Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Die ANC het korrupsie by apartheidsregering geërf’

Laat dié wat hulself uit die Covid-19-pandemie verryk, tronk toe gaan, sê Dakota Legoete, woordvoerder van die ANC, ná nog onthullings oor vergrype tydens die krisis.

Dakota Legoete, ’n ANC-woordvoerder.

Niks het gekom van pres. Ramaphosa se beloftes van geen korrupsie met Covid-19-kontrakte nie. Hoekom moet ons hom nóú glo?

Al die stelsels bestaan, die nasionale vervolgingsgesag, polisie, regbank, Grondwet . . . Die wigte en teenwigte is dáár.

Maar niks gebeur nie.

Dié wat die wet oortree of regulasies omseil het, moet vervolg word en tronk toe gaan.

Ace Magashule, jou sekretaris-generaal, sê in ’n mediaverklaring hy laat sy kop sak in skaamte oor die korrupsie met Covid-19-kontrakte in die ANC.

Ja.

Magashule se twee seuns word betrek by Covid-19-korrupsie en daar is ook korrupsie-aanklagte teen hom. Is die verklaring ’n grap?

Die “laat koppe in skaamte sak”-stelling kom van die nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Maar Magashule is jul sekretaris-generaal.

Die rede hoekom ons ons kop in skaamte laat sak, is omdat ons nie kan toelaat dat sommige van ons sadiste word nie. Jy weet wat is ’n sadis?

Ja?

Dis ’n Dracula, iemand wat voordeel trek uit ander se blóéd. Dis verkeerd, oneties en immoreel. Broodwinners verloor hul werk, dokters en verpleegsters, polisielede, tronkbewaarders word deur die pandemie geraak. Daar is lewensverlies. As regerende party skaam ons ons dat sommige van ons onsself verryk deur ’n pandemie en korrupsie pleeg.

So, die verklaring is nié ’n grap nie, wel tragies. Magashule se seuns word direk betrek by Covid-19-korrupsie.

Wetstoepassers moet optree, ongeag of dit die kind van ’n leier is, ’n leier, sibbe, vriend of enige lid van die ANC. Ons wil nie die seuns van die sekretaris-generaal veroordeel nie, maar ons kan die wetstoepassers aanmoedig om feite van fiksie te onderskei.

Hoekom was daar teenstand in die NUK-vergadering oor die voorstel dat familielede van politici nie met die staat mag sake doen nie?

Daar was nie teenstand nie.

Maar Magashule sê dis nie ’n probleem as familielede staatskontrakte kry nie.

Hy het dit in ’n onderhoud op eNCA gesê, nie in die NUK nie. Die saak is opgelos en daar is ooreengekom daar moet opgetree word.

Alle Covid-19-tenders in die Wes-Kaap is deursigtig. Hoekom nie oral nie?

Die minister van finansies het gesê: Provinsies moet van laas week af verklaar hoe hulle die Covid-19-geld bestee.

Die ANC gebruik ’n pandemie om te steel. Ja, dis net dat ons soms vergeetagtig raak as ’n nasie, dat ons wil “dans” op ’n situasie, wat nie help nie.

Jy beledig die nasie. Ons sien duidelik wat die ANC-regering doen. Die ANC was eerste met wetgewing om korrupsie te voorkom en te beveg met ondersoekeenhede soos die Skerpioene. Korrupsie is die geërfde stelsel van die (apartheid-)regime. Hoëprofiel-mense in die ANC is reeds vervolg, dis nie noodwendig waar dat niks gedoen word nie. Maar nou maak sommige van ons wins uit die pandemie, dis hoekom ons as ANC skaam is daaroor.

Korrupsie was ’n pandemie voor Covid-19. Wat van die twee ANC-leiers wat in die Motau-verslag met die VBS-skandaal verbind en heraangestel is? Ons kan nie ontken dat korrupsie ’n uitdaging in ons samelewing is nie. As die twee amptenare hoofverdagtes was, sou hulle ook in hegtenis geneem gewees het.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Dakota Legoete  |  Kruisverhoor  |  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.