Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘ATM nie vir swart of wit, maar die menslike ras’

'n ‘Getransformeerde’ Mzwanele (Jimmy) Manyi sê hy sal nou met enigeen, ook Solidariteit, saamwerk om Suid-Afrika ’n beter plek te maak en om minderbevoorregtes – swart, bruin én wit – te help.

Waarom is jy by die ANC weg om by die African Transformation Movement (ATM) aan te sluit? Dis ’n politieke party wat nie deur ’n politikus gelei word nie, maar deur mense wat na die belange van ons almal wil omsien. Ook wat rasse-politiek betref, bied hulle iets nuuts, ’n ideologie van humanisme wat sê ons is almal lede van die menslike ras wat een God aanbid.

Ek vind dit aantreklik want dit beteken ek kan selfs met iemand soos Ernst Roets van AfriForum by ’n tafel aansit.

Die ATM is deur die Raad vir Messiaanse Kerke gestig. Hoekom stig kerke ’n politieke party? Die kerke het gevoel daar is te veel onderlinge twis, ook in die ANC. Daar is besluit dat die tyd aangebreek het vir geordendes van God om ’n party te stig, want daar is geen vertroue dat die ANC vrede in die land gaan bring nie.

Is jy ’n lidmaat van enige van dié Messiaanse kerke? Ja, ek is lid van die Bantu Church of Christ. Maar daar is geen regstreekse band tussen die kerk en die party nie.

Is dit waar dat die raad gestig is weens die Messiaanse kerke se ongelukkigheid oor die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se protes teen die korrupsie van oudpres. Jacob Zuma se regering? Nee-nee. Dit was omdat hulle nie meer tuis gevoel het as deel van die sogenaamde sendingkerk-projek nie, soos die Anglikaanse Kerk wat uit Europa hier aangekom het nie.

Maar daar was ook kwessies oor dit wat in die parlement gebeur het, die gebrek aan waardigheid, waar jong mense ouer mense aanspreek asof hulle met hul gelykes praat.

’n Baie goeie bron sê die stigting van die ATM is in Mei verlede jaar, op ’n vergadering van Zuma-vertrouelinge, bespreek. Jou bron mislei jou. Ek is steeds baie naby aan oudpres. Jacob Zuma. As dit so was, sou hy my daarvan vertel het.

Volgens my bron het Zuma se vrou Thobeka die voorspraak gedoen vir dié party? Ek weet nie daarvan nie. Die ATM het geen verbintenis met oudpres. Zuma nie.

Is jou politieke oortuiginge en vleuel van die ANC waarvan jy lid was, ’n struikelblok vir dit waarin die ATM glo? Ek is heeltemal getransformeer, wat ook al my politieke oortuigings vroeër was. Ek vereenselwig my ten volle met die ideologie van dié party: Hulle praat nie swart of wit of watter kleur ook al nie. Hulle praat net van die menslike ras.

Wat het verander? Wel, ek het vroeër geglo swart mense moet opgehef word omdat hulle die slagoffers van apartheid was. Maar in die toekoms gaan ons nie meer sê swart mense moet opgehef word nie – ons glo minderbevoorregte mense moet opgehef word. In daardie groep minderbevoorregtes sal die meeste dalk swart wees, maar ook wit mense en andere. Dis iets waaroor ek in die verlede ’n blinde kol gehad het, maar dis nou reggestel.

Jy sal dus ewe gewillig wees om Dirk Hermann van Solidariteit en die Helpende Hand-beweging te help? As Dirk en Solidariteit daarop uit is om die land te help om vorentoe te beweeg, sal ek geen probleem hê daarmee nie en glad nie skaam wees om saam met hulle te werk nie. Ons moet verenig wees. Dis my nuwe evangelie.

Gaan jy dus nou voltyds die politiek betree? Ja, die party se bemarkingsbeen sal opgeskerp moet word en ek gaan seker maak dat dit gebeur. En ná die verkiesing sal ek ontplooi word waar die ATM my ook al nodig het.

Meer oor:  Mzwanele Manyi  |  Jimmy Manyi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.