Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Daar is baie demokrasieë wat die doodstraf toepas’

Die doodstraf ‘onder streng voorwaardes’ is die antwoord om die moordsyfer te laat daal en niks sal hom anders oortuig nie, sê Pieter Groenewald, die VF Plus se leier.

Hoekom wil die VF Plus die doodstraf terugbring? Ons glo dis wel ’n afskrikmiddel, maar net vir moord, en met streng voorwaardes.

En as die ANC en EFF hul tweederdemeerderheid gebruik om die voorwaardes te verander? Die regering is reeds besig om die Grondwet te verander, as hulle wil kan hulle dit in elk geval met ’n tweederdemeerderheid doen.

Is dit nie dubbele standaarde nie? Die VF Plus beskuldig die ANC en EFF dat hulle die Grondwet uitkalwe, nou wil julle dieselfde doen? As die ANC en EFF bereid is om die Grondwet te verander om byvoorbeeld grond te onteien sonder vergoeding, kan die Grondwet seker ook gewysig word om voorsiening te maak vir die doodstraf.

En waar eindig dit, hierdie vrypas om die Grondwet te verander? Geen grondwet in die wêreld is in graniet gegiet nie, dit moet net op ’n verantwoordelike manier verander word. Die vraag is: Wat is die wil van die mense? As ’n referendum toon die meerderheid wil die doodstraf terugbring, hoekom nie?

Behoort die VF Plus, van alle partye, nie juis te weet dat sulke belangrike kwessies nie aan populistiese steun oorgelaat behoort te word nie? Jy kan aanvoer dat jy dit nie aan die massa kan oorlaat nie, maar daar is baie demokrasieë wat die doodstraf wel toepas.

Indien die regter in die Coligny-saak die doodstraf tot sy beskikking gehad het, sou Doorewaard en Schutte reeds aan die galg gesterf het (terwyl daar aanduidings is dat hulle onskuldig is), of hoe? Ek stem saam. Daar is uitsprake wat die indruk wek dat dit deur ’n rassebril gedoen is. Dis hoekom ons streng voorwaardes soek, soos uitspraak deur ’n volbank regters met die outomatiese reg tot appèl.

En as daardie regters wat moet besluit oor lewe of dood aangestel word deur ’n kommissie waarin die ANC en EFF die septer swaai? Dis ’n realiteit. Maar ’n regter wat sy sout werd is, behoort objektief te wees.

Is die woord ‘behoort’ in die Suid-Afrikaanse konteks nie ’n riskante voorwaarde nie? Dis hoekom daar genoeg voorwaardes moet wees, sodat dit nie daartoe lei dat jy die doodstraf kan kry omdat jy wit is en die regters op die bank is swart, of andersom, nie.

Sê nou die reeks strawwe waarvoor jy die doodstraf wil gee, raak net groter? Vandag vir moord, môre vir verkragting en oormôre rassisme? Net oor die VF Plus ten gunste is van die doodstraf, sê dit nie ons maak nou die deur oop vir ander wysigings nie.

Hoekom dink u die doodstraf is ’n afskrikmiddel? Wêreldwye navorsing bewys die teendeel. Dit hang af watter navorsing jy glo. Daar is genoeg ander navorsing wat wys dis wel ’n afskrikmiddel.

In Amerika is bewys state waar die doodstraf geld se moordsyfers is veel hoër as state sonder die doodstraf. Daar is soveel veranderlikes, dis moeilik om te vergelyk. Dis nie te sê as die wêreldneiging teen die doodstraf is, dat jy nie ’n standpunt kan hê daarvoor nie. Amerika laat dit weer toe op federale vlak. Ons nuutste polisiestatistieke toon geweld het op alle vlakke toegeneem, ek glo dit sal wel ’n afskrikmiddel wees.

Behoort die strafregstelsel nie eers te verbeter nie – meer misdadigers gevang en suksesvol vervolg word voordat die doodstraf oorweeg word? Die strafregstelsel moet drasties verbeter, maar die doodstraf is deel daarvan.

Meer oor:  Pieter Groenewald  |  Doodstraf  |  Populisme  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.