Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Krisisse sal betogings wêreldwyd laat toeneem

Die massa-betogings wat die eerste twee dekades van die nuwe eeu gekenmerk het, sal net al hoe meer word namate krisisse oor die wêreld heen verdiep, skryf Feyzi Ismail.

In Hongkong duur betogings steeds voort. Die polisie het op Nuwejaarsdag traanrook gebruik om betogers uiteen te jaag. Foto: AP

Die eerste twee dekades van die 21ste eeu is gekenmerk deur hernieude massa-betoging in strate oor die wêreld heen.

Dit is deels die gevolg van mense wat toenemend vertroue in die hoofstroom-politiek verloor. Massa-mobilisasie het ’n groot impak gehad op politiek en die breër samelewing en het vir miljoene mense ’n manier geword waarop hulle hulle polities kan uitdruk.

Verlede jaar het ten einde geloop te midde van wêreldwye betogings – veral in Latyns-Amerika, die Midde-Ooste en Noord-Afrika en Hongkong, asook in Indië, waar mense onlangs in opstand gekom het teen premier Narendra Modi se wysigingswetsontwerp oor burgerskap.

In sommige gevalle word uitdruklik betoog teen neoliberale hervormings of teen wetswysigings wat burgerlike vryhede bedreig. Ander betogings is spesifiek gemik teen regerings wat niks aan die klimaatkrisis doen nie en ’n geslag jong mense wat nuut is in die politiek in dosyne lande is aan die speerpunt daarvan.

Met dié dat ons die einde bereik het van twee onstuimige dekades van betogings – die onderwerp van heelwat van my lesse en voortdurende navorsing – kan ons onsself afvra watter vorm betogings in die 2020’s gaan aanneem.

Wat het in die 21ste eeu verander?

Betogers in Hongkong het op Nuwejaarsdag hul jaarlikse pro-demokrasie-optog gehou. Foto: AP

Ná oomblikke van openlike klasse-oorlog in die laat 1960’s en vroeë 1970’s, het die stryd teen die politieke en ekonomiese bestel gefragmenteerd geword. Vakbonde is aangeval, antikoloniale stryde het die erflating van kolonialisme afgetakel en die geskiedenis van dié tydperk is deur die establishment herskryf om die krag daarvan te ondermyn.

In die tydperk ná die Koue Oorlog het ’n nuwe fase van protes uiteindelik begin om dié nederlae te bowe te kom.

Die herlewing in betogings het die wêreldtoneel nogal op ’n visuele manier in 1999 in Seattle getref by die beraad van die Wêreldhandelsorganisasie. As 1968 een van die hoogtepunte van die radikale struggle in die 20ste eeu was, het protes in die vroeë 2000’s weer begin om algemene kritiek op die kapitalistiese stelsel te weerspieël met solidariteit wat oor verskeie sektore van die samelewing heen gesmee is.

Alternatiewe ruimtes is ook geskep vir bewegings vir geregtigheid van oral in die wêreld om bymekaar te kom.

Die totstandkoming van die antiglobaliseringsbeweging in Seattle is gevolg deur buitengewone protesoptrede by byeenkomste van die wêreld se ekonomiese elite.

Alternatiewe ruimtes is ook geskep vir bewegings vir geregtigheid van oral in die wêreld om bymekaar te kom. Die opvallendste hiervan was die World Social Forum (WSF) wat die eerste keer in 2001 in Porto Alegre in Brasilië plaasgevind het.

Dit was byvoorbeeld daar waar vrae gestel en debatte gevoer is oor die standpunt wat die anti-globaliseringsbeweging moes inneem oor die oorlog in Irak. Hoewel die WSF vir ’n ruk ’n belangrike saamtrekpunt was, het dit die politiek vermy.

Betogers in Beiroet, Libanon, het op Nuwejaarsdag weer kapsie gemaak teen die wanbestuur en korrupsie van politici in hul land. Foto: AP

Die wêreldwye beweging teen oorlog het gelei tot die grootste gekoördineerde betogings in die geskiedenis toe miljoene mense in meer as 800 stede op 15 Februarie 2003 hul stemme laat hoor het. Dit het ’n krisis vir die demokrasie rondom die inval in Irak, wat deur die VSA en Brittanje gelei is, tot gevolg gehad.

In die jare voor en ná die bankkrisis van 2008 het oproer oor kos en betogings teen besuiniging wêreldwyd toegeneem.

Sosiale media het ’n belangrike manier geword om betogings te organiseer.

In dele van die Midde-Ooste en Noord-Afrika het betogings die vorm van opstande aangeneem en die een diktator ná die ander is uit die kussings gelig. Nadat die Arabiese Lente teen teenrevolusies gefnuik is, het die Occupy- en Black Lives Matter-bewegings wêreldwyd aandag getrek. Terwyl die openbare stedelike plein ’n sentrale fokus vir betogings geword het, het sosiale media ’n belangrike manier – dog glad nie die enigste nie – geword om betogings te organiseer.

Dié bewegings het wisselende vlakke van sukses gehad wat die bewusmaking van politieke transformasie betref, maar kon geen manier vind om mag te bekom nie. Die gevolg was dat ’n aantal protesbewegings weer teruggeval het op parlementêre prosesse, wat voorheen deur hul ondersteuners gewantrou is, om hul politieke doelwitte te probeer bereik.

Die gevolge van die terugkeer na parlementêre politiek het nie juis tot indrukwekkende resultate gelei nie.

Krisis van verteenwoordiging

Nie meer ’n grap nie. Twee betogers in Beiroet, Libanon, het hulle soos die “Joker” opgemaak om deel te neem aan ’n betoging op Nuwejaarsdag. Foto: AP

Ongelykheid het skerp toegeneem in die eerste twee dekades van die 21ste eeu met gepaardgaande skuld en die verwaarlosing van mense wat werk. Dit het nie juis gehelp om dié probleme parlementêr te probeer oplos nie. Daar is, met ander woorde, ’n ernstige krisis wat verteenwoordiging betref.

Die onvermoë van moderne kapitalisme om meer as net oorlewing vir baie te verseker en die algemene kritiek op neoliberalistiese kapitalisme het ’n situasie geskep waarin meer en meer sektore van die samelewing verenig word in protes.

Sedert die middel van Oktober verlede jaar het meer as ’n miljoen mense na die strate in Libanon gestroom en betogings duur voort ondanks die gewelddadige reaksie van die veiligheidsmagte.

Terselfdertyd is mense al hoe minder geneig om politici te aanvaar wat nie hul belange verteenwoordig nie – en dié neiging sal waarskynlik in die toekoms voortduur. Van Libanon en Irak tot Chili en Hongkong duur massa-betogings voort ondanks bedankings deur en toegewings van politici.

’n Betoger in Parys, Frankryk, gee haar ontevredenheid te kenne met beoogde pensioenhervormings. Foto: AP

In Brittanje is die Arbeidersparty se nederlaag in die onlangse algemene verkiesing grootliks toegeskryf aan sy onvermoë om die uitslae van 2016 se referendum oor die onttrekking aan die Europese Unie te aanvaar. Dekades van lojaliteit aan die party en ’n sosialistiese leier in Jeremy Corbyn wat vir ’n einde aan besuiniging gevra het, kon miljoene kiesers wat vir Brexit gestem het nie oortuig nie.

In Frankryk het ’n algemene staking in Desember 2019 oor pres. Emmanuel Macron se voorgestelde pensioenhervormings die omvang van die teenstand teen sy regering duidelik gemaak. Dit het gekom skaars ’n jaar ná die begin van die Geelhemp-beweging wat betoog het teen brandstofprysverhogings en die sukkelbestaan wat baie mense moet voer.

Die tendens van straatbetogings sal deur die klimaatkrisis aangehelp word. Die invloed daarvan beteken dat diegene wat die ergste uitgebuit word, insluitend op grond van ras en geslag, die meeste het om te verloor. Die betogings in Libanon het begin teen die agtergrond van onbeheerbare bosbrande.

Strategiese denke

Betogers in Algiers, hoofstad van Algerië, betoog op die laaste dag van 2019 teen hul regering. Foto: Reuters

Soos betogers ondervinding opdoen, word vrae oor leierskap en organisasie gevra. In Libanon en Irak was daar reeds doelbewuste pogings om tradisionele sektariese verdeeldheid te oorbrug.

Debatte word ook in protesbewegings van Algerië tot Chili gevoer oor hoe om politieke en ekonomiese eise op ’n meer strategiese manier te laat saamvloei. Die doel is om politieke en ekonomiese eise onafskeidbaar te maak sodat dit onmoontlik vir ’n regering is om politieke toegewings te maak sonder om ook ekonomiese toegewings te maak.

Aan die begin van die 2020’s is dit duidelik dat ons ’n ongekende oomblik betree: ’n Noodtoestand wat die klimaat betref en ekologiese probleme, ’n broeiende wêreldwye finansiële krisis, toenemende ongelykheid, handelsoorloë, toenemende dreigemente van nog imperialistiese oorloë en militarisasie.

Dié betoger se boodskap in ’n betoging op Nuwejaarsdag in Nieu-Delhi was baie duidelik. Foto: AP

In baie lande was daar ook ’n herlewing onder verregses, aangemoedig deur politici en partye in die VSA, Brasilië, Indië en baie dele van Europa.

Dié herlewing het egter nie sonder weerstand gepaardgegaan nie.

Die breekpunt sal bereik word as dié krisisse saamvloei en dit sal toestande skep wat onuithoudbaar sal wees vir die meeste mense.

Dit sal tot meer betogings en polarisasie lei. Regerings se hervormings in reaksie daarop sal waarskynlik nie genoeg wees om te voldoen aan die kombinasie van politieke en ekonomiese eise nie.

Vrae oor nuwe maniere van verteenwoordiging om populêre beheer oor die ekonomie te handhaaf, sal steeds na vore kom. Die lot van populêre protes mag dalk net daarvan afhang of die kollektiewe leierskap van die protesbewegings met antwoorde vorendag kan kom.

* Feyzi Ismail is ’n senior lektor by die School of Oriental and African Studies aan die Universiteit van Londen. Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Arbeidersparty  |  Jeremy Corbyn  |  Narendra Modi  |  Emmanuel Macron  |  Frankryk  |  Hongkong  |  Indië  |  Klimaatkrisis  |  Brexit  |  Kapitalisme  |  Betogings  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.