Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Bendes: ‘Wat is die weermag se mandaat?’

Hoe durf die weermag ontplooi word sonder om die polisievakbond (Sapu) te raadpleeg, vra hul sekretaris-generaal, Tumelo Mogodiseng.

SANW, weermag, kaapse vlakte
Inwoners kyk nuuskierig na die weermagsoldate wat Donderdag in Manenberg op die Kaapse Vlakte ontplooi is. Foto: Jaco Marais

Hoekom moet julle gekonsulteer word? Die weermag beveilig ons grense, die polisie moet polisieer – die mandate verskil. Moet die weermag nou polisiewerk doen? Wat is die protokol, wie is in beheer terwyl die weermag daar is? Met die weermag daar, sê dit dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens sy oorlog teen die bendes in die Wes-Kaap verloor?

Sê 2 020 sterfgevalle in bendegeweld vanjaar nie presies dit nie? Wie moet verantwoordelik gehou word daarvoor? Die probleme kom nie van gister af nie, die polisie kon lankal ’n strategie ontwikkel het.

Julle het nie, julle het gefaal. Hoe kan julle nou kla as die weermag ingebring word? Sapu kla nie, ek sê net as (die Wes-Kaapse kommissaris) genl. Khombinkosi Jula nie sy werk doen nie, behoort die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole, hom aanspreeklik te hou. Die situasie in die Wes-Kaap moet onder beheer kom, dít is wat Sapu wil hê.

Dis juis hoekom die weermag ingebring word, hoekom kla julle? Die probleem in die Wes-Kaap is dwelms. Wat kan die weermag daaraan doen? Niks nie, dis net ’n tydelike oplossing. Hoekom het hulle die ou Sanab (die narkotikaburo) ontbind? Daai ouens kon iets regkry. Ons het hulle gevra om ook die ou moord-en-roofeenheid terug te bring, want hulle het geweet wat op grondvlak aangaan. Misdaadintelligensie werk nie in die Wes-Kaap nie, iemand moet pa staan hiervoor.

Nou hoekom is julle teen die nuwe bende-eenheid? Die feit dat daar nou soldate ontplooi word, sê net een ding: Die bende-eenheid het klaar misluk. Inteendeel, sedert hulle gestig is, het dinge net vererger. Ons het die generaals gewaarsku oor die bende-eenheid, maar hulle wou nie met ons praat nie, ons moes deur die media daarvan hoor. Om alles te vererger, het die polisiekantore nou nóg minder lede, want van hulle is na die bende-eenheid ontplooi. Dis uit die staanspoor verkeerd aangepak.

Is die weermag nie net daar vir ondersteuning, sodat julle gebiede kan ondersoek wat te gevaarlik vir die polisie is nie? Daar is geen manier hoe jy kan sê die polisie gaan nie in plekke in waar hul misdaadintelligensie in plek is nie.

Jy sê self misdaadintelligensie werk nie in die Wes-Kaap nie. Die weermag is net ekstra voete op die grond? Is die mandaat van die weermag operasioneel? Die probleem is, ons lede gaan negatief wees omdat hulle nie ordentlik gekonsulteer is nie.

Swaai die stert nie hier die hond nie? Ons lede sal moet oortyd werk en ons is nog nooit ingelig oor ’n oortydbegroting nie. Die ouens in die bende-eenheid kla juis nou oor hulle nie genoeg rusdae het nie.

Is dit nie hoekom die misdaad in die Wes-Kaap ontplof het nie, oor Sapu gekonsulteer wil word oor oortyd en rusdae? Nee, dis nie regverdig nie. Die bendeprobleem is al jare met ons. Wat het die polisie gedoen voordat die weermag nou ontplooi is? Vra dit vir Sitole. Kry vir die bende-eenheid genoeg hulpbronne, vaste lede, want dis tans nie ’n eenheid nie, dis ’n duur taakspan.

Is jul teenstand teen die weermagontplooiing nie maar net oor jul korrupte lede bang is hul omkoopgeld van die bendes stop nie?Nee. Die weermag is nie opgelei om bendes vas te vat nie, die gemeenskap se veiligheid kan in gedrang kom as die regte protokol nie gevolg word nie.

Meer oor:  Weermag  |  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.