Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Koue-Oorlog dreig tussen VSA en China’

’n Oorlog met kernwapens is ondenkbaar. Of is dit? Leopold Scholtz kyk na die nuutste ontwikkelings op dié terrein.

Op ’n onlangse beraad in Genève, Switserland, tussen Amerika en Rusland se adjunkministers van buitelandse sake, Wendy Sherman en Sergei Rjabkof, het kernwapens ter sprake gekom. Foto: AP

Twee onlangse nuusberigte het die kwessie van supermoondhede se kernbewapening weer op die voorgrond geplaas.

Die een lui dat Amerika en Rusland ’n nuwe ronde besprekings oor kernontwapening begin het. Dit het gebeur deur ’n beraad in Genève, Switserland, tussen die twee se adjunkministers van buitelandse sake, Wendy Sherman van Amerika en Sergei Rjabkof van Rusland.

Luidens die ander berig het Amerikaanse kommersiële satelliete ontdek dat die Chinese regering besig is met die aanlê van ’n tweede terrein met silo’s vir kernmissiele diep in die woestyn, sowat 2 000 km wes van Beijing. Dit nadat satelliete ’n paar weke gelede ’n eerste terrein ontdek het.

Uit die oogpunt van wêreldvrede en stabiliteit is die eerste berig positief; die tweede moontlik gevaarlik.

Regdeur die Koue Oorlog – van die laat 1940’s tot die uiteenval van die Sowjetunie in 1991 – het die wêreld op die randjie van die afgrond gehuiwer. Amerika en die Sowjetunie was nie die enigste moondhede met kernwapens nie; Brittanje, Frankryk, Indië, China en heel waarskynlik Israel het dit ook in beperkte mate gehad.

Wat help dit om jou teenstander op verskeie terreine die loef af te steek en daardeur die gevaar te loop om self uitgewis te word?

Maar die twee supermoondhede het saam oor soveel nukleêre plofkrag beskik dat hulle in staat was om alle lewe op aarde teoreties 20, 30 keer oor volkome te vernietig. Dis nou volgens kenners met die waarskynlike uitsondering van kakkerlakke.

Dit sou slegs ’n enkele vonk – figuurlik gesproke – verg om die aardbol te verwoes. Dat dit nié gebeur het nie, was te danke aan twee faktore.

Die eerste is die perverse magsewewig wat dit teweeg gebring het. Albei kante was min of meer ewe sterk, eweseer in staat om die ander (en dus ook hulself) uit te wis, en albei kante het dit ook geweet.

Dit was ’n kragtige faktor om die permanente politieke en ideologiese wedywer nie handuit te laat ruk nie. In albei hoofstede was daar ’n ietwat vae grens wat nie oorgesteek moes word nie.

Dat daar só ’n grens was, is in met die Kuba-krisis van 1962 duidelik geïllustreer. Toe het die USSR kernwapens op die eiland Kuba – by wyse van spreke op Amerika se voorstoep – gestasioneer, wat die reaksietyd op ’n Sowjet-aanval vir die Amerikaners onmoontlik kort gemaak het.

Amerika het daarop ’n maritieme blokkade teen Kuba begin. Die spanning het só hoog opgeloop dat die twee moondhede by wyse van spreke twee millimeter van ’n kernoorlog omgedraai het.

Gesprekke oor ‘strategiese stabiliteit’

Die aggressiewe buitelandse beleid van pres. Wladimir Poetin van Rusland het politieke spanning die afgelope paar jaar laat toeneem. Foto: Reuters

Dit was vir albei ’n belangrike les. Wat help dit om jou teenstander op verskeie terreine die loef af te steek en daardeur die gevaar te loop om self uitgewis te word?

Dus is heel versigtig en voel-voel begin om wedersydse afsprake te maak om die moontlikheid van ’n “ongeluk” (dink maar aan die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914) te verminder of selfs uit te skakel.

’n Permanente “hot line” is tussen Washington en Moskou opgerig, wat daagliks getoets is (terloops, dit bestaan steeds). Afsprake is gemaak om die aantal missiele en kernkoppe te beperk.

Bowenal het die heersers in albei hoofstede gereeld persoonlik of deur laer amptenare kontak gemaak om deursigtigheid te bevorder sodat hulle mekaar nie onaangenaam verras nie. Dit het nie altyd volledig gewerk nie; die Sowjet-inmenging in Angola in 1975 het vir Amerika (en Suid-Afrika!) uit die bloute gekom. Maar dit het nie handuit geruk nie.

Die vermeende uitbreiding van die Chinese kernarsenaal kan ’n kopseer vir pres. Joe Biden van Amerika word. Foto: AP

Toe die Sowjetunie einde 1991 in sy 15 deel-republieke disintegreer, het die politieke spanning ook sterk verminder. Die laaste jare het dit, mede deur die aggressiewe buitelandse beleid van die Russiese pres. Wladimir Poetin, weer toegeneem, maar die Russiese bedreiging is in Washington nooit so sterk as dié van die Sowjetunie gevoel nie.

Dat ’n nuwe reeks samesprekings nodig was, is in Junie tussen press. Joe Biden en Poetin op hul spitsberaad, ook in Genève, ooreengekom. Feit is dat die huidige ooreenkoms oor strategiese wapens, wat nog uit die Koue Oorlog dateer, in Februarie afgeloop het.

Luidens daardie ooreenkoms word albei moondhede se vermoëns tot 800 missiele en 1 550 kernkoppe beperk. Die doel van die nuwe ooreenkoms waaroor nou onderhandel word, is “strategiese stabiliteit”.

Soos die Duitse gehaltekoerant Die Welt dit verlede week in ’n uitgebreide ontleding stel:

“Met ‘strategiese stabiliteit’ word ’n ewewig van afskrikking bedoel: Vir albei kante is die gevolge van ’n militêre botsing met kernwapens só negatief dat hulle geen prikkel het om so ’n konflik te begin nie.”

Politieke spanning neem toe

Sal die politieke spanning tussen Amerika en China ontlont kan word? Wendy Sherman, die Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake, en Wang Yi, China se minister van buitelandse sake, met onlangse samesprekings in Beijing. Foto: Reuters

Die huidige ontwikkeling kan daartoe lei dat ook ander ooreenkomste – byvoorbeeld die Intermediate Nuclear Forces Treaty, en die Open Skies Treaty – ook weer aandag kry.

Uiteraard bly hulle strategiese mededingers. Poetin het byvoorbeeld terselfdertyd laat blyk dat Amerika, ondanks die samesprekings, “ ’n teenstander” bly.

Maar waar die spanning tussen Amerika en Rusland tot aanvaarbare grense beperk word, neem dit tussen Amerika en China juis toe.

Volgens kenners bevat die twee nuwe terreine onderskeidelik 120 en 230 silo’s, waaruit elk ’n missiel, bewapen met verskeie kernkoppe, gelanseer kan word.

China het kernwapens al in die 1960’s ontwikkel, maar sy leuse was altyd ’n “minimum afskrikking”, wat volgens internasionale deskundiges op iets soos 300 kernkoppe neergekom het. Dis minder as ’n vyfde van die aantal wat Amerika en Rusland steeds besit.

Die twee nuwe terreine wat vir kernmissiel-silo’s ontwikkel word, beteken dat die 20 silo’s wat hy tot dusver gehad het, volledig in die skadu gestel word. Volgens kenners bevat die twee nuwe terreine onderskeidelik 120 en 230 silo’s, waaruit elk ’n missiel, bewapen met verskeie kernkoppe, gelanseer kan word.

In ’n twiet het die Amerikaanse Strategiese Kommandement, deel van die land se weermag verantwoordelik vir kernwapens, sy kommer oor die ontwikkeling uitgespreek: “Dit is die tweede keer dat die publiek iets ontdek het wat ons al lankal sê oor die groeiende bedreiging waar die wêreld mee te make het en die sluier van geheimhouding wat dit omring.”

Leopold Scholtz

Dié nuwe terreine versterk die politieke spanning wat ontstaan het na aanleiding van die Chinese regering se verdrukking van afwykende menings in Hongkong en sy aggressiewe geluide teenoor Taiwan, wat hy as ’n rebelse provinsie beskou. Die spanning hoop verder op deur die vaart van ’n Westerse maritieme taakmag, bestaande uit ’n splinternuwe Britse vliegdekskip en begeleidingskepe uit Brittanje self, Amerika, Duitsland en Nederland, iets wat in Beijing as ’n provokasie beskou word.

In ’n ontleding oor die nuwe Chinese kernwapenbeleid skryf William J. Broad en David E. Sanger in The New York Times:

“Daar is verskeie teorieë. Die eenvoudigste is dat China homself nou sien as ’n volledige ekonomiese, tegnologiese en militêre supermoondheid – en dat hy ’n arsenaal in ooreenstemming met dié status wil hê. Nog ’n moontlikheid is dat China bekommerd is oor Amerikaanse missielverdediging wat toenemend effektief is, en Indië se snelle kernwapen-opbou. Dan is daar die aankondiging van nuwe hipersoniese en outomatiese wapens deur Rusland, en die moontlikheid dat China ’n effektiewer afskrikking wil hê.”

Miskien wil China ook eenvoudig sy paar missiele gereeld tussen silo’s rondskuif om Rusland en Amerika aan die raai te hou. Só word sy eie beperkte vermoëns minder kwesbaar, aldus die ontleding – maar dit klink onwaarskynlik.

Maar ’n 'ongeluk' wys dat niemand ooit volledig seker kan wees nie, veral nie in tye waar die politieke spanning hoog loop en die bewapening handuit ruk nie.

Hoe ook al, dit wil lyk of die Koue-Oorlogse geskiedenis tussen Amerika en die Sowjetunie in ’n ander vorm tussen Amerika en China herhaal kan word. Uiteraard geld die besef van destyds dat ’n oorlog met kernwapens tot jou eie volledige uitwissing kan lei ook nou vir China, en dit lyk onlogies dat die land dié geskiedenis nie ken nie.

Die uitbreiding van die Chinese kernwapenvermoëns sal dus wel nie tot ’n konflik op kort termyn lei nie. Maar ’n “ongeluk” – die moord op die Oostenrykse troonopvolger, aartshertog Franz Ferdinand, in Sarajevo op 28 Junie 1914 – wys dat niemand ooit volledig seker kan wees nie, veral nie in tye waar die politieke spanning hoog loop en die bewapening handuit ruk nie.

Amerika en die Sowjetunie het deur formele en nie-amptelike politieke ontspanning in die 1960’s en later daarvoor gesorg dat hul wedywer nie tot oorlog lei nie. Die “eenvoudigheid” van die Koue Oorlog is egter weg. As die wêreld makliker wil asemhaal, sal iets soortgelyks nou tussen Washington en Beijing moet gebeur.

Die alternatief, soos die mense sê, is te vreeslik om aan te dink.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en geskiedkundige wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Joe Biden  |  Wladimir Poetin  |  Rusland  |  China  |  Amerika  |  Sowjetunie  |  Kuba  |  Kernwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.