Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kritieke tyd vir onteiening sonder vergoeding

Die afgelope weke het daar ’n paar dinge met die proses van onteiening sonder vergoeding gebeur wat alle Suid-Afrikaners in die toekoms sal raak, skryf Theuns Eloff.

Theuns Eloff

Soos met die jaarlikse verslae van die ouditeur-generaal wat amper eentonig die onreëlmatige en ongemagtigde bestedings van nasionale, provinsiale en plaaslike regerings en staatsentiteite op die lappe bring, kan ’n mens afgestomp raak met die skynbaar nimmereindigende proses om art. 25 van die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Dit sou gevaarlik wees, want daar het die afgelope paar weke dinge gebeur wat alle Suid-Afrikaners vorentoe sal raak.

Die proses oor onteiening sonder vergoeding kom al lank. In Desember 2017 het ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa aan die einde van Nasrec al sy verkiesing as ANC-president gaan vier, toe die Zuptas laataand met die voorstel oor onteiening sonder vergoeding gekom het.

Al wat die Ramaphosa-groep kon doen, was om vier voorwaardes aan die besluit te koppel: Dat die inwerkingstelling van so ’n verandering nie toekomstige belegging in die ekonomie mag ondermyn nie, dat landbouproduksie nie benadeel moet word nie, dat voedselsekerheid nie geskaad mag word nie, en dat dit nie ander sektore van die ekonomie mag skaad nie.

In die finale parlementêre mosie vroeg in 2018, waar die EFF die ANC met die spreekwoordelike broek op die knieë gevang het, het slegs twee van die aanvanklike voorwaardes oorleef: onteiening sonder vergoeding moet “landbouproduksie laat toeneem en . . . voedselsekerheid verbeter”.

Die EFF wil dat die staat voogdyskap oor alle grond moet kry, en die DA en VF Plus is teen enige verandering van art. 25 gekant.

Ná die uitgerekte openbare konsultasieproses in 2018, waar stemme getel is eerder as wat menings geweeg is, het die parlement laat in 2018 besluit dat art. 25 verander moet word en ’n ad hoc-komitee aangestel om die bewoording daarvan te formuleer. Hierdie komitee kon nie voor die verkiesing sy werk afhandel nie en ’n tweede veelpartykomitee is daarom in Julie 2019 aangestel. Dié komitee het onlangs met sy werk begin, met ’n werksessie waarheen talle buite-organisasies genooi is. Die komitee is van voorneme om vroeg Desember 2019 ’n konsep wetsontwerp te publiseer met ’n uitnodiging vir openbare deelname tydens Februarie 2020, en om dan nog hul spertyd van 31 Maart 2020 met ’n wetsontwerp voor die parlement te haal.

Die komitee het aanvaar hul mandaat is om dit wat implisiet oor onteiening sonder vergoeding in art. 25 is, eksplisiet te maak – óf deur ’n wysiging van die artikel, óf deur nuwe wetgewing. Uit die verslag oor die werksessie kan egter gesien word dat daar nie baie duidelikheid hieroor is nie – en nog minder eenstemmigheid.

Die EFF wil dat die staat voogdyskap oor alle grond moet kry, en die DA en VF Plus is teen enige verandering van art. 25 gekant. Die DA het selfs sover gegaan as om te sê dat hy nie enige voorstelle oor ’n moontlike verandering sal maak nie (alhoewel hulle enige voorstelle wat gebring word, sal kritiseer).

Meer duidelikheid oor klompie sake

onteiening
Voedselsekerheid, een van die voorwaardes wat vir onteiening sonder vergoeding gestel is, is deesdae nie meer so prominent op die agenda nie. Foto: Argief

In die onlangse proses het ’n paar sake duidelik(er) geword:

* Daar is ’n debat (begin deur prof. Elmien du Plessis van NWU) dat “onteiening sonder vergoeding” regtens op konfiskasie neerkom en dat daar eerder van “onteiening met nul vergoeding” gepraat moet word. Adv. Charmaine van der Merwe (senior regsadviseur van die parlement) het egter nie saamgestem nie, maar die saak is nog nie finaal besleg nie. Dit kan die uiteindelike bewoording beïnvloed.

* ’n Saak waaroor die department van handel en nywerheid se siening gevra gaan word, is die invloed van die onteiening van grond sonder vergoeding op internasionale verdrae en verpligtinge. Die bekendste hiervan is waarskynlik die VSA se African Growth and Opportunity Act (AGOA), ingevolge waarvan BMW’s in Port Elizabeth gebou word en na die VSA uitgevoer word. Hierdeur is honderde poste geskep en gehandhaaf en dit kan gestop word omdat die VSA nie hulp aan enige land sal verleen waar eiendomsregte nie absoluut beskerm word nie. Sommige ANC-lede en die EFF het natuurlik gestel dat ontwikkeling belangriker is as internasionale verdrae. Hulle sal dit maar aan die ontslane werkers in PE moet gaan verduidelik.

* ’n Stukkie potensiële goeie nuus is dat daar voldoende konsensus is dat die komitee se mandaat net grond (“land”, dalk met verbeterings daarop) insluit, maar nie so ver strek as die moontlike onteiening van alle soorte eiendom nie (soos byvoorbeeld aandele). Daarmee saam is dit duidelik dat die EFF se eis dat alle eiendom onder die voogdyskap van die staat moet kom, geen steun geniet het nie.

* Uit die debatte in die werksessie en die komitee is dit ook duidelik dat die meerderheid van die lede nie die hersieningsbevoegdheid van die howe wil wegneem nie. Die wyser ANC-lede sal wel weet as die howe se rol uit die proses gehaal word, art. 1 van die Grondwet (die oppergesag van die reg) in gedrang kom en dit nie die konstitusionele hof se toets sal deurstaan nie.

Die moedswillige vraag wat opkom is of iemand die ANC sal kan hof toe vat as hy sy eie Nasrec-beleidsbesluit (en die voorbehoude daarin vervat) nie nakom nie?

* ’n Kommerwekkende tendens is dat die vier voorwaardes vir die implementering van onteiening sonder vergoeding die ANC self by Nasrec aanvaar het, en selfs die twee voorwaardes wat in die parlementêre mosie vervat is, nêrens ’n prominente rol speel nie. Dit is asof dit in die vergetelheid versink het. Die moedswillige vraag wat opkom is of iemand die ANC sal kan hof toe vat as hy sy eie Nasrec-beleidsbesluit (en die voorbehoude daarin vervat) nie nakom nie? Indien wel, sal dit die proses vertraag en dalk die Ramaphosa-groep help om sterker te word en die Zuma-blues af te skud.

* Die parlementêre regsadviseur het drie moontlike opsies vir die uitvoering van die mandaat van die komitee ter tafel gelê. Twee stel net ’n verandering van art. 25 voor, en die derde afsonderlike wetgewing.

Die eerste is ’n byvoeging by die huidige art. 25(2)(b): “gegewe dat die hof mag bepaal dat geen vergoeding betaalbaar is in geval van die onteiening van grond vir die doeleindes van grondhervorming” en ’n gevolglike verandering in art. 25(3) wat lui dat “Waar vergoeding betaalbaar is, moet die vergoedingsbedrag” só en só bepaal word (en dan word die huidige formulering gevolg).

Die tweede voorstel is dat ’n nuwe subafdeling (25)(4A) ingevoeg moet word wat lui: “Nieteenstaande die voorgenome vereistes vir vergoeding in subartikel (2), (3) en (4), mag grond onteien word sonder die betaling van enige vergoeding as ’n wetlike opsie vir grondhervorming om die resultate van vorige rassediskriminasie te herstel.”

Die derde opsie is om ’n magtigingsklousule as subafdeling (4)A) in te voeg wat stipuleer dat nasionale wetgewing die omstandighede moet uitspel waaronder grond onteien mag word sonder die betaling van vergoeding.

Gewone mense kan nie sit en wag

Regsgedinge teen onteiening sonder vergoeding kan dié proses aansienlik vertraag. Foto: Mlungisi Louw

Dit is te vroeg om te bespiegel watter van hierdie opsies (of enige ander opsie) uiteindelik aanvaar sal word. Die partye wat daarby betrokke is en organisasies wat kommentaar gaan lewer, moet hulself miskien afvra watter opsie die minste skade gaan veroorsaak. Of dalk moet hulle “toelaat” dat die radikaalste opsie deurgaan, sodat wanneer hulle dit later in die hof beveg, dit makliker is om te bewys dat dit ongrondwetlik is.

Die feit is dat enige verandering aan art. 25 om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, waarskynlik al vier van die ANC se oorspronklike voorwaardes sal oortree.

Talle organisasies (insluitend die Motlanthe-kommissie) het die politieke, sosiale en ekonomiese gevare (én die onnodigheid) van so ’n verandering uitgewys. Met ’n president en sekere kabinetsministers wat desperaat probeer om die ekonomie op vaste voet te plaas, sal dit absoluut teenproduktief wees.

Die tydskale vir die proses is reeds knap. En al trek die komitee ’n “vinnige een” op Suid-Afrikaners en publiseer die konsep wetsontwerp op 10 Desember, sal ’n versoek vir langer tyd om kommentaar waarskynlik goedgekeur moet word – anders kan die proses later in die hof as onbillik geoormerk word.

Al het die ANC die volstrekte meerderheid in die komitee, sal hulle nie graag gesien wil word om die proses té vinnig deur te druk nie. Dit sal meer realisties wees om te verwag dat die konsep wetsontwerp eers teen middel Januarie gepubliseer sal word, met die sperdatum vir kommentaar einde Februarie, die openbare deelnameproses gedurende Maart en April en die konsepwetgewing voor die parlement eers in Junie.

Maar die groot vertragings lê voor eers nadat albei huise van die parlement daaroor gedebatteer en gestem het (êrens in Julie). Dan kom die regsgedinge teen wat ook al besluit is.

Die DA, die VF Plus, die Instituut vir Rasseverhoudinge, AgriSA, TLU SA, AfriForum en die FW de Klerk-stigting is maar ’n paar van die organisasies wat reeds aangedui het dat hulle enige verandering van art. 25 in die howe sal teenstaan. So ’n proses kan maklik drie jaar neem as dit tot by die konstitusionele hof gaan; iets wat baie waarskynlik is. Dit beteken nie gewone Suid-Afrikaners moet terugsit en wag nie. Die volgende klompie maande is krities om die proses van onteiening sonder vergoeding te stop of ten minste so lank as moontlik te vertraag.

En dalk, net dalk, gee hierdie langer tydsverloop Ramaphosa geleentheid om sy magsbasis in die ANC verder te verstewig, die Grondwet slegs kosmeties te laat verander (of hopelik glad nie) en dalk selfs ’n paar bevoegde amptenare in die staatsdiens aan te stel om die uiters noodsaaklike grondhervorming volgens grondwetlike voorskrifte te bestuur.

* Dr. Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk-stigting. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.