Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Afstig? Dis reddingspoging van ‘afgrond Suid-Afrika’

Ons het nie Cyril Ramaphosa se toestemming nodig om die Wes-Kaap onafhanklik te maak nie,’ sê Des Palm, stigter van CapeXit.

Des Palm van CapeXit: “Daar is ’n groot slang in die gras.”

Belaglik en onhaalbaar, sê die politieke ontleder Piet Croucamp oor jul plan.

Croucamp en ander kommentators neem gerieflikheidshalwe nooit die internasionale reg in ag nie.

Slegs die ANC se uitvoerende komitee en die parlement kan ’n afstigting toelaat deur die Grondwet te wysig. Wat is die kans daarvoor?

Ons hoef net die steun van 1,6 miljoen Wes-Kapenaars te kry, dan vra ons die premier vir ’n referendum.

Alan Winde het reeds nee gesê.

Hy verander dalk van mening; ons steunbasis as organisasie is tans tweede grootste in die Wes-Kaap.

Die Cape Party en VF Plus wat afstigting steun het in die 2019-verkiesing nie eens saam 2% gekry nie. Waar is jul steun?

CapeXit is nie-polities. Ons soek onafhanklikheid vir almal in die Wes-Kaap. Ons het reeds amper 600 000 mandate om af te stig. Ons peiling wys byna 70% van DA-kiesers steun onafhanklikheid.

Gaan die regering dit sonder slag of stoot vir julle gee? Die president is immers nie wetlik verplig daartoe nie.

Ons het nie sy toestemming nodig nie. Ons regte as minderheidsgroep bepaal dat jy die internasionale-wetgewing-roete volg.

Op grond waarvan?

Die vertrapping van minderheidsgroepe, soos dié wat ’n gemeenskaplike taal, kultuur en geskiedenis deel in die Wes-Kaap, waar 49% mense Afrikaans praat, bied ’n verskanste internasionale reg.

Waar word julle vertrap?

Kyk na die 114 wette wat swart ekonomiese bemagtiging beskerm, pensioenfondse wat nou in die visier is. Dit gaan oor die Wes-Kaap se ekonomiese oorlewing. Die Wes-Kaap dra 14% by tot die bruto omset, hoeveel kry ons terug?

Wil julle die Wes-Kaap ryker maak terwyl die res van die land verarm?

Dis nodig dat ons die Wes-Kaap red uit die entiteit wat Suid-Afrika genoem word. Suid-Afrika is op ’n fiskale afgrond, ons is verby dubbelgemors-status.

Hoekom nie eerder die Wes-Kaapse suksesse ‘uitvoer’ na die res van die land nie?

Dit beteken dat die huidige konsep van ’n eenpartystaat moet verander, want tans neem Pretoria besluite vir die Wes-Kaap.

Hoe gaan julle ’n staatkundige eenheid wat al 111 jaar oud is, verbrokkel?

Net die ekonomiese kern van ’n land mag nie afstig nie. Dis Gauteng.

Wat gebeur met iets soos Koeberg?

Sy rakleeftyd is amper verby. Ons praat reeds met lande wat tegnologie het om jou groei-energie te skep uit seestrome en sonverhitting.

En intussen laai SA jul kragpryse?

Ons gaan nie SA se krag nodig hê nie.

Gaan julle ’n muur bou om die invloei uit die Oos-Kaap te keer?

Nee, dit gaan te veel bakstene vat. Immigrasiewetgewing, werkvisums en grensbeheer met moderne tegnologie is die oplossing.

Wat julle hoe afdwing?

Die Oos-Kaap het ’n kort grens en sodra die Wes-Kaap onafhanklik is, wil ons die Noord-Kaap ook laat afstig.

Separatisme wêreldwyd het ’n bloedige geskiedenis. Nie as jy die steun van die mense het nie. Met internasionale steun, reken kenners, kan dit ’n fluweel-egskeiding wees. As SA ’n burgeroorlog teen die Wes-Kaap verklaar, isoleer SA hom net daar van die res van die wêreld.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Afstigting  |  Kruisverhoor  |  Onafhanklikheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.