind plaas wanneer lede onkundig is, nie gefokus is nie en nie leiding ontvang nie. “Die gebrek aan volhoubare ontledings (om bepaalde groepe deurgaans dop te hou) lei tot swak of min kennis van georganiseerde misdaadnetwerke en hul werkswyses en interaksie.”

Naidoo ontken dat dit vandag makliker is om deur die range te vorder.

“As jy voorheen twee jaar in ’n rang was en ’n kwalifikasie gehad het, sou jy outomaties bevorder word. Nou is dit als posgebonde. As daar ’n pos beskikbaar is, word die pos geadverteer en ’n klomp mense sal vir een pos aansoek doen. Jy gaan dan deur ’n keuringsproses soos ’n paneel. Deesdae neem ons jou diens (tyd in die polisiediens), jou kwalifikasies en jou ervaring in ag en dan moet jy boonop aansoek doen vir die pos en word jy onderwerp aan ’n paneel.”

Dis ook veel moeiliker om deesdae lid te word van die polisie, sê hy.

“Jy gaan deur mediese toetse, fiksheidstoetse, psigometriese toetse, toetse om te kyk of jy lank genoeg is en jy word onderwerp aan leefstyloudits en kwalifiserende keuring (vetting). Jy moet ook ’n bestuurslisensie hê.

“Die minimum vereiste destyds wat matriek. Dan kry jy ses maande- basiese opleiding waarna jy as konstabel by die polisiekantoor geplaas is. Nou kry jy ses maande van basiese opleiding, indiens- of veldopleiding van twee maande en dan is jy boonop vir ’n jaar op ’n proeftydperk. Die opleiding en kurrikulum is nou ook heelwat meer intensief.”

‘Die meeste van ons is stééds trots en toegewyd’

Polisielede neem afskeid van een van hul lede. Foto: Getty Images

Naidoo stem saam dat dit ’n “spesiale mens” verg om ’n polisielid te word.

“Ek is trots op my uniform, maar toe ek deel geword het van die polisie was dit veel groter as die uniform. Dit het daaroor gegaan om mense te help – die bevrediging wanneer jy die tevredenheid sien in die oë van die mense wat jy gehelp het. Daar is niks lekkerder as dit nie.

“Die meerderheid van ons is ordentlike polisielede. Lede plaas daagliks hul lewens op die spel om misdadigers agter tralies te sit. Tronke bars uit hul nate. “Ek weet die meerderheid van die publiek het hierdie negatiewe persepsie oor die polisie. Dis omdat daardie paar voorvalle wat ons ’n slegte naam gee, die voorvalle is wat die meeste publisiteit kry.

“Maar die meeste van ons lede werk ontsettend hard. Dis regtig bloedsweet en trane.” Hy gee toe toe dat daar altyd mense sal wees wat bloot salaristrekkers is.

“Daar is beslis lede wat ’n gebrek het aan toewyding, deursettingsvermoë en nie wil werk nie. Maar jy gaan dit oral kry. Dis ongelukkig so dat dit  die mense is wat jou in ’n slegte lig stel.”

Met hul keuringsprosesse probeer hulle egter om sulke aanstellings te beperk.

“Ons het keuringsprosesse wat ons dwing om die regte persoon vir die pos te kies. Ons word gelei deur ’n sielkundige wat psigometriese toetse doen, al daardie ander toetse en jou kwalifikasies.”

Hy verwys na die Skeppingsverhaal in die Bybel, waar God twee mense geskep het en die een het oortree.

“Jesus het 12 dissipels aangestel en twee het hom verraai. Ons het 195 000 mense in die polisie. Wat verwag jy? Mense was korrup van die begin van tye. Die vraag is egter: Hoe bestuur ons dit?”

Hy verwys dan na die talle inhegtenisnemings die afgelope ruk wat hulle aan die groot klok hang, terwyl openbaarmaking eintlik die polisie se beeld verder skaad.

Begin die wiel draai?

“Mense is baie ongeduldig want hulle wil hê alles moet regkom, maar ’n mens moet (die polisie) krediet gee dat daar die laaste ruk ’n klomp inhegtenisnemings was,” aldus Burger.

Lebeya, wat in 2018 deur pres. Cyril Ramaphosa se kabinet as Valke-hoof aangestel is, werk baie nou saam met adv. Andy Mothibi, hoof van die staat se spesiale ondersoekeenheid.

Die polisie se anti-korrupsie-eenheid asook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat onder leiding van adv. Hermione Cronje het hul hande vol as ’n mens die nuus dophou.

Adv. Max meen ook die inhegtenisnemings is ’n “goeie stap in die regte rigting”.

“Hoe vinniger sake afgehandel word, hoe beter. Dan dien dit as ’n afskrikmiddel. Maar sake duur lank. Ek is nou al vir langer as vyf jaar besig met ’n polisiesaak.”

Volgens Zinn doen die nuwe ondersoekdirektoraat wat die Skerpioene destyds gedoen het, met verskillende instellings soos die NVG en polisie wat saamwerk.

“Daar is goeie tekens soos die voorgestelde wysigings in die wysigingswetsontwerp oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens dat polisierekrute se agtergrond eers deeglik nagegaan moet word voordat hulle aangestel word.

“Ons beweeg nou nader aan die nasionale ontwikkelingsplan se doelwitte.”

Jy sien nie waar Opod sake wen nie. Die meeste goed wat hulle ondersoek, bly intern. Daar is geen aanspreeklikheid nie; sommige lede beskerm mekaar.
prof. Rudolph Zinn, kriminalis van Unisa

Maar inhegtenisnemings is nie vir Zinn genoeg nie. “Ek wil suksesvolle vervolgings sien.”

Volgens die jaarlikse vorderingsverslag van 2020-’21 het net 4,5% van Opod se ondersoeke in 2018-’19 tot suksesvolle vervolgings gelei.

Daar was slegs 91 skuldigbevindings uit die 2 044 dossiere wat oorhandig is vir vervolging.

Sedert 2014 was die totale suksessyfer 390 uit 6 552 (amper 6%).

“Jy sien nie waar Opod sake wen nie. Die meeste goed wat hulle ondersoek, bly intern. Daar is geen aanspreeklikheid nie; sommige lede beskerm mekaar,” meen Zinn.

“Opod het ook ’n nagmerriewerk om inligting uit die polisie te kry vir ondersoeke. Soms kry hulle verkeerde inligting. Ander kere is die getuies onwillig.”

Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, het nie betyds geantwoord op ’n navraag oor waarom die suksessyfer so laag is nie.

Die publiek se reaksie

Genl. Khehla John Sitole, huidige nasionale polisiekommissaris. Foto: Isabel Venter

Max meen die klomp polisie-inhegtenisnemings het twee uitwerkings op die publiek: “Party sien dit en sê: Ons het nog altyd geweet hulle is almal skelm! Die tweede reaksie sal op lang termyn volg wanneer die polisie sy hele bestuurstruktuur ‘gesuiwer’ het soos die NVG onder adv. Shamila Batohi het. Jy moet iemand vars inbring, soos sy, wat bevoeg is om mense aan te stel.

“Dan moet die minister ook nie meer inmeng nie. Jy sal sien Batohi maak self haar aanstellings en besluit self oor vervolgings. Die minister praat nie daaroor nie.”

Ek sê nie hy het iets verkeerd gedoen nie, maar dis darem baie sleg as jou minister van polisie onder verdenking is.
Adv. Lennit Max

Netwerk24 het ’n videogreep gesien waar die polisievakbond Sapu juis ’n beroep doen op genl. Sitole om sy stem dik te maak teen misdadigers. Die vakbond vra Cele om Sitole kans te gee om dit te doen.

Max is verder bekommerd oor aantygings teen polisiehoës.

Die Sunday Times het onlangs berig die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het onder meer Cele se bankstate van 2016 aangevra.

“Ek sê nie hy het iets verkeerd gedoen nie, maar dis darem baie sleg as jou minister van polisie onder verdenking is,” aldus Max.

‘Dís waarom julle ons moet vertrou’

Lt.genl. Godfrey Lebeya by ’n mediakonferensie oor hoe diamantdiewe vasgetrek is toe hy nog adjunk- nasionale kommissaris van die polisie was. Lebeya is nou hoof van die Valke. Foto: Deaan Vivier

Kan ons in 2020 die polisie vertrou?

“Die pad wat ons tot dusver geloop het, moet dit vir jou sê,” meen Naidoo.

“Die nasionale kommissaris het onlangs ’n taakspan begin om korrupsie te hanteer. Ons het sedertdien ’n spul lede in hegtenis geneem, waarvan 45 in die voertuigmerkers-komplot en 15 in die bloulig-komplot.

Ons stuur ons eie lede tronk toe, en ek praat nie van junior lede nie. Ek praat van generaals, brigadiers en kolonels.
Brig. Vish Naidoo

“Wanneer mense sien hoe ons die lede in hegtenis neem, doen dit ons beeld baie skade aan, maar ons is deursigtig. Die feit dat ons sélf optree, ondanks wat Opod of die Valke doen, en self ook diegene identifiseer wat misdaad pleeg en hulle uit die polisie verwyder, moet tekenend wees waarom ons vertrou moet word.

“Ons stuur ons eie lede tronk toe, en ek praat nie van junior lede nie. Ek praat van generaals, brigadiers en kolonels. So dit maak nie saak wie jy is nie, niemand is verhewe bo die wet nie.”

* Klagtes oor polisiediens kan by nommers aangemeld word wat op die polisie se webblad beskikbaar is: www.saps.gov.za/services/service_complaints_centre.php

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.