Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Arme Prasa word geteiken deur nare saboteurs, sien?

As die Passasierspooragentskap (Prasa) ’n gebeurlikheidsplan gehad het, is hy nie só leeggesteel nie, sê Badisa Matshego, Prasa se tydelike administrateur.

Jy is aangestel vir twee maande en daar is twee weke daarvan oor. Jy is die negende persoon aan die stuur by Prasa sedert 2014, nè?

Ja, dis nie die beste situasie nie, maar almal is bewus van die probleme by Prasa.

Wat was die minister van vervoer se opdrag aan jou?

Om stabiliteit te bring vir ’n regrukstrategie en Prasa se bates te probeer beveilig te midde van al die vandalisme, diefstal en selfs sabotasie.

Ingevolge ’n hofbevel moet die minister teen 1 November ’n direksie aanstel. Gaan dit gebeur?

Verwag binnekort ’n aankondiging; daarna sal die uitvoerende hoof aangestel word.

Sien jy kans vir die pos?

Ek sal dit oorweeg.

Dié gifbeker?

Ek verstaan só, maar iemand moet dit doen.

Voordat jou voorganger se aanstelling onwettig verklaar is, het hy glo R650 712 ’n maand verdien. Is dit ook jou salaris?

Ek kan my nie uitlaat oor mnr. (Bongisizwe) Mpondo (se salaris) nie.

En jou salaris?

Ek kry steeds my Acsa-salaris, maar my vergoeding vir die ekstra werklas moet nog bepaal word.

Prasa is leeggesteel. Is daar nog enigiets oor om te doen?

Ek wens ek kan jou die beste van Prasa wys; dié dinge wat nooit uitkom in die openbaar nie.

In die openbaar is daar 200 stasies wat erg verniel is, omdat Prasa geen veiligheidsplan gehad het nie.

Die veiligheidskontrakte is beëindig nadat die ouditeur-generaal en openbare beskermer dit onreëlmatig bevind het.

Maar sonder hulle het die vandalisme krisisafmetings begin aanneem. Hoe kon julle geen veiligheidsplan gehad het nie?

Daar was nie sekuriteit nie weens kontraktuele probleme.

Wie is verantwoordelik daarvoor?

Ons moes ’n gebeurlikheidsplan gehad het.

Hoekom was daar nie een nie?

Die vraag moet gevra word vir die mense wat die kontrakte beëindig het. Al wat ek nou kan doen is om te verseker dat dit in die toekoms reg hanteer word.

Gaan Prasa by sy spertyd hou om teen einde vandeesmaand ’n volledige veiligheidsplan te hê?

Daar is uitdagings, maar ons is hard aan die werk daarvoor. Die 3 100 veiligheidswagte wat ons nou werf, moet aan sekere vereistes voldoen. In die keuringsproses het 699 uitgeval en nuwes moet nou gewerf word.

Hoeveel wagte is reeds ontplooi?

Daar is sover 1 200 opgelei, maar hulle is nog nie almal ontplooi nie.

Gaan die wagte met hul knuppels iets uitgerig kry teen die diefstalsindikate wat met AK47’s gewapen is?

Nee. Ander veiligheidsmaatreëls sal getref moet word in samewerking met die polisie, Valke en nasionale vervolgingsgesag.

Is daar die politieke wil om Prasa te red?

Ek is ’n ingenieur en sakeman, ek weet niks van politiek nie. Ek sou graag wou glo die politici bedoel wat hulle sê.

Moet Prasa nie na Transnet by openbare ondernemings verskuif word nie? Of privatiseer?

Jy sê dus Transnet is in ’n goeie toestand? En die departement van openbare ondernemings? Die vraag is: Hoekom word net Prasa van al die treindienste beskadig en gesaboteer? Word Prasa doelbewus op sy knieë gedwing?

Meer oor:  Badisa Matshego  |  Prasa  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.