Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Afrikaans: ‘Nie inheems, maar déél van Stellies’

Daar is geen sprake dat Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch verskraal word nie, sê prof. Wim de Villiers, rektor.

Die universiteit se taalbeleid beteken tog niks as die senaat Covid-19 as verskoning gebruik om net in Engels te onderrig nie.

Covid-19 is ’n goëlbal wat na alle universiteite gegooi is. Die werk­lading het ongelooflike druk op dosente geplaas. Om dan te verwag dat hulle steeds te alle tye volledig tweetalig moet werk, sou onmoontlik wees. Dít is die realiteit.

Word hierdie reëling later permanent?

Nee, dit is nie permanent nie; dit geld net die eerste semester van 2021 en net nuwe leermateriaal.

Sommige Afrikaanse studente het by die US ingeskryf omdat Afrikaans ’n onderrig-opsie is. Was dit dus onder valse voorwendsels?

Afrikaans en Engels is die US se leer- en onderrigtale. Die US ondersteun die akademiese gebruik van hierdie tale deur ’n kombinasie van gefasiliteerde leergeleenthede vir studente. Daar kan dus geen sprake van “valse voorwendsels” wees nie.

Wat doen julle met Afrikaanse studente, veral van die platteland, wat Engels nie goed genoeg verstaan om dit in klasverband te volg nie?

Voorgraadse studente wat Engels nie goed verstaan nie, kan die modules wat parallelmedium aangebied word se Afrikaanse klasse bywoon. Voorts is daar vele taalondersteuningsmeganismes vir studente.

Mag Afrikaanse studente darem vrae in Afrikaans vra tydens onderrig? Of is dit ook verbode, soos in sosiale ruimtes?

Dit is nie die universiteit se beleid om die gebruik van taal in persoonlike en informele ruimtes te reguleer nie. Oor die onderrigsituasie is die taalbeleid duidelik en bepaal ook dat studente se “vrae in Afrikaans en Engels ten minste in die taal van die vraag beantwoord word”.

Stem u saam uitsprake dat Afrikaanse studente liefs Engels in sosiale ruimtes moet gebruik, Afrikaanse studente onwelkom laat voel?

Nee, ons probeer almal welkom laat voel, ongeag hul moedertaal. Die klem is op inklusiwiteit – daarom word Engels soms in koshuise as omgangstaal gebruik – sodat niemand uitgesluit word van formele aktiwiteite nie.

Die universiteit ontken dat dit beleid is, maar het julle nie dié omgewing geskep waar studenteleiers voel dis die regte ding om Engels in sosiale ruimtes af te dwing nie?

Nee, ons taalbeleid moedig juis meertaligheid aan.

Hoeveel Afrikaanse studente is op Stellenbosch?

In 2020 het net meer as 38% van ons studente Afrikaans as huistaal aangedui en nagenoeg 50% Engels.

Maar 78% van ons voorgraadse studente het in 2020 Engels as hul voorkeurtaal vir onderrig gekies.

Jul nuwe konseptaalbeleid sê Afrikaans is nie ’n inheemse taal nie. Is dit dan ’n Europese taal?

Die nuwe beleid word belyn met die Language Policy Framework for Higher Education Institutions (2020). Die taalbeleidshersieningstaakgroep het die definisies van amptelike en inheemse tale uit hierdie dokument gebruik.

Is dit nie maar net ’n deursigtige poging om Afrikaans se regte as inheemse taal verder te beperk nie?

Hoewel die definisie net so oorgeneem uit die raamwerkdokument is, is daar geen sprake van die verskraling van die Afrikaanse aanbod in die konsepbeleid nie.

Stem u saam met prof. Jonathan Jansen dat die “angstigheid” oor Afrikaans “beperk is tot ’n klein groep wit Afrikaanssprekendes”?

Prof. Jansen – as ’n internasionaal gerekende pedagoog – is geregtig op sy menings en ek verkies om nie daarop kommentaar te lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.