Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Carl Niehaus sê: As pres. Zuma siek is, is hy siek . . .

Sy president word geteiken deur regter Zondo, sê Carl Niehaus.

Carl Niehaus Foto: Daily Sun

Wanneer gaan ons uiteindelik vir Zuma voor die Zondo-kommissie sien?

Dis sy besluit. Hy sal sekerlik uiteindelik in gesprek wees met hulle.

Die wapenskandaalsaak is 12 jaar oud weens Zuma se Stalingrad-taktiek. Dink jy Zondo gaan toelaat dat Zuma dié uitsteltaktieke voortsit?

Pres. Zuma gebruik nie die Stalingrad-taktiek of wat ook al nie, dis die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wat nie gereed is nie.

Wat gaan Zuma doen as ’n lasbrief uitgereik word?

Hy en sy regspan sal dit hanteer. Hopelik nie, dit sal niemand se saak dien nie.

Of sal hy ’n lasbrief in die hof uitdaag en alles uitrek tot 31 Maart 2021 wanneer die Zondo-kommissie klaar is?

Ek hoop nie dit gaan so ver nie, dit sal nie in sy guns wees nie.

Hy gaan dus voor 9 Oktober, die Zondo-sperdatum, reageer?

Ja. Sy regspan het Zondo se brief eers verlede Vrydag gekry. Dis verrassend dat Zondo reeds Maandag ’n perskonferensie gehou het.

Wanneer gaan Zuma ophou met sy uitsteltaktieke? In November 2019: siekte, Januarie: siekte, Augustus: siekte, nou weer?

As hy siek is, is hy siek. Regter Zondo het gesê hy wil met die dokters praat, asof hy nie glo wat pres. Zuma se regspan sê nie. Maar toe het hy nie die moeite gedoen nie.

Hoekom is Zuma se siekte so geheimsinnig, wat makeer hom?

Sy privaatheid moet gerespekteer word.

Selfs die ANC-woordvoerder Pule Mabe het glo gesê ‘as ons Zuma se siekte kan glo’ – raak sy verskonings nie nou op nie?

Dis nie verskonings nie. Regter Zondo het nie die moeite gedoen om met die dokters te praat nie.

Moet Zuma en sy dokters nie eerder aan Zondo kom verduidelik nie?

Komaan, dis vertragingstaktieke. Moenie allerhande bewerings maak met duidelike negatiewe intensie nie.

Vier siekbriewe in ’n jaar?

Pres. Zuma was duidelik siek toe hy van Kuba teruggekom het. Sulke afleidings is oneerbiedig.

Met al die skadelike bewerings teen Zuma, sou mens dink hy wíl sy dag voor die kommissie kry?

Dit lyk asof regter Zondo en die kommissie daarop gefikseer is om pres. Zuma daar te kry, terwyl mense soos Brian Molefe bereid is om te getuig, maar nie geroep word nie. Pravin Gor­dhan word met handskoene hanteer.

Die oorweldigende getuienis is teen Zuma: 30 getuies, mnr. Y., twee beëdigde verklarings waarop Zuma reeds sedert 1 Augustus uitdruklik moes reageer – die oudpresident wil nie saamwerk nie?

Die president wil saamwerk.

Hoekom reageer hy nie op die beëdigde verklarings nie?

Hy het sy redes aangedui. Die kommissie is gefikseer op Zuma en maak van hom ’n teiken.

Zuma vra boonop uitstel om te kan voorberei vir sy strafsaak. Hoe lank hét hy nodig? Kan ons sy dagboek sien?

Dis duidelik ’n groot saak, hy het nie nodig om aan die publiek, asof hy voor ’n ondervraging van die apartheidspolisie is, te verduidelik nie.

Zondo jag Zuma omdat hy die prominentste verteenwoordiger van radikale ekonomiese transformasie (RET) is?

Ja.

Mense soos Gwede Mantashe en Ngoako Ramatlhodi het voor Zondo getuig. Is hulle nie ook voorstanders van RET nie?

Ek weet nie, ek hoop so. Dis amptelike ANC-beleid. Maar pres. Zuma het veel groter leiding gegee, en toe word hy ’n teiken, in teenstelling met die respek wat Gordhan kry.

Hoekom is Zuma geregtig op spesiale behandeling – julle wil hê Zondo moet met hóm ’n datum onderhandel?

Dis net beter om tot ’n ooreenkoms te kom, eerder as ultimatums.

Het jy Zuma se brief aan Ramaphosa geskryf?

Die vraag is verkeerd. Mens moet aanvaar die brief is deur Zuma geskryf en deur hom onderteken.

Het jy, of nie?

Die feit dat ek weier om te antwoord beteken nie dat ek die brief geskryf het nie.

Meer oor:  Carl Niehaus  |  Jacob Zuma  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.