Hy het nooit as te nimmer gesê die DA wil in koalisie met die ANC gaan nie, sê die DA-leier, John Steenhuisen.
Die Sunday Times het verlede week berig jy voorsien ’n koalisie met die ANC? Nou krabbel jy terug?
Nee, my boodskap is nié dat ek ’n koalisie met die ANC in sy huidige vorm wil aangaan nie, my woorde is verdraai. Die koerant laat dit lyk asof die DA met die ANC in die bed klim. Nou sê (Herman) Mashaba en ander die DA en ANC is nou een en dieselfde. Ek maak wel ’n deur oop vir samewerking met hervormers in die ANC vir ’n nuwe meerderheid in die politieke sentrum. Nié met mense soos DD Mabuza en Ace Magashule nie.
Jy wil die koerant na die persombudsman neem. Gestel die ombudsman beslis in die Sunday Times se guns?
Dis presies hoekom ek die onderhoud opgeneem het. Enigeen kan hoor ek het nooit gesê het ons gaan ’n koalisie met die ANC sluit nie.
Maar behalwe vir enkele punte is jou verwysings na groter samewerking met die ANC dus reg aangehaal?
Ons sal moet saamwerk: Met die wetsontwerpe in die parlement, om van die Openbare Beskermer ontslae te raak en die wysigingswetsontwerp op openbare administrasiewette om kaderontplooiing te keer. ’n Mens hoef nie in ’n koalisie te wees om saam te werk nie.
Maar is samewerking nie ’n swak idee nie? Die DA het immers sy lesse geleer uit sy rampspoedige EFF-koalisie?
Natuurlik het ons ons vingers met die EFF verbrand. Dis hoekom ek van samewerking rondom waardes en beginsels praat, nie koalisie nie.
Wat van kiesers wat sê julle is nou amptelik uit die opposisie, julle is nou ’n faksie van die ANC?
Die meeste DA-kiesers wil eerder toesien dat die DA met ’n hervormingsagenda die beduidende meerderheid bymekaar kry en só in die Uniegebou kom. Doen ons dit nie, gaan die RET-faksie wat radikale ekonomiese transformasie en sosialisme najaag, die oorhand kry.
Geen rasionele mens wil dit hê nie. Ons sal met enige mens of party wat ons waardes deel, saamwerk.
Dit beteken ook met hervormers in die ANC?
Op voorwaarde dat ons dieselfde waardes en beginsels deel oor ’n bevoegde staat, die handhawing van die Grondwet, respek vir die oppergesag van die reg, en ’n maatskaplike vryemark-ekonomie.
Dis mos ’n Judaskus vir Cyril Ramaphosa. Dit gee net s kietgoed vir die RET-faksie wat hom ’n handpop van wit monopolistiese kapitaliste noem?
Nee, dis ’n kus van die lewe vir Ramaphosa. As hy werklik ernstig is oor sy hervormingsagenda, ernstig oor Tito Mboweni se idees om die ekonomie te hervorm, gee dit hom nou beweegruimte. Hy het 85 DA-stemme in die parlement wat hom met sy hervormingsagenda kan help. Dit dryf ook ’n wig tussen die RET-faksie en die hervormers onder Ramaphosa en sal ’n skeuring bewerkstellig sodat ons aan ’n nuwe politieke sentrum kan begin bou.
Dit terwyl jou eie party stemme bloei. So as regeer nie ’n vooruitsig is nie, dink jy aan samewerking?
Die DA se doelwit is om teen 2024 die kern te vorm van ’n nuwe meerderheid. Dis al wat Suid-Afrika gaan red, anders is ons op die binnebaan na Venezuela.
So jou boodskap is reg, dis net die tydsberekening wat verkeerd was?
Dis ’n belangrike gesprek, die plaaslike verkiesing is om die draai. Baie meer partye gaan minder as 50% in die plaaslike verkiesing kry.
Dié wat nou ’n trombose hieroor kry, moet hulself afvra: Aan wie se kant is julle? Die rasionele sentrum of om die EFF in beheer te kry?