SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Aktueel
Kriptogeld gaan die wêreld laat draai

Kriptogeld – soos byvoorbeeld bitcoin – is deesdae ’n gonswoord. Sarel van der Walt het op Netwerk24 se gespreksreeks by die Innibos-kunstefees in Mbombela gaan luister wat drie kenners daaroor te sê het.

Bitcoin, wat in 2012 $13 werd was, het in Januarie tot sy hoogste prys van R318 000 gestyg, maar het intussen teruggesak tot R87 000. Foto: Argief

Geldeenhede soos ons dit ken (die dollar, die Britse pond, die euro en die rand) kan in die toekoms tot niet gaan en deur kriptogeld vervang word, sê Johan Bezuidenhout, direkteur van Leetpro, ’n sogenaamde mynmaatskappy vir kriptogeld.

Tradisionele banke sal ook verdwyn.

“Ek kan nie sê of dit binne vyf of tien jaar sal wees nie, maar dit sal gebeur.

“Tradisionele banke sal verdwyn omdat dit geriefliker sal wees om kriptogeld te gebruik. Jy sal ook nie bankkoste hê soos nou nie,” sê Bezuidenhout.

Kriptogeld het nege jaar gelede op die toneel verskyn en die laaste paar jaar soos ’n veldbrand versprei en miljoene mense wêreldwyd se verbeelding aangegryp.

“Op lang termyn is kriptogeld hier om te bly en kan dit nie vervang word nie. Dit kan ook nie doodloop of nie meer bestaan nie.”

Kriptogeld het nege jaar gelede op die toneel verskyn en die laaste paar jaar soos ’n veldbrand versprei en miljoene mense wêreldwyd se verbeelding aangegryp.

Ivor Price, wat as gespreksleier opgetree het, het in ’n stadium opgemerk: “Dié hele kriptogeld-ding klink vir my al hoe meer na ’n moderne weergawe van Tupperware verkoop!”

Daar is ekonome wat waarsku spekulasie met kriptogeldeenhede kan nie as ’n belegging en ’n bate beskou word nie.

Verlede jaar het die handel in kriptogeld sowat $840 miljard beloop.

‘Kriptogeld is die toekoms’

“Kriptogeld is die toekoms, maar hoe winsgewend dit sal wees, kan ek nie sê nie,” sê Bezuidenhout.

Die vertroue in die kriptogeldmark is volgens hom besig om toe te neem.

As iets te goed lyk om waar te wees, wanneer dit byvoorbeeld teen 2% per dag groei, bly weg.

Maar, waarsku Bezuidenhout, “moenie meer geld in kriptogeld belê as wat jy bereid is om te verloor as dinge nie verloop soos jy gehoop het nie".

“Voordat jy by kriptogeld betrokke raak, is dit baie belangrik dat jy jou huiswerk baie deeglik doen om nie jou vingers te verbrand nie.

“As iets te goed lyk om waar te wees, wanneer dit byvoorbeeld teen 2% per dag groei, bly weg,” sê Bezuidenhout.

Dit is ook beter om nie al jou eiers in een mandjie te hê nie, maar om jou risiko te versprei, is sy advies.

Bitcoin het skerp geval

Bitcoin, wat in 2012 $13 werd was, het in Januarie tot sy hoogste prys van R318 000 gestyg, maar het intussen teruggesak tot R87 000.

“In hierdie stadium is omtrent al die kriptogeld aan bitcoin gekoppel,” sê Bezuidenhout.

In Suid-Afrika, soos in die meeste dele van die wêreld, is daar nog nie wetgewing wat kriptogeld beheer nie.

Hoewel bitcoin baie waarde verloor het, het van die ander kriptogelmunte se waarde met tot 30% gestyg.

Wanneer jy kriptogeld koop, word dit eers deur sogenaamde myners, wat oor gevorderde toerusting beskik, geverifieer.

In Suid-Afrika, soos in die meeste dele van die wêreld, is daar nog nie wetgewing wat kriptogeld beheer nie, maar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het al laat blyk hy kyk na maniere hoe mense se inkomste in die kriptogeldmark belas kan word.

Ouer geslagte sukkel met idee van kriptogeld

Kriptogeld is die toekoms van grenslose internasionale handel. Foto: Argief

Bezuidenhout sê hy het in 2012 by sy skoonpa van kriptogeld gehoor, maar eers gedink dit is onmoontlik dat digitale geld kan werk.

“Ek het toe begin nalees en gesien ek kan met my rekenaar geld maak.

“Dit is veral moeilik om vir die ouer geslag te verduidelik dat kriptogeld nie iets is waaraan jy kan raak nie. Die eerste ding was hulle vra, is of hulle aan die bitcoin kan vat.

Kriptogeld is geld wat op die internet is en jy kan nie fisiek daaraan vat nie.

“Aan goud kan jy vat en goud het ’n waarde. Hoe vat jy dan aan bitcoin?” wil hulle weet.

“Vir die jonger geslag is dit makliker omdat hulle makliker risiko’s neem as die ouer geslag. Daarom is hulle in groot getalle hierby betrokke, terwyl die ouer mense nog terughoudend is omdat dit vir hulle nie ’n tasbare ding is nie,” sê Bezuidenhout.

“Kriptogeld is geld wat op die internet is en jy kan nie fisiek daaraan vat nie.”

Maar hoe werk dit?

André de Goede, direkteur van die internetdiensverskaffer Netbits, verduidelik jy koop vir jou ’n “munt” op een van die talle aandelebeurse vir kriptogeld wat beskikbaar is. In Suid-Afrika is Luno so ’n beurs.

“Jy gebruik jou rande om munte soos byvoorbeeld bitcoin te koop. Sodra jy dit gekoop het, moet die transaksie eers geverivieer word.

“Die sogenaamde myners doen dít. Met ’n gevorderde rekenaarprogram doen hulle honderdduisende transaksies per sekonde.

“Vir elkeen van jou transaksies word jy vergoed. Dis hoekom die ‘myners’ geld maak. Hulle word vergoed vir elke transaksie wat hulle verifieer,” sê De Goede.

Enigiemand kan ’n “myner” word. Jy het net die regte rekenaarprogram nodig.

Kriptogeld toekoms van grenslose internasionale handel

“Met kriptogeld kan jy na enige mens ter wêreld geld stuur, in baie gevalle binne enkele sekondes.

“Jy hoef nie deur ’n bank te werk of papierwerk te doen nie. Niemand kan ook naspoor na wie jy dit gestuur het nie,” sê Bezuidenhout.

“Jy hoef nie meer ure lank in ’n ry by die bank te gaan staan nie. Wie jy ook al iewers in die wêreld betaal, hoef ook nie meer tot sewe dae te wag vir sy of haar geld nie.”

Die tegnologie is so gevorderd dat elke transaksie gedokumenteer word.

Regulasies deur regerings

Ivor Price (regs), die gespreksleier, luister terwyl Jean de Goede (heel links), Johan Bezuidenhout en André de Goede Woensdag op Netwerk24 se gespreksreeks by Innibos oor kriptogeld praat. Foto: Sarel van der Walt

De Goede stem saam kriptogeld is die toekoms, maar die grensloosheid daarvan beteken dat al hoe meer regerings beheer daaroor soek en regulasies oorweeg.

“Ons moet onsself nie mislei deur te dink daar sal nooit enige beperkings wees nie. In dié stadium kan regerings geldeenhede soos die rand en die dollar beheer, maar nie kriptogeld nie. Dit kan ’n probleem raak wanneer jy byvoorbeeld rand of dollar gebruik om kriptogeld te koop,” sê De Goede.

Vroeër vandeesmaand het indringers by ’n platform vir die verhandeling van kriptogeld in Suid-Korea ingebreek,

In hierdie stadium is die VSA, Japan en Suid-Korea die drie lande wat die meeste bitcoin-transaksies ter wêreld doen.

Vroeër vandeesmaand het indringers by ’n platform vir die verhandeling van kriptogeld in Suid-Korea ingebreek. Sowat $46 miljoen se kriptogeld is binne ’n kort tyd verkoop.

Rapport het vroeër vandeesmaand berig die batebestuurder Sygnia beoog om teen November ’n beurs vir kriptogeld in Suid-Afrika te begin.

Die maatskappy het egter gewaarsku hy moedig dit nie noodwendig aan as ’n belegging nie.

Nie te laat om betrokke te raak

De Goede meen baie mense raak betrokke by kriptohandel omdat hulle bang is hulle raak agter by dié wat reeds met kriptogeld handel dryf.

“Hoewel dié mense wat vroeër al betrokke geraak het, beter daaraan toe is omdat pryse laag was, is dit nie onmoontlik om nou betrokke te raak en steeds geld te maak nie,” sê De Goede.

“Moenie bang wees nie. As jy wil betrokke raak, praat eers met kenners wat jou waardevolle advies kan gee.”

Kriptogeld is nog baie jonk en ek glo daar is nog baie geld te maak.

Dit is belangrik om ’n behoorlike studie te doen omdat die verskillende geldeenhede elkeen ’n eie doel het.

Een van die kriptogeldeenhede het byvoordeeld ten doel om geld in te samel vir projekte om bye te help.

“80% van die munteenhede is net ’n verhandelbare kommoditeit, terwyl die ander 20% aan bepaalde projekte gekoppel is.”

“Kriptogeld is nog baie jonk en ek glo daar is nog baie geld te maak. Ek glo dit sal beter begin gaan sodat daar weer vertroue in die mark is. Dit is baie belangrik dat jy op presies die regte oomblik koop,” sê hy.

Meer oor:  Sarel Van Der Walt  |  Innibos  |  Bitcoin  |  Kriptogeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.