Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kovsie-uitspraak: Goeie én slegte nuus vir Afrikaans

Die konstitusionele hof se uitspraak oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat het geen impak op eentalige Afrikaanse skole nie. Teenstanders van Afrikaans sal ’n ander stok moet kry om hierdie skole mee te slaan, skryf Theuns Eloff.

’n Betoger voor die Hoërskool Overvaal maak sy teenkanting teen Afrikaans baie duidelik. Foto: Felix Dlangamandla

Die stof het nog nie gaan lê oor die uitspraak van die konstitusionele hof (KH) in die Kovsie-taalbeleidsaak nie. Wat is die impak van hierdie uitspraak op die toekoms van Afrikaans as onderwystaal, en by implikasie die toekoms van ander inheemse tale in die onderwys? Is ons bestem vir ’n totaal Engelse onderwysstelsel, met moedertaalonderrig wat in die asblik van die geskiedenis gegooi word?

Natuurlik behoort ’n mens nie alarmisties en moedeloos te wees nie. Die KH-uitspraak is, met respek, betreurenswaardig en kan op talle vlakke bevraagteken word. Daar is egter ’n paar tegniese sake wat die impak daarvan in toekomstige taalsake kan beperk.

In Potchefstroom is Afrikaans nog in alle fakulteite die onderrigtaal.

Een hiervan is die besondere feitelike omstandighede by die Universiteit van die Vrystaat (UV), soos byvoorbeeld die grootte van die Afrikaanse en die Engelse klasse, wat volgens die UV (en die KH) sou lei tot onderrig van ongelyke kwaliteit wat daarom diskriminerend en rassisties is. ’n Ander feitestel kan ’n ander uitkoms gee.

Wat die impak van die uitspraak op ander universiteite betref, is dit net die Universiteit Stellenbosch (US) en die NWU se kampus in Potchefstroom (NWUP) wat geraak kan word, aangesien net hulle steeds Afrikaans as onderrigtaal wyd gebruik.

In die geval van die US, word Afrikaans “waar daar genoeg aanvraag” is, steeds gebruik. By die NWUP is Afrikaans nog in alle fakulteite die onderrigtaal, maar daar word, naas tolking, al hoe meer parallelle klasse in Engels aangebied.

Wat gebeur as daar ‘markaanvraag’ na Afrikaans is?

Die KH-uitspraak kan twee gevolge hê. Die universiteitsowerhede kan self hul beleid aanpas in ooreenstemming met die beginsel van die KH-uitspraak dat Afrikaanse parallelle onderrig “onwetend ’n instrument van rasseverdeling en diskriminasie” is en daarom nie meer by die twee universiteite gebruik behoort te word nie.

Dit sou ook in ooreenstemming met die universiteitsowerhede se standpunt oor “transformasie” wees. Tweedens kan ’n drukgroep uit die studente of personeel op grond van die KH-uitspraak die grondwetlikheid van die universiteite se huidige taalbeleide betwis. Indien die universiteitsowerhede dit teenstaan, kan dit reeds in ’n hooggeregshof beslis word – met die KH-uitspraak as riglyn van “Engels alleen”.

Die konstitusionele hof se uitspraak oor die Universiteit van die Vrystaat se taalbeleid sal ’n impak hê op die toekoms van Afrikaans as onderwystaal. Foto: André Damons

Die een feiteverskil tussen die UV en die NWUP is dat Engelse klasse by die UV groot en die Afrikaanse klasse klein was, en dat as gevolg van taaldemografie dit by die NWUP presies andersom is: groot Afrikaanse klasse en klein Engelse klasse. Om hierdie rede mag die KH-uitspraak dalk nie deur ’n hoër hof as toepaslik beskou word nie. Die tragiese ironie is dat omdat die NWUP nou begin om meer en meer rigtings ook in Engels aan te bied, dit ’n groter stroom van nie-Afrikaanssprekende studente tot gevolg sal hê, wat Afrikaans dan later in ’n rasseskeidingsinstrument sal “verander”.

Die KH-uitspraak sal moeilik op die tolking by die NWUP van toepassing gemaak kan word. Een van die gevolge van tolking is juis dat daar nie skeiding op grond van ras of taal in die klasse is nie.

Waar studente dus in Afrikaans wil studeer om dominees of onderwysers te word, is Afrikaans nie ’n probleem nie.

Min kommentaar is tot dusver gelewer op die UV se standpunt (aanvaar deur die KH-uitspraak) dat Afrikaans as parallelle onderrigmedium behou sal word in sekere fakulteite waar daar ’n “markaanvraag” vir Afrikaans is, naamlik teologie en opvoedkunde. Hier word dus gesê dat die “onwetende” diskriminerende en rassistiese kenmerk van Afrikaans nie na vore kom of nie prinsipieel ’n probleem is waar daar ’n “markaanvraag” is nie.

Waar studente dus in Afrikaans wil studeer om dominees of onderwysers te word, is Afrikaans nie ’n probleem nie. As hulle egter in enige ander rigting in Afrikaans wil studeer, is dit prinsipieel (en volgens die KH-uitspraak grondwetlik) onaanvaarbaar. Die gebrek aan logika en konsekwentheid kan net deur die universiteit se oneerlikheid of gierigheid verklaar word.

Help studente om vir taalregte op te staan

Wat die US en die NWUP betref, is die beste manier om die impak van die KH-uitspraak teen te werk dat Afrikaanse ouers hulle kinders steeds na hierdie twee universiteite toe stuur – sodat hul getalle (en kwaliteit) sodanig is dat die universiteitsowerhede hulle nie durf ignoreer nie.

Daarby moet hierdie studente gehelp word om op hulle grondwetlik beskermde taalregte te staan en die implisiete en eksplisiete intimidasie van universiteitsowerhede, dosente en medestudente te kan weerstaan – op ’n vriendelike maar ferm manier.

Groot Afrikaanse klasse en klein Engelse klasse is die norm op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit. Foto: Susan Cilliers

Wat skole betref, is die onmiddellike impak van die KH-uitspraak nie so duidelik as by universiteite nie. In die onlangse Overvaal-saak is die uitspraak op die feite beslis en nie op die reg tot moedertaalonderrig nie. Die regter het beslis dat daar nie plek vir meer leerlinge in Overvaal was nie, en dat daar wel plek in aangrensende (Engelse) skole was.

Die KH-uitspraak sal wel ’n sterker impak hê op skole wat ’n parallelmedium taalbeleid volg. Hul omstandighede is baie dieselfde as die UV s’n: skeiding tussen Afrikaanse en Engelse leerlinge en groter wordende Engelse klasse en kleiner, krimpende Afrikaanse klasse. Engelssprekende ouers wat oor hierdie skeiding en die gewaande verskil in kwaliteit wil kla, sal ’n saak ingevolge die KH-uitspraak hê.

Die teenstanders van Afrikaans sal ’n ander stok moet kry om hierdie skole te slaan.

Die omstandighede in die ongeveer 1 200 enkeltalige Afrikaanse skole is anders as dié van die UV. Daar is nie in enkeltalige Afrikaanse skole (wat lank nie meer uitsluitlik wit leerlinge het nie) skeiding op grond van ras of taal nie. Nie-Afrikaanse ouers besluit om hul kinders na hierdie skole te stuur ter wille van die kwaliteit onderrig wat hulle daar ontvang. Myns insiens het die KH-uitspraak geen impak op hierdie skole nie.

Die teenstanders van Afrikaans sal ’n ander stok moet kry om hierdie skole te slaan – soos wat mnr. Panyaza Lesufi (Gauteng se LUR vir onderwys) en sy trawante hard probeer doen.

Hoe Afrikaanse onderwys uitspraak kan oorleef

Die meerderheid enkeltalige Afrikaanse skole kom in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap voor en bestaan hoofsaaklik uit bruin leerders. Daar is ook ’n beduidende aantal skole in veral die Wes-Kaap wat hoofsaaklik bruin leerders het, maar ook sommige swart leerders.

Hier word parallelmediumonderrig in Afrikaans en Engels gevolg. Kan die KH-uitspraak gebruik word om hierdie skole te dwing om Afrikaans af te skaf? Dis dieselfde vraag oor die KH-uitspraak: as die klaers nie die hoofsaaklik wit AfriForum was nie, maar ’n bruin drukgroep, sou die meerderheid se gevolgtrekking anders gewees het?

Een ding is duidelik: dit sou baie moeiliker vir die ideologies gedrewe uitspraak gewees het om bruin studente van bevoordeling, rassisme en diskriminering te beskuldig.

Theuns Eloff

Daar is dus in die KH-uitspraak goeie en slegte nuus. Die slegte nuus vir US en NWUP se Afrikaanse studente is dat die KH-uitspraak gebruik kan word om Afrikaanse klasse te stop en hulle te dwing om in Engels te studeer. Wat skole betref, is daar slegte nuus vir ouers en skoolbeheerliggame wat dink hulle kan nasiebou bevorder en Afrikaanse onderrig behou deur Engels in hul skole in te bring. Hulle sal weer moet dink. Dis nie net die taal-demografiese en politieke druk wat hulle gaan pootjie nie, maar die impak van die KH-uitspraak (dat Afrikaanse onderrig naas Engels “onwetend” rassisties en diskriminerend is) wat vir hulle lê en loer.

Die goeie nuus vir die US en die NWUP se Afrikaanse studente is dat as hulle op ’n ferm dog vriendelike manier op hul grondwetlik beskermde taalregte staan, en genoeg van hulle nog verstandig in Afrikaans wil studeer, die universiteitsowerhede hulle nie sal kan ignoreer of benadeel nie.

Vir enkeltalige Afrikaanse skole is die goeie nuus dat die feitestel van die UV-saak waarskynlik nie op hulle van toepassing is nie. Hulle behoort dus voort te gaan om Afrikaans in hul skole op ’n nierassige manier te gebruik en te bevorder. Hulle moet waak teen enige uitsprake of praktyke wat selfs vérlangs na rassisme of onverdraagsaamheid kan lyk.

Dis verkeerd en dom, en mnr. Lesufi en sy trawante lê met vyandige en gierige oë vir hulle en loer. Hulle moet hom verkeerd bewys deur juis by nie-Afrikaanse skole betrokke te raak en hulp aan te bied en te gee.

Só kan Afrikaanse onderwys die KH-uitspraak en die Lesufi’s van die land oorleef.

* Dr. Eloff is voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, wat Afrikaanse onderwys op ’n nierassige manier wil bevorder.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Theuns Eloff  |  Onderwys  |  Moedertaalonderrig  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.