Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Boere ‘weet hoekom’ hulle R250 000 moet opdok

Opkomende boere in Mpumalanga met klagtes oor grondhervorming, moet na hom toe kom, sê Lindelani Shezi, streeksdirekteur van die departement van grondsake.

Wat kom doen min. Thoko Didiza die naweek by julle?

Sy kom luister na die klagtes van boere wie se huurkontrakte deur die departement beëindig is.

En om te hoor hoekom amptenare van jou department ’n “administrasiebedrag” van R250 000 by boere eis om hul huurkontrakte te hernu?

Die departement weet nie daarvan nie, ons lees dit in die media. Noem ’n boer met wie dit gebeur het.

Daar is van Thabani Nxumalo verwag om R250 000 te betaal om sy huurkontrak te hernu.

Hy werk vir Eskom, as staatsamptenaar mag hy nie in aanmerking kom vir ’n staatsplaas nie.

Maar hy het aangebied om sy Eskom-werk te bedank?

Ons het nie die aanbod van hom om te bedank nie.

Wat het jy omtrent die korrupsieklagtes gedoen?

Ons het gehoor ’n klag is by die minister ingedien. Ons het aan die minister ’n verslag gestuur en gevra die korrupsieaantygings moet ondersoek word.

Hoekom ondersoek julle dit nie? Die boere het selfs ’n vereniging gestig om die korrupsie teen te staan?

Ek het vir een boer gesê as hulle nie die departement vertrou met hul klagtes nie, gaan na die wetstoepassers. Van die mense in die vereniging het geen ooreenkomste met die staat nie. Dit gaan onder die minister se aandag gebring word. Wat nié kan gebeur nie is dat hierdie kontrakte bloot weens openbare druk hernu word.

Was jou amptenaar, Dan Nyoni, betrokke by die omkopery?

Ek het dit in die media gelees. Vreemd, ek het van die boere gesien, maar die korrupsieklagtes is nooit aan my geopper nie. Dit het eers gebeur ná mnr. Nyoni se dood. Hy kan nie nou nie meer op die beskuldigings reageer nie.

Hoekom is die kontrakte wat mnr. Nyoni beëindig het, ná sy dood nie heringestel nie?

Daar is geen formele klag van korrupsie by die provinsie nie. Hul kontrakte wat beëindig is, het niks te doen met die R250 000 nie, die boere weet hoekom. Van die boere het miljoene rande se staatstoelaes gekry, maar daar gaan niks op die plase aan nie, en plase is onwettig onderverhuur. Hulle is nie boere nie, maar verhuurders.

Die boere sê julle gebruik hol verskonings om hulle van die plase af te skop.

Watse verskonings is daar behalwe die wet? Die boere het die huurkontrak-voorwaardes geteken. Ek is persoonlik betrokke by hierdie sake. Hoekom sal die regering “verskonings” gebruik as dit kontrakbreuk is?

Hoekom is daar geen state van die huur wat dié boere aanhou betaal het nie?

Dis net ’n verskoning, maandelikse rekeninge word uitgestuur. Van hulle het nog nooit betaal nie.

John Mabasa se familie boer al 300 jaar daar, die grond is 150 jaar gelede aan die familie toegeken. Hoekom, 25 jaar ná demokrasie, behoort die plaas steeds aan die staat en nie Mabasa nie?

Goedehoop-plaas is in 2015 deur die departement gekoop, om die familie daar te laat boer en hulle finansieel te ondersteun. Daar is omtrent 15 families op die plaas. Mabasa was nooit ’n toesighouer-boer op die plaas nie, net ’n langtermynhuurder. Hulle het onderling begin baklei, met aantygings dat Mabasa die plaas net vir homself wou gehad het. Die departement het toe die plaas verdeel, tot groot ontevredenheid van Mabasa. Daar is geen rede hoekom Mabasa die plaas kan koop nie, tensy hy ’n geslaagde grondeis het.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Swart Boere  |  Kruisverhoor  |  Opkomende Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.