Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Bewerings teen bejaarde Jacob Zuma ‘maar bra flou’

Die menseregteprokureur Richard Spoor, wat aanbied om Zuma gratis in dié se korrupsiesaak te verteenwoordig, het die afgelope week saam met hom tee gedrink.

Richard Spoor Foto: Deon Raath/Rapport

Hoe smaak Zuma se tee?

Ons het in Durban ontmoet. Ek wou hom eintlik graag in Nkandla sien; ek het onlangs YouTube-video’s gesien van hom wat daar dans by kinders wat sing en gelukkig lyk. So, ek is teleurgesteld, maar ek hét hom ontmoet en dit was lekker.

Jy sou selfs sy vuurpoel gesien het?

Ja, en die jong Zoeloe-maidens.

En sien waarin soveel gekaapte geld gestort is?

Wel, dis ’n aanvegbare saak, blykbaar. Verstommend, ná al hierdie jare en aantygings is die eis teen hom vir R2,5 miljoen tussen 1995 en 2005. As dit die beste is wat hulle kan doen (teen hom), is dit nie baie goed nie.

Daar moet darem meer wees om hom as ’n demoon te tipeer. Hy mag dalk ’n swak president gewees het, maar die bewerings lyk skraal.

Hoekom wil jy hom verteenwoordig?

’n Week ná die appèlhof se bevinding dat die staat nie sy regskoste gaan betaal nie, het sy regsmense onttrek. Dis nie reg nie; jy neem tog verantwoordelikheid vir jou kliënt, selfs as dinge teen hom draai. Die regter het hulle nou aangesê om môre voor hom te verskyn en te verduidelik hoekom hulle onttrek.

Verteenwoordig jy hom nou?

Ek is nie môre daar nie. Ek het geen aanstelling om die strafsaak verder te neem nie.

Jy kan hom dus wel later verteenwoordig?

Ons gesprek was vertroulik.

Duduzane Zuma sê sy pa het genoeg geld om vir die hofsaak te betaal. Hoekom het jy aangebied om dit kosteloos te doen?

Die aanbod is in belang van geregtigheid gemaak; sy reg op ’n verweer.

Het jy geen morele probleme om hom te verdedig nie?

Ek het ouens verdedig wat beskuldig is van baie erger goed as dit. Dit gaan nie oor sy bekwaamheid as president nie. Dis in landsbelang dat hy ’n ordentlike verweer kry.

Is jy nie bekommerd jy word gebruik deur ’n meester van die Stalingrad-taktiek wat net heeltyd sy saak probeer uitstel nie?

Ons besef dit hou vir ons regsfirma ’n aansienlike risiko in. Die feit dat ons ons dienste kosteloos aanbied, wys ons goedertrou.

Is jy bereid om self die Stalingrad-tegniek te gebruik?

Nee, nie as ’n taktiek nie. Almal, Zuma veral, is dit nou eens dat hierdie saak afgehandel moet word.

Hy gaan binnekort hoor of hy moet tronk toe gaan weens sy weiering om voor die Zondo-kommissie te verskyn. Gaan jy hom daarin verteenwoordig?

Ek kan nie in hierdie stadium kommentaar daarop lewer nie.

Dalk konsulteer jy selfs in die tronk met hom.

As hulle ’n 79-jarige man tronk toe stuur . . . Dit is net nie reg nie.

En as die misdade wat uit die Zondo-kommissie spruit grens aan ekonomiese hoogverraad?

Dit gaan die wapenskandaal-aanklagte soos blommetjies laat lyk. Dan moet hulle daai goed bring, want tot nou toe is dit ’n pel van hom wat sy naam misbruik het en oor tien jaar R2,5 miljoen aan hom geleen/geskenk het. Dis nie bewyse van vreeslik baie nie, om eerlik te wees. Daar is geen aanduidings dat hy ingemeng het by die wapenooreenkoms nie; dit word nie eens beweer nie.

Jy tree nog altyd in die bres vir die verdrukte. Beskou jy Zuma as een? Jacob Zuma is beslis die underdog. En ja, dis ’n goeie rede om vir hom ’n bietjie ondersteuning te gee.

Meer oor:  Richard Spoor  |  Jacob Zuma  |  Staatskaping  |  Kruisverhoor  |  Korrupsie  |  Wapenskandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.